Internasionale oorsig: Uitgerekte oorlog gaan Weste se uithouvermoë toets

Die ma van ‘n Oekraïnse soldaat by sy doodskis. (Foto: Yuriy Dyachyshyn / AFP)

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), Antonio Guterres, het die afgelope week gesê dat die VN nie verwag dat vredesonderhandelinge tussen Rusland en Oekraïne binnekort op dreef gaan kom nie. Dit raak duidelik dat daar nou algemeen verwag word dat die oorlog nog vir maande of selfs langer kan voortduur, terwyl soldate van Rusland en Oekraïne dag na dag om elke stukkie grondgebied veg.

Die konflik is tans in Donetsk en Loehansk in die oostelike Donbas-streek gefokus en in ʼn breë band van dorpe en stede in die suide van Oekraïne wat uiteindelik die Donbas aan die Krim-skiereiland verbind en die Krim-skiereiland weer aan die Russiesgesinde Transnistria in die ooste van Moldowa verbind. Dit is duidelik dat wapens wat Westerse lande aan Oekraïne verskaf dit vir dié land se regering moontlik maak om die Russiese weermag se opmars in talle gebiede te stuit of te vertraag.

Sedert Rusland meer as ʼn maand gelede besluit het om sy militêre mag te konsolideer en op die ooste en suide van Oekraïne te fokus, het die Russiese weermag in sommige gebiede vordering gemaak, terwyl hy in ander gebiede grondgebied afgestaan het. Dit alles het met groot lewenskoste en verlies van wapentuig gepaardgegaan. Dit raak reeds duidelik dat die Russe ʼn tekort aan soldate ondervind en dat hulle sukkel om genoeg soldate vir die oorlog teen Oekraïne te mobiliseer.

Die stryd in die Donbas is ʼn bewys van Rusland se sukkelpoging. Die Russe beheer die grootste gebied aan die een kant van die Siverskyi Donets-rivier, terwyl Oekraïne gebiede aan die oorkant van die rivier beheer. Die meeste brûe oor die rivier is die afgelope paar weke verwoes. ʼn Paar dae gelede het ʼn hele Russiese weermagbataljon met 50 voertuie en byna 1 000 soldate die rivier probeer oorsteek. Soldate van Oekraïne het egter daarin geslaag om meer as 30 Russiese tenks en gepantserde voertuie te verwoes, terwyl talle Russiese soldate gesneuwel het.

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski (Foto: Ronaldo Schemidt/AFP)

Verder noord het Oekraïne ook die afgelope week of twee groot vordering in en om die stad Charkif gemaak. Rusland beheer tans sowat twee derdes van die Donbas, maar sukkel om vordering te maak. Gevegte om beheer van dié gebied kan nog weke of selfs maande duur, veral indien Westerse lande voortgaan om Oekraïne van gevorderde wapentuig te voorsien.

In die suide van Oekraïne het Rusland die afgelope week uiteindelik volle beheer oor die verwoeste stad Marioepol, waar duisende onskuldige burgerlikes die afgelope weke in hewige lugaanvalle deur die Russe gedood is, oorgeneem. Dit is steeds nie duidelik wat Rusland se doelwit in die suide is en of die Russe werklik wil probeer om ook die stad Odessa oor te neem en uiteindelik ʼn strook om die Swartsee tot by Transnistria in Moldowa te beheer nie. Dit kan egter ʼn baie moeilike en uitgerekte stryd meebring.

Terwyl die Russiese weermag steeds baie sterker is as dié van Oekraïne, het die Russe tot dusver veel groter lewensverlies en verlies van wapentuig as Oekraïne gely. Oekraïne word ook ondersteun deur ʼn sterk element van guerrilla-oorlogvoering met burgerlikes van reg oor die land wat byvoorbeeld met 6 000 hommeltuie intelligensie insamel en gewone burgerlikes wat voortdurend verrassingsaanvalle op Russiese soldate loods.

Die enigste manier waarop Rusland die hele Donbas en die suide van Oekraïne kan oorneem, sal wees om die Marioepol-strategie van totale verwoesting te volg. Dit kom egter teen ʼn duur prys.

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Andrey Gorshkov /SPUTNIK/AFP)

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het in sy Oorwinningsdag-toespraak Maandag op die Rooiplein in Moskou geen eskalering van die oorlog of die mobilisering van meer manskappe aangekondig nie. Hy het ook nie veel meer uitgebrei oor Rusland se konkrete doelwitte in die oorlog nie.

