Internasionale oorsig: Nog ʼn poging vir ʼn Skotse onafhanklikheids­referendum

Nicola Sturgeon. (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Gesprekke oor ʼn moontlike tweede referendum vir Skotse onafhanklikheid het die afgelope twee weke in Skotland en in Londen plaasgevind met die Skotse Nasionale Party (SNP) wat blykbaar oortuig is dat so ʼn referendum voor die einde van 2023 moet plaasvind. Die SNP beskou die huidige ongewildheid van die Britse eerste minister, Boris Johnson, as ʼn geleentheid om steun te werf vir Skotse onafhanklikheid.

Terwyl die leier van die SNP, Nicola Sturgeon, die afgelope week verskeie vergaderings en media-onderhoude oor ʼn tweede referendum en die motivering daarvoor gehou het, het die voorsitter van die SNP, Michael Russell, in Londen met die SNP se parlementslede vergader oor die volgende stappe om ʼn tweede referendum te hou.

In die jongste peiling wat gedurende Januarie gedoen is, is 46% van Skotse kiesers ten gunste van onafhanklikheid, 46% is daarteen gekant en die res is onseker. Gedurende 2021 het ʼn Skotse meerderheid in die meeste peilings teen onafhanklikheid gekies.

Die SNP het tydens verlede jaar se Skotse verkiesing 47,7% van die stemme op hom verenig en daarmee 64 van die 129 setels in die Skotse parlement gewen. Dit was een setel te min vir ʼn meerderheidsregering en daarom moes die SNP met die Groenparty in koalisie tree.

Die SNP en sy leier, Nicola Sturgeon, se sterkste argument ten gunste van Skotse onafhanklikheid is deesdae die moontlikheid dat ʼn onafhanklike Skotland by die Europese Unie sal kan aansluit, nadat die Verenigde Koninkryk aan die EU onttrek het. Tydens die Brexit-referendum van 2016 het 62% van Skotte teen onttrekking aan die EU gestem.

Die SNP voer dus aan dat Brexit (die VK se onttrekking aan die EU) ʼn tweede referendum noodsaak. In 2014 is daar ook ʼn referendum in Skotland gehou met 55,3% van Skotte wat toe teen onafhanklikheid gestem het. Baie van dié kiesers het in 2014 juis gevrees vir die ekonomiese gevolge indien Skotland onafhanklik sou word en daarmee saam, minstens vir ʼn oorgangsperiode, nie meer deel van die EU sou wees nie. Nou voer die SNP aan dat Skotland juis onafhanklik moet word om weer deel van die EU te kan word.

Die probleem ná Brexit is egter dat indien Skotland onafhanklik word en dan by die EU aansluit, ʼn harde grens tussen Skotland en die res van die Verenigde Koninkryk ingestel sal moet word omdat Engeland, Wallis en Noord-Ierland nie meer deel van die EU is nie. Tans is sowat tweederdes van Skotland se uitvoere na die res van die VK, en met ʼn harde grens en nuwe grensbeheer sal dit ernstige uitdagings vir die Skotte skep.

Skotland se ekonomie is nie net wat sy uitvoere betref direk met die res van die VK, en in besonder Engeland, verbind nie. Skotland het tans ʼn vinnig verouderende bevolking en Skotse pensioene word deur die res van die VK gesubsidieer. Ná onafhanklikheid sal die Skotse regering vir die hele pensioenrekening verantwoordelik wees.

Daar is verskeie aanduiders dat Skotse onafhanklikheid op kort termyn tot ernstige ekonomiese uitdagings kan lei. Die Konfederasie van Britse Nywerhede (CBI) in Skotland het aan die einde van verlede jaar gesê dat Skotland in nege van die 13 terreine waaraan produktiwiteit gemeet word, swakker as die res van die VK presteer. Skotland presteer veral swak in innovering, kapitaalinvestering deur sakeondernemings en uitvoere.

Die Skotse regering het verlede jaar £36,3 miljard meer bestee as wat hy deur belasting ingekry het. Dit verteenwoordig ʼn begrotingstekort van 22,4% in een jaar en is veel groter as die begrotingstekort vir die res van die VK.

