Internasionale oorsig: Studies wys inperking was ‘fout’

April 2020: ʼn Enkele kraai is die enigste besoeker in die binnehof van die bekende Louvre-museum in Parys tydens die afsonderingstydperk. (Argieffoto: Francois Mori/AP)

Een van Brittanje se voorste epidemioloë, prof. Mark Woolhouse, het aan die begin van verlede maand gesê dat een van die grootste foute wat wêreldwyd in die hantering van Covid-19 begaan is, die instelling van streng inperkingstate was.

In ʼn boek wat binnekort verskyn, voer Woolhouse aan dat langdurige nasionale inperkings moreel verkeerd en uiters skadelik vir lande se gesondheidsorgstelsels, ekonomieë en die algemene welstand van mense was. Woolhouse grond sy argumente sterk op wat hy die diskriminerende aard van Covid-19 noem. Dit sluit in die feit dat ʼn persoon van ouer as 75 ʼn 10 000 keer groter kans het om ernstig siek van Covid-19 te word en selfs daaraan te sterf, as iemand jonger as 15.

Reeds in Junie verlede jaar het prof. Jay Bhattacharya, ʼn professor in geneeskunde aan die Stanford-Universiteit in die VSA, inperkingsmaatreëls om Covid-19 te bestry as die “enkele grootste openbare gesondheidsfout” beskryf. Volgens Bhattacharya het inperkingsmaatreëls wêreldwyd tot blywende skade gelei, veral onder kinders.

Terwyl gesondheidsorgstelsels oral ontwrig is, was dit die armste mense wat die ergste gely het weens maatreëls wat hul lewe omvergewerp het.

ʼn Omvattende internasionale studie wat Woolhouse en Bhattacharya se standpunte met data ondersteun, het ook pas verskyn. Volgens dié studie het inperkings slegs tot ʼn afname van 0,2% in sterftes weens Covid-19 aanleiding gegee. Terwyl inperkingsmaatreëls dus bitter min lewens gered het, het dit egter weens ekonomiese probleme ʼn skerp styging in werkloosheid en armoede en ʼn versteuring in gesondheidsorg teweeggebring wat indirek tot ʼn styging in sterftes weens ander redes gelei het.

Die studie is deur navorsers van die Johns Hopkins-Universiteit in die VSA, die Lund-Universiteit in Swede en die Sentrum vir Politieke Studies in Denemarke onderneem. Die gevolgtrekking waartoe hul omvattende navorsing kom, is dat die koste vir die samelewing weens inperkings veel swaarder as die voordele weeg. Die navorsing het ook die vermoede bevestig dat inperkings wat daarop gemik was om sterftes weens Covid-19 te beperk tot hoër sterftes weens ander redes gelei het.

Die navorsers lewer skerp kritiek op regerings se besluite om mense in hul huise in te hok en te verhoed dat hulle parke, strande, dieretuine en ander buitelugruimtes besoek. Dit was een van die hoofoorsake van die verspreiding van Covid-19 onder familielede.

Die enkele maatreël wat volgens die studie wel geslaag het, was die sluiting van plekke waar drank bedien word, soos kroeë. Hoewel die sluiting van skole in sommige lande ook tot ʼn effense afname in sterftes gelei het, het die sluiting van lande se grense bykans geen bydrae gelewer nie.

Volgens die verslag sou dit veel beter gewees het om, soos wat in Swede die geval was, sterker op mense se persoonlike besluite te fokus en verantwoordelike optrede aan te moedig. In lande waar mense aangemoedig is om self verantwoordelikheid te neem om die verspreiding van die virus te beperk en kwesbare mense te beskerm, was die uitwerking van die pandemie nie so ontwrigtend vir die samelewing nie.

Een van die gevolgtrekkings van die studie is dat vrywillige gedragsverandering tydens ʼn pandemie tot tien keer belangriker as verpligte gedragsverandering is ten einde sterftes te beperk. Hierdie benadering was veral in Skandinawiese lande suksesvol.

