Internasionale oorsig: Nuwe wapenwedloop tussen Weste en China

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Woensdag se aankondiging deur president Joe Biden van die VSA, premier Boris Johnson van die Verenigde Koninkryk en eerste minister Scott Morrison van Australië – dat dié drie lande ’n historiese veiligheidsverdrag vir Asië en die Stille Oseaan-gebied gesluit het, lei waarskynlik ’n ernstige nuwe wapenwedloop in tussen Westerse lande en hulle bondgenote in Asië, en aan die ander kant China.

Die Aukus-verdrag behels dat die VSA en die VK ’n vloot kernaangedrewe duikbote vir Australië gaan bou, wat beteken dat Australië oor die volgende paar jaar ’n baie groter en belangrike rol in die veiligheid, maar ook in die geopolitieke strydpunte van die Stille Oseaan-gebied gaan speel. Hoewel nie een van die drie lande se leiers Woensdagaand China by name genoem het nie, was dit duidelik dat die Aukus-verdrag ’n direkte reaksie op China se toenemende aggressie in Asië en die Stille Oseaan-gebied is.

China is reeds die afgelope twee dekades besig om sy militêre vermoë wesenlik uit te brei. Dié land se regering het onlangs aangekondig dat sy besteding aan verdediging vanjaar $210 miljard, oftewel 6,6% meer as verlede jaar, gaan wees. China se begroting ten opsigte van verdediging het ook die afgelope paar jaar jaarliks noemenswaardig gestyg, en dié land is vinnig besig om een van die grootste, mees gevorderde weermagte ter wêreld te ontwikkel.

Die ontwikkeling van kernaangedrewe duikbote plaas Australië loodreg teen China omdat dit die Australiese weermag met duikbote sal toerus wat groot dele van die Stille Oseaan-gebied en veral die Suid-Chinese See, wat tans deur China as dié se eiendom opgeëis word, sal kan patrolleer. Australië het vir jare lank ’n versigtige benadering in sy verhouding met China gehandhaaf omdat dié twee lande noue ekonomiese bande het en Australië baie afhanklik van uitvoere na China is. Verlede jaar het die verhouding tussen dié twee lande egter skade gelei nadat die Australiese regering kritiek teen China se aanvanklike hantering van die Covid-19-pandemie uitgespreek het.

Die ooreenkoms tussen Australië, die VSA en die VK het egter beide ’n langtermyn- sowel as ’n meer onlangse korttermynherkoms. Reeds in 2007 is die sogenaamde vierhoekige veiligheidsdialoog (QUAD of QSD) tussen Japan, die VSA, Australië en Indië onderneem. Tydens die onlangse Trump-administrasie in die VSA het dié land probeer om hierdie breë samewerking met lande in Asië en die Stille Oseaan-gebied verder uit te brei.

Die meer korttermynmotief vir die verdrag hou egter met Westerse lande se huidige aansien in die buiteland verband, sowel as die ekonomiese belang vir die VSA en die VK in die bou van gevorderde kernaangedrewe duikbote vir Australië. Morrison wil duidelik Australië se rol in die Stille Oseaan-gebied herposisioneer. Met ’n vloot gevorderde kernaangedrewe duikbote sal presies dít gebeur. Na die debakel in Afghanistan was dit duidelik nodig vir leiers soos Biden en Johnson om hulle fokus te verskuif. Die behoefte om op China as opkomende wêreldmag te fokus is ook nie iets nuuts nie, maar het al ’n redelike lang aanloop gehad.

Verlede jaar tydens die hoogbloei van die Covid-19-pandemie was daar steeds ’n toename in globale verdedigingspandering. Byna $2 000 miljard is verlede jaar wêreldwyd deur regerings op verdediging spandeer. Dit is, ten spyte van die pandemie en die ekonomiese insinking in die meeste lande wêreldwyd, steeds ’n styging van 2,6% vanaf 2019. As persentasie van die globale bruto binnelandse produk het verdedigingspandering ook van 2,4% tot 2,6% gestyg.