Foto: Andy Buchanan/AFP

Tydens die 2014-referendum het die onafhanklikheidsbeweging ʼn sterk argument uitgemaak oor Skotland se inkomste uit Noordsee-gas en -olie. Die voorspelling wat tóé gemaak is, was dat Skotland in die toekoms £7 miljard uit olie- en gasproduksie sou verdien. Hierdie inkomste het egter sedertdien tot tussen £1,5 en £2,5 miljard afgeneem.

Die strewe na selfbeskikking in Skotland maak binne ʼn historiese konteks heeltemal sin. Baie Skotte se behoefte om volwaardig oor hulle eie sake te besluit, maak ook sin. Wat tans nie sin maak nie, is die ekonomiese argument vir onafhanklikheid. Dit het in 2014 meegebring dat mense wat in die laaste dae voor die referendum getwyfel het, uiteindelik teen onafhanklikheid gestem het. Veral ouer mense wat oor pensioene en gesondheidsorg bekommerd was, was hier die grootste drywers.

Die SNP se sosiaal-demokratiese beleid van groter en meer bestedingsprogramme en te min klem op investering en ekonomiese groei het sedert 2014 ook meegebring dat Skotland se begrotingstekort en skuldlas onvolhoubaar sal wees ná onafhanklikheid. Die Groenparty wat nuwe olie- en gas-eksplorasiewerk probeer verhoed, maak vooruitsigte vir ʼn groter inkomste hieruit ook onseker.

Met groot politieke onsekerheid in Westminster en Brexit wat ʼn werklikheid geword het, ontstaan daar ʼn duidelike geleentheid vir Skotte om weer op ʼn onafhanklikheidsreferendum aan te dring. In ontwikkelde Westerse lande word mense se politieke keuses deesdae egter meestal deur veiligheid en ekonomie gedryf. Sonder ʼn sterk ekonomiese argument ten gunste van onafhanklikheid is daar geen kans dat ʼn meerderheid van Skotte ten gunste van onafhanklikheid sal stem nie.

Laagtepunt in Westerse leierskap versterk Xi en Poetin se invloed

Pres. Joe Biden. (Foto: ANDREW CABALLERO-REYNOLDS/AFP)

Die Westerse wêreld beleef tans ʼn leierskapslaagtepunt. Dit speel in die hand van die leiers van Rusland en China, wat tans die posisie van Westerse lande in internasionale politieke, ekonomiese en verdedigingskwessies uitdaag.

Eens gewilde leiers soos Joe Biden en Boris Johnson veg om politieke oorlewing. Angela Merkel geniet haar aftrede, terwyl haar opvolger as Duitse kanselier, Olaf Scholz, se gewildheid daagliks afneem. Die vraag is wie oor die vermoë beskik om die Weste oor die volgende paar jaar deur onstuimige tye te lei.

Ná Merkel se uittrede was dit duidelik dat Emmanuel Macron, die Franse president, die leiding in Europa wou neem. Macron probeer tans verbete om in April se verkiesing herkies te word en daar is ʼn kans dat hy teen die sentrumregse Valérie Pécresse kan verloor, sou sy tot die finale ronde deurdring. Macron het die afgelope week na vore probeer tree as die voorste Westerse leier om direk met Wladimir Poetin in Moskou te gaan vergader. Ná byna ses uur lange onderhandelinge wou Macron sukses bewys. Poetin was egter nie daarvoor te vinde nie en het dit duidelik gemaak dat die toegewings wat Macron beweer het Poetin teenoor hom gemaak het, nooit gemaak is nie.

Daar heers onsekerheid in Europa oor die kwessie of Macron oor die vermoë en temperament beskik om ʼn gedeelde standpunt oor belangrike aangeleenthede soos die krisis in Oekraïne namens Europa te ontwikkel. Macron se standpunt dat Europa sy eie veiligheidsmeganismes buite Navo (en dus onafhanklik van die VSA) moet ontwikkel, word ook nie deur alle Europese leiers gedeel nie.

In Italië het dit politici verlede week ses dae geneem om die huidige 80-jarige president te oortuig om vir nog ʼn termyn aan te bly net omdat politieke partye geen alternatief vir Sergio Mattarella kon vind nie. Hoewel duidelik bekwaam, is die huidige Italiaanse premier, Mario Draghi, ook slegs ʼn tydelike kompromis-aanstelling en heers daar groot onsekerheid oor watter rigting die Italiaanse regering ná die verkiesing, wat volgende jaar moet plaasvind, gaan inslaan.

