Internasionale oorsig: Reis hervat, maar meestal net vir dié wat ingeënt is

(Foto: Unsplash)

Verskeie lande het die afgelope twee weke begin om hul grense vir sake- en vakansiereisigers oop te stel, maar die meeste lande stel steeds streng vereistes en in die meeste gevalle word mense slegs toegelaat om oorsee te reis indien hulle kan bewys dat hulle volledig teen Covid-19 ingeënt is. Die Amerikaanse regering het die afgelope week gesê dat hulle beplan om binnekort Amerika se grense vir oorsese reisigers oop te maak, maar dat slegs persone wat volledig ingeënt is, toegelaat sal word.

Verlede naweek het die Duitse regering bekend gemaak dat Suid-Afrikaners weer na Duitsland kan reis mits hulle teen Covid-19 ingeënt is. Indien jy nie ingeënt is nie, kan jy ook na Duitsland reis, maar dan sal jy wel eers in verpligte kwarantyn geplaas word. Suid-Afrikaners kan intussen ook na nog Europese lande soos Frankryk, Switserland, Noorweë, die Baltiese State en talle lande in Oos-Europa reis.

Terwyl baie lande tans nog die opsie bied dat iemand wat nie ingeënt is nie eers in kwarantyn moet gaan, sal hierdie reëling waarskynlik verval soos wat meer mense toegang tot entstowwe kry. Daar word verwag dat dit dus baie moeilik gaan wees vir mense wat nie ingeënt is nie om oorsee te reis.

Terwyl reisbeperkings deur verskeie lande stelselmatig gekanselleer word, kan dit egter nog maande of selfs jare neem voordat daar na die gemaklike manier van oorsese reise van voor die pandemie teruggekeer sal word.

Een van die grootste probleme is die ingewikkelde verskeidenheid reëls van verskillende lande en die voortdurende verandering aan lyste van lande waarheen gereis mag word. Besoekers uit die Verenigde State wat volledig ingeënt is, kan byvoorbeeld reeds na Europa reis, maar Europeërs wat volledig ingeënt is, word steeds nie toegelaat om vir toerisme na die VSA te reis nie. Engeland het ’n lys van lande wie se burgers toegelaat word om daarheen te reis, maar dit het die afgelope week byna daagliks verander, wat baie mense nog lugtig maak om reisplanne aan te pak.

(Argieffoto: Unsplash)

’n Verdere groot uitdaging is dat verskillende lande in die wêreld verskillende entstowwe teen Covid-19 gebruik en dat slegs enkele entstowwe deur die meeste lande goedgekeur is. Om volledig ingeënt te wees, is dus ook nie ’n 100%‑waarborg dat jy ’n ander land kan besoek nie. Dit hang alles daarvan af of daardie land die entstof waarmee jy ingeënt is, aanvaar.

Die internasionale toerismebedryf het die afgelope 18 maande reeds vier biljoen dollar se inkomste weens reisbeperkings verloor. In die Noordelike Halfrond met sy kort somer is die toerismebedryf in baie lande angstig om die laaste maand of twee van goeie weer te benut om verlore inkomste op te maak. So het Kanada aangekondig dat Amerikaners wat volledig ingeënt is van hierdie naweek af na Kanada kan reis. Europese lande hoop ook steeds dat Amerikaanse toeriste nog voor die winter aanbreek vakansies na Europa sal onderneem.

Dit is ’n groot probleem dat daar geen internasionale konsensus bestaan oor hoe om internasionale reise weer te normaliseer nie. Dit beteken dat elke land sy eie reëls maak en dit ook voortdurend verander. Solank hierdie onsekere en voortdurend veranderende omstandighede voortduur, is die kanse skraal dat internasionale reise binne die volgende paar maande na normaal sal terugkeer. Dit is slegte nuus vir verskeie lande se toerismesektore, veral dié met lae inentingskoerse.

China daag globale kernwapenbeheer uit

Xi Jinping, president van China. (Foto: Li Gang/Xinhua News Agency via AP)

Dit het die afgelope week aan die lig gekom dat China besig is om meer as 200 silo’s vir die stoor van interkontinentale missiele wat kernwapens kan dra, in ’n afgeleë woestyngebied te bou. Sedert die Koue Oorlog was die VSA en die Sowjetunie, en daarna sy opvolger Rusland, die twee groot kernmoondhede van die wêreld met dié twee lande wat saam ’n geraamde 12 000 kernwapens besit.

