Internasionale oorsig: Scholz het reeds Duitse kiesers se vertroue verloor

Olaf Scholz (Foto: Tobias SCHWARZ/AFP)

Kiesers in die Duitse deelstaat Noordryn-Wesfale het verlede Sondag in ʼn vyfjaarlikse verkiesing na die stembus gegaan om nuwe verteenwoordigers vir dié deelstaat se parlement te verkies. Die uitslag van die verkiesing was ʼn duidelike bewys dat die Sosiaal-Demokratiese Party (SPD) van die Duitse bondskanselier Olaf Scholz, slegs enkele maande nadat Scholz ʼn federale koalisieregering gevorm het, diep in die moeilikheid is.

Noordryn-Wesfale is die Duitse deelstaat met die grootste bevolking en ekonomie. Die deelstaat het 18 miljoen burgers, meer as die aangrensende Nederland en die deelstaat se ekonomie is amper net so groot soos dié van die hele Nederland. Die verkiesing in Noordryn-Wesfale elke vyf jaar word as ʼn soort federale verkiesing in die kleine bestempel omdat kiespatrone in dié deelstaat goed vergelyk met wat op federale vlak in Duitsland gebeur. Die gewildheid van die Duitse federale regering, en die party(e) wat in beheer is, het gewoonlik ook ʼn groot invloed op die verkiesing in Noordryn-Wesfale.

In Sondag se verkiesing het die Sosiaal-Demokrate ʼn lelike loesing gekry toe die party minder as 27% van stemme op hom kon verenig. Dit is die party se swakste prestasie nóg in dié deelstaat. Die Christen-Demokratiese Unie (CDU), wat Duitsland tussen 2005 en 2021 op federale vlak regeer het, en wat tans die hoofopposisie teen Scholz se regering in die Bundestag vorm, het die verkiesing gemaklik gewen met bykans 36% van die stemme.

Die SPD se verlies is hoofsaaklik stemme wat aan die Groenparty afgestaan is. Dié party se steun in Noordryn-Wesfale het van 6% in 2017 tot 18% in Sondag se verkiesing toegeneem en die CDU sal waarskynlik ʼn koalisieregering in dié deelstaat met die Groenparty moet aangaan.

Dit was egter Sondag duidelik dat die SPD se onverwagse groei verlede jaar van korte duur was. Sedert Angela Merkel in 2005 as CDU-leier die Duitse bondskanselier geword het, het die SPD se steun voortdurend afgeneem. In die federale verkiesing in 2017 het die SPD slegs 20,5% van die stemme, sy swakste prestasie ooit, op hom verenig. Ná die verkiesing het Merkel weer ʼn koalisieregering tussen die CDU en SPD gevorm met die huidige kanselier Scholz as haar adjunk.

Armin Laschet. (Foto: Bernd von Jutrczenka/POOL/AFP)

In die aanloop tot verlede jaar se federale verkiesing was dit duidelik dat die CDU gesukkel het om ʼn visie vir Duitsland ná Merkel aan kiesers oor te dra, en die party se nuwe leier, Armin Laschet, het die een blaps na die ander begaan. Dit het meegebring dat Scholz en die SPD se steun in die peilings toegeneem het. Scholz se verkiesingsboodskap verlede jaar was basies dat ʼn stem vir hom ʼn voortsetting van die Merkel-era vir Duitsland sou beteken. Uiteindelik het die SPD in die federale verkiesing verlede September in die eerste plek geëindig met 25,7% van die stemme, die minste stemme wat die afgelope sewe dekades deur die wenparty behaal is.

Sedert die SPD ʼn koalisieregering met die liberale Vrye Demokratiese Party (FDP) en die linkse Groenparty gevorm het, sukkel Scholz egter. Hy het die afgelope drie maande onder skerp kritiek deurgeloop oor sy hantering van die oorlog in Oekraïne. Baie Duitsers is ook bekommerd oor die land se energiesekerheid en ekonomiese uitdagings. Minder as 40% van Duitsers het in ʼn peiling verlede maand aangedui dat hulle met Scholz se prestasie tevrede is.

Dit is duidelik dat die Groenparty op federale vlak die enigste wenner van die huidige koalisieregering is. Dié party beklee die posisie van adjunkkanselier en het ook die portefeuljes van buitelandse sake, ekonomie, landbou en omgewingsake.

Die CDU het egter die afgelope paar maande onder sy nuwe leier, die meer konserwatiewe politikus Friedrich Merz, heelwat steun begin terugwen en is tans in peilings weer die grootste party in Duitsland. Merz is sosiaal konserwatief en verteenwoordig die CDU se meer tradisioneel konserwatiewe been wat voor Merkel se opkoms die party oorheers het.

Die volgende belangrike verkiesing in Duitsland is die verkiesing in die deelstaat Nedersakse op 9 Oktober vanjaar. Intussen lê ʼn opdraande stryd vir Olaf Scholz voor met al hoe minder Duitsers wat vertroue in sy leierskap as bondskanselier het.

