Internasionale oorsig: Pandemie vlam weer op in konserwatiewe suide van VSA

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Hoewel nuwe gevalle van die koronavirus in die VSA steeds redelik laag is, met minder as 15 000 nuwe gevalle per dag die afgelope week, is daar wel ’n duidelike toename in nuwe gevalle in meer konserwatiewe, suidelike deelstate waar die kleinste deel van die bevolking ook tot dusver ingeënt is.

In Missouri, Arkansas en Utah het die getal pasiënte wat weens Covid-19 in die hospitaal opgeneem is, die afgelope twee weke met meer as 30% toegeneem. In verskeie ander deelstate in die suide is daar ook ’n duidelike toename in hospitaalopnames en sterftes weens Covid-19.

Dit is veral in die suide van die VSA waar ’n wesenlike deel van die bevolking skepties oor die voordele van entstowwe is en waar baie mense weier om teen Covid-19 ingeënt te word. Terwyl ’n oorskot entstowwe tans in die VSA beskikbaar is, het die inentingskoers skerp afgeneem. Daar is ’n duidelike tendens op distriksvlak waar minder mense in meer konserwatiewe en armer distrikte ingeënt word, terwyl die inentingskoers wesenlik hoër in ryker en meer liberale distrikte is. Dit is ten spyte daarvan dat die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, reeds herhaaldelik beroepe op sy ondersteuners gedoen het om teen die virus ingeënt te word.

Meer as 320 miljoen dosisse entstof teen Covid-19 is reeds in die VSA toegedien. Meer as 151 miljoen Amerikaners is volledig ingeënt. Dit is 46% van die land se bevolking. Byna tweederdes van Amerikaners het reeds minstens een inenting ontvang. In die noordooste van die VSA is meer as 80% van mense in sommige deelstate reeds ingeënt, met Vermont wat voorloop op 84%. Agt van die tien state met die laagste inentingskoers is in die suide van die VSA.

In die suide van die VSA lyk die prentjie egter heeltemal anders. In een van die mees konserwatiewe en armste deelstate, Mississippi, het slegs 46% van mense tot dusver minstens een dosis entstof gekry, met net meer as ’n derde van die burgers in dié deelstaat wat reeds volledig ingeënt is.

Hoewel die aantal nuwe positiewe toetse en sterftes in state in die suide steeds baie laer as die piek in Februarie is, is dit kommerwekkend dat bitter min mense tans in baie suidelike state aanmeld om ingeënt te word terwyl daar ’n duidelike toename in gevalle en sterftes is.

Die redes vir die laer inentingskoers in die suide is velerlei. Eerstens is daar in die suide ’n algemene groter skeptisisme teen regeringsinisiatiewe en veral ’n federale inentingsprogram druis in teen baie mense in die suide se federale ingesteldheid. Samesweringsteorieë, billike vrese oor die veiligheid van entstowwe en ’n afname in die dringendheid van inentings weens lae nasionale besmettingsyfers dra alles by tot die laer inentingskoers.

Biden wil met geld en wapenbeheer misdaadprobleem oplos

Pres. Joe Biden. (Foto: Nicholas Kamm/AFP)

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het Donderdag ’n plan aangekondig om die groeiende probleem met geweldsmisdaad in Amerika se grootste stede te probeer hokslaan. Sedert die dood van George Floyd verlede Mei en die daaropvolgende betogings teen die polisie het nie net duisende polisielede oor die hele VSA besluit om uit te tree nie, maar was daar ook ’n skerp toename in geweldsmisdaad in al Amerika se grootste stede.

Verlede naweek is 54 mense in geweldsmisdade in Chicago, die VSA se derde grootste stad, geskiet, met minstens sewe wat dood is. Dit was egter nie ’n uitsonderlike gewelddadige naweek nie. Terwyl daar daagliks skietvoorvalle in Chicago voorkom, sterf daar veral oor naweke daagliks talle inwoners. Die afgelope 12 maande was daar ’n styging van 24% in moorde in Amerika se grootste stede.

Een van die direkte gevolge van die George Floyd-opstande was toenemend aanvallende politieke retoriek jeens polisielede. Aanvalle op polisielede het ook die afgelope 14 maande toegeneem. In verskeie groot stede, waar Demokrate regeer, is die begrotings van polisiedepartemente drasties verklein.