Boris Johnson (Foto: JESSICA TAYLOR/various sources/AFP)

Wat Europa veral in ʼn slegte lig stel, is die politici, maar ook die burgery, se vermoë om vas te val in klein politieke gevegte en die oordadige fokus op onsinnighede terwyl veel groter uitdagings lande in die gesig staar. In Brittanje is die politiek gedurende Januarie oorheers deur die partytjies wat Johnson se kantoor verlede jaar tydens die inperkings gehou het. Dít terwyl ʼn oorlog in die ooste van Europa dreig en daar groot ekonomiese uitdagings vir Brittanje met die instelling van Brexit voorlê, gepaardgaande met die huidige inflasieprobleem en buitensporige staatskuld.

In die VSA is pres. Joe Biden reeds meer ongewild as wat sy voorganger Donald Trump ná een jaar in die Withuis was. Inflasie in die VSA het in Januarie tot ʼn skrikwekkende 7,5% gestyg en die Amerikaners is kwaad daaroor. Intussen het die grootste deel van Biden se agenda in die Amerikaanse kongres misluk en is sy administrasie op soek na oplossings vir die VSA se grootste uitdagings.

Die sake wat Amerikaners tans die meeste bekommer, en wat ʼn wesenlike invloed op November se middeltermynverkiesing kan hê, is die ekonomie, onwettige immigrasie, stedelike misdaad, onderwys en gesondheidsorg. Die Demokrate fokus egter op ʼn voortslepende ondersoek na verlede jaar se geweld op 6 Januarie by die kongresgebou in Washington en op verdelende kwessies wat nie nou vir gewone Amerikaners belangrik is nie.

Biden het ook met sy hantering van die krisis in Oekraïne baie aansien verloor. Dit volg op die rampspoedige onttrekking uit Afghanistan en kommer oor toenemende Islamitiese terreur in Irak, Sirië, Pakistan en die noorde van Afrika. Biden beskik nie oor die vermoë om soos Barack Obama (die vorige Demokraat wat in die Withuis was) Westerse leiers rondom gedeelde beginsels byeen te bring nie.

Ook in kleiner Westerse lande ervaar regerings ʼn groot verlies aan steun. In Nederland, België, Oostenryk, Swede en Nieu-Seeland het regeringsleiers se steunvlakke skerp gedaal. In Australië is Scott Morrison nou ook baie minder gewild as teen die einde van 2021.

Die huidige gebrekkige leierskap in die Weste word veral deur die optrede van Wladimir Poetin en Xi Jinping blootgelê. Dit skep egter ernstige risiko’s omdat ʼn gebrek aan konsensus in die Weste oor die hantering van verhoudinge met Rusland, China, Iran en ander lande wat die Weste tans op verskeie terreine uitdaag, tot groter probleme en selfs meer konflik aanleiding kan gee. Die Weste se onvermoë om ʼn gesamentlike strategie vir Islamitiese terreur te ontwikkel, kan oor die volgende paar jaar tot meer terreuraanvalle lei. Sonder sterk Westerse leierskap gaan die wêreld ʼn meer onseker en gevaarlike tydperk binne.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ettienne ·

Mmmm… ek meen gaan vir onafhanklikheid, hoekom nie. Maar nou lees ek ook dat die party wat dit wil dryf sukkel om ‘n volstrekte meerderheid onder hulle eie mense te kry…

Hendrik ·

Cape Independance is ‘n beweging in die Wes-Kaap om af te skei vanaf die ANC gedomineerde SA. Die plaaslike mense glo nog dat die ANC uit die WK gehou kan word. Met instroming van die Oos Kaap is die demografie besig om vinnig te verander. Kom ons hou die spasie dop.

Marthinus W ·

Ek is nie so seker of afskeiding `n goeie ding is nie. Ek ondersteun wel Afriforum se Afrikaner ankerdorpe-beweging.
Een van die redes vir die probleme in Oekraine is juis omdat Kief, die hoofstad, vergelyk kan word met Kaapstad: daar waar almal eerste byeengekom en saamgetrek, en toe die land binnegetrek, en die land ontwikkel het. Oekraine het afgeskei en vandag veg familie teen mekaar.

Treurwilger ·

Skotland se droewige prestasie op ekonomiese gebied dui op nóg ‘n meulsteen om die só voorskriftelike EU se nek.
Kan nie ‘n goeie ding afgee nie.
Nicola Sturgeon het ‘n lastige “bee in her bonnet”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.