Die Amerikaanse weermag raam dat die Chinese weermag oor 200 operasionele kernwapens beskik, maar dat die Chinese duidelik besig is om dit uit te brei met die doel om ’n gelykwaardige kernmoondheid met die VSA en Rusland te word. In ’n tyd waar die VSA en Rusland probeer om verdrae oor die beheer van kernwapens te hernu, is die ontwikkeling van China as ’n groeiende kernmoondheid ’n nuwe, onnodige kopseer vir die Amerikaanse regering.

China het ook die afgelope tyd sy reeds indrukwekkende arsenaal hipersoniese missiele uitgebrei. Volgens dr. Richard Weitz van die Hudson Instituut in die VSA beskik hierdie missiele oor uitnemende trefvermoë omdat hulle vyf keer die spoed van klank kan beweeg. Hierdie hipersoniese missiele kan ook gebruik word om kernwapens af te vuur.

Kort nadat Joe Biden president van die VSA geword het, het hy die sogenaamde New Start-verdrag met Rusland verleng. Dié verdrag beperk albei lande se vermoë om kernwapens te vervaardig en het ten doel om albei lande se kernarsenale te verklein.

Sedert China in die vroeë 1960’s sy eie kernwapenarsenaal begin ontwikkel het, het dié land die benadering gevolg dat hy slegs kernwapens sal gebruik in reaksie op ’n kernaanval deur ’n ander land. Die afgelope tyd begin senior regeringslui in China egter ’n ander taal te praat en raak dit duidelik dat China sy kernarsenaal aggressief wil uitbrei om direk met die VSA te kan meeding.

Onlangse pogings om die verhouding tussen die VSA en China te verbeter het grootliks misluk. Dit beteken ook dat die kanse om oor kernwapens te praat tans nie bestaan nie. In ’n omgewing van groeiende konflik in Asië is die snelle uitbreiding van China se kernarsenaal nie goeie nuus vir ander Asiatiese lande of die VSA nie. Terwyl dit ’n wêreldwye doelwit is om kernwapens te verminder, raak die kanse egter groter vir ’n toekomstige kernwedloop soos wat dekades gelede tussen die VSA en die Sowjetunie ervaar is.

Met president Raisi stuur Iran op meer konflik met Israel en die Weste af

Ebrahim Raisi. (Foto: Mohsen ESMAEILZADEH/ISNA NEWS AGENCY/AFP)

Woensdagaand, slegs enkele ure voor die inhuldiging van Ebrahim Raisi as die nuwe president van Iran, het Israel se gematigde minister van verdediging, Benny Gantz, in geen onduidelike terme nie, gesê dat Israel besig is om voor te berei, en eintlik reeds gereed is, vir ’n oorlog met Iran.

Dit volg op twee insidente die afgelope twee weke in die Golf van Oman, die eerste waarin ’n Israeliese skip deur hommeltuie aangeval is. Gantz en die regering van Israel beweer dat Iran vir die aanval verantwoordelik was. Die afgelope week is nog ’n olietenkskip in die Golf van Oman gekaap, maar ure later het die kapers weer die skip verlaat. Israel en die Weste blameer Iran vir verskeie aanvalle die afgelope maande in die Golf van Oman, die Persiese Golf en die Seestraat van Hormuz.

Raisi is Donderdag in Teheran, die hoofstad van Iran, ingehuldig in ’n tyd waar die regering van Iran deur enorme binnelandse en buitelandse uitdagings in die gesig gestaar word. Amerikaanse sanksies het die afgelope tyd groot ekonomiese probleme vir Iran veroorsaak en baie Irannese wil sien dat die regering moeite moet doen om die sanksies tot ’n einde te bring.

Terwyl Raisi onderneem het om ’n einde aan die sanksies te bring, het hy ook gesê dat Iran nie sal toegee aan allerhande eise van die VSA en ander Westerse lande nie. Die enigste manier waarop die sanksies tot ’n einde sal kom, is vir Iran om tot ’n strenger kernooreenkoms in te stem.

