Internasionale oorsig: Rusland behoort nie vyand van Weste te wees

Die Russiese president, Wladimir Poetin. (Foto: Alexey Nikolsky/AFP)

In 2018 is die Amerikaanse president Donald Trump verguis nadat hy ná ʼn ontmoeting met die Russiese president, Wladimir Poetin, in Helsinki, Finland, geweier het om te sê dat Rusland ʼn vyand van die VSA is. In 2019 was dit weer die Franse president Emmanuel Macron wat oor ʼn soortgelyke uitspraak veroordeel is. In September verlede jaar het Joe Biden, toe die Demokratiese Party in die VSA se presidentskandidaat, erken dat hy, net soos Trump in 2018, Rusland nie as ʼn vyand van die VSA bestempel nie, maar wel as ʼn mededinger. Die liberale internasionale media en leunstoelkommentators was hierdie keer doodstil.

Die werklikheid is natuurlik dat Rusland tans geen ernstige bedreiging vir die VSA bied nie. Afgesien van kuberkrakers uit Rusland wat soms Amerikaanse maatskappye aanval, bied Rusland geen veiligheidsbedreiging vir Amerikaners nie. Rusland het ook geen behoefte of rede om die VSA te wil bedreig nie. Dieselfde geld vir Europa waar Rusland ook geen rede het om Europese lande aan te val nie en waar Rusland se besetting van die Krimskiereiland in 2014 ʼn geïsoleerde voorval met ʼn baie lang historiese aanloop was.

Die spanning om groter invloed in Oos-Europa word baie meer deur Navo as deur Rusland aangedryf. Navo se aggressiewe uitbreiding die afgelope twee dekades tot op die grens met Rusland, asook Navo se bereidwilligheid om nog lande soos die Oekraïne, Moldowa en moontlik selfs Georgië as lede te verwelkom, maak die Russiese regering met goeie rede onrustig. Die vraag moet gevra word of Rusland ook in 2008 vir Georgië en in 2014 die Oekraïne sou aangeval het as dit nie was vir Westerse lande se flirtasie met albei lande en Navo se bereidwilligheid om aansoeke om lidmaatskap van albei lande te oorweeg nie.

Verder kan die Russe met goeie rede ongelukkig wees oor die Weste en Navo se uitbreiding van invloed in die Balkan-streek. Verskeie Westerse lande, waaronder die VSA, se besluit om in 2010 die onafhanklikheid van Kosovo te erken, was ʼn afwyking van hierdie lande se beleid oor eensydige onafhanklikheidsverklarings. Dit was ook duidelik daarop gemik om Kosovo onder Westerse invloed te kry en die Serwiërs ʼn prys vir hulle bande met Rusland te laat betaal. Die Weste het geen goeie, logiese rede gehad om by hierdie en ander strydpunte in die Balkan betrokke te raak nie.

Die Russiese motief in Oos-Europa is een van invloed en respek. Die Russe wil invloed behou in dié gebiede wat tydens die Sowjet-era onder hulle beheer was, en Rusland wil deur die Weste as een van die belangrikste wêreldmoondhede gerespekteer word.

Die Russe en hulle president is geen engeltjies nie. Rusland se onderdrukking van opposisiepartye en leiers, hulle optrede in die ooste van die Oekraïne, die werk van Russiese kuberkrakers en nog ander Russiese sondes is wel bekend.

En in ʼn vrye wêreld moet lande self kan kies wie hulle vriende moet wees. So het ʼn meerderheid van die kiesers in Moldowa verlede Sondag ten gunste van ʼn pro-Westerse party gestem. Dit sal dié land waarskynlik nader aan Wes-Europa bring nadat ʼn vorige regering sterk bande met Rusland gehandhaaf het.

Die werklikheid is egter dat die Weste, en veral die VSA, heelwat gedeelde prioriteite met Rusland het. Albei wil sien dat die situasie in Midde-Oosterse lande soos Sirië, Afganistan, Jemen en Irak moet stabiliseer. Albei is bekommerd oor die voortdurende opkoms van Islamitiese terreurgroepe wat ʼn veiligheidsbedreiging in Westerse lande en in Rusland inhou.

