Internasionale oorsig: ‘Revolusie’ broei in VSA ná klopjag op Trump-woning

Donald Trump (Foto: AFP)

Die Amerikaanse Departement van Justisie en die Federale Buro vir Ondersoek (FBI) se besluit om Maandag ʼn klopjag op die privaat woning van die voormalige Amerikaanse president Donald Trump uit te voer, is Dinsdag deur die gematigde en hoogs gerespekteerde koerant, die Wall Street Journal, se hoofartikel as “gevaarlik” beskryf. ʼn Bekende skrywer en politieke kommentator het selfs gesê dat dit tot ʼn revolusie aanleiding kan gee.

Die man verantwoordelik vir die besluit om ʼn klopjag op Trump se woning uit te voer, is die prokureur-generaal van die VSA, Merrick Garland. Garland is in 2016 deur president Barack Obama vir ʼn vakante posisie in die federale hooggeregshof genomineer. Republikeine in die Senaat het egter geweier om sy nominasie te hanteer. Uiteindelik het president Trump in Februarie 2017 vir Neil Gorsuch genomineer en hy is deur die Senaat bevestig. Dit het Garland verbitterd gelaat en sedert hy aan die begin van verlede jaar deur president Biden as prokureur-generaal aangestel is, gebruik hy die Departement van Justisie vir sy politieke heksejag op Trump en ander Republikeine.

Die Wall Street Journal het teen Donderdag, nadat Garland tydens ʼn mediakonferensie bevestig het dat hy verantwoordelik was vir die opdrag om ʼn dagvaarding vir ʼn klopjag op Trump se huis te kry, hierdie stap as ʼn “dobbelspel met die Amerikaanse regstelsel” beskryf. Vir 232 jaar het daar nog altyd ʼn politieke riglyn in die VSA bestaan dat uitgetrede Amerikaanse presidente nie deur die Departement van Justisie geteiken word nie. Garland het hierdie tradisie verbreek.

Die politieke kommentator Daniel Henninger het Vrydag so ver gegaan om te vra of die VSA nog ʼn funksionerende regeringstelsel het wanneer die land se regstelsel vir politieke doeleindes gebruik word. Maandag se klopjag op Trump se huis in Palm Beach, Florida, maak van Trump ʼn martelaar in ʼn land wat reeds gevaarlike vlakke van politieke verdeeldheid ervaar.

Reeds in 2017 het die Departement van Justisie en die FBI heelwat hulpbronne spandeer om bewerings te ondersoek dat die Trump- presidensiële veldtog van 2016 met die Russiese regering saamgewerk het om die verkiesingsuitslag te beïnvloed. Daar het uiteindelik niks van die bewerings gekom nie. Volgens Henninger bevestig Maandag se klopjag regses in die VSA se standpunt dat ʼn sogenaamde politieke moeras of “deep state” Amerika beheer.

Die noodsaak vir ʼn dagvaarding en ʼn klopjag moet ernstig bevraagteken word. Ná ʼn president se vertrek uit die Withuis word amptelike dokumente aan die Nasionale Argief oorhandig. Dit word deur die Wet op Presidensiële Rekords voorgeskryf. Presidente neem ook heelwat dokumente saam met hulle wat hul eie rekords is of wat in toekomstige privaat biblioteke gebruik kan word.

Geskille oor watter dokumente na die Nasionale Argief moet gaan, is niks nuuts nie. George W. Bush en Barack Obama het albei ná hulle uittrede geskille hieroor gehad. Nie een van die twee se privaat wonings is egter blatant binnegedring nie en nie een van die twee se privaat kluise is oopgebreek soos wat Maandag met Trump gebeur het nie.

In Junie vanjaar het lede van die Nasionale Argief Trump se huis besoek en deur dokumente wat deur sy personeel verpak is en ná sy uittrede na sy privaat woning verskeep is, gewerk. Sowat tien kartonbokse vol dokumente is toe verwyder. Sedertdien was daar nog vrae oor dokumente waarna die nasionale argief gesoek het, en volgens alle beskikbare inligting het Trump en sy personeel hulle volle samewerking gegee.

Terwyl Trump die afgelope week in New York was, het die FBI egter op sy huis toegeslaan, sy privaat kluis oopgebreek en nog verskeie bokse dokumente verwyder. Die vraag wat Garland weier om te beantwoord, is of dit regtig nodig was.

