Internasionale oorsig: Trudeau oorspeel sy hand

Justin Trudeau. Foto: (Justin Tang/The Canadian Press via AP)

Die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, se besluit om die Emergencies Act, ʼn 34 jaar oue Kanadese wet wat nog nooit gebruik is nie, die afgelope week in werking te stel ten einde meer kragdadig op te tree teen vragmotorbestuurders wat sedert 29 Januarie teen Covid-19 maatreëls betoog, word toenemend wyd veroordeel. Die gerespekteerde The Wall Street Journal-koerant in die VSA en die Economist-nuustydskrif het albei in redaksionele kommentare harde woorde oor Trudeau se besluit gehad.

Die Emergencies Act het 34 jaar gelede Kanada se Wet op Oorlogsmaatreëls vervang. Laasgenoemde wet is drie keer, tydens die twee Wêreldoorloë en in 1970 teen terroriste in Quebec, gebruik. Die doel van die Emergencies Act is om die regering sterk noodmagte te gee wanneer die land se stabiliteit bedreig word. Dit gee die regering onder andere die reg om persone se bankrekening te bevries en om die weermag in te roep om orde te herstel sonder dat enige van hierdie stappe deur die parlement goedgekeur hoef te word, of dat die reg daartoe deur ʼn hofbevel verkry moet word.

Die afgelope drie weke het Trudeau keer op keer na die vragmotorbestuurders wat om die parlementsgebou in die Kanadese hoofstad, Ottawa, betoog, as ʼn klein minderheid randfigure verwys. In een toespraak in die Kanadese parlement het hy na die betogers as “anti-Semiete, Islamofobe, anti-swart rassiste, homofobe en transfobe” verwys. Tog het Trudeau dit nou nodig geag om ʼn uitsonderlike wet, wat vir werklike krisistye bedoel is, aan te wend om van hierdie klein groepie “randfigure” ontslae te raak.

Covid-19-betogings in Kanda. (Foto: Ed Jones/AFP)

Trudeau weier die afgelope drie weke om met die betogers en hulle leiers te ontmoet en om enigsins met hulle te onderhandel. Terwyl die premiers van talle Kanadese provinsies, insluitende Alberta, Saskatchewan, Ontario en Quebec, die meeste Covid-19-maatreëls reeds uitfaseer het, weier Trudeau om enige toegewings te maak. Sy besluit om noodmagte in te roep is die afgelope week ook deur verskeie premiers van provinsies veroordeel. Die hoof van Ottawa se polisie het selfs bedank nadat dit aan die lig gekom het dat baie polisielede nie bereid is om hardhandig teen die vreedsame betogers op te tree nie.

Die gebruik van die Emergencies Act sal vryheid van spraak in Kanada duidelik benadeel en sal die vreedsame betoging beëindig terwyl ʼn sterk boodskap deur die Kanadese regering aan burgers gestuur word dat geen teenspraak geduld word nie. Die diskreditering van betogers deur hulle as ekstremiste te brandmerk net omdat een of twee uit duisende verwerplike vlae tydens ʼn betoging gebruik het, dui ook op die mate waartoe Trudeau en sy regering bereid is om hulle oogmerke te bereik.

Die regte van Kanadese, alle Kanadese, is die afgelope week ʼn groot nekslag toegedien. Vryheid van spraak word onderdruk, maar ook die vryheid om protes aan te teken, te organiseer en standpunt teen die regering in te neem. Wie is volgende? Kanada se kleiner wordende Christenminderheid? Ander minderheidsgroepe? Die verwerping van Trudeau se aankondiging deur hoofstroommedia, verskeie senior politici en burgerregte organisasies soos die Kanadase Civil Liberties Union moet verwelkom word.

Moontlike Iran-ooreenkoms hou voordele én risiko’s in

Josep Borrel. (Foto: François WALSCHAERTS/various sources/AFP)

Die woordvoerder van die VSA se departement van buitelandse sake, Ned Price, sowel as Iran se hoof-kernonderhandelaar, Ali Bagheri Kani, het die afgelope week aangedui dat ʼn ooreenkoms oor Iran se kernprogram binnekort bereik kan word. Onderhandelaars van die VSA, Iran, China, Rusland, Duitsland, Frankryk en Brittanje het die afgelope paar dae vir die agtste keer die afgelope jaar in Wene, Oostenryk, hieroor onderhandel. Verskeie onderhandelaars het reeds aangedui dat hierdie ronde waarskynlik die finale maak-of-breek-ronde sal wees.

Sowel die Biden-administrasie in die VSA as Iran se Rouhani-regering is angstig om ʼn ooreenkoms te bereik. Die Europese Unie moedig ook ʼn nuwe ooreenkoms sterk aan en Josep Borrell Fontelles, die EU se hoof van buitelandse beleid, het ook die afgelope week gesê hy glo ʼn ooreenkoms kan binnekort bereik word.

ʼn Nuwe ooreenkoms sal waarskynlik in ʼn groot mate ʼn terugkeer wees na die vorige ooreenkoms wat in 2015 deur dieselfde partye bereik is. Daarvolgens sal Iran se kernprogram beperk word, hoofsaaklik om te verhoed dat die land ʼn kernwapen vervaardig. In ruil daarvoor sal die VSA die meeste ekonomiese sanksies wat die afgelope paar jaar teen Iran ingestel is, ophef.

