Internasionale oorsig: Onsekerheid in Midde-Ooste oor VSA-verhouding

Pres. Joe Biden. (Foto: Andrew Caballero-Reynolds, AFP)

Byna ’n maand ná die inhuldiging van die nuwe Amerikaanse president is verskeie lande in die Midde-Ooste steeds onseker oor hoe Joe Biden se administrasie sy verhoudinge met lande in dié streek gaan hervat en tot watter mate dit die reeds gespanne magsverhoudinge in die streek gaan beïnvloed.

Tydens verlede jaar se verkiesingsveldtog het Biden beloof om van Saoedi-Arabië ’n uitgeworpene (“pariah” in sy eie woorde) in die streek te maak weens dié koninkryk se voortdurende menseregtevergrype. Die afgelope twee dekades het presidente George W. Bush, Barack Obama en Donald Trump almal goeie betrekkinge met die leiers van Saoedi-Arabië gehandhaaf. Amerikaanse leiers het egter gereeld verby menseregtevergrype en steun aan Islamitiese terreurgroepe vanuit Saoedi-Arabië gekyk omdat Amerika se verhouding met dié land nog altyd heelwat meer voordele as nadele ingehou het.

Die VSA voer reeds sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog ’n ingewikkelde stryd om invloed in die Midde-Ooste. In 1933 is formele bilaterale betrekkinge met Saoedi-Arabië gesluit en sedertdien was daar nog altyd samewerking tussen dié twee lande, onder meer in die stryd teen kommunisme, die invloed van Saddam Hoessein se Irak en meer onlangs die invloed van Iran in lande soos Irak, Sirië, Jemen en Libanon.

Biden se minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het die afgelope week samesprekings met sy eweknieë van Brittanje, Frankryk en Duitsland gevoer om te probeer om die kernooreenkoms met Iran weer van die grond af te kry. Dié ooreenkoms wat Iran se kernprogram probeer beheer het, is in 2015 onderteken, maar president Trump het in Mei 2018 die VSA uit die ooreenkoms onttrek en sedertdien het Iran ook begin om die voorwaardes van die ooreenkoms te oortree hoewel ander partye tot die ooreenkoms, soos Brittanje, Frankryk en Duitsland, die Irannese probeer oortuig het om dit nie te doen nie. Die Biden-administrasie het die afgelope week dit duidelik laat blyk dat hulle ten gunste daarvan is dat die VSA en Iran weer na volle implementering van die 2015-ooreenkoms terugbeweeg.

Saoedi-Arabië en Iran is ou aartsvyande. Dié twee lande verteenwoordig twee afsonderlike planete in die Moslem-wêreld. Saoedi-Arabië verteenwoordig die Arabiese volkere en die Soennitiese groepering van die Moslem-geloof, wat omtrent 85% van alle Moslems wêreldwyd uitmaak. Iran, daarteenoor, verteenwoordig die Persiërs en die Sjiïtiese Moslem-stroming wat sowat 15% van die wêreld se Moslem-bevolking uitmaak.

Hoewel die VSA vir lank baie goeie verhoudinge met Iran gehandhaaf het, het dit skipbreuk gely ná die Iranse revolusie van 1979 wat ʼn gematigde, byna sekulêre en moderne Irannese staat amper oornag in ʼn Islamitiese teokrasie omskep het. Die VSA was in 1953 saam met Brittanje regstreeks betrokke by ʼn geslaagde staatsgreeppoging om die demokratiese regering van premier Mohammad Mosaddegh omver te werp ten einde die monargie van die sjah, Reza Pahlavi, ʼn bondgenoot van die Weste, te herstel.

Behalwe vir Saoedi-Arabië en Iran is Israel en Turkye die ander twee belangrike rolspelers in die Midde-Ooste. Biden het die afgelope week vir die eerste keer sedert hy ingehuldig is, formeel samesprekings met die Israelse premier Benjamin Netanyahu gevoer. In Israel heers daar ook heelwat onsekerheid oor die toekomstige verhouding tussen die VSA en dié land. Hoewel die Biden-administrasie aangekondig het dat hulle die Amerikaanse ambassade wat Trump van Tel Aviv na Jerusalem verskuif het, daar sal hou, is Biden bekend vir sy fel kritiek op Israel se vestiging van Joodse nedersettings in die Wesoewer die afgelope paar jaar.

