Internasionale oorsig: Swede neem ook sterk standpunt in oor immigrante

vlugtelingeToe tussen 1 en 2 miljoen onwettige immigrante Europa in 2015 binnegestroom het, was dit veral twee lande wat hulle met ope arms verwelkom het: Duitsland en Swede. Dié twee lande het die meeste van die immigrante, meestal jong mans uit die Midde-Ooste en Afrika, ingeneem. Vandag, ses jaar later, het die meeste lande in Wes-Europa begin om standpunt in te neem teen onwettige immigrasie en hulle wil strenger vereistes instel waaraan immigrante na hulle lande moet voldoen. In Duitsland is 26% van die mense wat daar woon reeds van buitelandse afkoms, terwyl die syfer in Swede minstens net so hoog is.

Die nuwe leier van die Sosiaal-Demokratiese Party in Swede, Magdalena Andersson, het onlangs sterk standpunt ingeneem oor die posisie van immigrante in Swede. Andersson is die afgelope week as Swede se eerste minister verkies, maar het bedank nadat die Groen Party hom uit haar koalisieregering onttrek het. Daar moet eerskomende Maandag egter weer gestem word en Andersson sal waarskynlik dan as eerste minister van ʼn minderheidsregering verkies word.

Kort nadat sy as nuwe leier van die Sosiaal-Demokratiese Party aangewys is, het Andersson in ʼn toespraak gesê dat die land se 2 miljoen immigrante en vlugtelinge ʼn kwalifikasie moet verwerf en dan werk moet kry omdat dit die Sweedse manier van leef is. Sy het spesifiek verwys na die talle immigrante wat van welsynsdienste afhanklik is. Sy het ook na geslagsdiskriminasie onder Swede se Moslem-immigrantebevolking verwys.

Die grootste probleem wat Swede egter met immigrante ervaar, is hul direkte betrokkenheid by misdaadaktiwiteite. Oor die afgelope twee dekades het misdaad in Swede skerp toegeneem. Waar Swede in 2000 een van die veiligste lande in Europa was, het die land nou een van die hoogste per capita-gevalle van vuurwapenmisbruik in Europa. Die misdaad in Swede is selfs erger as in Italië en in Oos-Europese lande wat oor dekades ʼn groot probleem met geweldsmisdaad ondervind het.

Magdalena Andersson (Foto: Jonathan NACKSTRAND/AFP)

Statistieke wat deur die Sweedse Raad vir Misdaadvoorkoming saamgestel is, wys dat immigrante en tweedegenerasie-afstammelinge van immigrante, veral uit Somalië, Eritrea, Marokko en uit ander lande in Noord-Afrika disproporsioneel tot hul getalle vir misdaad in Swede verantwoordelik is. Meer as die helfte van die gevangenes in Sweedse tronke is van immigrante-afkoms.

Die Sweedse regering moes die afgelope vyf jaar 7 000 bykomende polisielede aanstel en verskeie nuwe tronke moes gebou word om die stygende misdaadprobleem te hanteer. Sowat 58% van werklose mense in Swede is immigrante en 65% van diegene wat welsynsvoordele ontvang, is ook immigrante. Sowat 77% van kinders wat in armoede grootword, is deel van Swede se immigrantebevolking, terwyl 90% van skietvoorvalle in Swede deur immigrante gepleeg word.

Die meeste van Swede se grootste partye het die afgelope ruk standpunt teen immigrasie begin inneem. Terwyl 58% van die Swede in 2015 nog ten gunste van immigrasie was, is slegs 40% vandag positief daaroor.

Swede betaal ʼn duur prys vir die wyse waarop wettige en onwettige immigrante, in baie gevalle ekonomiese geluksoekers, oor die afgelope twee dekades met ope arms ontvang is. Heelwat Europese lande gaan waarskynlik oor die volgende paar jaar dieselfde probleem begin ervaar met duidelike tekens in lande soos Nederland, België, Frankryk en Duitsland dat misdaad wat deur immigrante gepleeg word, besig is om toe te neem.

Motief van Russiese opbou van troepe op grens met Oekraïne onseker

Oekraïense soldate (Foto: Yuriy DYACHYSHYN/AFP)

Byna 100 000 Russiese soldate is die afgelope paar weke op dié land se grens met Oekraïne ontplooi. Presies wat Rusland se doel hiermee is, is steeds onseker. In April vanjaar het Rusland ook tienduisende soldate op die grens ontplooi, maar baie van hierdie soldate is daarna weer herroep.