Rusland kan in verskeie konfliksituasies ʼn belangrike vennoot vir die Weste wees, soos die oorloë in die Midde-Ooste, die stryd in die Kaukasusstreek, Noord-Korea se voortdurende dreigemente om ʼn kernwapen te vervaardig, en selfs Chinese aggressie. Rusland en China is geen natuurlike bondgenote nie, maar die Weste se voortdurende stryd teen Rusland veroorsaak dat die Russe noodgedwonge meer met die Chinese saamwerk.

Die Amerikaanse president, Joe Biden, se onlangse ontmoeting met president Poetin van Rusland in Genève, Switserland, was ʼn berg wat nie eens ʼn muis kon baar nie. Intussen is daar geen Westerse leier wat ʼn alternatiewe proses voorstel om die huidige yskoue verhouding tussen Rusland en die Weste te herstel nie.

Wanneer lande soos Hongarye, Serwië, Italië en Griekeland soms nouer bande met Rusland smee, word dit onmiddellik deur die Amerikaners en selfs stemme in Wes-Europa veroordeel. Selfs Macron se poging om ʼn nuwe rigting in die verhouding tussen Europa en Rusland daar te stel, was doodgebore.

Die vraag is of die nuwe Duitse bondskanselier ná vanjaar se verkiesing bereid sal wees om so ʼn rigting in te slaan. Duitsland is Rusland se grootste handelsvennoot in Europa, en Duitsland wil meer gas van Rusland aankoop en weier dus om onder Amerikaanse druk te swig om die bou van ʼn ondersese gaspypleiding tussen Rusland en Duitsland te staak.

Indien die verhouding tussen die Weste en Rusland egter nie verbeter nie, sal albei partye daaruit verloor. China sal een van die groot wenners wees en krisisse wat saam opgelos kon word, sal bly voortwoed.

Ekonomiese probleme in Turkye voorspel politieke uitdagings vir Erdogan

Nadat die Turkse Reserwebank vroeër vanjaar rentekoerse met twee persentasiepunte verhoog het, het die Turkse president, Recep Erdogan, die president van die reserwebank afgedank. (Foto: Ozan Kose)

 Verbruikerspryse in Turkye het in Junie met 17,5% gestyg, wat selfs hoër was as die 16,8% wat verlede week deur ekonome in ʼn Bloomberg-peiling voorspel is. Die Turkse ekonomie het groot skade gely weens die pandemie, met dié land se toerismebedryf wat byna heeltemal tot stilstand gekom het en uitvoere van verskeie produkte, veral na Wes-Europa, wat ook afgeneem het.

Die land se staatskuld neem ook skerp toe, en nadat die Turkse Reserwebank vroeër vanjaar rentekoerse met twee persentasiepunte verhoog het, het die Turkse president, Recep Erdogan, die president van die reserwebank afgedank. Dit het tot meer kommer onder buitelandse beleggers aanleiding gegee. Intussen het die Turkse lira met nog 15% verswak. Vroeg in Junie vanjaar het die lira tot die laagste vlak nog ooit teen die Amerikaanse dollar verswak.

Ondanks ʼn gedeeltelike herstel in die Turkse ekonomie die afgelope ses maande bly dié land se werkloosheidskoers op 14%, die hoogste in baie jare. Die ekonomiese probleme in Turkye is besig om politieke gevolge vir Erdogan en sy AK-party te hê. Dié party se steun het verlede week in peilings tot 26% gedaal, die laagste sedert Erdogan die party sowat twee dekades gelede opgerig het.

Erdogan en die AKP se uitdagings word vererger deur verskeie bewerings oor korrupsie, dwelm- en wapenhandel en sluipmoorde op politieke teenstanders wat die afgelope twee weke deur ʼn Turkse uitgewekene, Sedat Peker, op sosiale media gemaak is. Peker bevind hom glo tans in die Verenigde Arabiese Emirate en vrees vir sy lewe, maar sy video’s oor die optrede van senior lede van die AKP is wyd in Turkye versprei. Die volgende verkiesing in dié land vind eers in 2023 plaas, maar opposisiepartye dring nou aan op ʼn vroeë verkiesing, en volgens peilings steun 54% van Turke so ʼn vervroegde verkiesing.

