Internasionale oorsig: Stryd om entstowwe te bekom raak lelik

(Argieffoto: Unsplash)

Die stryd tussen van die wêreld se grootste moondhede om toegang tot entstowwe teen die koronavirus te kry het die afgelope paar dae in felheid toegeneem, veral nadat die Britse maatskappy AstraZeneca bekendgemaak het dat hy nie meer daarin gaan slaag om 80 miljoen dosisse van sy entstof in die eerste kwartaal van 2021 aan die Europese Unie te verskaf nie, maar dat slegs sowat 31 miljoen dosisse verskaf sal kan word.

Intussen dreig die EU en sommige Europese regerings om die uitvoer van entstowwe wat in Europa vervaardig word na ander lande te verhoed sodat Europeërs eers toegang tot hierdie entstowwe kan kry. Druk is besig om op die leierskap van die EU toe te neem en verskeie regeringsleiers, opposisiepolitici en burgerlike organisasies waarsku dat die stadige uitrol van die EU se inentingsprogram tot meer sterftes weens Covid-19 en groter ekonomiese probleme aanleiding kan gee.

Die grootste kritiek oor die stadige implementering van die inentingsveldtog in Europa het te make met die 27 EU-lidlande se besluit om ’n gesamentlike strategie met die verkryging en verspreiding van entstowwe te volg. Burokratiese rompslomp het meegebring dat dit langer vir die EU geneem het om ooreenkomste met vervaardigers van entstowwe te sluit en ook om entstowwe goed te keur.

Daar is egter ook ander faktore wat veroorsaak het dat onder meer Israel, Brittanje en die VSA vinniger entstowwe bekom het en reeds ’n baie groter deel van hulle bevolkings ingeënt het. Die eerste is lande se betrokkenheid by en finansiering van die ontwikkeling van entstowwe. Hier het die Trump-administrasie in die VSA en die Johnson-regering in Brittanje reeds in Maart en April verlede jaar ooreenkomste met farmaseutiese maatskappye aangegaan waarvan hulle nou die vrugte pluk.

Verder het die EU ’n strategie van aggressiewe onderhandeling met farmaseutiese maatskappye onderneem waarvolgens hulle vir laer pryse en strenger voorwaardes, oor die uitbetaling van moontlike eise, onderhandel het. Israel se benadering om vinniger meer entstowwe, hoewel teen duurder pryse, te bekom is besig om vrugte af te werp met die helfte van dié bevolking wat reeds hulle eerste inenting ontvang het.

Die Britse regering het in Maart verlede jaar toe dit duidelik geraak het dat die Universiteit van Oxford besig was om ’n entstof te ontwikkel, verseker dat Oxford eerder ’n vennootskap met die Britse maatskappy, AstraZeneca, in plaas van die Duitse maatskappy, Merck, vir die vervaardiging van hulle entstof sluit. Gevolglik word die meeste entstowwe wat tans in Brittanje toegedien word ook daar vervaardig. Sowat 12% van die Britse bevolking is reeds ingeënt. Die AstraZeneca-inenting moet net een keer toegedien te word, hoef nie teen uiters lae temperature vervoer te word nie en werk goedkoper uit.

(Foto: Justin Tallis/AFP)

In die VSA is die meeste entstowwe wat toegedien word ook plaaslik vervaardig deur twee Amerikaanse maatskappye, Pfizer en Moderna. Sowat 30 miljoen Amerikaners, byna 10% van die land se bevolking, het reeds een inenting ontvang met meer as vier miljoen wat reeds twee inentings ontvang het (albei bogenoemde maatskappye se entstowwe moet twee keer toegedien word). Meer as 1,2 miljoen Amerikaners word tans per dag ingeënt.

In Europa lyk die prentjie egter baie slegter met sowat 2% van die bevolking wat reeds een inenting ontvang het. In Nederland, waar verkiesings in Maart plaasvind en daar die afgelope dae gewelddadige opstande teen ’n aandklokreël plaasgevind het, het net meer as 1% van burgers al ’n inenting ontvang.

Die probleme in Europa strek selfs verder. Baie Europese lande het nie voorberei vir die meer ingewikkelde storings- en vervoervereistes van die Pfizer-entstof wat teen temperature baie laer as vriespunt gelewer moet word nie.

