Internasionale oorsig: Palestynse terreur hou hernude uitdagings vir Israel in

(Foto: Jack Guez/AFP)

Op Donderdag 5 Mei het twee jong Palestynse mans in die Ortodokse Joodse stad Elad mense met ʼn byl aangeval. Drie mense is doodgekap en talle ander is ernstig beseer. Dit was die soveelste aanval op onskuldige Israeli’s die afgelope ruk deur jong Palestynse mans wat van die Wesoewer afkomstig is.

Die afgelope ses weke is 19 Israeli’s dood in verskeie aanvalle deur Palestynse aanvallers. Volgens owerhede in Israel word nog aanvalle verwag en is daar geen maklike oplossing vir die krisis nie. Die meeste aanvalle word deur radikale individue uitgevoer wat dit moeilik maak om dit te verhoed.

Werkloosheid onder Palestynse jongmense het die afgelope twee jaar tot 40% gestyg en lewensomstandighede in die Palestynse gebiede in die Wesoewer en in die Gasa-strook hou aan versleg. ʼn Demokratiese verkiesing is 22 jaar laas in Palestynse gebiede gehou en die huidige Palestynse regering slaag nie daarin om die Palestyne se lewensomstandighede te verbeter nie.

Islamitiese terreurgroepe, soos Hamas, die Palestynse Islamitiese Jihad (PIJ), Hisbolla, Al-Kaïda en Isis, het almal ʼn teenwoordigheid in Palestynse gebiede en in streke om Israel soos Libanon, Sirië en Egipte. Hierdie groepe is voortdurend besig om jongmense te radikaliseer en om geweld teen Israel aan te blaas.

ʼn Beleidsorganisasie in die VSA, die Washington Institute for Near East Policy, het onlangs in samewerking met ʼn veteraan- Palestynse meningspeiler, Khalil Shikaki, die standpunte van Palestyne oor belangrike kwessies ondersoek. Die uitslag bevestig die radikale standpunte van ʼn meerderheid van Palestyne. Volgens die navorsing is 58% van Palestyne gekant teen ʼn tweestaatoplossing vir die konflik met Israel. Die meeste glo dat Israel geen bestaansreg het nie. Altesaam 70% van Palestyne is gekant daarteen dat die Palestynse owerhede onvoorwaardelik na onderhandelinge met Israel terugkeer. Sowat 73% van Palestyne is vas oortuig daarvan dat die Koran ʼn profesie bevat wat die ondergang van Israel as staat voorspel. Sowat eenderde van alle Palestyne is oortuig daarvan dat dit vanjaar gaan gebeur. Hierdie openbare standpunt wat deur radikale elemente bevorder word, dra by tot die oorlogswolke wat voortdurend oor Israel en die Palestynse gebiede saampak.

Vuurpyle word van Gasa-stad na Israel afgevuur.
(Foto: Mahmud Hams/AFP)

Sedert verlede jaar se 11 dae lange oorlog is daar voortdurende spanning tussen Israel en die Palestyne. Die onlangse skietdood van die Palestyns-Amerikaanse joernalis wat vir Al Jazeera gewerk het, Shireen Abu Akleh, het verder hiertoe bygedra. Sy is doodgeskiet in ʼn skietgeveg tussen Palestyne en Israel se soldate in die Wesoewer.

Terwyl Westerse lande, en veral die VSA, hul aptyt vir die vredesproses tussen Israel en die Palestyne verloor het en daar in elk geval belangriker buitelandse prioriteite is, bly dit onseker hoe die voortslepende konflik opgelos kan word. Israel sal met goeie rede meer doen, insluitend die bou van mure en ander versperrings en die instel van streng veiligheidsmaatreëls ten opsigte van die beweging van mense tussen Israel en die Palestynse gebiede om die voortdurende voorkoms van aanvalle op Israeli’s te probeer verhoed.

Die Palestyne ondervind egter ʼn gebrek aan leierskap en daar is geen gedeelde visie oor hoe die korttermynprobleme en die langtermynvraagstuk oor die status van die Palestynse gebiede opgelos moet word nie. Die oplossing vir die krisis lê by die Palestynse bevolking en hul Midde-Oosterse ondersteuners en slegs indien die Palestyne leiers verkies wat in goeie trou in onderhandeling met Israel tree, kan die konflik opgelos word. Intussen sal die geweld waarskynlik voortduur.

