Internasionale oorsig: Staatsgreep gaan Mianmar weer in isolasie dompel

Betogers hou foto’s van die burgerregteleier Aung San Suu Kyi vas tydens ‘n protesoptog buite die Mianmar-ambassade in Bangkok. (Foto: Jack Taylor/AFP)

Die militêre staatsgreep wat Maandagoggend in Mianmar (Burma) uitgevoer is, was duidelik goed beplan en ’n poging deur die magtige regering van Mianmar om te verhoed dat ’n nuwe parlement wat in November verkies is, en waarin die weermag en lojaliste van die weermag ’n minderheid van setels sou hê, nie kon vergader nie.

Die weermag van Mianmar het dié land sedert ’n staatsgreep in 1962 met ’n ysterhand regeer. In 2011 is, na druk van veral Westerse lande en beloftes van toegang tot Westerse markte, grondwetwysigings aangegaan wat 25% van setels in die parlement aan die weermag toegeken het, met die res wat in ’n demokratiese verkiesing verkies is.

In 2012 is die eerste burgerlike regering in vyf dekades in Mianmar ingehuldig met die gewilde vryheidsleier, Aung San Suu Kyi, wat agter die skerms die land na groter demokrasie probeer lei het.

Sedertdien het die demokratisering van Mianmar pynlik stadig gevorder en het die onderdrukking van minderheidsgroepe – waaronder Mianmar se byna vier miljoen Christene en meer as twee miljoen Moslems – tot ’n afname in Westerse steun vir dié burgerlike regering gelei. Dit was veral die weermag wat hierdie vervolging van minderhede gedryf het.

Die weermag in Mianmar het waarskynlik voor die staatsgreep reeds sy planne met die Chinese gedeel om China se inkoop hierin te kry. Die Chinese regering sal eerder ’n militêre diktatuur in Mianmar wil hê as ’n pro-Westerse demokraties verkose regering.

‘n Polisiebeampte hou ‘n oog oor betogers wat protes aanteken teen die staatsgreep in Mianmar. (Foto: STR/AFP)

Die vraag is nou wat Westerse lande hieraan kan doen en hoe hulle kan reageer. Brittanje se poging om die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad te oortuig om gesamentlik ’n sterk standpunt teen die staatsgreep in te neem, is deur China in die wiele gery. Al wat oorbly is om streng sanksies teen Mianmar en veral die leiers van sy weermag in te stel.

Terwyl toegang tot sosiale media afgesny is, het vreedsame protes die afgelope paar dae in die land uitgebreek. ’n Oorgrote meerderheid van Mianmar se burgers is ten gunste van ’n demokrasie. Moeilike ekonomiese tye lê nou vir Mianmar voor – ’n land wat nog maar skaars begin het om uit die donker dekades van isolasie te ontsnap. Intussen lyk dit onwaarskynlik dat Westerse lande wat ’n oorvloed van hulle eie probleme het, nou daadwerklik sal optree.

Dit alles speel volledig in die hand van Xi Jinping en sy kommunistiese diktatuur in China.

Nog terugslae vir Westerse demokrasie

Demokrasie is onder druk.

Van die staatsgreep verlede Maart in Mali tot die een ’n paar dae gelede in Mianmar is dit duidelik dat demokrasie in verskeie wêrelddele onder groot druk verkeer. Die Covid-19-pandemie het die probleme met demokrasie vererger, met regerings in talle lande wat persoonlike vryhede en uiteindelik ook demokratiese regte ingeperk het. Verkiesings is uitgestel, die wil van die mense is onderdruk en outokratiese regerings is steeds besig om wêreldwyd toe te neem.

Die opkoms van China en die Chinese se regstreekse rol in die ondermyning van demokrasie in Asië, behoort die Weste tot groot kommer te stem. Die gerespekteerde nuustydskrif The Economist het pas sy jaarlikse Demokrasie Indeks vir 2020 bekendgestel en dit is duidelik dat demokrasie in Afrika, Asië, Suid-Amerika en selfs Europa onder druk verkeer.

