Internasionale oorsig: Republikeine verspeel kanse in aanloop tot middeltermynverkiesing

Pres. Joe Biden (Foto: MANDEL NGAN/AFP)

Ses peilings het die afgelope week getoon dat pres. Joe Biden van Amerika tans uiters ongewild is met drie van die peilings wat sy steun op 38% plaas, terwyl die ander drie sy steun tussen 39% en 43% plaas. Tussen 54% en 60% van Amerikaners is ontevrede met Biden.

In dieselfde tydperk as wat hierdie peilings gedoen is, is vier peilings ook onderneem om te bepaal of kiesers beplan om in die middeltermynverkiesing op 8 November vanjaar vir kandidate van die Republikeinse of Demokratiese Party te stem. In een peiling dui 45% van kiesers aan dat hulle Republikeinse kandidate verkies teenoor 44% wat Demokrate verkies. Die Demokrate het ʼn voorsprong van tussen 2% en 5% in die ander drie peilings.

Terwyl pres. Biden baie ongewild is, is die Amerikaanse federale kongres selfs nog meer ongewild met net sowat 20% van Amerikaners wat tevrede is met die werk van die kongres wat tans deur Demokrate beheer word. Histories vaar ʼn Amerikaanse president se party gewoonlik ook baie sleg tydens die middeltermynverkiesing wat twee jaar ná die president se verkiesing volg.

Middeltermynverkiesings die afgelope drie dekades

Bill Clinton. (Foto: Democratic National Convention via AP)

In 1994, twee jaar ná Bill Clinton se verkiesing as president, het die Republikeine beheer oor albei huise van die kongres gekry deur ʼn netto groei van agt setels in die senaat en ʼn netto groei van 54 setels in die huis van verteenwoordigers te bewerkstellig. Die party het ook tien goewerneurskappe by die Demokrate afgeneem en het beheer oor ʼn meerderheid van die deelstate se wetgewers gekry.

In 2010, twee jaar ná Barack Obama se verkiesing, het die Republikeine dit weer gedoen deur ʼn netto groei van sewe setels in die senaat en 63 in die huis van verteenwoordigers te behaal. Die party het ook ses goewerneurskappe by die Demokrate afgeneem.

In 2018, twee jaar ná Donald Trump se verkiesing as president, het die Demokrate ʼn netto groei van 41 setels in die huis van verteenwoordigers behaal hoewel die Republikeine met twee setels in die senaat gegroei het. Die enigste uitsondering die afgelope drie dekades was die verkiesing van 2002, twee jaar ná George W Bush se verkiesing, toe die Republikeine met agt setels in die huis van verteenwoordigers en twee in die senaat gegroei het.

Die oomblik toe pres. George W Bush van die aanvalle in kennis gestel word. (Foto: Paul J. RICHARDS/ AFP)

Dié verkiesing het egter ʼn jaar ná die terreuraanval van 11 September 2001 plaasgevind en Bush was op daardie tydstip nog baie gewild. In sy tweede termyn het die Republikeine ʼn groot loesing gekry en beheer oor albei huise van die kongres in die middeltermynverkiesing van 2006 verloor.

Reeds sedert die vroeë 20ste eeu is daar ʼn tendens dat die president se party in middeltermynverkiesings, veral die eerste middeltermynverkiesing nadat ʼn president verkies is, swak vaar. Daarmee tesame geniet die Republikeine ook ʼn rits ingeboude voordele wat dit vir hulle makliker behoort te maak om die senaat én die huis van verteenwoordigers te beheer.

Waarom die Republikeine eintlik beter behoort te vaar

Die Demokrate se steun is hoogs gekonsentreerd in stedelike gebiede en in liberale deelstate, veral aan die Weskus en in die noordooste van die VSA. Die meerderheid van Amerikaanse deelstate is landelike, konserwatiewe deelstate met kleiner bevolkings.