Daarmee saam het die vermoë om entstowwe in Europa te vervaardig die afgelope dekades al hoe minder geword en het fabrieke in Wes-Europa beperkte kapasiteit om nou op groot skaal entstowwe te vervaardig. AstraZeneca het ’n paar dae gelede gesê dat sy Europese fabriek in België eenvoudig nie in die vraag na entstowwe in Europa kan voorsien nie. Dit is tóé dat die EU begin dreig het om die uitvoer van Pfizer-entstowwe na Brittanje te staak

Die beskikbaarheid van entstowwe in Europa is besig om ’n politieke krisis vir nasionale leiers, maar ook die leiers in Brussel te raak. Hoe langer dit neem om mense in te ent hoe groter raak die dodetal weens Covid-19 en hoe langer sal dit neem vir lande om streng inperkingsmaatreëls te verslap en ekonomiese herstel te bewerkstellig.

Wêreldwyd word vier miljoen mense tans per dag ingeënt en is sowat 90 miljoen mense in bykans 60 lande reeds ingeënt.

Gesondheidskrisis deur voort in Brittanje, VSA

Boris Johnson. Foto: (Pippa Fowles/10 Downing Street via AP)

Terwyl die Britte groot vordering met die toedien van entstowwe maak, is die dodetal in dié land steeds een van die hoogste ter die wêreld. Die dodetal weens Covid-19 in die Verenigde Koninkryk het die afgelope week tot meer as 100 000 gestyg. Naas België en Slowenië het die VK die hoogste per capita sterftes weens Covid-19 ter wêreld.

Premier Boris Johnson het reeds laat verlede jaar streng inperkingsmaatreëls ingestel en sedert 4 Januarie geld ’n baie streng, harde inperking vir alle burgers. Sowat 40 000 Britte ontvang behandeling in hospitale met die druk op die mediesesorgbedryf wat bly toeneem. Meer as 46 000 gesondheidswerkers in Brittanje het reeds in Januarie siek geword wat nog groter druk op veral hospitale plaas waar daar net nie genoeg dokters en verpleegsters is nie.

In die VSA is meer as 430 000 mense reeds weens Covid-19 dood met die dodetal wat steeds daagliks met tussen 3 000 en 4 000 toeneem. Tussen 150 000 en 160 000 nuwe gevalle word per dag aangemeld met byna 26 miljoen Amerikaners wat reeds Covid-19 opgedoen het. Daar was die afgelope week ’n gemiddeld van 110 000 mense wat in Amerikaanse hospitale vir die siekte behandel is.

Wêreldwyd is meer as 100 miljoen mense reeds positief getoets en 2,1 miljoen mense is reeds weens Covid-19 dood. Streng inperkingsmaatreëls geld tans wêreldwyd in lande en verskeie stede, met alle hoop wat tans op inentings geplaas word ten einde die maatreëls wat ernstige negatiewe ekonomiese gevolge het, te kan beëindig.

Teenstrydigheid in Biden-mondering begin na vore te tree

Pres. Joe Biden. (Foto: Jim Watson/AFP)

Meer as ’n week na die inhuldiging van president Joe Biden in die VSA is dit duidelik dat die mooi woorde oor politieke samewerking, toegewings en vreedsame naasbestaan wat Biden tydens sy inhuldiging voorgestel het, deur ’n harde linkse agenda, waaroor selfs die uitgesproke linkse dagblad The New York Times Woensdag gewaarsku het, vervang is.

Sedert Biden verlede Woensdag ingehuldig is, het hy reeds sowat 40 uitvoerende bevele (“executive orders”) onderteken en het hy daarmee die president in die Amerikaanse geskiedenis geword wat die meeste van dié omstrede bevele binne sy eerste tien dae op kantoor onderteken het. ’n Uitvoerende bevel is ’n opdrag van ’n Amerikaanse president vir die onmiddellike wysiging van regeringsbeleid en word gewoonlik deur nuwe presidente gebruik om ’n beperkte aantal stappe wat sy voorganger onderneem het, om te keer.

Uitvoerende bevele is egter nie wetgewing nie en word dikwels in howe betwis en kan tot twispunte tussen die Withuis en die Amerikaanse kongres lei. The New York Times, ’n groot ondersteuner van die Demokratiese Party, het in ’n ernstige waarskuwing aan Biden die afgelope week in sy hoofartikel gewaarsku dat hy wat Biden is, besig is om deur sy uitvoerende bevele die wetgewende gesag van die kongres te ondermyn.