Oudpres. Donald Trump (Foto: Mandel Ngan/AFP)

Onder leiding van voormalige president Trump het die VSA weer begin om sy begroting vir verdediging te verhoog. Dieselfde gebeur in Brittanje. In Duitsland het Annegret Kramp-Karrenbauer, dié land se minister van verdediging, vroeër vanjaar ’n ernstige beroep op ’n wesenlike verhoging van die Duitse verdedigingsbegroting gedoen. Dieselfde het in Japan gebeur waar dié land se minister van verdediging óók sy regering vir heelwat meer geld gevra het.

Die afgelope week het die regering van Taiwan ’n skerp toename in sy verdedigingsbegroting aangekondig. In Asië is daar verskeie lande, insluitend Indië, Viëtnam, die Filippyne en Suid-Korea, wat ook vanjaar reeds skerp toenames in hulle verdedigingsbegrotings aangekondig het.

Die drie staatshoofde wat Woensdagaand ’n nuwe verdrag aangekondig het, het hulle kommer oor die veiligheidsituasie in Asië en die Stille Oseaan-gebied uitgespreek. China se ambassadeur in die VSA het daarop gereageer deur te sê dat Westerse lande tans ’n koue oorlog-mentaliteit het en dat ’n sogenaamde ideologiese vooroordeel teen China hulle optrede dikteer.

Verwysend na die koue oorlog tussen die Weste en die Sowjetunie is dit duidelik dat een van die belangrikste eienskappe of gevolge van ’n koue oorlog juis ’n wapenwedloop is. Daar is genoeg rede om te glo dat Woensdag se aankondiging tot ’n nuwe wapenwedloop bygedra het, wat reeds ’n paar jaar gelede begin het, maar nou duidelik gaan intensiveer.

Poging om Kaliforniese goewerneur te herroep misluk

Gavin Newson. (Foto: Justin Sullivan/Getty Images/AFP)

Die Republikeinse Party in Kalifornië, die Amerikaanse deelstaat met die grootste bevolking en grootste ekonomie, het Dinsdag misluk in hulle poging om dié staat se goewerneur, Gavin Newson, te laat herroep. Byna 64% van kiesers het in Dinsdag se herroepingsverkiesing gekies om Newson in sy posisie te behou. Byna 10 miljoen van die deelstaat se 25 miljoen geregistreerde kiesers het in Dinsdag se verkiesing gestem. Meer as 6,1 miljoen het teen Newson se verwydering uit sy posisie as goewerneur gestem.

In Kalifornië kan kiesers ’n inisiatief loods om sommige verkose lede van dié deelstaat se regering, sowel as plaaslike regerings in Kalifornië, uit hulle verkose posisies te laat verwyder. ’n Sogenaamde petisie van voorneme moet deur minstens 65 kiesers onderteken word. Daarna word dit as ’n wettige petisioneringspoging beskou en kan ’n veldtog om ’n regeringsleier in die deelstaat te herroep, begin. In die geval van ’n goewerneur moet 12% van kiesers wat in die mees onlangse verkiesing gestem het ’n petisie onderteken voordat ’n amptelike verkiesing waarin kiesers die amptenaar kan herroep, gehou word.

In 2003 is Gray Davis, Kalifornië se goewerneur en ook ’n Demokraat soos Newson, in ’n soortgelyke herroepingsverkiesing herroep en deur die bekende akteur, Arnold Schwarzenegger vervang. Davis was weens sy hantering van ’n elektrisiteitskrisis in Kalifornië baie ongewild toe die herroepingsverkiesing plaasgevind het. Schwarzenegger se sterstatus het ook ’n groot bydrae tot Davis se suksesvolle herroeping in 2003 gelewer.

