Internasionale oorsig: Skerp toename in haatmisdaad teen Christene in Europa

Die Sacré-Coeur-basilika in Frankryk word in rooi gehul ter eerbetoon aan vervolgde Christene (Photo by JULIEN DE ROSA / AFP)

Haatmisdade teen Christene het verlede jaar in Europa met 70% toegeneem, met die meeste gevalle in Frankryk, Duitsland, die Verenigde Koninkryk, Spanje en Swede. Vir die eerste keer was daar in 2020 in Europa meer aangemelde haatmisdade teen Christene as teen enige ander geloofsgroepe.

Volgens ʼn verslag wat onlangs deur die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa en die Kantoor vir Demokratiese Instellings en Menseregte oor haatmisdaad in Europa vrygestel is, is die uitdaging vir Christene nie net haatmisdade wat teen hulle gepleeg word nie, maar ook die algemene diskriminasie wat in verskeie Europese lande teen Christene toeneem.

Terwyl haatsmisdade teen Christene veral deur ongelowige persone en Moslems gepleeg word, is daar ʼn skerp toename in sekulêre onverdraagsaamheid in die arbeidsmark en in die werkplek teen Christene wat byvoorbeeld weier om op Sondae te werk, wat Christelike dae wil herdenk of vanuit hulle geloof weier om aan sekere aktiwiteite deel te neem.

Daar is ook in die onderwys, politiek en kerklike lewe groeiende onverdraagsaamheid teen Christene. Christene het byvoorbeeld tydens die ondersoek aangetoon dat dit vir hulle al hoe moeiliker raak om vrylik oor sommige onderwerpe te praat sonder om veroordeel te word. Daar word ook gediskrimineer teen die regte van Christenouers in openbare skole reg oor Europa, veral ten opsigte van temas soos seksualiteit. Tuisonderrig word in die meeste Europese lande verbied. In Nederland word Christelike gemeenskapskole, hoofsaaklik in die sogenaamde Bybelgordel, nog deur die regering gefinansier, maar verskeie politieke partye daar wil sien dat hierdie skole ook nie-Christene moet toelaat of hulle finansiering moet verloor.

Daar is egter ook in talle Europese lande ʼn toename in haatmisdade deur Moslems. Volgens die verslag is daar ʼn toename in Islamitiese fundamentalisme onder dele van die Europese Moslembevolking. Hierdie mense sien ander kulture en gelowe as ʼn bedreiging en wil dus spesifieke ruimtes in Europa volledig Islamiseer. Volgens die Pew Navorsingsinstituut in die VSA gaan Europa se Moslembevolking oor die volgende paar jaar skerp toeneem weens immigrasie, maar ook omdat Moslemvroue in Europa baie meer kinders as ander vroue kry. Wêreldwyd kry Moslemvroue gemiddeld 2,9 kinders per vrou, teenoor 2,2 vir die res. In Europa is die verskil selfs groter.

Deel van die probleem in Europa is politieke leiers se onwilligheid om Europa se historiese Christenwortels te erken. Daarmee saam speel die media in Europa volgens die verslag ook dikwels ʼn negatiewe rol deur nie oor diskriminasie teen Christene te berig nie. Die media in Europa is ook toenemend besig om Christene te demoniseer en bespotlik te maak.

Russe veto VN-resolusie oor klimaatsverandering en globale konflik

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

Die Russiese regering het Maandag sy vetoreg in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad uitgeoefen en verhoed dat ʼn resolusie wat sou bepaal dat klimaatsverandering ʼn bedreiging vir vrede in die wêreld inhou, goedgekeur word. Rusland is een van slegs vyf lande wat ʼn vetoreg in die Veiligheidsraad het. Indië, wat nie ʼn vetoreg het nie, het ook teen die resolusie gestem terwyl China buite stemming gebly het.

Die Verenigde Nasies, en veral liberale Westerse lande, probeer reeds die afgelope twee jaar om ʼn resolusie oor klimaatsverandering en globale konflik goedgekeur te kry. Die Duitse regering het verlede jaar ʼn soortgelyke mosie in die Veiligheidsraad voorgestel, maar daar is nooit daaroor gestem nie. Die een wat die afgelope week deur Rusland geveto is, is deur Ierland en Niger saam ingedien.

Verskeie veral Westerse lande beweer dat klimaatsverandering ʼn groeiende bedreiging vir wêreldvrede inhou en dat droogtes en ander klimaatverskynsels in plekke soos Afrika, die Midde-Ooste en dele van Asië en Suid-Amerika tot groter mededinging om hulpbronne en uiteindelik tot konflik aanleiding gee.

Rusland en Indië verwerp albei hierdie argument en wil eerder sien dat klimaatsverandering en konflik afsonderlik deur die VN hanteer moet word. Rusland se ambassadeur by die VN het in ʼn verklaring gesê dat die resolusie eerder ʼn poging deur die Weste is om in die sake van ander lande en streke in te meng. Die resolusie sou die VN groter magte gee om in lande waar klimaatsverandering tot natuurrampe aanleiding gee, meer direk betrokke te raak in sogenaamde vredesoperasies.