Trump se privaat woning in Mar-A-Lago in Palm Beach, Florida (Foto: Giorgio VIERA/AFP)

Die Departement van Justisie is reeds die afgelope 18 maande besig met ʼn ondersoek na die inval deur Trump-ondersteuners verlede jaar op 6 Januarie in die Kongresgebou in Washington D.C. Dit is duidelik dat Garland en sy span verbete na bewyse soek om Trump as medepligtige vir die inval aan te kla.

Een van die mees gerespekteerde Amerikaanse senatore, Chuck Grassley van Iowa, is tans die mees senior Republikein in die Senaat se Regterlike Komitee. Grassley het die afgelope week gesê dat Maandag se klopjag Amerikaners se reeds swak vertroue in die regstelsel en die FBI net verder gaan wegkalwe.

Talle politieke kommentators het die afgelope week selfs verder gegaan deur daarop te wys dat dit nie Trump se politieke aspirasies of die oppergesag van die reg is wat hier op die spel is nie, maar inderwaarheid wel die Amerikaanse demokrasie. Net te veel Amerikaners is besig om hulle totale vertroue in die Amerikaanse demokrasie en sy instellings te verloor.

Sowat 60% van Amerikaners voel dat die Amerikaanse demokrasie in ʼn krisis verkeer, en 76% verwag groter politieke onstabiliteit. Amerikaners wat ernstige vrae oor Garland en die FBI se motiewe stel is nie onpatrioties nie, maar opper welverdiende skeptisisme.

Met ʼn verswakte president wat die een blaps ná die ander begaan en wie se party hom nie oor twee jaar weer as presidentskandidaat wil hê nie, en ʼn groter wordende kloof tussen die stedelike elite en die gewone, dikwels meer konserwatiewe, Amerikaners, is ʼn plofbare vakuum tans besig om te ontwikkel en vrese dat revolusie daardie vakuum kan vul, is nie vrees wat aangeblaas word nie, maar eerder ʼn logiese gevolg daarvan.

Nuwe VSA-strategie vir Afrika is arm aan oplossings

Antony Blinken (Foto: Andrew Harnik/POOL/AFP)

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het die afgelope week tydens sy besoek aan Suid-Afrika, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Rwanda die Biden-administrasie se nuwe strategiedokument vir Afrika suid van die Sahara bekend gemaak. Dié dokument identifiseer talle van Afrika se probleme, swakpunte en uitdagings soos outoritêre, ondemokratiese regerings, terrorisme, korrupsie, swak bestuur en China en Rusland se groeiende rol in Afrika, maar die strategiedokument se oplossings is wollerig en sonder duidelike nuwe beleidsrigtings.

Slegs enkele dae voor Blinken se besoek aan Afrika het die Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, Linda Thomas-Greenfield, twee Amerikaanse bondgenote in Afrika, Ghana en Uganda, besoek. Blinken en Thomas-Greenfield se besoeke volg weer net enkele dae ná ʼn besoek deur die Russiese minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov, aan verskeie Afrika-lande.

Thomas-Greenfield was uitgesproke in haar kritiek teen sommige lande in Afrika se samewerking met Rusland. Sy het haar veral sterk uitgespreek teen die verbreking van sanksies teen Rusland. Blinken het ʼn meer versoenende benadering gevolg deur te sê dat die VSA nie aan enige Afrika-land wil voorskryf oor hoe hulle sake moet doen met Rusland en China nie. Hy het egter gewaarsku dat albei lande slegs in Afrika-lande sake doen om toegang tot Afrika se natuurlike hulpbronne te verkry.

Terwyl Blinken ʼn helde-ontvangs in die DRK en Rwanda gekry het, was die ontvangs in Suid-Afrika maar koud, met die Suid-Afrikaanse minister van buitelandse sake, Naledi Pandor, wat te velde getrek het teen ʼn Amerikaanse wetsontwerp wat bepaal dat Russiese aktiwiteite in Afrika-lande beter gemonitor moet word. Sy het dit as ʼn “aanstootlike” Koue Oorlog-wet beskryf.

Die uitdaging vir die VSA is dat beide Rusland en China geen behoefte het om menseregte, demokrasie en die volhoubare ontwikkeling van Afrika-lande te bevorder nie. Vir Rusland is betrokkenheid in Afrika ʼn magstryd teen die Weste, en juis daarom is Rusland direk betrokke in die Sahel-streek, en veral Mali, waar ʼn enorme stryd teen Islamitiese terreur gevoer word.

