Internasionale oorsig: Poetin waarsku Weste in vurige staatsrede

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

President Wladimir Poetin van Rusland het Woensdag in sy jaarlikse staatsrede gesê dat sy regering nie brûe met die Weste wil verbrand nie, maar dat Rusland gereed is om, in sy woorde, asimmetries, vinnig en hard, teenoor enige aggressor op te tree. Poetin se waarskuwing is waarskynlik ook gemik op die regering van die Oekraïne om hulle te maan teen enige aanvalle op Russies-gesinde separatiste in die Donbas-gebied in die ooste van dié land.

Poetin het in sy staatsrede ook Westerse lande soos die VSA se sanksies teen Rusland veroordeel en gesê dat dit die Weste is wat die verhouding met Rusland vernietig. Poetin het sterk klem op die Russiese weermag se vermoë en gereedheid geplaas in ʼn poging om patriotisme onder Russe aan te wakker.

Die staatsrede vind plaas in ʼn uitdagende tyd vir Poetin en sy regering. Die Russiese ekonomie het verlede jaar met 3% gekrimp en inkomstevlakke is steeds sowat 10% laer as wat dit in 2014, met die uitbreek van die Oekraïne-krisis, was.

Die Covid-19-pandemie het net Rusland se ekonomiese uitdagings vergroot. Nadat Rusland in 2014 die Krim-skiereiland geannekseer het, het Westerse lande sanksies teen Rusland ingestel wat tot groot ekonomiese uitdagings gelei het.

Poetin geniet steeds in peilings die steun van sowat twee derdes van Russe, maar sy gewildheid het wel oor die afgelope paar jaar afgeneem. Hy het in sy staatsrede verskeie planne aangekondig om die Russiese ekonomie aan te help.

Poetin het aangekondig dat Rusland se belastingwetgewing hersien gaan word. Hy het ook bekend gemaak dat daar in Augustus ʼn eenmalige betaling van 10 000 roebels (sowat 130 Amerikaanse dollar) vir elke skoolgaande kind aan gesinne betaal sal word. Huidige kindertoelaes gaan ook verhoog word.

Stygende lewenskoste en dalende inkomstevlakke is van die hoofredes vir Poetin se verlies aan steun. Sy regering het onlangs begin om prysbeheer op sommige voedselsoorte in te stel in ʼn poging om inflasie onder beheer te kry. Rusland se inflasiekoers was in Februarie 5,8% jaar-tot-jaar – die hoogste sedert 2016.

Poetin het ook in sy staatsrede Russe aangemoedig om so gou as moontlik teen die koronavirus ingeënt te word. Rusland is besig om die vervaardiging van sy Sputnik-entstof verder uit te brei. Dié entstof, een van die eerstes wat in die wêreld ontwikkel is, is volgens ʼn studie wat in die Lancet-tydskrif gepubliseer is, baie suksesvol in die voorkoming van Covid-19. Byna 1,5 miljard dosisse van die entstof is deur meer as vyftig lande bestel en die entstof word tans in Rusland, Suid-Korea, Hongarye, Italië, Turkye, Indië, Brasilië en China vervaardig. Miljoene Russe is ook reeds met die entstof ingeënt.

Twee onmiddellike uitdagings vir die Russiese leier is egter die dreigende konflik in die ooste van die Oekraïne en groeiende protesoptrede oor die hele Rusland heen en die regering se behandeling van die opposisieleier, Aleksei Nawalni. Nawalni is die afgelope week in ʼn hospitaal vir gevangenes opgeneem nadat sy toestand begin verswak het. Hy is die afgelope drie weke op ʼn eetstaking. Duisende betogers het tydens Poetin se toespraak in stede oor die hele Rusland vir Nawalni se vrylating betoog. Sowat 1 600 is in hegtenis geneem.

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Mikhail Klimentyev/Sputnik/AFP)

Poetin het in die laaste halfuur van sy 90 minute-toespraak veral op buitelandse verhoudinge gefokus. Volgens hom het dit ʼn soort sport in die Weste geword om Rusland die skuld vir alles te gee.

Terwyl die verhouding tussen Rusland en Westerse lande op ʼn laagtepunt is, is daar egter ook tekens van hoop.

President Poetin het Donderdag op uitnodiging van president Biden aan ʼn virtuele klimaatberaad deelgeneem wat deur die Amerikaanse president aangebied is. Poetin en Biden het ook onlangs ʼn telefoongesprek gevoer waartydens daar, onder meer, ooreengekom is om ʼn verdrag tussen dié twee lande oor die beheer van kernwapens te hernu. Die afgelope week is daar in Amerikaanse media berig dat president Biden ook ʼn versoek aan Poetin gerig het vir ʼn direkte ontmoeting ʼn paar weke van nou af in Finland.

Dit was uit Woensdag se staatsrede van Poetin duidelik dat hy Rusland se belange in Oos-Europa, die Balkan en Wes-Asië sal bly beskerm en dat Rusland gereed is, sou enige konfliksituasie uitbreek. Met groot binnelandse uitdagings wil selfs Poetin waarskynlik tans ʼn oorlog vermy, en die tekens dat dialoog tussen Poetin, Biden en ander Westerse leiers binnekort kan plaasvind, is ʼn goeie teken van ʼn wedersydse behoefte om die verswakkende verhouding tussen Rusland en die Weste minstens te probeer stabiliseer.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Thom

Ons bewe van vrees ! Hulle wapentuig is so verouderd as die Steppe self !

Kokerboom

Hierdie ex KGB kader is diep gevaarlik..moet hom nie onderskat. Dis mense(leiers/politici) soos hy en vele ander wat die wêreld destabiliser en gevaarlik maak

Bushy

Moet Putin nie onderskat nie. Hy is ver meer intelligent as enige ander leier in die wereld. Biden aan die ander hand is niks meer as n pion in n skaakspel. Die res is gefokus op hul egos.

Sarel

Ja wat…..en intussen vergaan die Burgery van die honger

Therese

Biden se uitreike na Putin is lagwekkend skynheilig.
Toe sy voorganger probeer het om verhoudings met Rusland te verbeter, was die ophef, drama en bespiegelings deur die Demokrate, Westerse staatshoofde en die media veel belangriker as goeie verhoudings. Trump wou vir Rusland bv. deel van die G7 maak ens.
Vanwaar nou skielik Gehasi?