Wat wel duidelik is, is dat elke dag wat die oorlog voortduur tot die verswakking van die verhouding tussen Rusland en die Weste en die ekonomiese en politieke koste van die oorlog bydra, maar dat dit ook langtermyngevolge inhou. Poetin het in sy toespraak juis te velde getrek teen die Weste, en in die besonder teen die VSA, se reaksie op die sogenaamde “spesiale operasie” in Oekraïne en die Weste se verskaffing van wapens aan Oekraïne.

Die Franse president, Emmanuel Macron, het Maandag in ʼn toespraak by die Europese parlement in Straatsburg gesê Europa moet uit die verlede leer en verhoed dat die einde van die oorlog in Oekraïne net tot meer konflik in die toekoms lei. Presies hoe dit voorkom kan word, bly egter onduidelik.

Die Britse premier, Boris Johnson, het Woensdag na Swede en Finland gereis om ʼn verdedigingsverdrag met albei lande te onderteken waarvolgens die Verenigde Koninkryk (VK) veiligheidswaarborge aan Finland en Swede sal bied terwyl hulle besig is om vir Navo-lidmaatskap aansoek te doen. Die VSA het ook reeds veiligheidswaarborge aan Finland en Swede gebied.

Intussen het die Russiese regering Donderdag gesê dat Finland en Swede se aansluiting by Navo die Russe sal dwing om hul militêre teenwoordigheid in die Baltiese See te verhoog. Die Russe beskou Finland en Swede se aansluiting by Navo as ʼn daad van aggressie wat Rusland se veiligheid kan bedreig.

Terwyl Macron ten gunste van ʼn Europese weermag is, is die VK en die VSA ten gunste van die uitbreiding van Navo-lidmaatskap na baie meer lande in Oos-Europa. Wat die oorlog in Oekraïne bewys het, is dat lidmaatskap van internasionale organisasies soos die VN geen waarborg bied om oorlog te voorkom nie.

Slegs ʼn soewereine Oekraïne met ʼn goeie militêre vermoë kan die mense van Oekraïne teen Russiese aggressie beskerm. Dit bevestig die belangrikheid van nasionale veiligheid en lande se vermoë om hulself te beskerm – iets wat Duitsland ook onlangs besef het toe dié land ʼn drastiese uitbreiding van sy uiters verswakte weermag aangekondig het.

Die stad Bucha is verwoes. (Foto: Aris Messinis/AFP)

Die oorlog in Oekraïne kon vroeër reeds beëindig gewees het as die regering van Oekraïne wesenlike toegewings aan Rusland sou maak. Dit sou egter beteken dat die land groot dele van sy grondgebied sou moes afstaan en dat miljoene van sy burgers skielik in Rusland sou woon. Die konsensus onder die meeste mense in Oekraïne is dat dit die moeite werd is om eerder vir die beskerming van Oekraïne se grondgebied te veg.

Hoe die oorlog ook al eindig, is dit reeds duidelik dat die oorlog wel ʼn belangrike boodskap aan elke Europese land oor hul eie veiligheid stuur. Europese lande wat tot onlangs op hul louere gerus het en aan dekades se vrede gewoond geraak het, besef nou dat vrede nie altyd as vanselfsprekend aanvaar moet word nie.

Die prys wat Europeërs nou betaal, kan en gaan waarskynlik bly styg. Terwyl die oorlog in Oekraïne en sanksies handel versteur, tekorte aan produkte meebring en energiepryse die hoogte laat inskiet, neem onsekerheid oor die toekoms ook vinnig toe. Wat as Rusland besluit om alle Russiese mans vir oorlog op te roep en die Baltiese state of Finland aanval? Daar is natuurlik talle soortgelyke scenario’s wat almal tans ewe onwaarskynlik lyk, maar wat nie bloot van die tafel afgevee kan word nie.

Die verhouding tussen die Weste en Rusland gaan nie maklik herstel nie en Macron se kommer oor ʼn vyandige verhouding wat tot toekomstige konflik kan lei, is geldig. Navo se uitbreiding na Swede, Finland, verskeie Balkan-lande en dalk selfs Moldowa en na dit wat van Oekraïne ná die oorlog oorbly, gaan juis die spanning tussen die Weste en Rusland verdiep. Die alternatief is egter lande met klein bevolkings en ʼn klein militêre vermoë wat van dag tot dag in vrees vir Russiese aggressie moet leef. Die toekoms van Europa is onseker en wyse leiers sal nodig wees om die risiko’s, ook die post-oorlogrisiko’s, te bestuur. Dit gaan die uithouvermoë van die ganse Weste oor die volgende paar jaar toets.

Groot politieke uitdagings vir Johnson ná verkiesings in VK

Boris Johnson. Foto: (Pippa Fowles/10 Downing Street via AP)

Die Konserwatiewe Party van die Britse premier Boris Johnson het verlede week ʼn groot nederlaag in plaaslike verkiesings in Engeland, Skotland en Wallis gely toe dié party byna 500 setels verloor en sy totale stempersentasie tot slegs 30% gedaal het.

