Internasionale oorsig: Politieke sentrum verskuif nog verder na links in Duitsland

Angela Merkel, die Duitse kanselier. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Verlede Sondag se verkiesing in twee Duitse deelstate, Rynland-Palts en Baden-Württemberg, was ʼn groot terugslag vir die sentrumregse Christen-Demokrate (CDU) van die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, sowel as die regse Alternatief vir Duitsland wat ook in albei deelstate ʼn groot verlies aan steun gely het. Indien Sondag se uitslae ʼn voorloper is vir wat later vanjaar in Duitsland verwag kan word, beteken dit dat die politieke sentrum in Duitsland steeds na links verskuif en dat selfs ʼn CDU wat sedert 2005 heelwat na links beweeg het, nie meer goed genoeg vir ʼn  meerderheid Duitse kiesers kan wees nie.

Regoor Duitsland vind daar vanjaar verkiesings plaas. Behalwe vir die twee streeksverkiesings verlede Sondag was daar ook munisipale verkiesings in die deelstaat Hesse. In nog talle ander deelstate sal daar later vanjaar munisipale en streeksverkiesings plaasvind. Op 6 Junie vind die deelstaat Sakse-Anhalt se verkiesing plaas om nuwe lede vir sy parlement te verkies. In Mecklenburg-Voorpommere, Berlyn (die deelstaat) en Thüringen sal die verkiesing van  parlementslede vir die deelstate op 26 September, dieselfde dag as die Duitse federale verkiesing, plaasvind.

Steun vir die Groenparty in Duitsland het veral die afgelope twee jaar skerp begin styg. In 2017 het die Groenparty slegs sesde geëindig met 8,9% van die stemme. Die party staan tans op 20% in die meeste peilings en kan gemaklik die tweede grootste party in Duitsland word. Die Sosiaal-Demokrate (SPD), vir lank een van Duitsland se twee vernaamste en grootste partye, het baie steun aan die Groenes afgestaan, maar met ʼn sterk vertoning in Rynland-Palts Sondag sal dié party probeer om sy verlies aan steun verder te beperk. Die ander vername linkse party in Duitsland is die Linke, die voormalige Kommunistiese Party van Oos-Duitsland wat in 2017 daarin geslaag het om 9,2% van die stemme te kry.

Die ander vernaamste party in Duitsland is die Freie Demokratische Partei (FDP), ’n klassiek-liberale party wat veral op vrye handel en persoonlike vryheid gefokus is. In Rynland-Palts regeer die FDP saam met die Groenes en die SPD in ’n sogenaamde verkeersligkoalisie (die drie partye se kleure is rooi, geel en groen).

In 2017 het die CDU op federale vlak reeds teruggesak tot 32,9% van die steun nadat dié party in 2013 nog 41,5% van die stemme gekry het. Die CDU se afwaartse trajek is dus reeds jare lank aan die gang. Sedert Merkel in 2000 leier van die party, en in 2005 bondskanselier van Duitsland geword het, het sy die tradisioneel konserwatiewe CDU op talle terreine na die sentrum of selfs die sentrumlinkse posisie verskuif, of eenvoudig toegelaat dat die party deur openbare debat na links “getrek” word.

Dit het in 2013 tot die stigting van die regse Alternatief vir Duitsland aanleiding gegee. In 2017 het die AfD derde geëindig met 12,6% van die stemme.

Foto: Pixabay

Die CDU én die AfD vertoon egter sleg in die peilings en Sondag se twee verkiesings het bevestig dat albei partye in die moeilikheid is. Die CDU is steeds gemaklik die grootste party in Duitsland en ten spyte van ʼn onlangse skandaal waarby van die party se parlementslede betrokke was, gaan die CDU waarskynlik in September weer die grootste party op federale vlak in Duitsland wees. Die vraag is egter of die CDU daarin sal kan slaag om sy steun van 2017 te behou. Daar is ʼn sterk kans dat die party se steun kan daal, selfs tot minder as 30%.

Die huidige koalisievennoot van die CDU op federale vlak is die SPD, en dié party geniet tans tussen 15% en 17% steun in die meeste peilings nadat die SPD in 2017 slegs 20,5%, sy laagste steun sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog, gekry het. Sou die CDU en SPD se steun nog verder terugsak, kan die twee partye sukkel om weer saam ’n koalisieregering te vorm.

Daar word tans wyd in Duitsland bespiegel dat ’n koalisieregering tussen die CDU en die Groenparty ná September se verkiesing moontlik is. Dit mag egter ook gebeur dat ’n alternatiewe koalisie tussen die Groenparty, die SPD en die FDP (soos in Rynland-Palts) of selfs ’n volledige linkse, en heelwat meer omstrede, koalisie tussen die Groenparty, die SPD en die Linke gevorm kan word.

