Internasionale oorsig: Palestyne het al hul kanse verspeel

Bill Clinton. (Foto: Democratic National Convention via AP)

Net meer as 20 jaar gelede, van 11 tot 25 Julie 2000, het die sogenaamde Camp David-beraad plaasgevind waartydens die Amerikaanse president Bill Clinton probeer het om ʼn onderhandelde ooreenkoms tussen Israel en die Palestyne te bewerkstellig.

Tydens dié beraad het die destydse premier van Israel, Ehud Barak, aangebied om groot toegewings te maak, insluitend die onttrekking van die Jode uit 63 nedersettings op die Wesoewer en ʼn Palestynse staat wat aanvanklik uit die Gaza-strook en 73% van die Wesoewer sou bestaan en wat sou kon uitbrei tot die Gaza-strook en tot soveel as 92% van die Wesoewer sou beslaan. Die Palestyne, onder leiding van Jasser Arafat, het tydens dié onderhandelinge onhaalbare eise gestel en die aanbod van Israel, tot misnoeë van Clinton wat jare lank vir die onderhandelinge voorberei het, verwerp. Die daaropvolgende jaar is Barak as premier van Israel uitgestem.

Verlede week se ooreenkoms tussen Israel en die Verenigde Arabiese Emirate, huidige onderhandelinge tussen Israel en Soedan en die moontlikheid van die normalisering van verhoudinge tussen Israel en nóg Midde-Oosterse en Arabiese lande, bevestig die verskuiwing wat sedert die onderhandelinge van 2000 plaasgevind het. Die Palestyne het hul beste kans om ʼn eie staat te verbeur toe hulle in 2000 Clinton en Israel se voorstelle verwerp het. Vandag, twee dekades later, is daar baie meer Joodse nedersettings op die Wesoewer en het Israel sy invloed in die Wesoewer wesenlik uitgebrei. Dit sal vandag onmoontlik wees om die voorstelle van 2000 uit te voer.

Wat egter nog belangriker is, is dat die Arabiese wêreld begin het om aan te beweeg. Hoewel die meeste Arabiese lande se simpatie steeds by die Palestyne lê, is dit ook duidelik dat daar in die Arabiese wêreld ʼn frustrasie is met die Palestyne en hul onvermoë om oor die jare met erns met Israel te onderhandel.

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Pres. Donald Trump het reeds drie jaar gelede onderneem om ʼn vredesooreenkoms tussen Israel en die Palestyne, wat ʼn aparte Palestynse staat insluit, ʼn prioriteit te maak. Die voorgestelde ooreenkoms wat die Trump-administrasie aan die begin van 2020 bekend gemaak het, is wesenlik anders as dié voorstelle wat by die 2000-beraad bespreek is. Die Palestyne het natuurlik die Trump-voorstelle onmiddellik verwerp sonder om eers met die VSA en Israel daaroor in gesprek te tree.

Intussen het Israel vroeër vanjaar aangekondig dat hy sowat 30% van die Wesoewer, waar daar reeds groot Joodse nedersettings bestaan, gaan annekseer. Die ooreenkomste verlede week tussen Israel en die Verenigde Arabiese Emirate, waarvolgens die verhouding tussen dié twee lande genormaliseer word, vereis ook dat Israel nie met die anneksasie sal voortgaan nie.

Terwyl die Palestyne die rol van slagoffer speel en die gewapende vleuel van Hamas in die Gaza-strook vuurpyle bly vervaardig wat na Israelse grondgebied afgevuur word, het Israel die inisiatief begin neem om sy verhouding met ander lande in die streek te normaliseer.

Ook in Europa, waar daar nog onder linkse politieke leiers en partye simpatie met die Palestyne bestaan, is daar toenemend frustrasie met die Palestyne se onwilligheid om ernstig oor vrede met Israel te onderhandel. Die beste kans op vrede tussen Israel en die Palestyne was by Camp David in 2000. Die Palestyne het daardie kans verbrou. Indien daar enige toekomstige hoop op vrede tussen Israel en die Palestyne en die oprigting van ʼn volwaardige Palestynse staat kan wees, sal dit van die Palestyne self moet kom. Dit sal egter wesenlike hervorming van die politieke instellings onder die Palestyne en ʼn ware kultuur van vrede, samewerking en verdraagsaamheid van ʼn meerderheid van Palestyne vereis.

Nuwe hoop vir Irak

Mustafa al-Kadhimi. (Foto: AP Photo/Nabil al-Jurani)

Terwyl die media in die VSA die afgelope week op die Demokratiese Party se konferensie gefokus het, het pres. Donald Trump Donderdag ʼn belangrike gas by die Withuis ontvang. Die nuwe premier van Irak, Mustafa Al-Kadhimi, het die VSA besoek om met Trump samesprekings te voer in ʼn tyd waar dié land voor ʼn belangrike kruispad te staan gekom het.