Wat was dan vanjaar anders? Newson het in aanloop tot Dinsdag se verkiesing die steun van 56% van Kaliforniese burgers geniet. Hoewel hy die afgelope maande skerp weens sy streng, byna drakoniese, maatreëls teen die Covid-19-pandemie gekritiseer is, sowel as sy regering se belastingverhogings, strenger ekonomiese regulasies en ander tipiese linkse beleidstappe, het Newson steeds die steun van ’n groot meerderheid van kiesers geniet.

Die Republikeinse Party kon ook nie met ’n alternatiewe kandidaat soos Schwarzenegger vorendag kom nie en Larry Elder, die swart konserwatiewe radio-aanbieder, was uiteindelik die party se sterkste alternatief teen Newson. Elder is egter te konserwatief vir Kalifornië se oorweldigende linkse kieserskorps en is gereeld tydens die veldtog aan Donald Trump gelykgestel.

Kalifornië het die afgelope drie dekades voortdurend ideologies na links verskuif en Republikeine slaag nie meer daarin om enige topposisies in dié deelstaat te beheer nie. George HW Bush was in 1988 die laaste Republikeinse presidentskandidaat wat Kalifornië kon wen. In 2004 het sy seun, George W Bush, daarin geslaag om 44,4% van die stemme in Kalifornië te wen. Verlede jaar kon Donald Trump slegs 34% van die stemme in Kalifornië wen.

Hoewel Kalifornië steeds die grootste bevolking van al die VSA se 50 deelstate het, is daar die afgelope paar jaar ’n groot uitvloei van veral meer konserwatiewe burgers na ander deelstate, veral Texas. Verlede jaar het Kalifornië se bevolking met 182 000 gekrimp, ten spyte van voortdurende groei in dié deelstaat se immigrantebevolking.

Die getal konserwatiewe en Republikeinsgesinde kiesers in Kalifornië raak dus voortdurend minder terwyl meer liberale kiesers uit ander deelstate wat na Kalifornië verhuis, saam met ’n toename in immigrante, die Demokratiese Party se magsbasis versterk.

Kalifornië se wit bevolking het van 46,7% in 2000 tot 34,7% in 2020 gedaal. Latyns-Amerikaners het van 32,7% tot 39,4% gestyg en daar was veral ’n skerp toename in Asiatiese burgers van 12,3% tot 17,8%.

Die Republikeinse Party het ’n duur les in Dinsdag se vernederende nederlaag in Kalifornië geleer. Een deel van hierdie les is dat die party by talle Amerikaanse deelstate se demografiese verandering sal moet aanpas en dat die steun van veral konserwatiewe Latyns-Amerikaners, Asiatiese-Amerikaners en Afro-Amerikaners gewerf moet word indien die party enigsins in die toekoms mededingend in verkiesings wil bly.

Nederlandse minister bedank na spanning met parlement

Sigrid Kaag. (Foto: Sem van der Wal/ANP/AFP)

Die afgelope paar maande het die spanning tussen die tydelike kabinet van premier Mark Rutte en ʼn groeiende meerderheid van Nederlandse parlementslede bly toeneem. Die nuutste slagoffers hiervan is Sigrid Kaag, minister van buitelandse sake, wat Donderdagaand uit haar pos bedank het en Ank Bijleveld, minister van verdediging, wat ook Vrydag bedank het nadat die Tweede Kamer der Staten-Generaal (laerhuis van die Nederlandse parlement) ʼn mosie van afkeuring teen die regering se hantering van die krisis in Afghanistan aanvaar het. Dié mosie het beide Kaag en Bijleveld geteiken.

Sedert die Nederlandse verkiesing in Maart het die land ʼn “opsigtersregering” onder leiding van Rutte. Rutte is reeds sedert 2010 premier van Nederland en sy liberaal-konserwatiewe Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) het in Maart se verkiesing weer gemaklik eerste geëindig. Sedert die verkiesing sukkel Rutte egter om ʼn nuwe koalisieregering saam te stel, veral weens verdeeldheid tussen die vier partye wat tussen 2017 en Maart vanjaar deel van sy Rutte 3-koalisieregering was.