Wat egter duidelik is, is dat terwyl die politieke sentrum in talle Europese lande soos Frankryk, Spanje, Italië en Nederland die afgelope tyd na regs verskuif, die sentrum in Duitsland steeds na links skuif. Die rede daarvoor hou steeds verband met die politieke dialoog in Duitsland wat ʼn vrees vir regse en selfs net konserwatiewe politiek by die burgery bly aanwakker. Duitsers voel dus bevry van hulle skuldlas van die verlede deur linkse politieke partye te steun.

Daar is steeds ’n sterk stem van CDU-ondersteuners wat wil hê dat dié party effens moet terugbeweeg na sy meer konserwatiewe wortels. Die vraag wat eers oor ʼn maand of wat van nou beantwoord gaan word, is wie die party se kandidaat vir bondskanselier in September se verkiesing gaan wees. Die verstekkandidaat is tans Merkel se opvolger as partyleier, die premier van Noordryn-Wesfale, Armin Laschet, maar hy geniet min steun in Duitsland en heelwat leiers in die party is bekommerd dat sy oncharismatiese persoonlikheid die party nog meer steun kan kos. ʼn Meer gewilde en charismatiese kandidaat, wat ook sterk konserwatiewe wortels het, is die premier van Beiere, Markus Söder. Hy is egter die leier van die CDU se sustersparty, die CSU in Beiere en sal moeilik daarin slaag om Laschet te oortuig om terug te staan.

Die volgende paar maande sal ʼn interessante tyd in Duitse politiek inlei en sal ʼn aanduiding gee van hoe die era ná Merkel gaan lyk. Dit raak egter toenemend duidelik dat ʼn meer vloeibare politieke bedeling moontlik is en dat linkse partye se politieke invloed nog verder kan toeneem. Indien geen party in September se verkiesing meer as 30% van die stemme kry nie, kan moeilike koalisie-onderhandelinge, soos in talle ander Europese lande, ook Duitsland se voorland wees.

Ergste krisis in twee dekades op grens tussen VSA, Mexiko

Joe Biden (Foto: AP Photo/Matt Rourke)

Duisende mense stroom tans daagliks oor die grens tussen die VSA en Mexiko nadat pres. Joe Biden, kort nadat hy in Januarie as nuwe Amerikaanse president ingehuldig is, ʼn sagter benadering jeens onwettige immigrasie ingeneem het. Biden het die bou van ʼn grensmuur tussen die twee lande gestaak, die getal asielsoekers wat die VSA jaarliks sal inneem drasties verhoog en selfs voorgestel dat ʼn manier gevind moet word om burgerskap aan die meeste onwettige immigrante wat tans in die VSA woon, te gee.

In Februarie het byna 100 000 mense onwettig oor die grens tussen Mexiko en die VSA gestroom. Baie van hierdie mense is kinders wat alleen, meestal deur gevaarlike gebiede, deur hulle families oor die grens gestuur word sodat die familie kan volg wanneer die kind op Amerikaanse grondgebied is.

Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump het reeds in 2017 stappe gedoen om die krisis op die grens tussen dié twee lande aan te pak. Tydens Trump se presidentskap was daar ʼn skerp afname in onwettige immigrasie na die VSA met slegs 16 100 persone wat verlede jaar in Maart oor die grens probeer kom het. Sedert Biden oorgeneem het, het die situasie egter handuit geruk, en beamptes van die Amerikaanse grensbeheer pleit vir dringende hulp om die enorme stroom mense wat die grens oorsteek, te probeer beheer.

Die groot toename in onwettige immigrante wat die grens oorsteek gaan natuurlik oor meer as die bou van ʼn muur of die getal mense wat wettige asiel kan kry. Dit gaan oor mense se persepsie oor hoe hulle as onwettige immigrante in die VSA hanteer sal word. Onder Trump het mense uit Mexiko en Sentraal- en Suid-Amerikaanse lande geweet dat daar teen hulle opgetree sal word. Onder Biden bestaan die persepsie onder voornemende onwettige immigrante dat hulle verwelkom sal word. Intussen neem die krisis daagliks toe en dreig deelstate soos Texas om self te begin optree indien die federale regering nie sy werk doen om die grens te beveilig nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Mmmmm onthou van die “kids in cages” op die Mexico grens wat deur die Obama administration gebou en inwerking gestel is. Maar wat die (s)linkse hoofstroom media in die VSA gebruik het om Trump mee te kruisig. Wel ja, daai hokke is nou tydens die Biden administrasie vier keer voller. ‘n Krisis wat deur Biden en die Demokrate geskep is.

annie

Mensegeregtelikes verswel voormalige eerstewèreldlande. Biden en Merkel ly beide aan ongeneeslike goody-goody, ‘n kamma-siekte wat glo ewige roem verseker. Vir seker gaan blou oè nie meer kenmerkend van Westerse leiers wees nie. Nuwe inkomelinge kom nie om te dien nie, maar om gedien(s) te word. Sjina lag vir die VSA en Iran speel soos ‘n kat met ‘n muis, voor…