Internasionale oorsig: Pécresse en nie Zemmour wat vir Macron kan wen

Valérie Pécresse (Foto: JULIEN DE ROSA/AFP)

Die afgelope twee weke was die meeste internasionale beriggewing oor die Franse verkiesingsveldtog gefokus op die toetrede van die flambojante regse televisie-aanbieder Eric Zemmour tot die lys van kandidate wat volgende jaar in April die huidige president Emmanuel Macron gaan uitdaag.

Die sentrumregse Republikeinse Party van die voormalige president Nicolas Sarkozy het egter ook hulle voorverkiesing gehou en die 54-jarige Valérie Pécresse is as dié party se kandidaat aangewys. Peilings die afgelope paar dae wys dat Pécresse die beste kans staan om na ʼn tweede ronde teen Macron deur te dring.

Pécresse is ʼn ou bekende in die Franse politiek. Sy het al as minister van hoër onderwys in Macron se kabinet gedien en is tans die verkose hoof van die Île-de-France-streek, wat Parys insluit, en wat haar ook ʼn goeie politieke basis gee en aan kiesers bewys dat sy verkiesbaar is. Pécresse verteenwoordig die politieke elite in Frankryk. Sy het onlangs in ʼn onderhoud haarself as tweederdes Angela Merkel en een derde Margaret Thatcher beskryf. Naas Frans kan sy Engels, Russies en Japannees praat. In die nuutste peilings sal sy saam met Macron deurdring tot ʼn tweede ronde in die Franse verkiesing, en sal sy 52% van die stemme teenoor Macron se 48% kry en daarmee die eerste vroulike Franse president word. Die eerste ronde vind op Sondag 10 April plaas en indien geen kandidaat, soos verwag, meer as 50% van die stemme kry nie, sal die twee kandidate met die meeste steun na ʼn finale ronde op Sondag 24 April deurdring.

Tydens die vorige Franse presidentsverkiesing in 2017 het Macron in die eerste ronde 24,01% van die stemme gekry, gevolg deur die regse Marine Le Pen met 21,3%, die sentrumregse Francois Fillon van die Republikeine met 20,01% en die linkse Jean-Luc Mélenchon met 19,58%. In die tweede ronde het Macron 66,1% van die stemme verwerf teenoor Le Pen se 33,9% en daardeur het hy die sleutels van die Élysée‑paleis gekry.

Marine Le Pen. (Foto: AP Photo/Thibault Camus)

Sedert die 2017-verkiesing het die regse Marine Le Pen haarself effens nader aan die sentrum probeer posisioneer, wat ʼn herbenaming van haar politieke party van Front National na Rassemblement National ingesluit het. Dit was alles deel van Le Pen se voorbereiding om in 2022 beter gerat te wees om weer vir Macron in ʼn tweede ronde van die presidentsverkiesing die stryd aan te sê. Tot onlangs was dié twee ook in elke peiling die twee voorlopers wat na ʼn tweede ronde sou deurdring.

Zemmour se toetrede tot die stryd en die groei van die Republikeine die afgelope tyd het die speelveld egter heelwat verander. Ná president Nicolas Sarkozy se nederlaag in die 2012-verkiesing het die Republikeine se steun skerp gedaal en was daar selfs sprake dat dié party heeltemal kon doodbloei. Die party het egter sedertdien beleidgewys heelwat na regs verskuif en talle van Le Pen se sterk standpunte oor immigrasie en die hantering van Frankryk se groot migrante-bevolking oorgeneem. In verlede jaar se streeksverkiesings het die party verrassend goed gedoen.

Pécresse verteenwoordig egter nie die regse vleuel van die Republikeine nie, en tydens die onlangse voorverkiesings was sy eerder die kandidaat van die meer gematigde sentrum van die party. Sy het wel baie sterk standpunt oor wet en orde ingeneem en haar boodskap oor groter fiskale dissipline, minder staatskuld en die vermindering van Frankryk se staatsdiensamptenary met 200 000 poste vind aanklank by baie regse kiesers.

Zemmour se toetrede as kandidaat op 30 November het egter die kaarte vir Le Pen deurmekaar gekrap. Zemmour is ʼn baie gewilde mediapersoonlikheid in Frankryk. Sy boeke oor Franse identiteit en die krisis waarin Frankryk verkeer, is topverkopers. Tussen 2019 en 2021 was hy mede-aanbieder van die nuusbesprekingprogram Face à l’Info, ʼn daaglikse program op CNews in Frankryk wat deur miljoene Franse gekyk is en waarop Zemmour gereeld skerp kritiek teen die Islamisering van Frankryk en voortdurende massa-immigrasie uitgespreek het.

