Internasionale oorsig: Suga uit in Japan; min leierskap­diepte in groot demokrasieë

Yoshihide Suga, het Donderdag aangekondig dat hy as leier van die Liberaal-Demokratiese Party van Japan, en daarmee ook as eerste minister van Japan, gaan uittree. (Foto: Nicolas Datiche/AFP)

Die eerste minister van Japan, Yoshihide Suga, het Donderdag aangekondig dat hy as leier van die Liberaal-Demokratiese Party van Japan, en daarmee ook as eerste minister van Japan, gaan uittree.

Suga het sowat ʼn jaar gelede eerste minister van Japan geword. Nadat hy op 16 September verlede jaar Japan se langsdienende eerste minister, Shinzo Abe, vervang het, het hy van die een uitdaging na die ander gestruikel, met sy steunvlakke onder Japanse kiesers wat onlangs tot sowat 30% gedaal het.

Japan moet voor die einde van November ʼn algemene verkiesing hou en Suga sou eers vandeesmaand as leier van sy party herkies moes word voor hy sy party in November se verkiesing kon lei. Die Liberaal-Demokratiese Party is ʼn konserwatiewe, nasionalistiese party wat Japan sedert 2012 regeer.

Met Suga wat op 30 September uittree, sal die Liberaal-Demokrate nou ʼn nuwe leier moet aanwys wat ook dan die nuwe eerste minister sal word en die party in November se verkiesing sal moet lei. Daar word allerweë aanvaar dat die party, hoewel hy setels sal verloor, steeds die grootste in die Japanse parlement sal bly en dat die huidige koalisieregering sal voortgaan.

Soos talle ander ontwikkelde lande, staar groot uitdagings Japan tans in die gesig. Sedert die 1990’s word Japan voortdurend deur deflasie geteister. Daar word verwag dat Japan se ekonomie vanjaar met tussen 5% en 6% gaan krimp nadat dit ook verlede jaar gekrimp het. Die probleme in die Japanse ekonomie is deur die Covid-19-pandemie vererger, en veral laer uitvoere en minder toerisme dra tot die ekonomiese inkrimping by. Soos talle ander ontwikkelde lande het Japan ook ʼn ernstige demografiese uitdaging met ʼn bevolking wat vinnig verouder en heeltemal te min kinders wat gebore word.

Toe Suga verlede jaar eerste minister geword het, was hy baie gewild, maar sedertdien het sy hantering van die pandemie, die voortdurende ekonomiese probleme en sy regering se besluit om met die Olimpiese Spele in Tokio voort te gaan, sy gewildheid ʼn ernstige knou gegee.

Daar is egter ook toenemende kommer in Japan oor China se aggressiewe optrede in Asië, en Japan se minister van verdediging het ʼn paar dae gelede gevra dat die Japanse weermag se begroting drasties verhoog moet word.

Japan se verhouding met Suid-Korea het ook die afgelope tyd verder agteruitgegaan.

Japan is ʼn belangrike bondgenoot van die Weste, veral die VSA, in Asië. Bondgenootskappe word egter deur goeie leiers in stand gehou. Die meeste van die G7-lande – die VSA, die Verenigde Koninkryk (VK), Duitsland, Frankryk, Kanada, Italië en Japan – het tans met politieke uitdagings te doene.

Opdraande stryd vir wêreldleiers

Die Amerikaanse president Joe Biden. (Foto: Mandel Ngan/AFP)

In die VSA het die steunvlakke van pres. Joe Biden die afgelope dae nog verder teruggesak en daar word toenemend aanvaar dat hy nie in 2024 vir nog ʼn termyn as president sal kan staan nie, asook dat sy party in volgende jaar se middeltermynverkiesing groot verliese kan ly. Biden beskik nie oor die vermoë, energie en dryfkrag om tans die wêreld se grootste demokrasieë in ʼn nouer band te help saamwerk nie.