Rentekoerse wêreldwyd begin styg

Toe inflasiekoerse ʼn jaar gelede in Westerse lande begin styg het, het politieke leiers en hoofde van sentrale banke almal probeer oortuig dat dit slegs ʼn korttermynuitdaging was wat vanweë die ekonomiese herstel ná 2020 se streng inperkingsmaatreëls kop uitgesteek het. Dit raak egter die afgelope tyd duidelik dat die hoë inflasie van die afgelope paar maande nie vinnig gaan oorwaai nie en dat dit vanjaar tot heelwat rentekoersverhogings gaan aanleiding gee.

In Desember verlede jaar het die voorsitter van die Federale Reserweraad (Fed) in die VSA, Jerome Powell, nog gesê dat die huidige hoë inflasie slegs kortstondig van aard is. Ook die president van die Europese Sentrale Bank (ESB), Christine Lagarde, het laat verlede jaar nog gesê dat die ESB die hoë inflasiekoers as van tydelike aard beskou en dat die bank nie die rentekoers vanjaar sal verhoog nie.

Rentekoerse in ontwikkelde ryk lande was vir die afgelope meer as ʼn dekade op uitsonderlik lae vlakke. Nie een van die G7-lande het die afgelope tien jaar uitleenkoerse van hoër as 2,5% gehad nie. In die 1990’s het al die grootste ekonomieë nog uitleenkoerse van bó 5% gehad.

Verlede jaar het 12 ontwikkelende lande reeds begin om hul uitleenkoerse te verhoog. Ook ontwikkelde lande soos Nieu-Seeland en Engeland het reeds rentekoerse begin verhoog. Intussen het Lagarde die afgelope week laat blyk dat die Europese Sentrale Bank ook sy uitleenkoers mag aanpas.

Verbruikerspryse in die Eurosone het in Januarie met 5,1% gestyg. Dié styging, wat die afgelope week bekend gemaak is, was heelwat hoër as die verwagte 4,4% wat deur ekonome voorspel is.

Die Reserwebank van Australië het die afgelope week vergader nadat inflasie tot bo dié bank se teikenband gestyg het. Hoewel rentekoerse nog nie verhoog is nie, word verwag dat dit wel teen Augustus vanjaar gaan gebeur.

Dit is egter die optrede van die Amerikaanse Reserweraad wat vanjaar die grootste invloed op die globale ekonomie gaan hê. Van die wêreld se rykste lande het die VSA tans die ergste inflasieprobleem. Die VSA se inflasiekoers vir Januarie word volgende week bekend gemaak en daar word verwag dat dit tot 7,2% gestyg het. Dit is die hoogste inflasiekoers in meer as vier dekades.

Die inflasieprobleem in die VSA is lankal nie meer net ʼn korttermynverskynsel wat ná ʼn paar maande weer sou afplat nie. Weens arbeidstekorte het inflasie nou ook na salarisse begin deursyfer met die gemiddelde vergoeding in die private sektor wat verlede jaar met 5%, die meeste in minstens drie dekades, gestyg het. Verbruikers in die VSA verwag dat pryse vanjaar met 6% gaan styg.

Die Fed gaan waarskynlik in Maart sy uitleenkoers verhoog, met nog twee of drie verhogings wat later in die jaar kan volg. Dit gaan ʼn wesenlike invloed op Amerikaners se persoonlike finansies, maar ook op die res van die wêreld hê. Baie van die ontwikkelende lande, soos Suid-Afrika, het groot bedrae buitelandse staatskuld en indien Amerikaanse rentekoerse styg, gaan hierdie lande dit nog moeiliker vind om hul skuld terug te betaal.