Volgens hierdie indeks was Taiwan die land wat die grootste vooruitgang gemaak het, met dié land wat nou as ’n volwaardige demokrasie beskou kan word.

Die enigste probleem is natuurlik dat China daarop aanspraak maak dat Taiwan eintlik deel van China is en vrese neem toe dat China binnekort kan probeer om Taiwan te annekseer. Ook die stadstaat Hongkong, wat de jure aan China behoort, maar de facto, volgens ’n ooreenkoms tussen die Verenigde Koninkryk en China, sedert 1997 grootliks outonoom regeer is, het ook die afgelope 12 maande onder China deurgeloop met demokratiese instellings wat ondermyn en selfs grootliks vernietig is.

Een van die groot uitdagings is dat China besig is om demokrasie aktief in Asië te ondermyn deur byvoorbeeld die afgelope week se militêre staatsgreep in Mianmar stilweg te ondersteun en lande soos Noord-Korea by te staan terwyl demokratiese instellings in ander Asiatiese lande ondermyn word.

In die Midde-Ooste is dit tien jaar na die Arabiese Lente ook duidelik dat demokratiseringspogings in verskeie lande soos Algerië, Egipte, Libanon en tot ’n mate selfs Irak misluk het. In Afganistan word demokratiese verkiesings deur geweld beveg en in Turkye, ’n paar dekades gelede een van die mees demokratiese lande in die streek, is demokrasie onder enorme druk.

(Argieffoto: Mohammed Huwais/AFP)

Talle verkiesings in Afrika verlede jaar het bewys hoe onvolmaak die demokrasieprojek nog in Afrika is. Die onlangse herverkiesing van Yoweri Museveni in Uganda is ’n bevestiging daarvan, maar twyfelagtige verkiesings in die Sentraal-Afrika Republiek, die Ivoorkus en selfs Tanzanië het bewys dat volwaardige demokrasie nog die meeste Afrikalande ontduik.

Freedom House het onlangs ’n verslag bekendgemaak oor die skerp toename in vervolgings en aanvalle op menseregte-aktiviste en ander persone wat uit hulle lande gevlug het, uit vrees vir vervolging deur despotiese en outokratiese regimes. In 2020 is aanvalle deur regerings van 31 lande op persone in 79 ander lande uitgevoer in ’n poging om hulle monde te snoer.

Oor die volgende paar jaar sal die groot vraag egter wees of die huidige inperkings van persoonlike vryhede deur regerings reg oor die wêreld, in die naam van die bestryding van ’n pandemie, tot ’n einde sal kom.

Indien nie, sal dit ’n verdere langtermynterugslag vir liberale, vryheidsgesinde Westerse demokrasie wees.

Navalny gaan uit tronk by Poetin bly spook

Lede van Rusland se nasionale wag maak gereed vir moontlike betogings ter ondersteuning van die opposisieleier Alexei Navalny. (Foto: Olga Maltseva/AFP)

Tot watter mate die Russiese president, Wladimir Poetin, self betrokke was by die opdrag verlede jaar dat die Russiese opposisieleier, Alexei Navalny, vergiftig moet word, is onseker.

Dit is ook onseker tot watter mate Poetin betrokke was by die afgelope drie weke se gebeure toe Navalny by sy terugkeer na Rusland nadat hy in ʼn hospitaal in Duitsland behandel is, in Moskou in hegtenis geneem is, voor ʼn hof gesleep en uiteindelik tot meer as drie jaar tronkstraf, waarvan meer as twee jaar uitgedien moet word, gevonnis is.

Navalny sal minstens tot vroeg 2023 tronkstraf moet uitdien en met die Russiese vervolgingsgesag wat nuwe aanklagte teen hom oorweeg, is dit selfs moontlik dat dié omstrede opposisieleier vir die volgende dekade nie weer die buitekant van ʼn tronk gaan sien nie.

