Internasionale oorsig: Orban en die regse reaksie op Poetin en Oekraïne-krisis

Wladimir Poetin (regs) en Viktor Orban (Foto: YURI KOCHETKOV/ POOL/AFP)

Die regse eerste minister van Hongarye, Viktor Orban, het die afgelope week besoek afgelê by die Russiese president, Wladimir Poetin, in Moskou. Dit was Orban en Poetin se dertiende ontmoeting as staatshoofde. Orban is reeds byna 12 jaar lank eerste minister van Hongarye en is sedert die uittrede van die voormalige Duitse kanselier, Angela Merkel, nou die langsdienende staatshoof in die Europese Unie (EU).

Orban se boodskap Dinsdag was duidelik: Hongarye staan vir vrede en die enigste oplossing vir die huidige spanning tussen Rusland en die Weste moet een wees wat tot langtermynvrede lei.

Hoewel Dinsdag se besoek van Orban aan Poetin primêr verband gehou het met Hongarye se behoefte om meer bekostigbare aardgas uit Rusland in te voer in ʼn tyd waar die hele Europa, en ook Hongarye, onder duur gaspryse gebuk gaan en dit tot hoë inflasie bydra, het die vergadering van vyf uur tussen Orban en Poetin ʼn wye verskeidenheid van sake hanteer.

Orban se besoek aan Poetin, en die mediakonferensie ná die ontmoeting, het ook bevestig dat Orban, anders as leiers in veral Wes-Europa, ʼn meer pragmatiese benadering tot die hantering van verhoudinge met Rusland, en spesifiek die huidige krisis op Oekraïne se oosgrens, volg.

Terwyl Hongarye ʼn sterk verbintenis tot die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) en die EU het, weier die Hongaarse regering, met goeie rede, om by te dra tot die eskalering van spanning en moontlike konflik tussen die Weste en Rusland.

Hierdie sentiment word deur ander leiers in Sentraal- en Oos-Europa gedeel. Hongarye weier onder meer om tot ʼn toename in Navo-soldate op Hongaarse grondgebied in te stem. Hongarye deel ʼn grens met Oekraïne, en Orban was Dinsdag in Moskou duidelik uitgesproke dat Hongarye teen enige oorlog gekant is. Poetin het tydens die mediakonferensie ná die twee leiers se ontmoeting ook weer bevestig dat Rusland nie ʼn oorlog in Oekraïne beplan nie.

In teenstelling met die meeste van sy bure het Hongarye ook te kenne gegee dat hy geen verhoogde teenwoordigheid van Navo-troepe op sy grondgebied sal toelaat nie en nie meer hulp aan Oekraïne sal stuur nie.

Viktor Orban (Foto: Attila KISBENEDEK/AFP)

Orban het Dinsdag gesê dat voorgestelde sanksies teen Rusland “tot mislukking gedoem sal wees”. Volgens Orban het sanksies wat in 2014 deur Westerse lande teen Rusland ingestel is, tot ekonomiese probleme vir Hongarye en ander Europese lande gelei.

Die huidige spanning tussen Rusland en die Weste hou verband met Rusland en Poetin se behoefte om terug te druk teen die VSA en Westerse instellings soos Navo se ekspansionistiese benadering in veral Oos-Europa. Rusland wil sy eeue-oue invloed in Oos-Europa en die Midde-Ooste herbevestig, maar met byvoorbeeld Navo-lidmaatskap wat reeds tot op die grens van Rusland uitgebrei het, en Navo wat dreig om lidmaatskap aan lande soos Oekraïne, Moldowa en Georgië aan te bied, het Poetin met sy onlangse ontplooiing van duisende soldate naby aan Rusland se grens met Oekraïne sterk standpunt ingeneem.

Orban het Dinsdag gesê dat Poetin se eise vir veiligheidswaarborge normaal is en dat die regte stap vir die Weste sal wees om met Rusland te onderhandel en nie om konflik aan te blaas nie. Poetin het die afgelope weke herhaaldelik bevestig dat Rusland nie ʼn inval in Oekraïne beplan nie, terwyl leiers soos pres. Joe Biden in die VSA die oorlogsdromme toenemend slaan deur te beweer dat Rusland enige oomblik Oekraïne gaan binneval. Die VSA het die afgelope week nog duisende soldate na Europa gestuur.