Oudpres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Terwyl Iran se ekonomie groot skade gely het sedert die sanksies wat Donald Trump teen die land heringestel het, het die land wel groot vordering met sy kernprogram gemaak en die vrees bestaan dat Iran op die punt staan om ʼn kernwapen te vervaardig. Dit is veral die Republikeine in die Amerikaanse kongres en Israel se regering wat waarsku dat Iran nie vertrou kan word nie en dat die opheffing van sanksies teen Iran die land juis die geleentheid sal bied om ʼn kernwapen skelm te vervaardig.

Hoewel 53% van Amerikaners ten gunste van ʼn ooreenkoms met Iran is, en slegs 24% daarteen gekant is, is daar wesenlike teenkanting daarteen in die Amerikaanse kongres. Die meeste Republikeine is teen ʼn ooreenkoms gekant en enkele Demokrate het hulself ook die afgelope tyd teen ʼn ooreenkoms uitgespreek. Die invloedryke voorsitter van die senaatskomitee vir buitelandse betrekkinge, senator Robert Menendez, het vroeër dié maand gesê dat die gesamentlike omvattende plan van aksie, soos wat die 2015-ooreenkoms bekend staan, nooit voldoende was nie en dat dit nie ernstige nasionale veiligheidskwessies, soos Iran se ballistiese missielprogram en die bedreiging wat dit vir Israel inhou, die hoof bied nie.

Sou ʼn Republikein in 2024 as president van die VSA verkies word, is daar ook ʼn goeie kans dat so ʼn president die VSA aan die ooreenkoms kan onttrek. Israel se regering het die afgelope paar maande groot steunwerwingsaksies onder Amerikaanse kongreslede gevoer om te probeer verhoed dat die VSA ʼn nuwe ooreenkoms met Iran sluit.

Naftali Bennett (Foto: Gil Cohen-Magen/AFP)

Israel se premier, Naftali Bennett, het die afgelope week weer gesê dat ʼn kernooreenkoms dit moeiliker vir ander lande gaan maak om te verhoed dat Iran ʼn kernwapen vervaardig. Israel verkies steeds ʼn scenario waarin Iran sodanig geïsoleer word dat dit die land ernstige ekonomiese skade sal berokken wat hopelik tot ʼn revolusie of opstand in Iran sal lei.

Die alternatief is natuurlik om Iran se kernprogram met geweld te beëindig. In die Weste word algemeen aanvaar dat Israel ver gevorder het met die beplanning van so ʼn aanval waarin al Iran se kernaanlegte verwoes sal word. Die risiko bestaan natuurlik dat dit tot grootskaalse oorlog tussen Israel en Iran kan lei waarby groepe soos Hamas in die Gaza-strook en Hisbolla in Libanon ook betrek sal word.

Die meeste Amerikaners en Europeërs het egter nie tans aptyt vir nóg ʼn Midde-Oosterse oorlog nie. Juis daarom geniet ʼn kernooreenkoms met Iran steun onder burgers in feitlik alle Westerse lande. Israel se suksesvolle steunwerwing onder politieke leiers, veral in die VSA, kan enige nuwe ooreenkoms egter redelik vinnig laat misluk.

ʼn Nuwe kernooreenkoms met Iran sal waarskynlik ver van perfek wees. Die onsekerheid en groeiende spanning sonder ʼn ooreenkoms is egter selfs erger. Wat wel seker is, of ʼn ooreenkoms bereik word al dan, is dat die kwessie oor die ontwikkeling van kernwapens oor die volgende dekade of wat heelwat uitdagings gaan bly skep, nie net in Iran nie maar in die Midde-Ooste.

Die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA) het reeds vier jaar gelede daarop gewys dat Iran wel die bepalings van die vorige ooreenkoms korrek nagekom het. Sou ʼn nuwe ooreenkoms binnekort bereik word, sal dié agentskap se werk van die uiterste belang wees. Die optrede van Israel skep egter groot onsekerheid, veral indien Israel sou voortgaan met sy planne om aanvalle op Iran uit te voer of om minstens Iran se kernprogram op ander maniere te probeer omverwerp.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ettienne ·

Dankie Jaco, insiggewende artikel. Tredeaux: Opvallend hoe vinnig liberaaal-demokrate van beperkende wetgewing gebruik maak om hul magsposisies te beskerm. My opinie – demokrasie skep uiteindelik outokrasie en magsoorheersing.

Grassie ·

Trudeau is maar net ‘n liberale blinkjannie . Hoe gouer die Kanadese van hom ontslae raak en ‘n bevoegde leier kies, hoe beter vir hulle.

VaalDonkie ·

Trudeau is ‘n uitstekende voorbeeld van waarom vroue nie moet staatshoofde wees nie.

Miskruier ·

“Why do the protected need to be protected from the unprotected by forcing the unprotected to use the protection that did not protect the protected in the first case? Imagine a vaccine so safe you have to be threatened to take it for a virus so dangerous you have to be tested to see whether you have it or not”

Yolandie ·

Yes indeed Miskruier………..what a crock. This madness should have ended a long time ago.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.