Internasionale oorsig: Spanning tussen VSA en China duur voort

Mark Esper. (Foto: Brendan Smialowski/Pool via AP)

Voorvalle die afgelope week in die Suid-Chinese See het bevestig hoe ernstig die krisis tussen China en die VSA is met Amerikaanse vegvliegtuie wat oor die gebied gevlieg en die Chinese wat in reaksie daarop vuurpyle afgevuur het.

Die spanningsvolle verhouding tussen die wêreld se twee grootste ekonomieë deur voort ten spyte van talle pogings om die spanning te verlig. Terwyl die handelsoorlog tussen die twee lande voortduur, het daar die afgelope tyd weer onderhandelinge vir ’n nuwe handelsooreenkoms tussen die VSA en China plaasgevind.

Die Amerikaanse minister van verdediging, Mark Esper, het ook aangekondig dat hy beplan om China binnekort te besoek ten einde samesprekings oor die gespanne situasie in die Suid-Chinese See met die Chinese minister van verdediging te voer.

Verskeie insidente die afgelope tyd, soos die afgelope week se gebeure in die Suid-Chinese See, het vrese laat toeneem vir ’n volskaalse oorlog tussen dié twee lande. Terwyl die VSA beweer dat China die Suid-Chinese See gemilitariseer het, beweer China dat Amerikaanse skepe Chinese gesag uittoets deur te naby aan eilande waarop die Chinese aanspraak maak, verby te vaar. Een insident kan maklik tot konflik – iets wat beide lande wil vermy – aanleiding gee.

Wie het die Russiese opposisieleier probeer vergiftig?

Alexei Navalny (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Alexei Navalny, die gewildste opposisieleier in Rusland, verkeer tans in ’n koma in ’n hospitaal in Berlyn, Duitsland nadat hy sowat twee weke gelede siek geraak het op ’n vlug vanaf Siberië na Moskou. Nadat hy in ’n hospitaal in Siberië gestabiliseer is, is hy na ’n hospitaal in Duitsland oorgeplaas. Volgens Duitse dokters het Navalny siek geword weens gif wat hy ingekry het.

Die Russiese regering ontken alle betrokkenheid hierby en het versoeke van opposisiegroepe in Rusland sowel as die Amerikaanse, Duitse en Franse regerings vir ’n onafhanklike ondersoek, verwerp. Die polisie in Siberië het wel intussen met hul eie ondersoek begin.

Daar was die afgelope paar maande ’n afname in steun vir president Vladimir Poetin en sy Verenigde Rusland-party, en veral in oostelike streke van Rusland het opposisiegroepe veld begin wen. Opposisiepolitici beweer nou dat Poetin vir Navalny wou laat vermoor het omdat hy bang was dat Navalny se mobilisering van opposisiegroepe in, onder meer, Siberië ’n bedreiging vir die Verenigde Rusland-party in die gebied kon inhou.

Daar is egter nog geen bewyse oor wie vir dié voorval verantwoordelik was nie.

Swede staan by hul pandemiestrategie

Mense kuier in ‘n kroeg in Stockholm, Swede. Foto: (AP Photo/David Keyton, File)

Die Sweedse eerste minister Stefan Löfven, het weer eens beklemtoon dat sy regering steeds oortuig is dat hul strategie met die hantering van Covid-19 die regte een was. Terwyl die meeste lande wêreldwyd in Maart en April streng inperkingsmaatreëls ingestel het, het Swede grootliks op sy eie burgers se gedrag vertrou om die verspreiding van die virus te bestuur.

Skole in Swede is nooit gesluit nie en die dra van maskers is nooit eens voorgestel nie. Daarmee saam het restaurante en die meeste ondernemings oopgebly en kon mense grootliks soos normaal met hul lewe voortgaan.

Tot dusver is 5 810 Swede aan Covid-19 oorlede en hoewel Swede se sterftesyfer per capita onder die top tien in die wêreld tel, beleef die land reeds vir twee maande ’n voortdurende daling in nuwe gevalle, met min nuwe sterftes. Terwyl talle Europese lande die afgelope paar weke met ’n nuwe toename in gevalle van die virus sukkel, gebeur dieselfde nie in Swede nie.

