Internasionale oorsig: ‘Texit’, die viernasie-alliansie en die Midde-Ooste

Kan Texas onafhanklikheid verklaar?

Kyle Bierdermann. Foto: Twitter

Die term “Texit” het die afgelope paar dae in verskeie alternatiewe nuusmedia en op sosialemediaplatforms opgeduik. Dit volg nadat Kyle Biedermann, ʼn lid van die huis van verteenwoordigers in die Amerikaanse deelstaat Texas, ʼn wetsontwerp ingedien het waarvolgens ʼn onafhanklikheidsreferendum oorweeg moet word.

Die idee van ʼn “Texit” kan natuurlik nie met Brexit vergelyk word nie. Brittanje se uittrede uit die Europese Unie was ʼn proses wat volgens artikel 50 van die Verdrag van die Europese Unie plaasgevind het. Hiervolgens kan enige ander EU-lidland ook sy lidmaatskap wettig beëindig.

Dit is tans onwettig vir ʼn Amerikaanse deelstaat om sy onafhanklikheid van die Verenigde State te verklaar. Sedert die einde van die Amerikaanse Burgeroorlog word algemeen aanvaar dat dit ongrondwetlik is, sou ʼn deelstaat homself eensydig wil onttrek en in 1869 het die Amerikaanse hooggeregshof dan ook so beslis. Tot so onlangs as 2006 het ʼn konserwatiewe regter van die hooggeregshof, Antonin Scalia, in ʼn onderhoud gesê dat, na sy mening, sesessie sedert die einde van die Burgeroorlog nie moontlik is nie.

Die verdelingslyne tussen die Republikeine en die Demokrate, tussen liberale en konserwatiewe Amerikaners en tussen landelike en stedelike burgers is reeds dekades lank aan die toeneem. So byvoorbeeld vind ʼn mens al hoe meer deelstate waar een deel van die staat in konflik met ʼn ander verkeer en waar mense in die twee dele bykans niks met mekaar gemeen het nie.

Twee sulke voorbeelde is Washington en Oregon in die noordweste van die VSA waar meer as 80% van die geografiese gebied van die state in albei gevalle uiters konserwatiewe landelike gebiede is, maar weens groot bevolkings in Seattle (Washington) en Portland (Oregon) word die twee deelstate deur die Demokrate beheer wat tot vervreemding onder die konserwatiewes lei. In albei state is daar gereeld pogings om die oostelike dele van dié state los te maak en by die meer konserwatiewe state waaraan hulle grens in te deel.

In Texas is dit anders gesteld. Texas het reeds twee keer sesessie gepleeg. In 1836 van Mexiko en nadat dit in 1845 deel van die VSA geword het, het dit in 1861 die sewende suidelike staat geword wat ook sesessie gepleeg het. Die strewe na onafhanklikheid is ʼn ou en gevestigde beginsel in Texas en geniet ʼn steunbasis wat nog altyd daar was.

Die huidige toename in steun vir die idee van ʼn onafhanklike Texas hou natuurlik verband met die verkiesing van Joe Biden as nuwe Amerikaanse president, maar selfs ook met die toenemende breuk tussen konserwatiewe Amerikaners en die regerende elite in die Amerikaanse hoofstad.

Die vraag is egter of sesessie, al is dit onwettig, tog moontlik is. Die eerste punt om hier te beklemtoon is dat steun vir sesessie in Texas nog beperk is. Die laaste peilings het getoon dat sowat een derde van die staat se bevolking sesessie steun. Texas met sy sowat 30 miljoen inwoners het die tweede grootste bevolking in die VSA.

Texas se bevolking het egter ook oor die afgelope paar jaar dramaties verander, veral vanweë immigrasie uit ander Amerikaanse state, Mexiko en ander Latyns-Amerikaanse lande en ook uit ander wêrelddele. Texas is vandag een van die mees diverse deelstate in die VSA met slegs 45% van die bevolking wat uit wit persone bestaan wat nie van Latyns-Amerikaanse afkoms is nie.

Hoewel die reg tot sesessie deel van die amptelike beleid van die Republikeinse Party van Texas is, heers daar groot verdeeldheid onder die Republikeine in die Texas-wetgewer oor die kwessie of die sesessie-kwessie in hierdie stadium gedryf moet word. Die kanse is dus skraal dat die wetsontwerp wat Biedermann ingedien het, goedgekeur gaan word.

Wat egter duidelik is, is dat die omvang van vervreemding onder ʼn deel van die Amerikaanse bevolking tans op sy grootste sedert die einde van die Burgeroorlog is. Daar is tans miljoene Amerikaners wat Joe Biden eenvoudig nie as hul president beskou nie en wat ook totaal vervreemd van die Amerikaanse federasie begin staan. Sesessie, geskille tussen konserwatiewe deelstate en die federale regering, versoeke vir die verskuiwing van state se grense en soortgelyke stappe kan dus oor die volgende paar jaar algemene verskynsels in die VSA word.

Viernasie-alliansie teen China onder groot druk

Xi Jinping, president van China. (Foto: Li Gang/Xinhua News Agency via AP)

In die verlede was een van die Trump-administrasie se belangrikste buitelandse beleidsdoelwitte die daarstel van ʼn alliansie van lande in Asië en die Stille Oseaan-gebied wat China kon teenstaan. Uiteindelik was die belangrikste rolspelers wat in so ʼn alliansie na vore getree het die VSA, Australië, Japan en Indië.