Die regering van Niger, wat die resolusie saam met Ierland ingedien het, wil sien dat die Verenigde Nasies meer doen om droogtes in die Sahel-streek, wat lande soos Niger en Mali insluit, te help bestry. Volgens dié land lei die mededinging om toegang tot water en goeie landbougrond tot meer gereelde konflik en geweld in die streek.

Terwyl 113 van die VN se 193 lidlande ten gunste van die resolusie is, is daar wesenlike kommer by ʼn groot groep lande dat vredesoperasies in meer lande onderneem kan word onder die dekmantel van klimaatsverandering terwyl die doel eintlik groter invloed op die politiek in daardie lande en streke is.

Rusland het hom die afgelope dekade gereeld uitgespreek teen wat hy beskou as Westerse lande se misbruik van resolusies in die Veiligheidsraad om in ander lande se interne geskille betrokke te raak. Die een voorbeeld wat die Russe gebruik, is die resolusie in 2011 waar die Veiligheidsraad toestemming verleen het dat sy lidlande by militêre optrede in Libië betrokke kon raak. Rusland het sy stem toe weerhou. Die gevolg van die inval van veral Westerse lande in Libië was ʼn dekade lange oorlog wat vernietigende gevolge vir die land gehad het.

Die Biden-administrasie in die VSA was een van die belangrikste ondersteuners van die Ierland‑Niger-resolusie en het Rusland Maandag daarvan beskuldig dat dié land die VN daarvan weerhou om internasionale vrede te help bewerkstellig. Die VSA was die afgelope twee dekades natuurlik direk betrokke in van die ernstigste oorloë ter wêreld, waaronder Irak en Afganistan waar die VSA self oorloë begin het, in Sirië waar die VSA rebellegroepe met wapens, ammunisie, opleiding en intelligensie ondersteun het, en Jemen en Libië waar Amerikaanse wapentuig ook ʼn belangrike rol in die konflik gespeel het.

Die Verenigde Nasies behoort Rusland, Indië en China se skeptisisme oor die Ierland‑Niger-resolusie ernstig op te neem en binne die gepaste forums maniere te vind waarop lande wat onder klimaatuitdagings gebuk gaan, ondersteun kan word sodat konflik daar nie vererger nie, maar sonder dat klimaatsverandering ʼn verskoning vir internasionale intervensie hoef te raak.

Naelbytverkiesing in Chili

Jose Antonio Kast (Foto: Ernesto BENAVIDES/AFP)

Sondag (19 Desember) se finale ronde van die presidentsverkiesing in Chili, net soos verlede jaar se presidentsverkiesing in Peru, stuur af op ʼn naelbytstryd tussen ʼn regse en ʼn linkse kandidaat wat min met mekaar gemeen het en wat die twee uiterste pole van die kieserskorps in dié land verteenwoordig. Chili is een van die mees stabiele lande in Suid-Amerika en het die hoogste per capita-inkomste op dié kontinent.

José Antonio Kast het in November se eerste ronde eerste geëindig. Kast is ʼn konserwatiewe politikus van die Republikeinse Party. Hy baseer sy veldtog, en sy party se beleid, grootliks op dié van die Republikeinse Party in die VSA, en sy veldtog is sterk geskoei op wet en orde, vryemarkbeginsels in die ekonomie en ʼn sterk opposisie teen aborsies, selfdegeslaghuwelike en onwettige immigrasie.

Daarteenoor is sy teenstander, die 35-jarige Gabriel Boric, ʼn uitgesproke linkse aktivis, oudstudenteleier en iemand met diep wortels in Chili se sosialistiese beweging. Hy het die sentrumlinkse kandidaat vir die presidentskap in Chili ore aangesit deur tot die frustrasies van ʼn nuwe en jonger linkse beweging, sowel as armer, landelike burgers te spreek.

Boric was tot 2012 studenteleier van die Marxistiese groep, Outonome Links. Hy het die afgelope paar jaar gereeld simpatie getoon aan kommunistiese politieke gevangenis in Chili, en in aanloop tot Sondag se verkiesing geniet hy ook die steun van die Kommunistiese Party van Chili.

Die afgelope paar dae het Boric ʼn klein voorsprong in peilings teen Kast. Albei kandidate probeer tot gematigde kiesers in Chili spreek en fokus hulle verkiesingsveldtogte juis op dié kiesers wat tradisioneel nie vir een van die twee kandidate se onderskeie politieke partye sou stem nie. Indien Boric Sondag sou wen, sal dit ʼn verskuiwing na links voortsit wat reeds die afgelope tyd in Chili sigbaar is, en sal hy waarskynlik noue bande met ander linkse leiers in Suid-Amerikaanse lande, soos Peru, aanknoop.

Indien Kast wen, sal sy groot uitdaging wees om die rampspoedige ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie te hanteer. Hy sal waarskynlik na Westerse lande in Noord-Amerika en Europa vir samewerking uitreik. Kast en Boric het twee totaal verskillende visies vir Chili. Wie ook al wen, sal egter beteken dat ʼn groot deel van die land se burgers diep ongelukkig met die uitslag sal wees en dat die huidige politieke verdeeldheid net verder sal verdiep.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.