Pres. Recep Erdogan. (Foto: Turkse presidensie via AP)

Turkye is die ander belangrike rolspeler in die Midde-Ooste. Dit is die enigste land in die Midde-Ooste (hoewel Turkye gedeeltelik in Europa val) wat lid van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) is. Turkye was vir dekades lank ʼn belangrike bondgenoot van die Weste en verskeie Westerse lande het van weermagbasisse in Turkye gebruik gemaak. President Recep Erdogan het egter die afgelope dekade die verhouding tussen Turkye en die Weste laat versuur met sy aanslae op die demokratiese bestel in Turkye en sy direkte uitdagings aan Westerse lande. Turkye speel egter ’n baie belangrik rol in die hantering van die vlugtelingkrisis met meer as drie miljoen vlugtelinge uit Sirië wat, met die hulp van Wes-Europese lande, in Turkye geakkommodeer word. Turkye is ook regstreeks betrokke by konfliksituasies in Sirië, Libië, die noorde van Irak en die Kaukasus-streek. Presies hoe Biden op president Erdogan se uitdagende optrede gaan reageer, is nog onseker.

Intussen het Saoedi-Arabië die afgelope paar weke ’n hele paar pogings aangewend om die Weste, die VSA ingesluit, te oortuig dat dié land ernstig oor hervormings is. Op 10 Februarie is die vroueregte-aktivis Loujain al-Hathloul ná meer as 1 000 dae in gevangenskap vrygelaat. Omvattende hervormings aan dié land se regstelsel is ook aangekondig. Saoedi-Arabië het ook onlangs aangekondig dat hulle teks in skoolhandboeke wat die sogenaamde heilige oorlog deur Moslems aanmoedig, en teks wat tot radikalisering kan lei, verwyder het. Teks in skoolhandboeke wat die doodstraf vir homoseksualiteit en egbreuk aangemoedig het, is ook verwyder.

Turkye het die Weste ook ’n olyftakkie aangebied deur vir die eerste keer in vyf jaar samesprekings met Griekeland te hervat oor geskilpunte tussen dié twee lande. Nog ekonomiese hervormings is in Turkye aangekondig.

Die Biden-administrasie het egter ’n groot uitdaging in die Midde-Ooste. Sal hulle die laaste Amerikaanse soldate uit Afganistan en Irak onttrek en die risiko skep dat Islamitiese terreurgroepe dié twee lande weer in totale chaos dompel? Sal ’n nuwe kernooreenkoms met Iran gesluit word en sanksies teen dié land uitgefaseer word in weerwil van teenstand uit Saoedi-Arabië en Israel? Heelwat meer vrae as antwoorde bestaan tans nog oor hoe die Biden-administrasie hierdie en ander vraagstukke in die Midde-Ooste gaan hanteer.

Gaan Biden uit Afganistan en Irak onttrek?

Pres. Donald Trump. (Argieffoto: REUTERS/Carlos Barria)

Een van die belangrikste vraagstukke oor Amerikaanse buitelandse beleid is die finale onttrekking van Amerikaanse soldate uit Afganistan en Irak. Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump het reeds in 2019 begin om Amerikaanse soldate uit albei lande te onttrek en hy was vasbeslote om die meeste Amerikaanse soldate te onttrek, nadat hy ook Amerikaanse soldate uit Sirië begin onttrek het.

Daar is tans 2 500 Amerikaanse soldate in Afganistan en nog 2 500 in Irak. Maandagaand se vuurpylaanvalle op ’n lugmagbasis naby die Erbil Internasionale Lughawe in die noorde van Irak het die huidige veiligheidsuitdagings verder beklemtoon. Een buitelandse kontrakteur wat vir die Amerikaanse regering gewerk het, is tydens dié aanval dood en een Amerikaanse soldaat is beseer. ’n Kleiner, onbekende Sjiïete-terreurgroep wat daarop aandring dat Amerika en Turkye uit Irak onttrek, het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

Vroeg verlede jaar is ’n Amerikaanse kontrakteur dood en vier Amerikaanse soldate beseer toe ander Sjiïete-groepe soortgelyke aanvalle op die Amerikaanse weermagbasis by Kirkoek, ook in die Koerdiese noorde van Irak, van stapel gestuur het. Sedertdien was daar voortdurend aanvalle op Amerikaanse teikens in Irak.

Intussen het die politieke situasie in Irak verder verswak met selfdoodbomaanvalle wat onlangs weer chaos in Bagdad veroorsaak het nadat dié stad, sedert die Islamitiese Staat in 2017 verslaan is, redelike kalmte begin ervaar het. Betogers in Irak eis dat ’n nuwe verkiesing gehou moet word.