Reeds voor vanjaar se verkiesing het verskeie parlementslede (in Nederland staan hulle as volksverteenwoordigers bekend) oor Rutte en sy regering se ondermyning van die gesag van die parlement begin brom. Sedert die verkiesing het dit vererger en die meeste partye in die parlement voel dat die opsigtersregering sy magte oorskry en nie die parlement in belangrike sake ken nie. Dit het daartoe gelei dat die ChristenUnie (CU), die kleinste party in die huidige vierpartyregering, Donderdagaand ten gunste van die mosie van afkeuring gestem het en daardeur die mosie laat slaag het.

Sigrid Kaag is die leier van die progressief-liberale D66-party in Nederland. Dié party het in Maart se verkiesing tweede geëindig en is sedert 2017 reeds deel van Rutte se regering. Kaag het slegs in Mei vanjaar minister van buitelandse sake geword nadat Stef Blok uitgetree het. Blok het in 2019 sterk standpunt teen die beplande grondwetwysiging in Suid-Afrika om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak, ingeneem, en het tydens ʼn besoek aan Suid-Afrika die Nederlandse regering se afkeur aan president Ramaphosa oorgedra.

Dit is nog onseker wie die nuwe, tydelike minister van buitelandse sake van Nederland gaan wees. Dit lyk egter of dié land volgende week sonder ʼn minister by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gaan wees.

Intussen vergader Rutte (VVD), Kaag (D66) en Wopke Hoekstra van die Christen-Democratisch Appèl (CDA) hierdie naweek by ʼn landgoed in Hilversum om oor ʼn nuwe koalisievergadering te praat. Rutte se eerste keuse was om met sy bestaande vierpartykoalisie voort te gaan. Die ChristenUnie het reeds in Maart en April kommer uitgespreek oor of hulle weer in so ʼn koalisie sal kan saamwerk. Kaag het onlangs aangedui dat sy verkies om nie met die ChristenUnie saam te werk nie en dat sy eerder twee ekstra linkse partye, GroenLinks en die Partij van de Arbeid (PvdA), wil betrek.

Die CDA, die grootste verloorder in Maart se verkiesing, wil graag deel van ʼn regering wees en is duidelik, ten spyte van enorme verlies aan steun, bereid om byna met enigiemand in ʼn nuwe regering saam te werk. Dit is moontlik dat die VVD, D66 en CDA saam ʼn minderheidsregering kan vorm. Dié drie partye het tans 73 setels in die Tweede Kamer, net drie minder as die vereiste 76-meerderheid. Die alternatief is dat hulle ʼn ander party as die ChristenUnie in ʼn nuwe regering kan betrek ten einde ʼn meerderheid te vorm.

Intussen was daar die afgelope week harde debatte tot laat in die nag in die Tweede Kamer oor onder andere die instelling van ʼn Covid-19-paspoort, die hantering van die krisis in Afghanistan en die uitgerekte vorming van ʼn nuwe koalisieregering. Die Tweede Kamer se aanvaarding van ʼn harde mosie teen twee ministers en die bedanking van een van die twee Donderdagaand is egter ʼn aanduiding dat die demokrasie, hoewel morsig, nog sterk in Nederland is met parlementslede wat bereid is om hulle tande vir die regering te wys en hulle rol as ware volksverteenwoordigers ernstig op te neem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Die Biden-poppekas-base se toutjies begin losraak. Hul blyk nie oor die helderste van denke te beskik nie. Natuurlik was die VSA se planmakers sedert die eerste atoombom vreeslik opgesit met sy magtige kragte. Skoon vergeet van die Made in China-fabrikaat wat al klaar in die soutwater week.

Anton ·

Die wedloop is vir eers verby. China beplan vir wereld oorheersing terwyl Amerika wonder oor watter toilet vir wie toeganklik is.
Die les uit Kalifornie is dat die VSA as een land daarmee heen is. Eers Trump en nou Biden versnel verbrokkeling. Nog in ons leef tyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.