Sowat 35 miljoen kiesers in die VK kon verlede week deelneem aan verkiesings vir 146 munisipale rade in Engeland en al die rade in Skotland en Wallis. In Noord-Ierland moes dié staat of streek se 90 parlementslede ook weer verkies word.

Die Konserwatiewe Party het die skerpste daling in steun ervaar. In die vorige soortgelyke plaaslike verkiesing in 2017 het dié party, onder leiding van Theresa May, 38% van die stemme verower. In die algemene verkiesing van Desember 2019 het die party onder leiding van Johnson bykans 43% van die stemme verower. Die daling in steun vir die Konserwatiewe Party tot slegs 30% wys dat Johnson en sy party ʼn duur prys betaal vir die ekonomiese uitdagings wat die VK tans ervaar en vir Johnson se talle skandale.

Die Arbeidersparty van sir Keir Starmer het daarin geslaag om gedeeltelik te herstel ná die party se swak prestasie in 2017 en 2019 en kon 35% van die stemme verower. Dit was egter allesbehalwe ʼn groot oorwinning vir die Arbeiders. In stedelike, liberale gebiede, veral in Londen, het die party daarin geslaag om beheer oor talle rade van die Konserwatiewes af te rokkel. Daar was egter ook heelwat kiesers wat eerder vir die Liberaal-Demokrate en die Groenparty gestem het, en albei partye het stewige groei getoon.

Soos in verkiesings in die VSA, Frankryk, Duitsland, Nederland en in ander Westerse lande die afgelope twee jaar, is dit ook duidelik dat daar in Brittanje ʼn groter ideologiese, kulturele en politieke verdelingslyn tussen die liberale, kosmopolitiese en globalistiese stedelinge en die konserwatiewe, landelike kiesers buite die stede ontstaan. Daar is in Brittanje, soos in die VSA, groot frustrasie onder mense buite die stede dat al die ekonomiese welvaart in die stedelike gebiede gekonsentreer word, terwyl die platteland ekonomies agteruitgaan.

Johnson is sedert die begin van die jaar in die moeilikheid nadat dit aan die lig gekom het dat hy en talle van sy personeel gedurende 2020, toe baie streng inperkingsmaatreëls in Brittanje gegeld het, partytjies in die tuin agter 10 Downing Street gehou het en daardeur die inperkingsmaatreëls oortree het. Die polisie in Londen het onlangs ʼn boete aan Johnson opgelê en hy moes in die parlement verskoning vra vir sy gedrag. ʼn Parlementêre ondersoek oor die gebeure is egter steeds aan die gang. Baie kiesers wat in 2019 vir Johnson gestem het, is deur die skandaal afgesit en heelwat van hulle het in die pas afgelope munisipale verkiesing nie gaan stem nie, of het uit protes vir die Liberaal-Demokrate of selfs die Arbeidersparty gestem.

Boris Johnson (Foto: Boris Johnson/Twitter)

Die skandaal is egter nie Johnson se enigste groot uitdaging nie. Soos in talle ander lande ervaar die VK tans ʼn skerp styging in lewenskoste met inflasie wat tot 7% gestyg het en volgens ekonome vanjaar nog tot 10% kan styg en drie jaar lank hoog kan bly. Voedselpryse het die afgelope 12 maande met 8% gestyg en energiekoste het bykans verdubbel. Rentekoerse is vanjaar reeds vier keer verhoog en al hoe meer Britte sukkel om met hul geld uit te kom.

Ekonomies ondervind die Britte heelwat van dieselfde uitdagings as die VSA. Die land se handelstekort het in Januarie ʼn nuwe hoogtepunt bereik, terwyl staatskuld tot bykans 95% van die bruto binnelandse produk beloop. Hoewel werkloosheid in Brittanje verlede maand tot ʼn nuwe laagtepunt gedaal het, is heelwat van die ekonomiese groei deur hoër verbruik teweeggebring, en nie deur volhoubare groei in produksie nie. Huidige globale uitdagings met voorsieningskettings en handel bring mee dat daar ʼn tekort aan sommige produkte is wat Brittanje se ekonomiese herstel kniehalter.

Terwyl ryker Britte oor die belastinglas kla en heelwat parlementslede van die Konserwatiewe Party belastingverligting voorstaan, het Johnson egter die afgelope paar jaar daarin geslaag om die party se historiese magsbasis weg van die welvarendste dele van Brittanje na werkersklasgebiede, wat veral sterk ten gunste van Brexit was, te verskuif. Vir mense in laermiddelklas- en werkersklasbuurte is die belangrikste prioriteite tans die stygende lewenskoste en probleme met regeringsdienste soos gesondheidsorg en onderwys.