Groot onsekerheid heers nog oor ekonomiese herstel in 2022 en dit is veral die armer lande wat sukkel om ná die pandemie te herstel. ʼn Verlangsaming in ekonomiese groei in die ryker lande, wat deur hoër rentekoerse aangemoedig kan word, gepaardgaande met groter skuldprobleme, veral in ontwikkelende lande, kan oor die komende maande en jare tot groot ekonomiese uitdagings oor die hele wêreld lei.

Rentekoerse het die afgelope tyd in die volgende lande begin styg:

  • In Engeland het die Bank van Engeland op 3 Februarie sy uitleenkoers met 25 basispunte verhoog. Dit volg op ʼn vorige verhoging in Desember 2021.
  • In Pole het die Nasionale Bank sy uitleenkoers op 4 Januarie met 50 basispunte tot 2,25% verhoog. Dit is die vierde verhoging die afgelope paar maande.
  • Die Tsjeggiese Nasionale Bank het op 3 Februarie ook sy uitleenkoers verhoog en wel met 75 basispunte tot 4,5%, wat die hoogste sedert 2002 is.
  • In buurland Hongarye is rentekoerse in Januarie met 50 basispunte verhoog tot 2,9%. Dit is die agtste verhoging die afgelope paar maande. Inflasie in Hongarye het die afgelope tyd tot bó 7% gestyg en die regering het prysbeheer op basiese produkte ingestel.
  • Verder oos in Armenië het dié land se sentrale bank sy uitleenkoers op 1 Februarie met 25 basispunte tot 8% verhoog. Dit is ook die agtste verhoging die afgelope paar maande.
  • In Suid-Amerika het die Bank van Brasilië op 2 Februarie sy uitleenkoers met ʼn allemintige 150 basispunte tot 10,75% verhoog nadat inflasie in dié land die afgelope tyd tot meer as 10% gestyg het.
  • Ook die Bank van Colombia het sy rentekoerse op 28 Januarie met 100 basispunte tot 4% verhoog.
  • Die Sentrale Bank van Chili het sy uitleenkoers op 26 Januarie met 150 basispunte verhoog, ook weens ʼn skerp styging in inflasie.
  • Ook die Sentrale Bank van Peru het sy uitleenkoers op 6 Januarie met 50 basispunte tot 3% verhoog nadat inflasie in Desember tot 8,6% gestyg het.
  • Steeds in Latyns-Amerika het die Bank van Mexiko teen die verwagting in sy rentekoerse op 16 Desember skielik met 50 basispunte verhoog. Die bank vergader weer volgende week. In Desember was inflasie in Mexiko 7,4%.
  • Die Staatsbank van Pakistan het sy uitleenkoers op 24 Januarie tot 9,75% verhoog nadat inflasie tot 13% gestyg.
  • Die Bank van Korea het rentekoerse op 14 Januarie met 25 basispunte tot 1,25% verhoog.
  • Die Sentrale Bank van Rusland vergader weer op 11 Februarie. Op 11 Desember het dié bank sy rentekoerse met 100 basispunte tot 8,5% verhoog.
  • Die Reserwebank van Nieu-Seeland het reeds in November begin om rentekoerse te verhoog en dié bank se beleidskomitee vergader weer op 23 Februarie wanneer ʼn volgende verhoging waarskynlik aangekondig gaan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Nou ja toe…. Wie het nou weer vertel dat die verskil tussen ‘n samesweringsteorie en die waarheid ses maande is? Die gevolge van die verwoesting van veral kinders se lewens en diegene wat nie hul voorgeskrewe mediese behandeling kon ontvang het nie is tragies verby.

Vrijburger ·

Mmmm so die ‘Great Barrington Declaration’ was to al die tyd reg.

Treurwilger ·

Jip.
Na meer as twee jaar dink hulle hul vertel ons iets nuuts, iets wat enigeen met vibrerende breinselle toentertyd al geweet het.
Die astronomiese, onberekenbare kostes van algehele inperking moes die wêreld se ekonome, lugdienste etc. ‘up in arms’ gehad het, toe daar nog iets aan gedoen kon word.
Te laat vir trane nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.