Die Sweedse epidemioloog Anders Tegnell, wat vir die Sweedse strategie verantwoordelik was, sê dat hulle geen tweede golf van infeksies in Swede verwag nie omdat die virus reeds deur groot dele van die land versprei het. Hy beskryf een van die groot voordele van die Sweedse strategie as die behoud van normaliteit en die positiewe gevolge wat dit veral vir kinders, maar ook vir die Sweedse ekonomie ingehou het. Hoewel Swede se ekonomie ook tydens die tweede kwartaal van 2020 gekrimp het, was die inkrimping heelwat minder as in die meeste ander Europese lande.

’n Omvattende ondersoek word tans in Swede gedoen om te bepaal of die land wel die regte benadering gevolg het. Die finale verslag sal eers in Februarie 2022 afgehandel word, maar verskeie interessante feite het reeds na vore gekom.

In die Östergötland-distrik was 70% van bejaardes wat Covid-19 onder lede gehad en gesterf het, reeds ernstig siek met ander kwale en was Covid-19 nie die hoofrede vir hul sterfte nie. Daar word vermoed dat dieselfde ook in ander dele van Swede die geval kan wees en dat die getal mense wie se sterfte direk aan Covid-19 gekoppel kan word, waarskynlik drasties laer gaan wees.

Grieke al weer ontevrede met Duitsland

(Foto: Greek Defense Ministry via AP)

’n Dekade gelede het daar algemene woede in Griekeland geheers weens die streng besparingsmaatreëls wat in dié land ingestel is ná die finansiële krisis. Terwyl baie Grieke hul werk verloor het, salarisse verminder is en daar op staatsdienste besnoei is, het baie Grieke die Duitse regering blameer. Dit was immers die Duitsers wat op streng voorwaardes vir ekonomiese reddingspakkette aan Griekeland aangedring het.

Nou, ’n dekade later, is die Grieke weer kwaad vir die Duitsers, maar om ’n totaal ander rede. Die spanning tussen Griekeland en Turkye nadat die Turke die afgelope maande met gaseksplorasiewerk in die Oostelike Mediterreense streek begin het, is die rede vir die nuwe geskil.

Griekeland beskuldig Duitsland nou daarvan dat hulle die Grieke nie ondersteun in hul stryd teen Turkye nie. Duitsland is die magtigste land in die Europese Unie en beklee ook tans die presidensie van die Europese Raad.

Terwyl Frankryk aanvanklik vlootskepe na die gebied gestuur het, het die Franse intussen onttrek uit ontevredenheid met ander Navo-lande se onwilligheid om by die krisis betrokke te raak.

Die Duitse minister van buitelandse sake, Heiko Maas, het Athene Dinsdag besoek in ’n poging om die geskil by te lê. Sy besoek volg op ’n harde woordewisseling op sosiale media tussen die Duitse ambassadeur in Griekeland, Ernst Reichel, en verskeie Griekse leiers.

Griekeland het ook onlangs ’n Duitse voorstel vir ’n Europese Unie-verklaring oor die politieke krisis in Belarus gekeer, nadat Duitsland geweier het om Griekeland se voorstel dat die EU ook Turkye se optrede in die Oostelike Mediterreense streek moet veroordeel, geweier het.

Duitsland probeer reeds vir jare om deur versigtige diplomasie ’n stabiele verhouding tussen Europa en Turkye te handhaaf. Die toenemende aggressie van die Erdoğan-regering in Turkye maak hierdie strategie egter minder effektief. Lande soos Griekeland, Frankryk en Italië is almal bekommerd oor Turkse aggressie en Europa se onvermoë om daarop te reageer.