Eric Zemmour (Foto: Karen MINASYAN/AFP)

Zemmour het op 5 Desember sy nuwe politieke party, Reconquête, direk vertaal as Herverower, bekend gestel. Sy verkiesingsveldtog fokus sterk op Franse identiteit en die herverowering van Frankryk deur etniese Franse burgers. Sy veldtogbekendstelling is deur meer as 15 000 ondersteuners bygewoon en sy bekendstellingsvideo is reeds deur sowat 3 miljoen mense op YouTube gekyk.

Zemmour word die Donald Trump van Frankryk genoem. Hy erken self dat hy sy veldtog op dié van Trump in 2016 in die VSA skoei. Hy wil die Franse werkersklas en konserwatiewe Franse bourgeoisie in een veldtog verenig soos wat Trump in 2016 met die Amerikaanse werkersklas en konserwatiewe kiesers reggekry het.

Zemmour se probleem is egter om verby Le Pen en Pécresse te kom ten einde Macron in ʼn finale ronde om die presidentskap uit te daag. Terwyl Zemmour ʼn bewese rekord as televisie-aanbieder, skrywer en joernalis het, beteken dit nog lank nie dat hy ʼn suksesvolle presidentsveldtog kan voer nie. Sy eerste televisie-onderhoud as kandidaat het swak verloop, gevegte tussen ondersteuners en linkse aktiviste het by sy bekendstellingsgeleentheid uitgebreek, en intussen word beweer dat sy 29-jarige verkiesingsbestuurder swanger is met sy kind. Zemmour is getroud, het drie kinders en baseer sy veldtog baie sterk op tradisionele gesinswaardes.

Dit blyk tans dat Emmanuel Macron genoeg steun onder Franse kiesers geniet om tot die finale ronde deur te dring. Hy sal egter nie in die eerste ronde meer as 50% van die stemme op hom kan verenig nie. ʼn Tweede ronde lyk dus ʼn gegewe te wees.

Daar is drie vrae wat oor die volgende paar maande beantwoord sal moet word ten einde te bepaal wie teen Macron in die finale ronde te staan gaan kom. Marine Le Pen was die afgelope dekade die leier van Frankryk se regse politieke beweging. Miljoene Franse kiesers, veral uit die noordelike werkersklasstreke, is baie lojaal aan haar. Kan Zemmour genoeg van hierdie kiesers by Le Pen wegrokkel, of gaan dié twee die regse stem sodanig verdeel dat nie een van die twee tot die finale ronde gaan deurdring nie?

Die volgende vraag is tot watter mate Pécresse na regs gaan beweeg in ʼn poging om regse stemme by Le Pen en Zemmour weg te rokkel. Of gaan Pécresse die Republikeine na die politieke sentrum probeer terugtrek in ʼn poging om stemme by Macron en ander kandidate weg te rokkel? Verlede jaar se sukses deur die Republikeine was juis geskoei op die party se beweging na regs en sy sterk standpunt teen onwettige immigrasie en die onaanvaarbare Islamisering van talle Franse woonbuurte, veral in die groot stede. Pécresse het egter nie ʼn rekord as regse politikus nie, en sy beplan blykbaar om haar veldtog op twee boodskappe te bou. Die eerste is wet en orde, en dus strenger optrede teen misdadigers, beter vervolging en swaarder strawwe. Tweedens wil sy met ʼn boodskap van fiskale dissipline konserwatiewe en klassiek-liberale kiesers se steun probeer lok.

Pres. Emmanuel Macron. (Foto: PHILIPPE DESMAZES/POOL/AFP)

Macron geniet tans tussen 24% en 27% steun in die peilings. Daar is die afgelope paar dae twee peilings in Frankryk gedoen. In die BVA-peiling geniet Macron 24% steun, gevolg deur Pécresse op 17%, Le Pen op 16% en Zemmour op 13%. Dié peiling is tussen 6 en 8 Desember gedoen. In ʼn peiling deur Kantar wat op 5 en 6 Desember gedoen is, is Macron voor op 27%, gevolg deur Le Pen op 16%, Pécresse op 14% en Zemmour op 14%. Dit lyk dus of die momentum tans aan die kant van Pécresse is, maar indien Zemmour of Le Pen se veldtog om een of ander rede probleme ontwikkel, kan die regse stem dus weer agter een van die twee konsolideer. Tans lyk dit egter of Zemmour en Le Pen die regse stem sodanig kan verdeel dat Pécresse na die finale ronde teen Macron kan deurdring.

Macron sal natuurlik verkies om in ʼn finale ronde teen Zemmour of Le Pen te staan te kom omdat alle kiesers, waarskynlik soos in 2017, dan weer teen die regse kandidaat sal mobiliseer en eerder vir die liberale Macron sal stem. Peilings wys tans dat Macron gemaklik sal wen in ʼn finale ronde teen Le Pen en Zemmour. Teen Pécresse is Macron se politieke loopbaan egter in gevaar.