Krisis in Pakistan kan globale gevolge hê

Argieffoto van Pakistan se eerste minister, Imran Khan. (Foto: ISHARA S. KODIKARA / AFP)

Die Institute for Policy Reform (IPR) in Lahore, Pakistan, het die afgelope week ʼn verslag vrygestel waarin die omvang van die ekonomiese krisis in Pakistan bespreek word. Soos talle ander ontwikkelende lande ervaar Pakistan tans ʼn ernstige ekonomiese krisis wat deur ʼn tekort aan buitelandse valuta, enorme buitelandse skuld, inflasie en swak ekonomiese groei veroorsaak word. Die IPR waarsku in sy verslag dat Pakistan in dieselfde bootjie as Sri Lanka kan beland indien dringende hervormings nie ingestel word nie.

Pakistan is die afgelope twee maande ook polities lamgelê deur ʼn grondwetlike krisis wat uiteindelik tot die vervanging van Imran Khan as premier gelei het. Die adjunkspeaker van die Pakistanse parlement het op 3 April ʼn mosie van wantroue teen Khan tydens ʼn sitting om oor die mosie te stem van die hand gewys.

Kort daarna het Khan die land se president versoek om die parlement te ontbind. Uiteindelik het die vyf regters van die hooggeregshof eenparig beslis dat Khan ongrondwetlik opgetree het. Volgens die uitspraak het Khan in praktyk ʼn grondwetlike staatsgreep uitgevoer deur die president aan te raai om die parlement te ontbind. Die hof het die parlement opdrag gegee om met sy werksaamhede voort te gaan.

Die mosie van wantroue in Khan is op 10 April aanvaar en daarna is hy van sy amp onthef.

Op 11 April het die parlement die leier van die opposisie, Shehbaz Sharif, gekies om Khan as premier op te volg. Die afgelope week het Sharif samesprekings met die leiers van politieke partye in sy nuwe regerende alliansie gevoer oor wat nodig sal wees om Pakistan se benaderde ekonomiese posisie te probeer omkeer. Intussen is Khan en sy party besig om ondersteuners daagliks tot protes op te sweep en eis hulle vervroegde verkiesings. Khan het sover gegaan om die afgelope weke te beweer dat die VSA daarby betrokke was om van hom ontslae te raak.

Met internasionale ekonomiese uitdagings, ʼn oorlog in Oekraïne, kommer oor die opkoms van China en sy rol in Asië en talle ander globale uitdagings, word die huidige krisis in Pakistan nie noodwendig deur Westerse lande met die erns bejeën wat dit verdien nie.

Pakistan is egter om verskeie redes van groot belang vir die Weste. Dié land vorm ʼn belangrike deurgang tussen die Midde-Ooste en Oos-Asië. Dit is die land in die wêreld met die naasgrootste Moslem-bevolking en is een van slegs ses verklaarde kernwapenstate. Pakistan het ook een van die grootste weermagte (in mannekrag) in die wêreld en was oor die afgelope dekades vyf keer in oorloë met sy buurland Indië betrokke.

Die stabiliteit van die buurland Afghanistan hang ook baie af van die stabiliteit van Pakistan en die stryd teen Islamitiese terreurgroepe kan nie suksesvol sonder die hulp van Pakistan uitgevoer word nie. Die afgelope paar jaar het Pakistan noue bande met China gesmee en die Chinese regering het reeds baie geld aan Pakistan geleen en heelwat in infrastruktuurprojekte in dié land belê. Die Chinese beheer ook ʼn strategies belangrike hawe in Pakistan.

Pakistan was vir ʼn lang ruk ʼn belangrike bondgenoot van die VSA en die Verenigde Koninkryk, maar sedert die VSA die terroristeleier Osama bin Laden in 2011 op Pakistanse grondgebied om die lewe gebring het, sonder om vooraf daaroor met Pakistan oorleg te pleeg, het die verhouding tussen die twee lande aansienlik versleg. Amerika het ook oor die jare talle hommeltuigaanvalle op Pakistanse grondgebied teen Islamitiese terreurgroepe uitgevoer.

Dit is egter Pakistan en China se samewerking wat die meeste kommer by Westerse lande en hul bondgenote in Asië, soos Indië en Japan, wek. Sou die Chinese besluit om ʼn vlootbasis in Pakistan te vestig, kan dit die VSA se militêre posisie in die streek verder kompliseer.

Pakistan

Pakistan se huidige ekonomiese probleme skep nuwe risiko’s maar ook geleenthede vir die Weste. Pakistan is ʼn demokratiese land met ʼn ingewikkelde politieke stelsel waarbinne verskillende etniese groepe, tale en streke almal gehuisves word. Pakistan se weermag speel ook ʼn groot rol in die land se politiek.