Nuwe Israel-regering heroorweeg Iran-strategie

Die nuwe regering van Naftali Bennett (eerste minister) en Yair Lapid (minister van buitelandse sake) in Israel is volgens berigte in die Israelse media besig om ʼn nuwe strategie te bedink om op moontlike bedreigings uit Iran te reageer. Bennett het onlangs eerste minister van Israel geword nadat Benjamin Netanyahu ná meer as ʼn dekade deur ʼn nuwe koalisieregering verwyder is.

Netanyahu het ʼn onverskrokke benadering jeens Iran gevolg. Netanyahu het saam met Israel se weermaghoof, luitenant-generaal Aviv Kochavi, daarop gefokus om Iran op die agtervoet te hou met gereelde aanvalle op groepe in Sirië, Irak en Libanon wat deur Iran ondersteun word. Netanyahu en Kochavi het ook ʼn strategie gevolg om enige nuwe kernooreenkoms tussen Iran en Westerse lande te probeer verongeluk.

In 2015 het Netanyahu ʼn striemende aanval op die regering van Barack Obama gelewer toe ʼn kernooreenkoms met Iran gesluit is. Bennett en Lapid wil volgens berigte verhoed dat spanning tussen Israel en die VSA ontstaan indien ʼn nuwe kernooreenkoms bereik word.

Iran het onlangs ʼn nuwe, konserwatiewe Islam-fundamentalis tot president verkies en die Israeliese regering vrees dat die nuwe regering in Teheran selfs meer aggressief sal wees in sy steun aan groepe soos Hezbollah en Hamas.

Bennett sal in Augustus die VSA besoek en met president Joe Biden byeenkom. Na bewering wil hy en sy regering eers sien of ʼn nuwe kernooreenkoms dan al bereik is en wat die houding van die nuwe Iranse president, Ebrahim Raisi, gaan wees.

Bennett en Lapid wil eerder ʼn ooreenkoms met die Amerikaanse regering bereik om Iran se kernaktiwiteite strenger te monitor en om saam te werk teen terreurgroepe wat deur Iran ondersteun word.

Intussen het die onderhandelinge oor ʼn nuwe kernooreenkoms tot stilstand gekom. Iran se minister van buitelandse sake, Mohammad Zarif, het Maandag in Iran se parlement gesê dat die VSA aangebied het om sommige sanksies teen Iran te laat vaar. Die Trump-administrasie het 1 500 sanksies teen Iran ingestel wat tot groot ekonomiese probleme aanleiding gegee het. Intussen is dit steeds onduidelik of die opperleier van Iran, ajatolla Ali Khamenei, sy goedkeuring vir ʼn nuwe kernooreenkoms gegee het. Ná ses rondes van onderhandelinge in Wene, Oostenryk, is dit onseker of en wanneer daar verder onderhandel sal word.

Die nuwe regering se strategie is steeds om die VSA te probeer oorreed om nie ʼn ooreenkoms met Iran te sluit nie, maar Bennett en Lapid probeer wel ʼn goeie verhouding met die Biden-administrasie handhaaf. Die volgende paar weke sal bepalend wees vir die verhouding tussen nie net die Weste en Iran nie, maar ook die verhouding tussen Israel en die VSA én die veiligheidsituasie indien konflik tussen Israel en Iran sou toeneem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrew ·

Met crt en die blm , oop grense en weet nie wat se nonsense die liberale weste nog gaan uitspoeg, dink ek eerder die weste gaan (en moet ) n vyand vir rusland bly. Hongarye en n paar ander oos europese lande gaan nog rusland se hulp vra. Ek wag ook nog vir oos duitsland om onafhanklikheid van west duitsland te soek.

kyk maar, die einste mense in die weste wat sosialisme na jaag, het geen probleem met cuba en venezuela en ander soortgelyke kommunistiese lande nie maar wel met wit rusland.

Marthinus W ·

Afganistan grens aan Rusland, wat beteken dat hulle nou baie senuagtig is oor die gemors wat Amerika en Navo daar geskep het, en net so laat staan. Verlede week het die FSB reeds `n terroriste aanval in Moskou voorkom.
Ek stem nie saam met die “onderdrukking van opposisiepartye en hul leiers” nie. Gennadi Zjoeganof en sy mede opposisielede is “wel and alive and living”; hulle het nou selfs teen Nawalni gedraai [professor Paul Robinson van die Universiteit van Ottawa se ontleding hieroor is baie goed.]

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.