Die voorsitterskap van die G7 is vanjaar in die VK gesetel en ook daar het dié land se premier, Boris Johnson, se gewildheid die afgelope tyd afgeneem. Johnson se regering word gekritiseer vir sy hantering van die pandemie, vir Brittanje se toenemende uitdagings ten opsigte van mediese sorg en vir die land se ekonomiese uitdagings.

In Duitsland tree Angela Merkel binnekort uit. Sy sal vervang word deur ʼn minder gewilde nuwe kanselier wat waarskynlik ná moeilike onderhandelinge oor ʼn ingewikkelde koalisieregering sal moet waghou. Dit lyk onwaarskynlik dat enige van die drie moontlike opvolgers vir Merkel vinnig dieselfde respek op die internasionale verhoog sal inboesem.

In Frankryk geniet pres. Emmanuel Macron steeds minder steun en ʼn moeilike presidentsverkiesing lê volgende jaar vir hom voor. In Italië het Mario Draghi as eerste minister ʼn mate van stabiliteit gebring, maar hy is afhanklik van verskeie partye om ʼn regering staande te hou. Daar is ook twee sterk regse partye wat nie deel van sy regering is nie, wat tans die steun van sowat 42% van Italianers geniet. Dit lyk dus onwaarskynlik dat Draghi ʼn vroeë verkiesing sal kan oorleef indien die huidige regering tot ʼn val sou kom.

In Kanada het dié land se eerste minister, Justin Trudeau, ʼn vroeë verkiesing vir 20 September uitgeroep. Sy plan was om weens ʼn meerderheid van Kanadese se tevredenheid met sy hantering van die pandemie ʼn nuwe mandaat van kiesers te kry. In die afgelope week se agt peilings loop die Konserwatiewe Party egter in elkeen voor teen Trudeau se Liberale Party. Die kiesafdelingstelsel in Kanada maak dit moeilik om ʼn uitslag te voorspel, maar Trudeau kan in die moeilikheid wees met selfs net ʼn klein swaai weg van sy party na die Konserwatiewe Party.

Terwyl Japan binnekort ʼn nuwe eerste minister gaan kry, sal Duitsland ook binnekort ʼn nuwe bondskanselier hê. Kanada mag moontlik later vandeesmaand ʼn leierskapsverandering beleef en in die VK, Frankryk, die VSA en Italië is die huidige staatshoofde in ʼn verswakte posisie.

Ook ander Westerse demokrasieë, veral in Europa, ervaar tans uitdagings met leierskap. In Nederland is daar nog nie ʼn nuwe koalisieregering gevorm nie. In Spanje het die regerende sentrum-linkse sosialiste baie steun verloor, en regse partye loop voor in die peilings. In Swede sal dié land binnekort ʼn nuwe eerste minister kry.

Terwyl China se onverkose, ondemokratiese en streng outokratiese president, Xi Jinping, homself toenemend op die internasionale terrein laat geld, is dit ʼn baie slegte teken dat die wêreld se voorste demokrasieë byna almal tans verswakte of ongewilde leiers het. Daar is ʼn goeie kans dat die meeste van hierdie lande oor die volgende paar maande nuwe leiers kan kry, derhalwe word die onsekerheid oor die rigting wat hierdie lande gaan inslaan, nog groter.

Te midde van die voortslepende Covid-19-pandemie, groot ekonomiese uitdagings en die opkoms van outoritêre leiers en moondhede in Asië en Suid-Amerika, die toenemende bedreiging van terreurgroepe in die Midde-Ooste en Afrika, en China se aggressiewe internasionale houding, is die huidige leierskapsprobleem slegte nuus vir almal wat in demokrasie glo en vir almal wat hoop dat die wêreld se groot demokrasieë steeds, soos oor die afgelope paar dekades, oplossings vir die wêreld se knellendste uitdagings kan bied.

Britse demografie verander vinnig

‘n Afghaanse vlugteling se vingerafdrukke word by die Heathrow-lughawe in Londen geneem. (Foto: Dominic Lipinski/AFP)

Twee verslae wat onlangs in Brittanje oor dié land se demografie bekend gestel is, toon die omvang van Brittanje se demografiese verandering, net soos die geval is in talle ander Westerse lande, waaronder die VSA, Frankryk, Duitsland, België en Swede.