Die sage van die afgelope maande nadat Navalny op 20 Augustus verlede jaar siek geword het en bevind is dat hy vergiftig is, het egter tot nuwe energie onder opposisiegroepe in Rusland aanleiding gegee.

Alexei Navalny. (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Die afgelope twee weke het duisende betogers, veral oor naweke, aan protesoptogte teen Navalny se inhegtenisname deelgeneem. Terwyl Navalny nou tot gevangenisskap gedoem is, is dit egter duidelik dat sy vrou Yulia die opposisiebeweging wat Navalny die afgelope ruk gelei het, sal bly stuur.

Die Russe sal op 19 September vanjaar na die stembus gaan om verteenwoordigers in die federale parlement, die doema, te verkies. Al 450 setels moet gevul word. Poetin se Verenigde Rusland-party het 54,2% van die stemme in die vorige verkiesing in 2016 op hom verenig en beheer tans 343 van die 450 setels omdat die helfte van die setels volgens kiesafdelings toegeken word en die ander helfte volgens proporsionele partylyste.

Peilings wys egter dat steun vir Poetin se party drasties afgeneem het en dat die party, sou vanjaar se verkiesing vry en regverdig plaasvind, sy meerderheid in die doema kan verloor. Dit is natuurlik presies waarvoor Navalny hom die afgelope ruk beywer het.

Die afgelope week is bekend gemaak dat Rusland se ekonomie verlede jaar met 3,1% ingekrimp het. Voor die uitbreek van die pandemie in Maart verlede jaar was die Russiese ekonomie reeds onder groot druk weens Westerse sanksies, demografiese agteruitgang in Rusland en die omvangryke uitdagings wat verskeie ekonomiese sektore in Rusland weens oorregulering, korrupsie, swak infrastruktuur en verouderende stelsels ervaar. Lae olie- en ander kommoditeitspryse het die Russiese ekonomie ook benadeel.

Bykans vier miljoen Russe het reeds Covid-19 opgedoen en onsekerheid heers oor of die Russiese ekonomie in die eerste kwartaal van vanjaar gaan herstel.

Die Navalny-sage het ook meegebring dat Westerse lande nie nou sanksies teen Rusland gaan ophef nie. Die bou van die Nord Stream 2-gaspypleiding tussen Rusland en Duitsland nader voltooiing, maar daar is die afgelope paar dae toenemend druk op Duitsland om die projek, wat die Russe reeds bykans 10 miljard euro gekos het, te kanselleer. Die Russiese staatsbeheerde gasmaatskappy Gazprom wil die ondersese pypleiding voltooi om meer gas aan Wes-Europa en veral aan Duitsland te lewer.

Daar bestaan min twyfel dat Poetin steeds stewig in die saal in Rusland is. Ondanks sy party se kwynende steun en Rusland se velerlei probleme, behou Poetin steeds die mag, maar dit is moontlik dat hy toenemend deur opposisiegroepe uitgedaag gaan word. Die opposisie in Rusland is egter verdeeld en steeds redelik swak georganiseerd.

Die besluit om Navalny op twyfelagtige klagte te vervolg en in die tronk te stop het eintlik net Navalny se aansien verhoog. Rusland is arm aan ʼn demokratiese tradisie. Gebeure die afgelope ruk wys egter dat al hoe meer Russe gefrustreerd raak met Poetin se leierskap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Ant San en Prins Navalny verdien die Nobelprys vir Onvrede. Beide is slinkse planmakers om simpatie te wen. Ant San flikflooi, soen al wat wèreldleier is. Sy het g’n ander politici uit haar land ooit aan haar sy nie. Dis net sy en haar blommetjie; die wagtende bruid… maar back at the ranch. Vrome Navalny die held soos van oudsher, maar skelm soos min; aard so reg na oupa Arafat wat ook geheul het met giftstowwe om harte te wen. Die held moet net oppas die slang kan dalk regtig eendag pik.

Human ·

Nagmaalwyn en aaptwak veroorsaak “delusions of grandeur” of direk vertaal, bobbejaanstreke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.