Die afgelope tyd was daar betogings teen die regering in verskeie stede en dorpe in Iran. Soos gewoonlik is dit hardhandig onderdruk. Die afkeur in Iran se politieke bedeling was egter duidelik in die verkiesing in Junie toe minder as die helfte van stemgeregtigde kiesers gaan stem het. Die meeste Irannese het eenvoudig geen sin daarin gesien om te gaan stem in ’n verkiesing waarin geen kandidaat wat wesenlike hervormings ondersteun, goedgekeur is nie.

Raisi, die voormalige hoofregter van Iran, is een van die mees konserwatiewe Islamitiese presidente wat Iran nog ooit gehad het. Hy opponeer enige hervormings en weier om Iran nader aan Westerse lande te posisioneer.

Iran is tot dusver die enkele land in die Midde-Ooste wat die hardste deur die Covid-19-pandemie getref is. Byna 100 000 mense is reeds in Iran aan Covid-19 dood, terwyl meer as vier miljoen positief getoets het. Die land se regering weier om enige Westerse entstowwe te gebruik. Die pandemie het die bestaande ekonomiese probleme in Iran net drasties vererger.

Iran probeer reeds vir jare sy invloed in lande met groot Sjiïtiese bevolkings soos Irak, Sirië en Libanon uitbrei. Terwyl Israel dit as ’n bedreiging vir sy eie veiligheid beskou, plaas Soenniete lande soos Saoedi-Arabië druk op Westerse bondgenote om Iran se invloed in die streek teen te staan. Israel doen dieselfde.

Die vraag is tot watter mate Iran se ekonomiese probleme Raisi gaan forseer om ’n nuwe kernooreenkoms met die Weste te sluit ten einde sanksies tot ’n einde te bring. Die weermagte van Amerika en Israel se aanvalle op groepe in Sirië, Irak en Libanon wat deur Iran ondersteun word, sowel as die onlangse aanvalle in die See van Oman, laat vrese vir ’n volskaalse oorlog toeneem.

Met Raisi wat die meer gematigde president, Hassan Rouhani, vervang het, lê ’n baie onsekere tyd voor. Een uitdagende aksie deur ’n enkele party in hierdie konflik kan maklik tot groter konflik en selfs oorlog aanleiding gee. Die beste hoop is dat Raisi weens sy land se benarde gesondheid- en ekonomiese posisie wel besef dat ’n uitdagende benadering, en selfs ’n weiering om ’n nuwe kernooreenkoms te sluit, Iran kan destabiliseer; iets wat sy regering nie nou kan bekostig nie.

Hongarye: Redder of nabootser van Christen-Demokrasie?

Tucker Carlson. Foto: Twitter

Die sogenaamde MCC Feszt wat tans in Hongarye plaasvind, het die media in veral die VSA, maar ook verskeie Europese lande, die afgelope paar dae behoorlik besig gehou, veral nadat die gewildste geselsprogramaanbieder op Amerika se nuuskanale, Tucker Carlson van Fox News, besluit het om as spreker by dié konserwatiewe konferensie op te tree en die hele week sy daaglikse program uit Hongarye uit te saai. Verskeie ander bekende konserwatiewe leiers uit die VSA en Europa woon ook die konferensie by.

Hongarye, en sy eerste minister, Viktor Orbán, was die afgelope tyd toenemend in omstredenheid gehul wees die politieke rigting waarop Orbán sy land die afgelope dekade geplaas het. Dit het selfs vroeër vanjaar ’n breuk tussen Orbán se Fidesz-party, by verre die grootste politieke party in Hongarye, en die sentrumregse Europese Volksparty (EPP), waarvan Fidesz tot onlangs deel was, aanleiding gegee. Fidesz het intussen die EPP verlaat en soek tans ’n nuwe politieke tuiste in die Europese parlement.

Die president van die Europese Unie, Ursula von der Leyen, self afkomstig uit die EPP, het verlede maand harde woorde vir Orbán en sy regering gehad. Orbán stel dit die afgelope dekade as sy doel om die Christen-Demokrasie in Europa te bewaar. Sy regering doen dit deur openlik Hongarye se Christelike karakter te beskerm en uit te bou, die rol van gesinne te bevorder, groter gesinne aan te moedig en linkse teenaksies te beveg.