In die Koerdiese noorde het Turkye ook onlangs weer begin met lugaanvalle op Koerdiese groepe, wat volgens die Turke vir terreuraanvalle in Turkye verantwoordelik is. Wat almal wil weet, is waar die Amerikaanse regering staan. Vir lank was die Koerde ’n bondgenoot van Amerika, maar baie Koerde voel dat die Trump-administrasie hulle in die rug gesteek het deur die Turke toe te laat om Koerdiese gebiede in die noorde van Sirië te beset en voortdurende aanvalle op die Koerde in Sirië en Irak aangevoor het.

(AP Photo/Alex Brandon)

Sou die VSA nou sy laaste soldate uit Irak onttrek, kan dit ’n veiligheidsvakuum skep waarin terreurgroepe weer kan begin floreer. Dieselfde geld in Afganistan waar terreuraanvalle deur die Taliban en die Islamitiese Staat byna daagliks plaasvind.

Die oorlog in Afganistan is die langste oorlog waarin die VSA nog betrokke was. Die oorlog het die Amerikaanse regering reeds sowat twee miljard dollar uit die sak gejaag.

Die regering van Afganistan en die Taliban slaag nie daarin om ’n vredesooreenkoms te sluit nie en dit skep heelwat frustrasie onder Amerikaners wat wil sien dat die VSA finaal sy soldate uit dié land onttrek. ’n Vroeë onttrekking sal die weermag van Afganistan egter nog meer weerloos laat en kan meebring dat die land weer in ’n totale burgeroorlog verval.

Die situasie in Irak en Afganistan het die afgelope twaalf maande drasties verswak en die Amerikaanse regering sal dringend ’n strategie moet ontwikkel om die situasie om te keer.

Politieke krisis in Georgië verdiep

Giorgi Gakharia. (Foto: Lex van LIESHOUT/ANP/AFP)

Die eerste minister van Georgië, Giorgi Gakharia, het Donderdag bedank nadat die politieke krisis wat sedert Oktober se verkiesing in dié land heers, verder verdiep het. Die stadshof van Georgië se hoofstad, Tbilisi, het Woensdag opdrag gegee dat die voorsitter van die Verenigde Nasionale Beweging, Nika Melia, in hegtenis geneem moet word. Dit volg ná ’n ondersoek oor die grootskaalse betogings wat in 2019 in Tbilisi plaasgevind het nadat die regerende Georgië Droom-party ’n Russiese parlementslid genooi het om die parlement van Georgië toe te spreek.

Die Verenigde Nasionale Beweging is in 2003 deur Mikheil Saakashvili opgerig. Dié party het Georgië tussen 2003 en 2012 regeer en is sedert die parlementêre verkiesing in 2012 die hoofopposisieparty. Saakashvili was vanaf Januarie 2004 tot November 2013 die president van Georgië. In Georgië is die president die staatshoof, en hy is verantwoordelik vir buitelandse skakeling en vir die beskerming van die land. Die eerste minister is verantwoordelik vir die uitvoerende gesag.

Ná die val van die Sowjetunie is Georgië vanaf 1992 tot 2003 deur ’n kommunistiese groepering, lojaal aan Rusland, regeer. Tydens die Roos-revolusie (The Revolution of Roses) in November 2003 is dié regering geforseer om te bedank en kon die eerste volledig demokratiese verkiesings in Georgië plaasvind. Sedertdien het dié land groot vordering gemaak met die demokratisering van instellings, gereelde demokratiese verkiesings, ’n aktiewe burgerlike samelewing en die vestiging van ’n oop ekonomie. Georgië het sedert demokratisering vir lank sterk ekonomiese groei ervaar en die land word as een van die lande ter wêreld met die vryste ekonomieë, laagste korrupsievlakke en oor die algemeen min misdaad beskou. Die Wêreldbank lys Georgië as die sewende maklikste land om in sake te doen.

Saakashvili het vanaf 2004 omvattende hervormings ingestel en Georgië naby aan die Weste geposisioneer. Noue bande is veral met die VSA gesluit en president George W. Bush het dié land tydens sy bewind besoek. Dit het egter tot meer spanning met Rusland en uiteindelik tot ’n oorlog in 2008 aanleiding gegee waartydens Rusland twee provinsies van Georgië beset het. Dié twee provinsies, Abkasië en Suid-Ossetië, is tot vandag toe beset en word as kwasi-outonome state met die hulp van Rusland bedryf, hoewel min lande in die wêreld hul onafhanklikheid erken.