Oor die afgelope twee dekades was daar ʼn skerp toename in immigrasie na Brittanje met nie-Britse etniese minderhede wat in 2011 nog 10% van die land se bevolking was, maar teen 2021 tot 21% toegeneem het. Oor die afgelope twee dekades was immigrante en hul kinders verantwoordelik vir 84% van Brittanje se bevolkingstoename.

Eenderde van kinders in Britse skole is van etniese minderhede en daar word verwag dat hulle teen 2050 meer as 50% van alle skoolgaande kinders sal wees.

Die afgelope week is ʼn debat in die Britse media gevoer oor die mate waartoe sogenaamde vlugtelinge uit Afghanistan in Brittanje toegelaat moet word. Sowat 20 000 Afghaanse burgers is deur die Britse weermag na Brittanje geneem waar hulle tans gehuisves word. Die vraag is natuurlik hoeveel meer mettertyd sal aankom, veral wanneer hierdie 20 000 sal versoek dat hulle gesinne ook na Brittanje geneem moet word.

Daar was die afgelope twee dekades veral ʼn groot toename in immigrante uit Afrika, die Midde-Ooste en Asië. In 2015 het Brittanje ook duisende Siriese vlugtelinge ingeneem.

Dit is egter nie net immigrasie wat demografiese veranderinge voortdryf nie; soos in talle ander Westerse lande word demografiese verandering ook deur ʼn verandering in die bevolkingsaanwas van die plaaslike bevolking veroorsaak.

Die geboortekoers in Brittanje het van 2,93 kinders per vrou in 1965 tot 1,65 in 2019 gedaal. Dit is ver onder die vervangingskoers en bring mee dat die arbeidsmag voortdurend deur immigrante aangevul moet word.

Een groot aandrywer van demografiese verandering in Westerse lande is die verlies aan geloof. Verskeie studies is die afgelope paar jaar hieroor in Brittanje gedoen en hoewel meer as 50% van Britte hulle steeds met Christenskap vereenselwig, is slegs sowat ʼn derde praktiserende Christene.

Volgens ʼn studie wat in 2018 deur die St. Mary-universiteit in Londen se Benedict XVI Sentrum vir Geloof en Samelewing gedoen is, is 70% van Britte in die ouderdomsgroep van 16 tot 29 ongelowig. Slegs 21% is Christene, 6% is Moslems en 3% behoort aan ander geloofsrigtings.

Brittanje is nie alleen in hierdie veranderinge nie. In die meeste lande in Wes-Europa maak etniese minderhede nou meer as 20% van die bevolkings uit. Wanneer na die ouderdomsverspreiding gekyk word, is dit egter duidelik dat etniese minderhede baie jonger is en dus oor ʼn dekade of twee, gepaardgaande met verdere immigrasie en ʼn hoër aanwaskoers onder minderhede, ʼn baie groter deel van die bevolkings gaan uitmaak.

Die verlies aan kulturele, geloofs- en etniese homogeniteit skep enorme uitdagings vir talle Westerse samelewings wat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog sterk op menseregte, medemenslikheid en ʼn verwelkomende benadering tot vlugtelinge en immigrante gefokus het.

Demografiese verandering en die verlies aan Westerse identiteit gaan oor die volgende paar jaar toenemend deel wees van die politieke gesprek in Westerse lande.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
groenboer

Twee dekades gelede het die meer helderdenkende kommentators Amerika en Brittanje se leierskap reeds gewaarsku: hou julle neuse uit Afghanistan uit. Dit is ‘n oorlog wat julle nie kan wen nie. Nou is beide Afghanistan EN Amerika/Brittanje slegter daaraan toe as wat hulle was: die Taliban is terug in beheer, en boonop is die weste derduisende (waarskynlik on-assimileerbare) vlugtelinge “ryker.”

Op die ou end gaan Orania seker die laaste oorblywende sentrum van westerse beskawing en kultuur wees…