Pres. Joe Biden. (Foto: Andrew Caballero-Reynolds, AFP)

Biden het op talle terreine, insluitende immigrasie, die ontginning van natuurlike hulpbronne, aborsieregte, wapenverkope aan Midde-Oosterse lande en die bestryding van Covid-19 van uitvoerende bevele gebruik gemaak om totaal nuwe beleid deur te voer. In bykans al hierdie gevalle is Biden se optrede ’n dramatiese beweging na links en neem hy beleidstandpunte in wat selfs wesenlik meer links is as wat pres. Barack Obama s’n was.

Daarmee saam het Biden nog byna niks gedoen om na die Amerikaanse kongres, insluitende Demokrate en Republikeine, uit te reik om sy beleidsdoelstellings deur wetgewing te bekragtig nie. Hy regeer tans met ’n pen vanuit die Withuis wat ’n gevaarlike presedent skep en ’n kultuur, wat reeds onder Obama en Trump begin ontstaan het, baie verder kan vat en wat tot groter verwydering tussen die uitvoerende en wetgewende gesag aanleiding kan gee.

Verskeie van Biden se benoemings vir sy kabinet is gematigde sentrumlinkse burokrate en politici. Die afgelope paar dae is talle kabinetslede met groot meerderhede in die senaat goedgekeur. Biden se optrede met uitvoerende bevele wat wesenlike implikasies inhou en wat ’n duidelike skerp draai na links verteenwoordig, gepaardgaande met die komende verdelende verhoor van Trump in die senaat, kan egter Biden se voorneme om vir alle Amerikaners te regeer na leë woorde laat lyk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet ·

AstraZenaca benodig meer as een shot. ‘n “Halwe” shot gevolg deur ‘n “volle” shot blyk die effektiefste te wees. Vreemd genoeg is dit meer effektief as 2 volle shots. So terloops – die Trump-administrasie het gedurende die laaste jaar verskeie beloftes gemaak vir lewering van entstowwe maar het klaaglik misluk. Minder as die helfte wat trompie belowe het is gelewer. Boonop was hy in die posisie om gedurende Julie verlede jaar ook entstowwe van ‘n ander vervaardiger te bekom, hy het die aanbod egter geweier.

annie ·

Ag tog, kyk hoe gaan dit in Europa maar dis net Trump wat ‘klaaglik misluk’. Alles was en is steeds ‘n deurmekaarspul. Maar ‘JR’ Biden is so in sy aanhangers se breine ingebed dat hy niks verkeerd kan doen nie. Oor die veertig wysiginge aan Trump se werk binne ‘n week; is lankal gedoen want die Demokrate was seker hul planne gaan werk. JR dra ‘n masker toe sy gesigsjoppies dit vra. Skynheilig sou mens sè as hy na inhuldiging nie sy eie raad volg nie. Ons gaan nog baie hoofstukke van hierdie soapie volg; aand vir aand regop voor die tv met pop se corn vir bloedige entertainment…kanaal 007.

Anti-Verkramp ·

Trump en sy trompoppies beweer dat hy die Covid-kwessie goed hanteer het. Dis ‘n leuen wat reggestel moet word. Ons weet in elk geval hoe apaties trompie van die begin af gestaan het teenoor die hele storie, Oral die gevare van die virus ontken, ‘n grap daarvan gemaak en geweier het om ‘n masker te dra en vol brawade daaroor gespog het. Ons weet mos nou ook dat karma hom ingehaal het en hy toe self die virus opdoen. Toe wil hy skielik wakkerskrik en dinge begin regmaak. Heeltemal te laat, duisende Amerikaners het toe reeds gesterf aan die virus en die entstof program heeltemal gebrekkig. Biden het in sy eerste week net trompie gemors probeer regmaak.

Vrijburger ·

Hoe duidelik kom Biden se autokratiese linkse elitisme uit!
Omseil die kongres wat veronderstel is om die Amerikaanse mense se verkose verteenwoordigers te wees.
In sy eerste week as president het hy 22 presidentiële uivoerende bevele (executive orders) uitgevaardig. Vegelyk dit met sy voorgangers; Trump 4, Obama 5, Bush 0, Clinton 2, Bush Snr 1, Regan 0 ens.

Anti-Verkramp ·

Wys jou hoe baie van trompie se gemors hy moes regmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.