Weste sal dalk tussen Turkye en Nordiese lande moet kies

Pres. Recep Erdogan. (Foto: Turkse presidensie via AP)

Finland en Swede se besluit om vir lidmaatskap by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) aansoek te doen, is een van die grootste verskuiwings in verdedigingstrategie in Europa sedert die oprigting van Navo in 1949. Swede was die afgelope twee eeue neutraal in militêre samewerking in Europa en Finland het ná die Tweede Wêreldoorlog, waarin dié land twee keer met die Russe slaags was en 9% van sy grondgebied aan die Sowjetunie afgestaan het, ʼn vriendskapsooreenkoms met Rusland gesluit wat ook tot militêre neutraliteit gelei het.

Om as ʼn nuwe lidland by Navo aan te sluit, moet die bestaande 30 lidlande se regerings almal daartoe instem. Dit lyk egter of een huidige Navo-land, Turkye, ʼn stokkie voor Swede en Finland se toetrede wil steek met dié land se president, Recep Erdogan, wat dit nou duidelik maak dat Turkye nie die twee Nordiese lande se aansoeke goedkeur nie. Volgens Erdogan steun Swede en Finland terreurgroepe wat in Turkye opereer. Hy verwys natuurlik na die Koerdiese minderheid van wie talle leiers in lande soos Swede en Finland, maar ook die VSA, Brittanje, Duitsland en elders in Europa, woon. Hierdie Koerde het juis uit Turkye gevlug weens die Erdogan-regering se gewelddadige onderdrukking van die Koerde die afgelope twee dekades.

Die verhouding tussen die Weste en Turkye het die afgelope paar jaar voortdurend verswak. Daar is verskeie redes hiervoor. Daar heers ernstige kommer in die VSA en Europa oor of Turkye ʼn betroubare bondgenoot is. Erdogan se flirtasie met Rusland en sy aankoop van ʼn gevorderde missielafweerstelsel by die Russe het vrae laat ontstaan oor of Turkye se deelname aan Navo op die langer duur volhoubaar is.

Verder het Erdogan se toenemend outoritêre regeerstyl en sy onderdrukking van opposisiegroepe, onafhanklike media en burgerlike organisasies wat krities jeens sy regering is, heelwat kritiek uit die Weste ontlok. Erdogan se steun aan Islamitiese groepe in Europese lande het ook tot die wrywing aanleiding gegee.

Turkye het onder leiding van Erdogan toenemend van sy dekadeslange sekulêre politieke weg afgewyk en meer Islamities-fundamentalisties geraak. Erdogan se besluit in 2020 om die Hagia Sofia, wat eeue gelede die grootste Christenkerk in die wêreld en sedert 1934 ʼn museum was, weer as ʼn moskee te klassifiseer, was duidelik ʼn poging om die Weste te ontstel. Verlede jaar het Erdogan voorgestel dat die Franse president, Emmanuel Macron, sielkundige behandeling ontvang nadat Macron in ʼn toespraak verwys het na die bedreiging wat Islamitiese groepe in Frankryk inhou.

Turkye se deelname aan Navo was oor dekades egter vir die Weste van groot belang. Turkye se strategiese ligging en indrukwekkende weermag is, wat die beskerming van suidoos-Europa betref, ʼn belangrike afskrikmiddel vir veral Rusland. Terwyl die VSA se weermag die grootste weermag van die 30 Navo-lidlande is, is Turkye se weermag die tweede sterkste, gevolg deur Frankryk in die derde plek.

Turkye kan deur sy beheer van toegang tot die Swartsee en sy unieke posisie om as ʼn tussenganger tussen die Weste en verskeie lande, insluitend Rusland, in Wes-Asië op te tree, ʼn belangrike rol in die voorkoming van konflik en die beskerming van Europa speel.

Die Turke maak egter die afgelope ruk meer vyande as vriende in Europa. Spanning tussen Turkye en Griekeland neem voortdurend toe oor Turkye se territoriale aansprake in die oostelike Middellandse See. Die rol van groot Turkse bevolkings wat weier om te integreer in lande soos Frankryk, Duitsland, Nederland, België en Swede dra ook by tot die spanning tussen die Weste en Turkye. Die Turkse regering dra finansieel by tot die bou van moskees in Wes-Europa en dit is bekend dat Islamitiese fundamentalisme deur baie van hierdie moskees bevorder word. Dit is een van die redes waarom die meeste Europese lande weier om Turkye se aansoek om lidmaatskap van die Europese Unie te hanteer.

Sou Turkye nie oortuig kon word om tot Swede en Finland se lidmaatskap van Navo in te stem nie, sal die Weste gedwing word om tussen Turkye en dié Nordiese state te kies. Erdogan is tans baie ongewild in Turkye en ʼn algemene verkiesing vind volgende jaar in Junie plaas. As so ʼn verkiesing vry en regverdig is, behoort Erdogan die verkiesing te verloor. Baie Westerse leiers hoop dat die meer pro-Westerse opposisie die verkiesing sal wen. Intussen word die kloof tussen die Weste en Turkye al hoe groter en kan dit oor die volgende paar maande tot ernstige probleme in Navo aanleiding gee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Herr Olaf kan darem seker sy naan in ere herstel met sy besoekie aan SA en ‘n stewige pleggie? Die hoop van sommiges dat Duitsland eendag in die verre weste met bote aanland vir uitredding van neo-drooglandtrekkers klink nou van die baan. Dalk eerder nog ‘n atoomstasietjie in aantog. By hook and…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.