Volgens ʼn nuwe peiling is net 29% van mense in die VK tevrede met Johnson as premier, terwyl 65% ontevrede is met hom. Johnson se regering sukkel steeds om geskille oor Brexit met die Europese Unie by te lê en dit is veral die doeanegrens tussen Noord-Ierland en Groot-Brittanje wat ingevolge die Brexit-ooreenkoms ingestel is wat probleme skep.

Die gesukkel om Brexit vir die Britte te laat werk, gekombineer met Johnson se ongedissiplineerde optrede en bestuurstyl en die huidige ekonomiese uitdagings, skep enorme uitdagings vir sy regering sowat twee en ʼn half jaar voor die volgende algemene verkiesing.

Johnson het oor die jare bewys dat hy sy eie politieke boodskap kan herbedink en dat hy ná ʼn laagtepunt weer daarin kan slaag om die Britte se steun te kry. Hy probeer dit tans doen deur sterk op buitelandse sake te fokus en sy proaktiewe optrede in die oorlog in Oekraïne en sy steun aan Finland en Swede om by Navo aan te sluit, is gewild onder Britse kiesers.

Soos in die meeste ontwikkelde lande word mense se keuses in verkiesings in die VK egter meestal deur ekonomiese sake en nie buitelandse beleid nie gedryf. Uiteindelik sal kiesers teen die einde van 2024 moet oordeel of Johnson daarin kon slaag om ná sy skandale, ná Brexit, ná die Covid-19-pandemie en ná die oorlog in Oekraïne die ekonomiese gevolge van al hierdie uitdagings in voordele en geleenthede vir Britte te omskep.

In Skotland gaan die Skotse Nasionale Party, waarvan die steun steeds toeneem, waarskynlik binne die volgende jaar vir ʼn nuwe referendum oor Skotse onafhanklikheid vra. Die Konserwatiewe Party het verlede week van sy grootste verkiesingsnederlae in Skotland gely.

Michelle O’Neill, leier van Sinn Fein (7 Mei 2022) (Foto: Paul Faith/AFP)

In Noord-Ierland sal die linkse en Ierse nasionalistiese party, Sinn Fein, vir die eerste keer sedert Noord-Ierland in 1921 deel van die VK geword het, die grootste party in die plaaslike parlement wees. Hoewel ʼn meerderheid van mense in Noord-Ierland, om historiese maar ook ekonomiese redes, gekant is teen hereniging met Ierland is daar wel, veral onder jonger mense, groeiende steun vir ʼn proses waarvolgens Noord-Ierland in die toekoms wel weer deel van Ierland sal word.

Met die opening van die parlement in Londen enkele dae gelede kon koningin Elizabeth vir slegs die derde keer in haar bewind nie haar toespraak lewer nie. Die vorige twee keer was toe sy swanger was. Die 96-jarige monarg ondervind beweeglikheidsprobleme en ernstige kommer heers oor haar gesondheid en haar vermoë om die vier dele van die VK bymekaar te hou.

Ten spyte van heelwat uitdagings bly die VK steeds een van die belangrikste ekonomiese, politieke en militêre rolspelers in Europa en in die wêreld. Soos in die verlede sal dit ʼn fout wees om Johnson nou al af te skryf, maar sy regering word deur enorme uitdagings in die gesig gestaar en heelwat dinge sal vir hulle in plek moet val. Indien die huidige tendens egter moet voortduur, sal steun in die Konserwatiewe Party toeneem om van Johnson ontslae te raak in ʼn poging om ʼn groot nederlaag in die volgende algemene verkiesing te voorkom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Zelensky het al meer as een maal gereed gewees om ‘n vredesooreenkoms te onderteken, dan kom NAVO en oortuig hom om aan te hou baklei sodat nog van sy burgers en soldate kan sterf. Wat natuurlik maklik is om te doen as dit nie jou eie mense is wat swaarkry nie.

Thom ·

Hy wen die oorlog ___ sal teken met alle Russiese soldate uit Ukraïene.

Pieter ·

Zelensky?!!!

Dit is Poetein se Russe wat Zelensky se burgers en soldate doodskiet. Jy het dit duidelik nog nie agtergekom nie.

Anna-marie ·

Zelensky voer opdragte uit wat Amerika vir hom voorskryf. Nog ‘n bewys dat dit Amerika is wat in oorlog is met Rusland is wat Dan Crenshaw gesê het: “…because investing in the destruction of our adversary’s military, without losing a single American troop, strikes me as a good deal. You should feel the same”
Dan Crenshaw is ‘n Amerikaanse politikus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.