Reeds in 2016 het Donald Trump tydens sy verkiesingsveldtog gesê dat die VSA se verhouding met Rusland herbedink moet word. Hoewel daar niks van gekom het tydens Trump se presidentskap nie, is daar verskeie stemme in die regse politiek in die VSA en Europa wat soos Orban vir ʼn ander benadering jeens Rusland vra.

Pat Buchanan, wat twee keer presidentskandidaat in die VSA was en ʼn toespraakskrywer vir pres. Richard Nixon was, het reeds in 2013 op Poetin se konserwatiewe waardes as ʼn aanknopingspunt gewys. In 2014 het Buchanan in ʼn artikel geskryf dat Poetin tradisionele konserwatiewe waardes het en dat hy, anders as moderne Westerse regerings, daarop gefokus is om hierdie waardes in Rusland in stand te hou.

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

Die konserwatiewe Amerikaanse tydskrif Newsmax het onlangs op sy voorblad na Poetin as “Vlad the great” verwys.

Terwyl die twee grootste politieke partye in die VSA se houding jeens Rusland die afgelope paar jaar verander het, is ʼn groot meerderheid van Amerikaanse politici steeds baie sterk teen Russiese invloed gekant. Terwyl die Demokrate byna volledig anti-Rusland geraak het, is daar verskeie stemme in die Republikeinse Party wat vir ʼn hersiening van verhoudinge vra.

Ook in Europa staan Orban nie alleen nie. Verskeie regse politieke leiers het die afgelope paar jaar die EU probeer oortuig om anders oor sy verhouding met Rusland te dink. Dit lyk egter nie of so iets binnekort gaan gebeur nie.

Volgens regse leiers verteenwoordig Poetin ʼn terugstoot teen die opkoms van liberale waardes in die Weste. Poetin verteenwoordig ook ʼn simbool van opposisie teen mense soos George Soros en hul verwante organisasies wat liberale politieke idees in Europese lande bevorder en selfs, soos tans in Hongarye en in 2014 in Oekraïne, verkiesings probeer beïnvloed.

Tot watter mate Poetin vertrou kan word, het die afgelope tyd tot heelwat debat in konserwatiewe media in die VSA gelei. Die Republikeinse senator Josh Hawley het onlangs gesê dat dit nie net oor konserwatiewe waardes gaan nie, maar ook oor die VSA se liefde om in ander wêrelddele in te meng.

Hawley verwys na die VSA se mislukte oorloë in Irak en Afganistan, en dat dit nodig is vir die VSA om minstens vanuit ʼn neutrale posisie na sy verhouding met Rusland te kyk.

Dit is egter duidelik dat Westerse leiers tans nie daarin belangstel nie, en die ontplooiing van Amerikaanse soldate in die ooste van Europa asook verskeie Westerse lande se hulp aan die weermag van Oekraïne beteken dat die Weste eerder vir oorlog met Rusland voorberei as vir vrede, soos Orban voorgestel het.

Geen gesamentlike toekoms by afskop van Winterspele

(Foto: Ben STANSALL/AFP)

Die Olimpiese Winterspele het Vrydag in China met die leuse, “Together for a shared future”, begin. Die Chinese regering het tydens die openingseremonie verklaar dat China met vanjaar se Winterspele die boodskap wil oordra dat die mensdom in harmonie moet saamwerk om ontberings soos die Covid-19-pandemie en die ekonomiese gevolge daarvan te bowe te kom.

Dit klink alles baie edel, maar die werklikheid is dat presies die teenoorgestelde tans aan die gebeur is en dat China sélf ʼn belangrike bydrae lewer om die teenoorgestelde uitkoms as wat die Spele se leuse verkondig, te bewerkstellig.

Terwyl atlete van oor die wêreld oor die volgende twee weke aan wintersport-items gaan deelneem, sal China voortgaan om Taiwan se lugruim met sy vegvliegtuie te skend, terwyl grensgeskille met Indië, Nepal en die lande van die Suid-Chinese See verder op die spits gedryf word.