Aangesien die uiters liberale Kalifornië (met sy meer as 39 miljoen inwoners) net soos die konserwatiewe Wyoming (met sy minder as 600 000 inwoners) slegs twee senatore het, is daar, om goeie historiese redes, ʼn ingeboude voordeel vir die party wat veral landelike, ylbevolkte deelstate oorheers. Die oprigters van die Amerikaanse federale staat wou juis sien dat gekonsentreerde stedelike bevolkings nie uiteindelik die politiek in die VSA oorheers nie. Dit is dan ook die rede waarom die Republikeine tans 62% van die wetgewers in deelstate beheer, terwyl die Demokrate slegs 38% beheer. In 46% van deelstate is die Republikeine volledig in beheer, in 29% is die Demokrate in beheer en in 12% is daar gedeelde beheer. Altesaam 49 deelstate het ʼn hoër- en laerhuis met net Nebraska wat slegs een wetgewende liggaam het.

Hoe Amerikaanse federale verkiesings werk

U.S.-CALIFORNIA-LOS ANGELES-EARLY VOTING

(Foto: Xinhua/Zhao Hanrong)

Terwyl ʼn presidentsverkiesing elke vier jaar in die VSA plaasvind, word al 435 lede van die huis van verteenwoordigers elke twee jaar herkies. In die senaat is die termyn heelwat langer, ses jaar, en daarom word sowat eenderde van die setels in die senaat elke tweede jaar verkies. Elke Amerikaanse deelstaat, ongeag die grootte van die bevolking, het twee senatore, terwyl die hele VSA in 435 distrikte vir die huis van verteenwoordigers opgedeel is, met sewe deelstate wat tans net uit een distrik, dus die hele staat, bestaan. Ná vanjaar se verkiesing sal Montana egter uit twee distrikte bestaan.

Al 435 setels asook 35 van die 100 senaatsposisies verskyn dus op die stembrief vir vanjaar se verkiesing. Die Demokrate het tans ʼn klein meerderheid in die huis van verteenwoordigers met 220 lede teenoor die Republikeine se 210 lede en daar is vyf vakante posisies. Drie lede is onlangs oorlede en twee het bedank. In die senaat het die Demokrate 50 lede (onder wie twee onafhanklikes wat saam met hulle koukus) en die Republikeine het ook 50 lede.

Tans het 28 deelstate ʼn Republikein en 22 ʼn Demokraat as goewerneur. Die termyne van die 50 goewerneurs verskil. In 48 deelstate is ʼn goewerneur se termyn vier jaar, met New Hampshire en Vermont se goewerneurs wat slegs tweejaartermyne het. Virginia en New Jersey se goewerneurs word presies ʼn jaar ná ʼn presidentsverkiesing verkies en dit val dus nooit saam met ʼn middeltermynverkiesing of ʼn presidentsverkiesing nie.

In vanjaar se middeltermynverkiesing moet 39 goewerneurs verkies word. Van hulle is 36 in deelstate en drie in oningekorporeerde grondgebied van die Verenigde State, naamlik Guam, die Noordelike Mariana-eilande en die Amerikaanse Maagde-eilande. Dit beteken dus dat ʼn uitsonderlike groot getal goewerneurs vanjaar verkies moet word.

Die afgelope paar dekades, veral sedert die Republikeine die meer landelike konserwatiewe party en die Demokrate die meer stedelike liberale party geword het, sukkel die Republikeine om beheer oor die senaat te kry. Die hoofrede hiervoor is dat die Republikeinse Party dikwels kandidate verkies wat vir ʼn meerderheid van kiesers onaanvaarbaar is. In voorverkiesings is dit veral die getrouste ondersteuners van ʼn party wat gaan stem en dit gebeur dan dikwels dat ʼn kandidaat met meer ekstreme standpunte verkies word. Die Demokrate het weer ʼn geneigdheid tot groter pragmatisme.