Al-Kadhimi is ʼn bekwame politikus met ʼn agtergrond in die Irakse intelligensiediens. Hy het ʼn belangrike rol in die stryd teen die terreurgroep die Isis (Islamitiese Staat in Irak en Sirië), gespeel. Al-Kadhimi is nie ʼn lid van enige politieke party in Irak nie. Hy is aangewys as premier in ʼn desperate poging deur pres. Barham Salih nadat verskeie vorige pogings om ʼn nuwe regering in Irak te vorm, misluk het.

Al-Kadhimi geniet die steun van belangrike groepe in Irak, insluitende die Ajatolla Sistani, Irak se belangrike geestelike Sjiïete-leier. Al-Kadhimi was ʼn sterk teenstander van Saddam Hoesein se diktatorskap en het Irak in 1985 verlaat om eers in Iran, en daarna in Duitsland, en toe uiteindelik in die Verenigde Koninkryk te gaan woon. Hy kan sonder twyfel as ʼn bondgenoot van die Weste bestempel word, sonder dat hy in Irak of in die Midde-Ooste as ʼn blote pion van die VSA of ander Westerse magte beskou sal word.

Sedert Al-Kadhimi op 7 Mei vanjaar premier van Irak geword het, het hy heelwat vordering daarmee gemaak om die sentrale regering in die land te versterk, om te begin om korrupsie aan te vat en om ʼn bekwame regering daar te stel. Irak het die afgelope paar jaar onder voortdurende opstande oor korrupsie en swak dienslewering gebuk gegaan.

Turkye het ook die afgelope ruk aanvalle op Koerdiese leiers en instellings in die noorde van Irak van stapel gestuur wat nuwe uitdagings skep. Die belangrikste uitdaging vir Al-Kadhimi is om sy onafhanklikheid te behou. Hy het reeds aangedui dat hy nie gaan toelaat dat Irak deur magte soos Iran misbruik word nie.

Tydens Al-Kadhimi se besoek aan die VSA is energie-ooreenkomste met verskeie Amerikaanse maatskappye, insluitende Chevron en General Electric gesluit. Terwyl daar nog 5 000 Amerikaanse soldate in Irak is, wil die VSA sy teenwoordigheid daar verminder sonder om toe te laat dat ʼn vakuum ontstaan wat deur Soennitiese terreurgroepe of deur militante groepe wat pro-Iran is, gevul kan word. Om dit reg te kry, moet Westerse lande Al-Kadhimi ondersteun om Irak se ekonomie uit te bou.

Al-Kadhimi het ook Christene wat die afgelope paar jaar uit Irak gevlug het, aangemoedig om na Irak terug te keer. Tydens ʼn ontmoeting met die leierskap van die Katolieke Kerk in Irak twee weke gelede het hy gesê dat Christene die oorspronklike bewoners van Irak was en dat hulle na Irak moet terugkeer en moet help om die land op te bou. Terwyl daar in 2003 nog 1,5 miljoen Christene in Irak was, is daar vandag minder as 500 000 Christene in die land oor. Die meeste Christene in Irak is Assiriërs, een van die oudste oorblywende volke in die wêreld.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Hierdie is ‘n baie goeie teken van hoop vir die Midde-Ooste. Onvrede in die gebied kan basis vorm vir wereldonvrede. Dis verblydend dat ‘n hand van vriendskap uitgereik word na Christene. Laat ons bid vir ‘n wonderwerk!

Vrijburger

Tipies – selfs hier in die VSA het die geskiedkundige ooreenkoms tussen Israel en Verenigde Arabies Emirate maar baie min dekking in die media gekry.

Therese

Puik werk deur president Trump,met belowende verwikkelinge in ‘n uiters plofbare deel van die wêreld.
Dus, teleurstellend en onbillik dat die VSA-president in ‘n ander artikel ongunstig vergelyk word met die formidabele Abraham Lincoln. Bykans twee eeue, met totaal verskillende samelewings, skei hierdie twee presidente en slegs een van hulle word konstant beswadder, beledig, belaster en gedwarsboom.

Human

“Cry me a river”. Wat sal die rede wees dat Trump konstant beledig word, is die rede nie dalk, dat die deursnee mens hom sien vir wat hy is en dit is, dat hy ‘n pos beklee, wat totaal en al bokant sy vuurmaakplek is en dat hy nie ‘n benul het van wat dit behels om ‘n leier en ‘n staatsman te wees, want hy is net daar om sy sakke te vul, deur sy amp te misbruik.