Soos die onlangse verwikkelinge met die mosie van wantroue teen Imran Khan gewys het, kan die land maklik in politieke onstabiliteit verval. Die politieke ingewikkeldheid en onstabiliteit dra by tot die land se voortslepende en groter wordende ekonomiese uitdagings.

Volgens die IPR is dit noodsaaklik dat Pakistan sy buitelandse skuld verminder en dat die tekort op die land se lopende rekening verminder word. Die land se huidige buitelandse skuld moet herskik word en maniere moet gevind word om meer buitelandse valuta te verdien en produksie te verhoog.

Buiten dat die land se skuldlas verlaag moet word, moet die regering se uitgawes ook gesny word – iets wat natuurlik in so ʼn arm land polities ongewild is. Westerse lande kan hul invloed in Pakistan verhoog deur direk betrokke te raak by ʼn omkeerstrategie vir die land. In ruil daarvoor moet ernstige hervormings vereis word.

Sou Pakistan verder in politieke en ekonomiese chaos verval, hou dit groot bedreigings vir die hele streek, asook vir die stryd teen Islamitiese terreur wêreldwyd in. Dit is in belang van die hele wêreld dat Pakistan se politieke en ekonomiese probleme hanteer word.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Albert Kruger ·

Sal daar dan ooit ‘n positiewe uitkoms in die Israel-Palestina kwessie kom? Op meningsblaaie en -forums kies meeste mense kant en skree op mekaar en vertel hoe verkeerd die ander kant is. Dan word dit maar net weer ‘n “‘n ja, maar wat van . . .”-debat.
Duidelik is daar geen oplossing in sig nie.

Dries ·

Die meerderheid in ons regering keer dit goed. Hulle stemvee doen dit elke dag aan die minderheidsbevolking.

Dries ·

Die Filistyne is soos die ANC. Wil als he anders breek hulle af

Albert Kruger ·

Dries, die wêreld soek al eeue lank moeilikheid met God se volk en nog steeds gebeur daar niks nie. Wat is aan die gebeur? Gee Hy dan nie meer om nie?

Jaco ·

Die Palestyne is ‘n minderheidsgroep waarvan Israel nie baie hou nie. So toe gee Israel vir die Palestyne die Palestinian Authority, wat maar basies ‘n selfregerende tuisland is. Die res van die wêreld is só jammer vir die Palestyne dat hulle die Palestyne help en die Palestinian Authority erken. Israel laat ook buitelandse belegging in die Palestinian Authority toe. Ek gee toe, dis VER vanaf ‘n 100% onafhanklike Palestynse Staat, maar dis beter as niks.
Die ANC kan mos dieselfde met die gehate wit mense in SA doen: “dump” ons in ‘n tuisland in die Wes-Kaap, laat buitelandse beleggings daar toe, belas dié tuisland hoog en uiteindelik wen albei groepe. Wit mense is op hulle eie en die res van SA cash in uit belasting op die wit tuisland se florerende ekonomie

Albert Kruger ·

Jaco, ek dink nie die oorgrote meerderheid van wit mense wil in ‘n tuisland geforseer word nie. Dink jy regtig derduisende wit mense gaan hulle herkoms versaak, eiendom en plase agter los en wegtrek Kaap toe? Hoekom moet ons die land weer soos voorheen in groepsgebeide inforseer? As dit nie voorheen gewerk het nie, hoekom sal dit nou werk?

Manie ·

Hulle het van die vrugbaarste grond gehad, regerings fondse ontvang, maar kon tipies Afrika styl niks vir hulself doen nie, presies dieselfde wat nou in SA gebeur. Hulle kan tot vandag toe nog niks opbou en in standhou nie.

Anton ·

Gelukkig het 81 miljoen Amerikaners die “foreign affairs” genius verkies, so die probleme sal binnekort opgelos wees

Treurwilger ·

Anton, dít kan jy weer sê!
Daar was geen, maar géén waardering vir die reusevordering wat president Trump gemaak het met‘vrede’ in daardie dele van die wêreld nie.
Die Abraham-accord, as ek reg onthou.

So, sit terug en geniet Biden se omgekrapte omgewing.

Marthinus W ·

Die joernalis Shireen Abu Akleh was n Christen. Sy het n staaldakkie sgedra, maar is in haar oor geskiet – deur n Israeli soldaat, volgens ooggetuies .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.