Die Republikeine kan ook staatmaak op ʼn ingeboude voordeel in die huis van verteenwoordigers. Eerstens is dit in die meeste gevalle die deelstate se wetgewende liggame wat elke tien jaar, ná die Amerikaanse sensus, vir die herafbakening van distrikte se grense verantwoordelik is. Aangesien die Republikeine ʼn groot meerderheid in hierdie wetgewende liggame geniet, kan die party distrikte so afbaken dat dit ʼn ingeboude voordeel aan die party bied.

Verder is die Demokrate se konsentrasie van kiesers in stedelike gebiede ook vir die party ʼn uitdaging. Donald Trump het in 2020 72% van distrikte, oftewel meer as 80% van die VSA se grondgebied, gewen. Joe Biden het in slegs 28% van distrikte gewen. Hy het egter in die enkele distrik met die grootste bevolking (byna 11 miljoen mense), die Los Angeles-distrik, 71% van die stemme gewen. In die Loving-distrik in die noorde van Texas het Trump 91% van die stemme gewen. Dié distrik het egter minder as 100 inwoners. Die Loving-distrik is geografies baie groter as die Los Angeles-distrik. Aangesien landelike deelstate op eie distrikte geregtig is, bevoordeel dit ook die Republikeine.

Met die Demokrate wat tans ʼn meerderheid in die huis van verteenwoordigers het en die helfte van die setels in die senaat beheer, behoort die Republikeine se kanse op ʼn oorwinning dus vanjaar baie groot te wees. Tog toon peilings dat dit geen uitgemaakte saak is nie. Verskeie leiers in die Republikeinse Party is erg op hul senuwees hieroor.

Skiet Trump die Republikeine in die voet?

Donald Trump. (Argieffoto: REUTERS/Carlos Barria)

Die afgelope week het voorverkiesings in ses Amerikaanse deelstate plaasgevind waartydens partylede vir kandidate in die November-verkiesing kon stem. Voorverkiesings het nou reeds in 37 van die 50 Amerikaanse deelstate plaasgevind en dit raak duidelik dat die Republikeine in talle deelstate waar hulle veral setels in die senaat en goewerneurskappe behoort te wen, swak kandidate verkies het.

Die afgelope maande se voorverkiesings is ook gekenmerk deur die voormalige Amerikaanse president Donald Trump se poging om sy voorkeurkandidate verkies te kry. Een vereiste waaraan elke kandidaat wat Trump se steun wil kry, moet voldoen, is om die uitslag van die 2020-verkiesing in twyfel te trek en te beweer dat verkiesingsbedrog gepleeg is.

Trump is steeds die gewildste leier in die Republikeinse Party en met goeie rede ook. Sy vier jaar as president was gekenmerk deur ʼn rits konserwatiewe oorwinnings en Trump se grootste nalatenskap is sy aanstelling van honderde konserwatiewe regters in verskeie federale howe. Daarmee gepaardgaande het sy buitelandse, onderwys-, energie- en immigrasiebeleid, asook sy beleid oor binnelandse veiligheid ook wye steun onder Amerikaners geniet. Hoewel chaoties en onprofessioneel, was sy presidentskap geen mislukte presidentskap soos wat sommige kommentators beweer nie.

Die probleem is egter dat Trump nie daarin slaag om aan te beweeg en op die huidige uitdagings in die VSA te fokus nie. In verskeie deelstate het uitstekende, konserwatiewe kandidate wat op ʼn vaardige manier reageer op die VSA se huidige ekonomiese probleme, die immigrasiekrisis op die grens met Mexiko, die toenemende misdaadprobleme in Amerikaanse stede, agterstande in onderwys ná die pandemie en die VSA se onsamehangende buitelandse beleid onder Biden, voorverkiesings verloor omdat hulle geweier het om Trump se bewerings oor verkiesingsbedrog te verkondig.