Terwyl die Spele plaasvind, sal Chinese owerhede op atlete spioeneer deur onder meer op hul oproepe in te luister, terwyl die buitelandse media dit al hoe moeiliker vind om onafhanklik oor die Spele en ander nuus uit China te berig.

Die afwesigheid van wêreldleiers, veral van Westerse lande, was tydens die openingseremonie Vrydag in Beijing opmerklik. Slegs enkele leiers uit hoofsaaklik die Midde-Ooste en Asië was teenwoordig. Terwyl China wil sien dat die wêreld in harmonie saamwerk, het die oë van Westerse leiers, maar ook van leiers van lande soos Japan, Indië, die Filippyne en Suid-Korea, wat veral aan China se nuwe aggressiewe internasionale beleid blootgestel word, begin oopgaan.

China het in 2001 by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) aangesluit nadat dié land in die 1990’s wesenlike liberalisering van sy ekonomie ondergaan het. Ná sy aansluiting by die WHO is die land se dienstesektor ook geliberaliseer en buitelandse beleggings is toegelaat met beperkings op kleinhandel, groothandel en die verspreiding van produkte.

China het die Olimpiese Somerspele in 2008 aangebied met die leuse: “A more open China welcomes you!” Die teenoorgestelde van ʼn “more open China” het egter gebeur. Sedert Xi Jinping in 2012 China se president geword het, het hy die land stadig maar seker na die dae van Mao Zedong laat terugkeer.

Xi het ooglopend ʼn afkeer van die rol van die private sektor in China en hy is daarvan oortuig dat China sy nasionale veiligheid en kommunistiese ideologie bo prioriteite soos ekonomiese groei en pragmatiese ekonomiese beleid, soos wat die geval onder talle van sy voorgangers was, moet plaas.

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Xi se optrede teen verskeie groot maatskappye en bedrywe in China die afgelope tyd en sy regering se manipulering van internasionale handel maak dit duidelik dat China slegs met die res van die wêreld handel dryf solank as wat dit sy ideologiese en veiligheidsbehoeftes kan help finansier. Daar is geen behoefte meer by die Kommunistiese Party van China om dié land se ekonomie verder te liberaliseer en in die wêreldekonomie te integreer nie. Die teenoorgestelde is eerder die geval.

Terwyl Westerse lande hul ekonomieë vir Chinese invoere en Chinese beleggings oopgestel het, het China sy beperkings op buitelandse betrokkenheid in die Chinese ekonomie eerder opgeskerp. Dit is egter duidelik dat Westerse lande uiteindelik besef dat China nie van plan is om binnekort die Westerse model van ʼn oop ekonomie en demokrasie in te stel nie. Dit beteken dat China waarskynlik eerder meer geïsoleerd gaan funksioneer.

Hoewel Xi waarskynlik gemaklik is daarmee, kan dit ook beteken dat die Chinese ekonomie toenemend stadiger sal groei en dat stagnasie binne die volgende paar jaar moontlik is. Dit kan heelwat uitdagings vir die regeerders in China skep, veral met ʼn bevolking wat ʼn verwagting vir groeiende inkomste het en die toekomstige uitdagings wat ʼn verouderende bevolking vir China inhou.

Intussen sal die Winterspele waarskynlik nie onthou word vir ʼn mooi en sinvolle slagspreuk nie, maar eerder vir die ongewone omstandighede waarin dit plaasgevind het, naamlik met geen toeskouers, die strengste kwarantynreëls en atlete, asook beamptes en joernaliste wat vrees vir die gevolge sou hulle net iets sê of doen wat Xi en sy regime se reëls oortree.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Treurwilger ·

Westerse leiers moes hul atlete teruggehou het as hulle ‘n daadwerklike standpunt wou inneem.
Xi Jinping, Putin en ander lag sweerlik in hul mou vir die halfhartige flou poging tot kragdadigheid.
Hoe onindrukwekkend het die Weste nie geraak nie.

Donald Trump wou Rusland deel van die G7 maak, maar Westerse leiers was nie te vinde daarvoor nie.
Hulle wíl nie oplossings hê nie, dit pas hulle nie.
Dis al gevolgtrekking wat gemaak kan word.