Globale handel herstel met rukke en stote

Grafika: CPB

Die CPB Nederlandse Buro vir Ekonomiese Beleidsanalise het hierdie week bekendgemaak dat internasionale handel van April tot Junie vanjaar met 12,5% gedaal het. Dit is die skerpste daling sedert dié gerespekteerde buro in 2000 met omvattende analise van globale handel begin het.

Daar is egter reeds aanduidings dat handel begin herstel het met groot skeepsvragmaatskappye wat verlede week aangedui het dat die volumes goedere wat hulle vervoer, reeds tot op die vlakke waarop dit voor die pandemie was, herstel het.

Chinese uitvoere het van April tot Junie met 2,4% gestyg terwyl die uitvoere van die VSA met 24,8% en dié van Europa met 19,2% gedaal het. Die herstel is egter ook tans wisselvallig. So was Duitse uitvoere na China in Junie 15,4% hoër as in Junie 2019, terwyl Duitse uitvoere na die VSA in Junie 20,7% laer as ’n jaar vantevore was.

Die Wêreldhandelsorganisasie verwag dat globale handel vanjaar met 13% gaan daal. Dit sal die grootste daling sedert die 1930’s se depressiejare wees.

Die Duitse Leibniz Instituut het egter verlede week gesê dat daar in Julie reeds ’n skerp toename in Duitse uitvoere was. Ook Amerikaanse uitvoere het in Julie en Augustus skerp toegeneem. Daarteenoor is Frankryk en Japan se uitvoere steeds baie laer as voor die pandemie.

Krisis by lugdienste deur voort

(Foto: AP Photo/Wilfredo Lee, File)

Terwyl die meeste ekonomieë besig is om van die gevolge van die Covid-19-pandemie te herstel, is die internasionale lugvaartbedryf steeds onder enorme druk met lugdienste wêreldwyd wat werknemers aflê.

American Airlines het aangekondig dat hulle 19 000 werknemers op 1 Oktober gaan aflê. Saam met nog duisende van dié lugdiens se personeel wat vrywillige skeidingspakkette aanvaar het of wat op vroeë aftrede gegaan het, beteken dit dat die lugdiens teen Oktober 30% minder werknemers as voor die pandemie gaan hê.

In totaal is Amerikaanse lugdienste besig om van 75 000 werknemers ontslae te raak. Ook United Airlines en Delta Air Lines is besig met ’n afleggingsproses.

Lugdienste in die VSA het gehoop dat die vraag na vlugte tydens die somermaande skerp sou toeneem, maar die huidige vraag na vlugte is steeds slegs ’n derde van wat dit voor die pandemie was. Lugdienste vrees dat dit jare kan neem vir die bedryf om te herstel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Therese ·

‘n Mens kan dus aanneem dat jy geen probleem daarmee het dat China doodluiters eilande in die see bou en die area annekseer nie?
Lande in die omtrek verskil egter hewig met so ‘n siening, en verwelkom Amerika se teenwoordigheid.

Dirk Mostert ·

Amerika soek gedurig skoor met China en Iran.
Swede, Brasilie en Tanzanie se regerings is van die enkeles wat nie vir die Covid19-propaganda geval het het. Wens ons het ook soos Tanzanie n intelliggente president gehad!

Rose ·

Waar die Islamitiese staat openlik haat teenoor Amerika wys en aanval, doen China dit net under cover en op slingser en gevaarliker manier. Dit is hoekom Amerika hulle nie vertrou nie. Covid19 het maar net die breekbare verhouding tussen die wereld moondhede openbaar. Die krapperigheid raak al hoe erger oral.

Marthinus W ·

Jaco, jou kommentaar oor Aleksei Nawalni is absurd. Hy is n kritikus, maar nie in die aktiewe poltiek nie. In die enigtse verkiesing waaraan hy deelgeneem het, het my maar 1% van die stemme verwerf; in Rusland noem hulle hom Mnr 1%. Om homn opposisieleier te noem, is dieselfde as om Steve Hofmeyr `n opposisieleier te noem. Poetin is nog aan bewind is tot 2023. Moenie Rusland se politiek vergelyk met die manie oor steun wat die Amerikaners het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.