Intussen is daar egter onsekerheid of hierdie strategie daarin kan slaag om China se aggressiewe benadering in Asië, sy onmededingende handelspraktyke en die onderdrukking van minderhede teen te werk. Die Biden-administrasie gaan waarskynlik minder aggressief teenoor China optree en Japan en Australië verkeer onder ekonomiese druk om hul geskille met China by te lê. Veral Australië, wat nog in 2019 meer as 30% van sy uitvoer na China gestuur het, verkeer tans in ʼn knyptangsituasie en met China wat heelwat minder pyn weens die verswakkende verhouding verduur, lyk dit toenemend asof dit Australië gaan wees wat die eerste gaan bes gee.

Intussen is China besig om sy militêre kapasiteit verder uit te brei en tree sy lugmag en vloot toenemend meer aggressief teenoor Taiwan op, soos verlede naweek toe Chinese vegvliegtuie Taiwan se lugruim binnegedring het. Vir baie lande is die uitdaging dat hulle nie kan bekostig om in ʼn volgehoue handelsoorlog met China gewikkel te wees nie.

Die Europese Unie en verskeie Europese lande het ook die afgelope ruk onder Chinese druk geswig en ʼn beleggingsooreenkoms wat tussen die EU en China bereik is, kan as ʼn groot oorwinning vir die Chinese beskou word met Chinese maatskappye wat groter toegang tot Europa sal kry.

China hou ʼn wesenlike bedreiging vir Westerse demokrasie, die vryemarkstelsel en gesonde globale magsverhoudinge in. Verder is China besig om Hongkong heeltemal van sy outonomie te ontneem en daar word gevrees dat Taiwan die volgende is. ʼn Paar dae gelede was daar weer ʼn skermutseling tussen soldate van China en Indië op die grens tussen dié twee lande en China is duidelik bereid om met groter aggressie teen Indië op te tree. Die wyse waarop China die invoer van Australiese produkte verbied het of hoë invoertariewe ingestel het, is besig om die Australiese ekonomie enorme skade te berokken.

Die oplossing vir Chinese aggressie en onbillike optrede deur die Chinese en China se ondermyning van internasionale goeie praktyk lê net in ʼn breë koalisie van lande, maar ná die vertrek van Trump en sy minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, lyk dit nou onwaarskynlik.

Herskikking van magsverhoudinge in die Midde-Ooste

Die Abu Samrah-grenspos tussen Katar en Saoedi-Arabië. Foto: KARIM JAAFAR/AFP)

By die onlangse vergadering van die Golf-samewerkingsraad is die verhouding tussen Katar en die ander vyf lande, Saoedi-Arabië, Bahrein, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Oman en Koeweit genormaliseer. Dit was veral Saoedi-Arabië en die VAE wat die afgelope paar jaar ʼn geskil met Katar gedryf en dié land van verskeie ongegronde aantygings soos die finansiering van terreurgroepe beskuldig het.

In werklikheid het die geskil tussen Katar en sommige van sy buurlande hoofsaaklik oor Katar se noue samewerking met Turkye en Iran gegaan. Saoedi-Arabië beskou Iran as sy grootste enkele vyand, terwyl daar op hul beurt geen liefde tussen die VAE en Turkye is nie. Turkye het ʼn militêre basis in Katar en verskeie Iranse maatskappye doen sake in Katar.

Die nuwe Biden-administrasie het intussen ook ʼn paar katte in die hoenderhok losgelaat deur hom eerstens bereid te verklaar om weer met Iran oor ʼn kernooreenkoms te onderhandel en tweedens deur sy besluit om alle Amerikaanse wapenverkope aan Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate tydelik op te skort.

Nadat verhoudinge tussen Israel en die VAE en tussen Bahrein en Soedan teen laat verlede jaar onder druk van die VSA genormaliseer is en dit ook duidelik geword het dat Israel en Saoedi-Arabië wel oor verskeie sake in die Midde-Ooste in gesprek is, het die selfvertroue waarmee Israel in die Midde-Ooste optree, verder toegeneem. Die afgelope week het Israel aangekondig dat hy sy planne om in ʼn moontlike oorlog met Iran betrokke te raak, hersien en opskerp. Intussen probeer Turkye sy verhouding met Saoedi-Arabië en die VAE herstel.

Presies wat die gevolge van al hierdie verskuiwings gaan wees, is nog onduidelik, maar dit is duidelik dat ʼn groot verskuiwing in magsverhoudings en bondgenootskappe in die Midde-Ooste ʼn groot invloed op huidige en moontlike toekomstige veiligheidsrisiko’s en die oplos van huidige oorloë, soos dié in Sirië en Jemen, kan hê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Dankie Jaco dat jy ons op datum hou van verwikkelinge in daardie werelddele. Onstabiliteit daar hou wesentlike gevare vir meeste ander lande in

Chris ·

Ek is nie ‘n waarsêer nie maar ek sal nie verbaas wees as die VS van A begin uitrafel nie. Daar is reeds geruime tyd ‘n gebrom onder die mense. Wat vir my ook nogal opvallend is, is hoe party van die muishond lande se regerings skielik baie rammetjie uitnek raak. Die Sjinese karring aan Taiwan, vetseun van Noord Korea is ook sommer halstarrig. Die midde Oosterse manne ook weer strydlustig. Ons sal maar wag en sien wat gaan gebeur met Osama Bin Biden aan die stuur van die magtigste westerse land. O behoede hul van hulself.

Human ·

Daar is fluisteringe in ANC geledere dat Zuma oppad is na Putin se Rusland en dat hy wat Zuma is vir Trump saam genooi het, want “birds of a feather flock together.”

Pieter ·

En nou het die ANC ‘n Chinese vrou in die afgestorwe minister se plek aangestel in die ANC koukus. China is ‘n duidelike aandeelhouer in die regime.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.