Die Chinese is weer betrokke by die finansiering van groot infrastruktuurprojekte in verskeie Afrika-lande. Daardeur kry China verhoogde invloed in daardie lande en in baie gevalle selfs ʼn houvas op Afrika-regerings wat sukkel om lenings aan die Chinese terug te betaal. Voorts is China die grootste invoerder van natuurlike, dikwels ook skaars, hulpbronne uit Afrika. Toegang tot hierdie hulpbronne is die Chinese se eerste doelwit.

Tog is die VSA en Europa steeds van groot belang in Afrika. Die meeste ontwikkelingsfondse, finansiële hulp en maatskaplike projekte in Afrika word deur die Weste gefinansier. Die nuwe VSA-strategiedokument skryf ʼn mengsel voor van aansporingsmeganismes en strafmaatreëls teen outoritêre regerings en regerings wat Amerikaanse sanksies oortree.

Terwyl die belangrikste prioriteite wat in die strategiedokument bespreek word, algemene sake soos gesondheid, die nadraai van die pandemie, klimaatsverandering, omgewingsbewaring en hernubare energie insluit, sal die groot vraag wees of die Amerikaanse regering gereed is om sy sagte krag en ekonomiese invloed in Afrika met groter selfgelding te gebruik.

Demokrasie, menseregte, omgewingsbewaring en talle ander belangrike Amerikaanse prioriteite boer agteruit in Afrika. Afrika, veral die Sahel-streek en groot dele van Wes- en Oos-Afrika, raak ʼn tuiste vir Islamitiese terreurgroepe terwyl die invloed van Rusland en China besig is om op die kontinent toe te neem. Indien die VSA werklik ʼn verskil wil maak, sal hy minder wollerige praatjies moet praat en met groter kragdadigheid voorwaardes vir toegang tot die Amerikaanse mark en toegang tot ontwikkelingshulp en ander Amerikaanse fondse moet begin stel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Treurwilger ·

Groot waardering vir Jaco Kleynhans se kalm gebalanseerde opsommings van gebeure.
Uniek, te midde van die ontstuimige, opswepende nuusdekking waaraan ons elders blootgestel en gewoond geraak het.

Groen Ghoen ·

Die hele storie maak nie sin nie: Waarom sal mnr. Trump bv. kerngeheime in sy besit hou? Die verantwoordelike instansies sou dit lankal aan die groot klok gehang het. Hierdie lyk na ‘n desperate visvangekspedisie wat op ‘n bisarre manier vir Trump gaan bevoordeel.

Andre ·

Jaco se kommentaar oor die Trump storie is darem bitter eensydig. Ek weet Jaco skryf vir sy (konserwatiewe) mark en dat dit ‘n opinie skrywe is.
Ja, die Wall Street Journal is hoogs gerespekteer, maar hy is in die Murdoch/NewsCorp/Fox kamp en sien alles deur daardie bril. Daar is baie ander hoogs gerespekteerde koerante in die VSA en Brittanje met heeltemal ander opinies oor hierdie saak.
En dan die skinderstorie oor Garland wat alles nou doen oor hy kwansuis bitter is. Dit klink soos ‘n regte Breitbart of Tucker Carlson fabel…

Human ·

Ja, dit is mos net die liberale media wat fopnuus en vals inligting versprei, want die nuwe wêreld orde sit daar agter. Maak nie saak wat jy verkondig nie solank die lesers getalle net die hoogtes bereik wat jou self sal laat goed voel.

Andrew ·

En ander sien dit weer deur n ander bril soos CNN, MBC, Bloomburg, BBC , NYT, rolling stones, Samuel L Jackson, wel die hooftroom media soos hulle bekend staan. Punt bly dat sedered 2016 kom die leuens een na die ander uit en dit gedek deur die gerispekteerde (liberale) media. Dalk is daar nog n paar leuens wat nou sal uitkom. Maar dankie vir jou bydrae.

Braam ·

Andre, ek “lees” seker in sirkels, maar ek verstaan nie wat jy probeer se nie?

wildtuin ·

Hierdie berig van Jaco is gebalanseerd en is feite. Daar is ‘n alhoe dieperwordende kloof tusen konserwatief /gematigd aaan die 1 kant en liberale aan die ander kant en hulle is baie bitsig teenoor mekaar, dit kan die land uitmekaar laat spat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.