Reeds in 2015 tydens die immigrasie-krisis in Europa het Orbán met sy weiering om Moslem-immigrante in te neem hom in die spervuur van die liberale elite in Brussel geplaas. Sedertdien bots Orbán toenemend met Wes-Europese leiers. Orbán word grootliks ondersteun deur lande soos Pole, Tsjeggië, Slowakye, Slowenië, Roemenië, Bulgarye en sommige van die Baltiese State. Heelwat politici in Oostenryk, Italië, Griekeland, Spanje en Portugal staan ook simpatiek teenoor die Fidesz-regering in Hongarye.

Orbán word daarvan beskuldig dat hy outoritêr optree, dat hy die demokrasie in Hongarye ondermyn en dat hy die regte van Hongarye wat ideologies van hom verskil, ondermyn. Sy regering se besluit om Hongarye se universiteite aan onafhanklike stigtings oor te dra sodat dit nie meer aan die regering behoort nie, is ook veroordeel. Orbán se argument was dat universiteite nie aan die staat moet behoort nie, maar wel aan die gemeenskappe waarbinne hulle funksioneer.

Fidesz word in die Westerse hoofstroommedia beskryf as ’n verregse, outoritêre en nasionalistiese party wat sogenaamde Europese waardes ondermyn. Volgens die leierskap van Fidesz is dit juis hulle en ander partye uit Sentraal- en Oos-Europa wat die Christen-Demokrasie in Europa beskerm en bewaar, terwyl Christen-Demokratiese partye in Wes-Europa grootliks van hulle Christelike wortels afgesien het.

Viktor Orban. (Foto: Riccardo PAREGGIANI/AFP)

Die groot toets vir Orbán en Fidesz sal in 2022 tydens die volgende parlementêre verkiesing wees. Byna al die opposisieparty in Hongarye – van die linkse partye tot die verregse Jobbik-party – het reeds verlede jaar besluit om binne ’n koalisie aan volgende jaar se verkiesing deel te neem. Die uiteenlopende groep opposisiepartye beplan om mekaar nie in kiesafdelings te opponeer nie, maar om in elke kiesafdeling slegs een kandidaat teen Fidesz te stel. Die groep opposisiepartye sal ook later vanjaar saam hulle kandidaat vir eerste minister aanwys.

Dit is toenemend duidelik dat ’n kulturele breuk tussen Wes- en Oos-Europa al hoe groter word. Fidesz is die afgelope paar jaar drie keer in vry en regverdige verkiesings deur Hongaarse kiesers verkies. Die konserwatiewe, Christelike waardes van Orban en sy party druis egter in teen Wes-Europese liberale waardes. Hongarye staan egter nie alleen nie. In ’n onlangse brief deur EU-lidlande se staatshoofde het 11 van die 27 lidlande se staatshoofde geweier om ’n brief te onderteken waarin Orbán en sy regering veroordeel word.

Terwyl Christen-Demokrate in Wes-Europa Fidesz as ’n nabootser van ware Christen-Demokrasie beskryf, sê Orbán dat hy en ander partye in Sentraal- en Oos-Europa sal aanhou om die Christen-Demokrasie in Europa te beskerm. ’n Groot herskikking van partye in die Europese parlement kan ook een of ander tyd oor die volgende jaar of twee plaasvind. Daarna sal dit duidelik wees of Orbán en Fidesz hul hand oorspeel het en of hulle werklik daarin kon slaag om ’n nuwe rigting vir die behoud van Europa kon help bepaal.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

moet ek inspuit vir die Suid-Afrika variant, of die variant vir die land waarheen ek vlieg?

MakersMark

Uitstekende nuus. Of ent in of die wêreld gaan bietjie moeiliker raak. Wie wil saam met ‘n variant fabriek op ‘n lang afstand vlug sit, of die hotel se eetkamer deel?

Porseleintjie

Stiksiende wereld.

Anel

Gelukkig vlieg ek nie, so ek hoef my te laat intimideer nie. En gaan eenkeer se ent die lot nou vir die res van hul lewens beskerm of gaan hulle nou gereeld elke jaar gespuit moet word? En iemand word skatryk uit die mensdom se paranoia.