Vooruitsigte drie maande voor verkiesing

Foto:. (AP Photo/Brynn Anderson)

Dié probleem besorg die Republikeinse Party groot hoofbrekens veral wat die senaatsverkiesings betref en ook op goewerneursvlak. Kandidate wat geen kans staan om in die middeltermynverkiesing te wen nie, is reeds in deelstate soos Pennsilvanië, Arizona en Michigan verkies. In deelstate soos Georgia en Ohio, waar die party in ʼn jaar soos vanjaar maklik behoort te wen, is Trump-kandidate in elke peiling agter.

Dit lyk ook of die Republikeine talle goewerneurskappe gaan verloor. In die baie liberale Massachusetts en Maryland tree gewilde Republikeine weens termynbeperkings uit as goewerneurs en sal die Demokrate albei posisies oorneem omdat die Republikeine onverkiesbare kandidate aangewys het. Dit is egter in deelstate soos Michigan, Pennsilvanië, Wisconsin, Arizona en Kansas waar die party vanjaar behoort te wen, maar waar swak kandidate kan beteken dat die Demokrate skoonskip maak.

Dinge lyk steeds gunstig vir die Republikeine in die huis van verteenwoordigers. Die verkiesing van ʼn lid van die huis van verteenwoordigers verskil heelwat van dié van senatore en goewerneurs omdat ʼn kandidaat sy/haar boodskap kan aanpas by die mense van ʼn veel kleiner gebied en dit nie nodig is om steun by ʼn hele deelstaat se kiesers te werf nie. Die karakter en persoonlikheid van ʼn kandidaat is hier ook soms minder belangrik, juis omdat distrikte só afgebaken word dat dit meestal ʼn sterk ideologiese belyning het.

Ná die mees onlangse afbakenings behoort die Republikeine steeds in November beheer oor die huis van verteenwoordigers te kry, hoewel hul kanse in die senaat baie skraal is en dit ook lyk of hulle talle goewerneurskappe gaan verloor.

Trump het die afgelope paar maande meer as $100 miljoen deur geldskenkings ingesamel, maar minder as 5% daarvan is al aan kandidate geskenk. Dit is onduidelik of hy van plan is om meer geld aan sy gekose kandidate te bestee. Die meeste kandidate van die Demokratiese Party het tans ʼn groot fondswerwingsvoorsprong, veral vir senaatsposisies, terwyl die Republikeine sukkel om skenkings te werf met die meeste geld wat steeds na Trump en sy verskillende politieke organisasies gaan.

Verkiesingsbedrog en die geloofwaardigheid van Amerikaanse verkiesings

Argieffoto

Die veldtog vir 2024 se presidentsverkiesing sal ná vanjaar se middeltermynverkiesing begin en dit lyk toenemend of Trump hom weer wil beskikbaar stel as die Republikeine se kandidaat. Sy hooffokus bly steeds, 18 maande nadat hy nie vir ʼn tweede termyn verkies is nie, bewerings oor verkiesingsbedrog in die 2020-presidentsverkiesing.

Terwyl dit duidelik is dat die Demokrate posstemme in talle deelstate misbruik het en onetiese gedrag geopenbaar is, kon geen onwettige optrede en dus duidelike verkiesingsbedrog nog in ʼn hof bewys word nie. Dit is ongetwyfeld nodig om die verkiesingsproses in talle deelstate te hersien, iets wat ook reeds verlede jaar in sommige state begin gebeur het. Indien die Demokrate van huis tot huis gaan en posstemme van kiesers “werf”, mag dit wel dalk op sommige plekke wettig wees, maar dit plaas ʼn groot vraagteken agter die individuele kieser se plig om self sy/haar demokratiese reg op te neem. Dit skep ook té veel geleenthede vir bedrog.

ʼn Onlangse opname deur die openbare radiodiens in die VSA het bevind dat 64% van Amerikaners oortuig is dat die land se demokrasie in ʼn krisis verkeer. Sowat 70% meen dat die demokrasie in die komende paar jaar gaan misluk.