Marthinus W ·

Poetin het dit al telkemale gese: hy stel nie belang in die G-7 nie, omdat dit elitisties is, en eintlik n vermorsing van tyd en geld. Hy ondersteun wel die G20, omdatn groter spektrum lande betrek word. Hy wil ook he dat die VN se Veiligheidsraad aangepas word, aangesien geen land van Afrika, Suid-Amerika, Midde-Ooste permanente lede is nie. Die Russe glo in internasionale reg, soos bedryf deur die VN. Amerika glo in `n wereld waar hulle die wette en reels maak, en die res van die wereld net die knie moet buig.

Treurwilger ·

Dankie Marthinus, dis interessante inligting, en Putin ‘score’ nou selfs nog méér punte by my.
As president Trump egter toegelaat was om verandering te bring in die tradisionele wantroue teenoor Rusland sou internasionale verhoudings veel gesonder gelyk het.
Opvallend hoe Duitsland bv. terugsit en swyg, terwyl Biden en Blinken kort-kort aankondig dat ‘n inval deur Rusland dreigend is. Wat ‘n ingewikkelde gemors.

CA ·

In die deel oor Rusland breek Jaco geslaagd weg van die stereotipes rondom die “aggressiewe” Rusland, maar interessant genoeg val hy terug op die ou Koue-oorlog-era clichés oor ‘n totalitêre, “meer aggressiewe” China wat op almal “sal” spioeneer, ‘n afkeer aan die markte-stelsel het en buitelandse handel beperk (wat van die groeiende BRI – Belt & Road Initiative, goederetreine wat van China tot in Duitsland ry?).

Inteendeel, ek het eerder die indruk dat Rusland en China met hulle samewerking op baie vlakke ‘n stabiliserende invloed op die wêreld het – in teenstelling met die verstommende arrogansie van Amerika wat net een taal ken nl druk en dreigemente deur sanksies en geweld.

Treurwilger ·

CA, wat China betref, is Jaco ongelukkig reg.
Toe Australië bv. ‘n onafhanklike ondersoek na die Wuhan-virus vra, het China feitlik onmiddellik alle landbouprodukte uit Aus geboikot, met geen respek vir bestaande handelsooreenkomste nie. Wyn, koring, vleis, kreef noem maar op.
Die gebrek aan optrede van die Wêreld Handelsorganisasie is teleurstellend en spreek boekdele oor dié tandelose instelling.

CA ·

Treurwilger – Ja, dis te bevraagteken of die handelsbeperkinge China se saak gedien het. As jy egter kyk na wat daartoe gelei het – Australiå se steun vir die poging van Amerika om ‘n “onafhanklike” virus-ondersoek te loods, buite om die WHO of die UN, en duidelik gemik op China – dan onderskryf die sage juis my punt: die voortgaande Westerse beheptheid met China as ‘n totalitêre diktatorskap wat Covid moontlik doelbewus die wêreld ingestuur het, of ten minste weens veronderstelde kroniese geheimhouding die wêreld tyd laat verloor het.

As Australië ‘n ander bril opgehad het as die Koue-oorlog een wat hy met Amerika deel, het die handelsbeperkinge waarskynlik glad nie gebeur nie.

Treurwilger ·

Die “Koue-oorlog-houding” moet beslis end kry, maar as daar nou al ooit één saak was wat totaal onafhanklik ondersoek móés word, dis nou veels te laat, was dit Die Virus en almal betrokke daarby. Ook die VSA se aandeel.
Dis nie gedoen nie weens vertragingstegnieke en toesmering en onbeholpenheid van alle kante.
Onberekenbare, onherstelbare skade wat die wêreld vir altyd verander het. Onvergeeflik.

CA ·

Treurwilger – Dis nou indien mens dink i.t.v. ‘n soort wetenskaplike ongeluk of een of ander gekonkel. Ek dink nie daar was ‘n bose/onverskillige akteur nie. Ek dink eerder ons moet kyk na hoe ons moderne globale samelewing die blitsvinnige verspreiding van sulke virusse kan keer (daar sal weer een kom). Enersyds deur veel minder globaal te beweeg/handel te dryf, en andersyds deur ‘n gemeenskaps-bewussyn en samewerkingstrukture op plaaslike vlak te kweek (soos in China) en minder regte vir jouself as individu op te eis. Maar dis ‘n debat vir ‘n ander keer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.