Internasionale oorsig: Oos-Europa en die stryd om invloed

Alexander Loekasjenko. (Foto: Nikolai Petrov/BelTA, Pool Photo via AP)

Belarus is nie juis ʼn land waarop die media veel fokus nie. Dit is ʼn vreedsame Oos-Europese land van 9,4 miljoen mense wat reeds sedert 1994 deur die outoritêre leier Alexander Loekasjenko geregeer word.

Oor die jare het die meeste lande in Europa die situasie in Belarus aanvaar. Presidentsverkiesings het ʼn rookskerm vir ʼn kammademokrasie geword met Loekasjenko wat keer op keer sonder veel opposisie herkies word.

Verlede Sondag se presidentsverkiesing was egter anders. Hoewel Loekasjenko volgens die amptelike verkiesingsuitslag meer as 80% van die stemme op hom verenig het, vertel die werklikheid op grondvlak duidelik ʼn ander storie. Vroeër vanjaar is die gewilde jong opposisieleier, Sergei Tichanowski, in hegtenis geneem. So het Loekasjenko hom as opposisiekandidaat uitgeskakel.

Swetlana Tichanowskaja. (Foto: AP Photo/Sergei Grits)

In ʼn verrassende stap het sy vrou, die 37-jarige Swetlana Tichanowskaja, besluit om haar as kandidaat vir die presidentskap beskikbaar te stel. Sy het vinnig bekend geword in Belarus en haar verkiesingsbyeenkomste is deur duisende mense bygewoon. Een van die byeenkomste in Minsk waar sy opgetree het, is deur meer as 63 000 mense bygewoon.

Die een rede waarom baie Europese leiers die outoritêre bedeling in Belarus gelate aanvaar het, was juis omdat die burgery in Belarus tevrede was. Die land, wat in 1991 onafhanklik geword het, was redelik vreedsaam, het ʼn lae werkloosheidskoers en redelike basiese dienste is in die land beskikbaar. Die afgelope paar jaar het frustrasie egter stil-stil in Belarus begin ontwikkel.

(Foto: AP Photo/Sergei Grits)

Sedert Sondag se verkiesing vind groot betogings reg oor Belarus plaas. Tichanowskaja en haar kinders moes na Litoue vlug en na wat berig word, het die polisie hardhandig teenoor betogers opgetree en heelwat beserings en selfs sterftes is aangemeld.

Vir die eerste keer in jare dring Wes-Europese lande nou luidkeels daarop aan dat demokrasie in Belarus moet seëvier. Die land wat soms as die laaste diktatorskap in Europa beskryf word, verkeer egter sedert die val van die Sowjetunie onder die invloed van Rusland. Ten spyte van Loekasjenko se aanvalle op Rusland in die aanloop tot Sondag se verkiesing, het die Russe hom direk nadat die verkiesingsuitslag bekend geword het, gelukgewens. Vir Rusland is dit belangrik dat Belarus onder sy invloed moet bly en dat die land nie ʼn demokratiese, pro-Westerse regering moet kry nie.

(Foto: AP Photo)

Die stryd tussen Westerse en Russiese invloed kom nog dikwels in Oos-Europa voor. In die onlangse verkiesing in Noord-Masedonië was dit ook ʼn belangrike verdelingspunt tussen die vernaamste partye.

In die Oekraïne het ons die afgelope twee dekades politieke- en veiligheidskrisisse sien ontwikkel wat deur ʼn stryd tussen pro-Westerse en pro-Russiese magte veroorsaak is. In Georgië het ʼn soortgelyke stryd in 2008 selfs tot ʼn kortstondige oorlog tussen dié land en Rusland gelei.

(Foto: AP Photo)

(Foto: AP Photo/Sergei Grits)

Niks hiervan is egter nuut nie. Oos-Europese lande het reeds vir eeue te make met die uitdaging wat hul geografiese ligging inhou. Só was die Balkan en veral Serwië lank die punt waar Rusland en die Oostenryk-Hongaarse Ryk ontmoet het. Vandag nog sien ons die stryd om invloed in die Balkan met die Europese Unie en Navo wat in die streek uitbrei en Rusland wat sy invloed in lande soos Serwië en Noord-Masedonië probeer uitbrei.

Kultureel en histories het Rusland baie in gemeen met die Balkan- en ander Oos-Europese lande en streke. Die aantrekkingskrag wat Wes-Europa en die Europese Unie vir talle Oos-Europese lande inhou, is suiwer ekonomiese belang. Dit is daarom belangrik dat die Europese Unie ruimte vir Oos-Europese lande moet skep om hul eie unieke politieke en kulturele bedelings te bly bedryf. Die waardestryd wat Wes-Europese lande met lande soos Pole en Hongarye voer, is teenproduktief en selfs arrogant. Uiteindelik moet ʼn langtermynverhouding en gesonde magsbalans tussen Wes-Europa, Oos-Europa en Rusland ontwikkel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JJ ·

Nie die volledige prentjie nie. Swetlana Tichanowskaja. ‘n dapper vrou so na my hart. Met haar man en presidensiele kandidaat in die tronk, stap sy twee weke voor die verkiesing uit die kombuis en stel haar as presidensiele kandidaat, Stuur haar kinders na ‘n ander land om hulle veilig te hou-veg ‘n verkiesing teen despotiese oormag en trek skares van tot 60,000 , wen die verkiesing na alle waarskynlikheid, net om direk daarna ook te vlug na ‘n ander land. Dit terwyl die Eurpose Unie en Merkel in stilswye toekyk. Die wereld kyk toe. Waar is Belarus nou weer? Waar is Suid Afrika nou weer? Dieselfde ding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.