ʼn Peiling deur Quinnipiac Universiteit het bevind dat 76% van Amerikaners meen dat die land gevaar loop om in politieke onstabiliteit te verval. Volgens die Collaborative Multi-Racial Political Study is 57% van wit Amerikaners daarvan oortuig dat verkiesingsbedrog in 2020 plaasgevind het. Ook 38% van Amerikaners van Latyns-Amerikaanse afkoms en 30% van swart Amerikaners meen dat ʼn mate van bedrog in 2020 kon plaasgevind het.

Volgens nog ʼn peiling van ABC News en die Washington Post voel slegs 20% van Amerikaanse kiesers verseker oor die integriteit van die Amerikaanse verkiesingstelsel. In ʼn CNN-peiling het 56% van kiesers onlangs aangetoon dat hulle min of geen vertroue in die kiesstelsel het.

Dit is dus duidelik dat daar ʼn ernstige uitdaging oor die geloofwaardigheid van Amerikaanse verkiesings is. Dit gaan Trump en sy ondersteuners egter niks baat om by verkiesingsbedrog te bly vassteek nie. Dit mag mense selfs ontmoedig om te gaan stem. Die oplossing lê in sinvolle verkiesingshervormings wat slegs moontlik is wanneer die party wat in ʼn deelstaat in beheer is dit wil onderneem.

Tans lyk dit of Trump se bitterheid oor die 2020-verkiesingsuitslag vir hom belangriker is as om goeie kandidate te help om vanjaar in belangrike verkiesings te wen. Indien hierdie tendens nie vinnig omgekeer word nie, kan die Republikeine op 8 November ʼn duur prys betaal.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Solank Donald Trump weer pres word van die VSA is ek tevrede want sy leierskap het ‘n positiewe uitwerking op die piesang Republiek waarin ek onderdruk word en belasting betaal om my waardering daarvoor te wys.

annie ·

Is Biden dus meer aanvaarbaar as Trump? Trump het rede om te glo dat die kiesstelsel in die demokrate se hande en met Biden se gewildheid aan’t taan plus sy kognitiewe vermoëns, so ‘n slinkse plan weer nodig word anders is Biden uit en bly die CIA/Navo se wêreldoorheersingsdroom presies net dít.

Treurwilger ·

Die óngeloofwaardigheid van Amerikaanse verkiesings is vir enigeen, met twee oë om te lees en twee ore om te hoor, so duidelik soos daglig.
Daar is selfs ‘n artikel in Time Magazine waar in detail beskryf word “How the Election was Fortified by Coordinated Conspiracy”.
Die woord “fortified” is die versagtende vorm van “stolen”, want dit is ‘n feit dat die verkiesing onregverdig was, met die media wat belangrike inligting verswyg het, en Big Tech wat mense gemuilband het.
Donald Trump moet hom eerder nie weer met die semels in Washington meng nie, want “meng jou met die semels … “

Henk ·

Wat beroeps politici en Politieke Wetenskaplikes nie kan verstaan nie, is dat DT so suksesvol is en was, juis omdat hy nie die dinge doen wat Politici gewoonlik doen nie.

Die beeld wat hy uitstraal is een van ń persoon wat nie dinge doen ondat hy dink sy kieser gaan daarvan hou nie, maar eerdsr omdat dit die regte ding is om te doen.

Die gevolg hiervan is dat dit hom loodreg in stryd plaas met die “links” aangesien hulle net besorgis met sentraliseering van Mag en Kapitaal; maar ook steek dit die “regs” dwars in die krop aangesien DT se bereidwilligheid om die baie moeiliker regte dinge te doen, die regse politici se sikofantiese benadering tot politiek, werklik en strak in die kollig te plaas.

Mense hou nie van hom nie, maar hulle vertrou dat hy gaan doen wat hy dink reg is, nie wat vir hom kieser gaan verwerf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.