Baie kommentators het Saakashvili se hervormings as te veel, te vinnig beskou en uiteindelik is sy party in 2012 deur kiesers met die Georgië Droom-party vervang. Dié party wou die politieke en ekonomiese hervormings stadiger implementeer, en hoewel hulle steeds ten gunste van noue bande met die Weste is, wou die party ook Georgië se verhouding met Rusland verbeter. Dit het in 2019 tot die uitnodiging aan ’n Russiese parlementslid aanleiding gegee.

Op 20 Junie 2019 het protesoptrede voor die parlement van Georgië uitgebreek nadat Sergei Gavrilov, ’n lid van die Kommunistiese Party van Rusland en ’n lid van die Russiese Doema (parlement), ’n interparlementêre vergadering oor ortodoksie op uitnodiging van die regerende Georgië Droom-party toegespreek het. Hy het sy toespraak in Russies gelewer. Daar is sedert 2003 ’n aktiewe proses om die invloed van Russies in Georgië te verminder met Russies wat in die meeste plekke deur Engels as tweede taal vervang is. Gavrilov was ook ’n groot voorstander van Rusland se besetting van Abkasië en Suid-Ossetië, wat vir die meeste mense in Georgië totaal onaanvaarbaar is.

(Foto: Vano Shlamov/AFP)

Lede van opposisiepartye, veral die Verenigde Nasionale Beweging, het toe met gereelde betogings in Tbilisi begin. Die voorsitter van die Verenigde Nasionale Beweging, Nika Melia, is in hegtenis geneem op aanklagte dat hy tydens die betogings groepsgeweld georganiseer het en self daaraan deelgeneem het. Hy is uiteindelik op borgtog vrygelaat. Vandeesweek se aankondiging dat Melia weer in hegtenis geneem moet word, het die gemoedere weer verder laat opvlam.

Intussen het opposisiepartye die uitslag van Oktober 2020 se verkiesing verwerp, en hulle boikot sedertdien parlementsittings. Gakharia se bedanking Donderdag is ’n poging om die huidige politieke krisis by te lê.

Georgië is ’n land van groot potensiaal, maar met ’n jong demokrasie wat duidelik tans sy ergste storm die afgelope dekade beleef. Dit, gepaardgaande met die pandemie en gevolglike laer ekonomiese groei, gaan groot uitdagings vir die leiers van dié land bied.

Die minister van binnelandse sake van Georgië het intussen die inhegtenisname van Melia tydelik uitgestel nadat betogers weer na die hoofstad opgeruk het. Die Amerikaanse ambassade in Georgië het ook ’n beroep op die regering en opposisiepartye gedoen om saam te werk om geweld te voorkom.

Die minister van verdediging, Irakli Garibashvili, is Donderdagaand as nuwe eerste minister benoem, maar sy aanstelling sal deur die parlement goedgekeur moet word. Intussen eis opposisiepartye dat ’n nuwe verkiesing in Georgië gehou moet word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anton ·

As enige iemand Biden se beginsels kan identifiseer, sal ons moontlik kan voorspel wat sy beleidsrigtings sal wees

Hendrik ·

Ewe skielik het ek baie belangstelling in Amerika verloor en hulle moet maar die gelag betaal vir hulle keuse van president. Ongelukkig raak dit die hele wereld maar Suid-Afrika is op sy eie eiland besig om te oorleef met die ANC se beleidsrigting.

Human ·

Die doemprofete (naysayers) is weer in hoogste rat. Siener van Rensburg moet in sy graf omdraai oor die spannetjie (Tjankkommando) wat nou sy skoene wil (probeur) volstaan.

MakersMark ·

Siener en Biden sou ‘n goeie span gemaak het. In die land van die blindes is die siener koning.

andre ·

Trump het tydens sy ampstermyn in vrede met ander lande gelewe.Kom ons kyk wat gebeur !

Anti-Verkramp ·

Hoekom het trompie van die kernooreenkoms met Iran onttrek? Nou moet Biden weer die potskerwe optel. Trompie se oorhaastige onttrekking van troepe uit Irak blyk ook ‘n fout te wees.

Luister ·

Hy het seker gevoel Amerika moet nie langer almal se handjie vashou nie. Hoekom moet Amerika betrokke wees by die midde ooste?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.