The New York Times het die afgelope week ’n verslag uitgereik oor navorsing wat deur die Police Executive Research Forum by 200 polisiedepartemente oor die hele VSA gedoen is. Vanaf April 2020 tot April 2021 was daar ’n 45%-toename in polisielede wat uit diens getree het, in vergelyking met die voorafgaande 12 maande.

Terwyl daar in 2019 altesaam 1 509 polisielede in New York bedank het, het dit verlede jaar tot 2 600 toegeneem. In Seattle het die bedankings van 34 tot 123 toegeneem en in Minneapolis, die stad waar Floyd dood is, het die algehele getal polisielede van 912 in Mei 2019 tot 699 vanjaar afgeneem. Dit is van die mees ervare polisielede, onder wie hoofde van polisiedepartemente, wat weens die voortdurende politieke en fisieke aanvalle op polisielede besluit om te bedank.

Biden het egter Donderdag min hieroor te sê gehad. Terwyl sy plan beter finansiering van polisiedepartemente insluit, het hy ook aangekondig dat sy regering sterker stappe teen wapenhandelaars gaan instel. Biden is dus, ondanks navorsing wat die teendeel bewys, daarvan oortuig dat misdaad in die middestede van New York en Chicago deur wettige vuurwapens gepleeg word.

Hoewel Biden duidelik nie deel van die groeiende koor in sy party is wat die idee steun dat polisiedepartemente se finansiering verder besnoei moet word nie, is sy planne wat hy Donderdag aangekondig het, onvoldoende en selfs misplaas.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SPENCER PLATT / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Die $350 miljoen waarna hy verwys het wat vir die aanstelling van meer polisielede gebruik kan word, is geld wat reeds uit die ekonomiese hulppakket aan deelstate vroeër vanjaar beskikbaar gestel is. Dit is egter goeie nuus dat Biden nie swig onder druk van lede van sy party wat die polisiediens in hulle stede of state heeltemal van finansiering wil ontneem nie.

Biden het egter ’n groot deel van sy toespraak Donderdag op wapenverkope, die optrede van wapenhandelaars en agtergrondtoetse vir mense wat wapens wil koop, gefokus. Hoewel onwettige praktyke tereg nie geduld moet word nie, is daar geen verband tussen die huidige toename in geweldsmisdaad in die VSA en wettige wapenverkope nie.

Biden besef dat die krisis met toenemende geweldsmisdaad sy party heelwat steun in volgende jaar se middeltermynverkiesing kan kos. In Dinsdag se voorverkiesing van die Demokrate in die stad New York het die voormalige polisieman, Eric Adams, gemaklik eerste geëindig nadat hy ’n sterk boodskap ten gunste van misdaadbekamping en ten gunste van die polisiediens in sy stad oorgedra het. Hy het progressiewe en ekstreem-linkse kandidate wat die polisiediens verder wou verklein gemaklik verslaan. Sou Adams tot burgemeester verkies word, sal hy die eerste swart burgemeester van New York in drie dekades wees, maar terselfdertyd ook een van die meer konserwatiewe Demokrate wat ’n groot Amerikaanse stad sal lei.

Amerikaners het die opvatting dat Demokrate nie ernstig oor misdaadbekamping is nie. Biden het dit Donderdag probeer teenwerk. Die werklikheid is egter dat dit Demokrate is en was wat sedert Mei verlede jaar met hulle retoriek en optrede, soos die besnoeiing van begrotings, tot ’n enorme verlies aan polisielede en groeiende misdaad in Amerika se stede aanleiding gegee het. Indien die misdaadsituasie nie verbeter nie, gaan die kiesers hieroor ’n oordeel fel en kan dit slegte gevolge vir Biden en sy party inhou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

Mmmmm soos voorspel maai die (s)linkes en blou stede wat hulle gesaai het.

Human ·

Mmmmm nou is elke Jan Rap en sy maat `n Siener van Rensburg. Die “Delusions of grandeur” is soos tor in die kop.

Gilla ·

Duidelik weet jy nie wat aangaan nie. Selfs ‘n blinde sou kon “voorspel” het dat geweld sal toeneem in die klimaat wat die Demokrate (linkses of blou, as jy wil), skep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.