ʼn Baie interessante verkiesingsveldtog lê oor die volgende paar maande in Frankryk voor en dit is onmoontlik om te voorspel watter kandidate die sterkste na vore gaan tree. ʼn Finale ronde tussen Macron en Pécresse begin toenemend waarskynlik te lyk, veral indien sy daarin sou slaag om die Republikeine se sterk regse standpunt oor immigrasie ook haar eie te maak. Die bewegings van steun onder regse kiesers tussen Zemmour en Le Pen is onvoorspelbaar, en indien albei kandidate hulle huidige steunvlakke behou, is dit onwaarskynlik dat enige van die twee die finale ronde teen Macron sal haal.

Dit is Macron teen Scholz vir invloedrykste Europese leier

Olaf Scholz (Foto: Tobias SCHWARZ/AFP)

Sedert Olaf Scholz minder as twee weke gelede as nuwe Duitse kanselier ingehuldig is, het hy reeds Parys, Brussel en Pole besoek, terwyl hy met tientalle wêreldleiers, veral in Europa, telefonies samesprekings gevoer het. In dieselfde tyd het die Franse president, Emmanuel Macron, Frankryk se presidentskap van die Raad van die Europese Unie gebruik om ʼn ambisieuse agenda vir Europa bekend te stel. Frankryk sal die volgende ses maande hierdie posisie beklee.

Macron was die afgelope week ook op besoek aan Boedapest waar hy eers samesprekings met die Hongaarse eerste minister, Viktor Orban, gevoer het, waarna hy ʼn beraad van die Visegrád 4-lande se staatshoofde bygewoon het.

Sedert die uittrede van Angela Merkel as Duitse kanselier word die vraag in Europa tereg gevra oor watter staatshoof voortaan die grootste invloed in Europese politiek gaan hê. Scholz het beperkte blootstelling in ander Europese lande gehad, maar Duitsland se sterk ekonomiese rol in Europa en sy politieke invloed, veral in die Europese Unie, gee vir Scholz ʼn goeie vertrekpunt. Hy bou natuurlik ook voort op Merkel se nalatenskap. Dit sluit in Duitsland se unieke verhouding met Rusland en China, wat met tye minder gespanne as dié van ander Wes-Europese lande is.

Macron sien egter in Merkel se vertrek ʼn belangrike geleentheid om sy invloed in Europa uit te brei. Met vier maande oor voor die presidentsverkiesing in Frankryk, kon Frankryk se presidentskap van die Raad van die EU nie op ʼn beter tyd gekom het nie. Dit gee Macron die geleentheid om sy visie vir die EU deur die hele Europa uit te dra en die persepsie onder Franse te skep dat Frankryk nou die leidinggewende politieke rolspeler in Europa geraak het. Dit sal Macron se kanse om in April herkies te word sonder twyfel verbeter.

Macron het tydens sy besoek aan Boedapest ʼn versoenende posisie teenoor Orban en die leiers van Pole, Tsjeggië en Slowakye ingeneem. Frankryk en die liberale Franse regering het die afgelope tyd toenemend kritiek op konserwatiewe regerings in Sentraal- en Oos-Europa uitgespreek. Macron het egter soos ʼn staatsman gesprekke eerder laat fokus op wat Europese lande bymekaar hou in plaas van om in konflik te verval.

Angela Merkel en Olaf Scholz. (Foto: Michael Sohn, AP)

Scholz het verlede Sondag dieselfde gedoen tydens sy besoek aan Warskou waar hy met die Poolse eerste minister samesprekings gevoer het. In plaas daarvan om oor die huidige spanning tussen die EU en Pole te praat, het Scholz gefokus op die spanning met Rusland en Belarus en hoe EU-lidlande met Pole kan saamwerk.

Duitsland en Frankryk het die afgelope paar dekades daarin begin slaag om as leidinggewende lande in Europa die toon aan te gee. Veral sedert die Britte se vertrek uit die EU is hierdie twee lande se rol versterk. Scholz begin as Duitse kanselier met ʼn sterk basis wat deur sy voorganger daargestel is en verteenwoordig verreweg die sterkste ekonomie binne die EU. Macron het egter groot aspirasies en ʼn mens kan verwag dat ʼn wesenlike deel van sy verkiesingsveldtog op Frankryk se rol in Europa gefokus gaan wees.

In aanloop tot die verkiesing van lede van die Europese Parlement in 2024 sal dit interessant wees om te sien hoe hierdie twee leiers hul onderskeie lande se visies vir Europa aan kiesers in al 27 lande aanbied. Macron verteenwoordig die liberale blok van partye in Europa, en Scholz die Sosiaal-Demokrate. Indien Macron herkies sou word, sal die grootste blok binne die Europese Unie, die Christen-Demokrate, elders vir leierskap moet kyk. Die verhouding tussen Duitsland en Frankryk en die leierskap wat dié twee lande se leiers oor die volgende jaar of wat gaan toon, gaan ʼn wesenlike invloed op die Europese verkiesing in 2024 hê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.