Internasionale oorsig: Somalië op ’n mespunt

Somaliese polisiebeamptes. (Foto: Farah Abdi Warsameh, AP)

Een van die mees onstabiele lande ter wêreld, Somalië, dreig om in nóg groter wanorde en selfs burgeroorlog terug te val. Kiesers in dié land was veronderstel om Maandag na die stembus te gaan, nadat ’n verkiesing wat reeds verlede jaar moes plaasvind, uitgestel is. Geen verkiesing het egter Maandag plaasgevind nie omdat die federale regering in Mogadisjoe en die onderskeie streekregerings nie daarin kon slaag om konsensus oor die verkiesingsproses te kry nie.

Die terreurgroep Al-Shabaab voer reeds jare lank ’n skrikbewind in Somalië, en daar is ʼn voortdurende stryd tussen die onderskeie streke van die land soos Somaliland (wat daarop aanspraak maak om ’n onafhanklike land te wees), Puntland en Jubaland. ’n Burgeroorlog woed reeds sedert 1991 in Somalië.

In 2012 is ’n federale burgerlike regering in Somalië opgerig ná jare van militêre bewind, maar dié regering sukkel sedertdien om al die verskillende etniese, streek- en politieke faksies in ’n werkbare politieke stelsel saam te bind.

Die Verenigde Nasies en die Afrika-unie het tans soldate in Somalië om vrede te help bewerkstellig en die stryd teen Al-Shabaab te ondersteun. Die jongste politieke krisis met die beplande verkiesing kom juis in ’n tyd waar buitelandse magte aangedui het dat hulle uit die land wil begin onttrek.

Die politieke krisis skep tans ’n magsvakuum in die land, veral nadat opposisiepartye aangedui het dat hulle nie bereid is om die huidige regering langer as die wettige regering te beskou nie. Buurlande soos Kenia en Ethiopië is bekommerd oor die veiligheidsimplikasies hiervan. Intussen het die Verenigde Nasies ’n ernstige beroep op alle groepe in Somalië gedoen om tot ’n verkiesing in te stem.

Verhoor in senaat ’n verleentheid vir Trump

(Foto: MANDEL NGAN / AFP)

Sedert die Amerikaanse verkiesing verlede November het die voormalige president Donald Trump ’n hele paar slegte weke beleef. Die afgelope week staan redelik hoog op daardie lys. Met die aanvang van die verhoor voor die Amerikaanse senaat waarin Demokrate in die huis van verteenwoordigers Trump aangekla het dat hy sy ondersteuners tot ’n opstand aangehits het, is aanvaar dat Trump maklik vrygespreek sal word. Hoewel dit steeds die verwagting is, het Trump se beeld verder skade gely deur die vrot vertoning van sy regspan en hul totale onvermoë om ’n samehangende teenargument op die emosionele betoog van die Demokrate te lewer.

Die eerste terugslag vir Trump was toe ses Republikeine Maandag saam met al vyftig Demokrate gestem het en sodoende bepaal het dat die verhoor wel grondwetlik is en dus kan voortgaan. Sy prokureurs se argumente oor waarom die verhoor nie grondwetlik is nie, was rampspoedig toe sy een prokureur, Bruce Castor, vir 45 minute lank voortgebrabbel het om Trump se saak te probeer stel. Castor se optrede volg op ’n emosiebelaaide aanbieding deur die Demokrate waarin ’n video vertoon is van hoe Trump-ondersteuners die kongresgebou binnegestorm het. Die video was ’n vreesaanjaende herinnering aan die tragiese gebeure van 6 Januarie.

Terwyl die Demokrate, wat Trump aankla, verskeie opmerkings deur Trump oor die weke voor 6 Januarie sowel as met sy toespraak van 6 Januarie aanmekaar geweef het om ’n argument te bou waarom hulle oortuig is dat Trump direk vir die gewelddadige aanval op die kongresgebou verantwoordelik is, het Castor nie eens probeer om dit met ’n effektiewe teenstrategie te beveg nie.

Verskeie Republikeine in die Senaat, wat sterk Trump-ondersteuners soos senator John Cornyn van Texas insluit, het hul teleurstelling met Trump se regspan uitgespreek. Trump het na bewering Dinsdagaand self te velde getrek teen sy regsverteenwoordigers. Uiteindelik is dit egter net Trump self wat die skuld vir sy swak verdediging moet kry. Oor die afgelope jaar het hy gesukkel om ’n regspan te behou, en Castor en die ander prokureur, David Schoen, is skaars ’n week voor die verhoor deur Trump aangestel om hom te verteenwoordig.