Die eerste minister van Oekraïne, Denys Shmyhal, het Donderdag tydens ʼn besoek aan Navo se hoofkantoor in Brussel versoek dat Navo oorlogskepe na die Swart See moet stuur en dat Navo-lede meer soldate in Oekraïne moet ontplooi ten einde Rusland te ontmoedig om Oekraïne aan te val. Amerikaanse intelligensiebronne het vroeër in die week gesê dat daar genoeg rede is om te vrees dat Rusland wel ʼn inval in die ooste van Oekraïne beplan. Lande soos Brittanje en Frankryk het reeds steun aan Oekraïne aangekondig.

Rusland se motief met die enorme ontplooiing van soldate op sy grens met Oekraïne is tans onseker. Dit is egter duidelik dat die huidige ontwikkeling ernstiger is as die gebeure in April, met duisende Russiese soldate wat tans ook in Belarus is, en ʼn groter teenwoordigheid van Russiese vegvliegtuie, tenks en ander militêre toerusting naby aan die grens met Oekraïne.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het tot dusver min inligting oor Rusland se militêre opbou op sy grens met Oekraïne gegee. Wat uit verskeie uitsprake van Poetin wel duidelik is, is dat Rusland ongelukkig is met die groeiende teenwoordigheid van Westerse magte in Oekraïne, Pole en die Baltiese State, en dat Rusland Westerse militêre en intelligensie-operasies naby aan sy westelike grens as bedreigend beskou. Dit mag dus wees dat die huidige gebeure op die grens tussen Oekraïne en Rusland ʼn poging van die Russe is om ʼn boodskap aan Westerse lande te stuur dat hulle hul toenemende teenwoordigheid naby aan die westelike grens van Rusland moet beëindig.

Nog ʼn rede kan wees dat Rusland wel Oekraïne wil binneval. Indien dit die geval is, kan daar twee redes daarvoor wees. Die een is om ʼn gedeelte van Oekraïne, veral in die ooste, te beset omdat Rusland van mening is dat dié gebied histories deel van Rusland behoort te wees. Nog ʼn rede mag wees dat die Russe ʼn landstrook wil beheer wat Rusland met die Krimskiereiland, wat in 2014 deur Rusland geannekseer is, deel.

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, AP)

Wat egter duidelik is, is dat ʼn plofbare situasie besig is om te ontwikkel en dat ʼn enkele fout deur enige van die partye tot ernstige konflik aanleiding kan gee. Dit is onduidelik tot watter mate die Weste militêr betrokke sal raak indien Rusland wel Oekraïne sou binneval. In 2008, toe Rusland ʼn gedeelte van Georgië beset het, en weer in 2014 met die anneksasie van die Krimskiereiland, het die Weste baie geraas gemaak en sanksies ingestel, maar nie self kans gesien om by die konflik betrokke te raak nie. Daar is genoeg rede om te glo dat Westerse lande dieselfde roete sal volg indien Rusland ʼn beperkte aanval op Oekraïne sou loods met die doel om slegs ʼn klein gebied in die ooste te beset.

Oekraïne se weermag het egter sedert 2014, met die hulp van Westerse lande, wesenlik uitgebrei met meer soldate wat beter opgelei is en wat oor heelwat beter toerusting beskik. Enige oorlog in die ooste van Oekraïne waarin die weermag van Rusland direk betrokke raak, het die potensiaal om bloedig te wees en met groot lewensverlies gepaard te gaan.

Die grens tussen Rusland en Oekraïne is ook ʼn ongenaakbare terrein in die winter met sneeu, uiterste koue, modder en onherbergsame terrein wat enige konflik oor die volgende twee of drie maande selfs moeiliker sal maak. Indien ʼn oorlog sou uitbreek, sal dit egter die vraag of die Weste en Navo die vermoë het om bondgenote in Oos-Europa by te staan, vir eens en vir altyd beantwoord. So uitlokkend soos wat Rusland se ontplooiing van 100 000 soldate op die grens met Oekraïne is, so uitlokkend was die afgelope maande se Westerse vlootoefeninge in die Swart See, militêre oefeninge in die Baltiese See, die groeiende Westerse steun aan die weermag van Oekraïne en die dreigende retoriek van Westerse leiers teenoor Rusland. Die kans vir ʼn volskaalse oorlog bly steeds beperk, maar heeltemal moontlik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Red Pill

Gelukkig is dit alreeds te laat vir Wes-Europa. Dankie tog daarvoor.

Lourens CFG

Hulle moet net die kriminele terugpos na hulle lande toe (kinders ingesluit), hulle gebruik net die werklike inwoners se welsyn en gesondheids dienste.

Chris

Ek het nie simpatie met die lande nie. Die burgers het vir hulle gestem en nou sit hulle met probleme. Kry vir julle.

Harley Davidson

Dit is net ‘n kwessie van tyd dan is Europa ‘n tweede Afrika,net soos Muhadmar Gaddafi voorspel het die Muslims wat Europa sou oorneem sonder om ‘n enkele skoot te skiet.

AW

Kry vir Julle !!