(Foto: Drew Angerer/Getty Images/AFP)

Hoewel daar steeds byna geen kans is dat die vereiste 17 Republikeine oor ’n paar dae van nou saam met die Demokrate gaan stem om Trump skuldig te bevind nie, is die huidige verhoor en sy regspan se hantering daarvan ’n verdere verleentheid vir Trump in ’n tyd waar sy politieke nalatenskap en sy toekomsplanne in die weegskaal is.

Die Amerikaanse grondwetkenner en prokureur John Whitehead het oor die huidige verhoor teen Trump gesê: “Die verhoor van Trump sal baie min vermag, en dit sal nie die gemiddelde Amerikaner se lewensomstandighede verbeter nie. Dit sal net die skouspel en klug wat vandag sinoniem met die politiek geword het, versterk.” Beide Republikeine en Demokrate is skuldig daaraan om hierdie klug te vererger.

Trump sal vrygeskeld word, maar die politieke gevolge van die afgelope tyd se gebeure het sy eie politieke nalatenskap en die posisie van die Republikeinse Party verder verswak. Die Republikeine sal ’n manier moet vind om ná die verhoor aan te beweeg om ’n konserwatief-populistiese party te herbou wat meer geloofwaardig en professioneel is as wat dié van Trump was, terwyl die Demokrate sal moet besin oor of hulle die demokrasie in die VSA wil versterk en of hulle vir die volgende paar jaar, ten koste van die VSA, bloot net die anti-Trump-party wil bly.

George Schultz en die stryd om idees

George Shultz. (Foto: MARIO TAMA/AFP)

Een van die VSA se beste ministers van buitelandse sake van alle tye, George Schultz, is op 6 Februarie in die ouderdom van 100 oorlede. Schultz het in 1969 in die Nixon-administrasie minister van arbeid geword, en het daarna eers hoof van die Withuis se begrotingskantoor en later ook minister van finansies geword. Minder as twee jaar ná Ronald Reagan se verkiesing as Amerikaanse president het hy vir Schultz as minister van buitelandse sake aangestel.

Schultz was ’n hoogs intelligente persoon wat reeds in 1949 ’n doktorsgraad in industriële ekonomie by die toonaangewende Massachusetts Instituut vir Tegnologie verwerf het. Hy was vir byna twee dekades ’n akademikus voordat hy in 1969 deur Nixon aangestel is. Schultz sal egter altyd onthou word vir die byna sewe jaar wat hy minister van buitelandse sake was.

Met sy aanstelling in 1982 het Schultz gou besef dat die wêreld vinnig aan die verander was met veral ’n oorgang na demokrasie in dele van Asië, Latyns-Amerika en Oos-Europa. Hy het die gebeure in die Sowjetunie deeglik begryp en saam met Reagan die laaste jare van die Koue Oorlog nie net as ’n stryd tussen die wêreld se grootste moondhede beskou nie, maar ook as ’n stryd om idees. Schultz en Reagan het saamgewerk om kommunisme nie net as politieke stelsel nie, maar veral as mislukte idee te bestry. Lank voordat Amerikaners in die 2000’s oor terreur begin praat het, het Schultz reeds tydens sy termyn Midde-Oosterse terreur as ’n bedreiging vir die VSA geïdentifiseer.

Schultz as minister van buitelandse sake het by sy kollegas, maar ook by politici van oor die hele wêreld, agting afgedwing vir sy skerp geheue, sy begrip van die ekonomiese gevolge van politieke besluite, en sy vermoë om die idees waarvoor die Reagan-regering gestaan het – naamlik die bevordering van politieke, ekonomiese en geloofsvryheid oral ter wêreld – in buitelandse beleid om te sit.

Schultz het ’n groot rol gespeel in die afbreek van kommunisme en die verswakking van die Sowjetunie. Hy sal egter juis onthou word vir die briljante politikus wat hy was – ’n man met ’n fyn intellek, wel belese, iemand wat alles deeglik bedink en oorweeg het en wat oor die vermoë beskik het om Amerika se rol in ’n veranderende wêreld te verstaan. Indien die VSA sy rol as leidinggewende globale mag wil laat geld, sal politieke leiers soos Schultz weer gevind moet word. Met die huidige agteruitgang van demokrasie wêreldwyd, inperking van burgerregte en die opkoms van China, lê ’n tydperk van stryd om idees weer voor.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

na mooi gekyk na die vuurwapens, (stuk hout), wat die polisie daar het, is die duidelik dat al somalie se wapens die see in is om bote te kaap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.