Internasionale oorsig: Val van Afghanistan en hergroepering van Islamitiese terreurgroepe

(Foto: AFP)

Terwyl die Taliban se maklike opmars na Kaboel verlede Sondag skokgolwe deur veral Westerse lande gestuur het, was die fokus tot nou toe grootliks op die situasie in Afghanistan waar die vrees bestaan dat die Taliban weer, soos tussen 1996 en 2001, ʼn streng fundamentalistiese regeerstyl kan instel. Daarmee saam word die gesprek ook oorheers deur die vernedering wat die Taliban se opmars vir die VSA en ander Westerse lande inhou.

Terwyl daar genoeg rede tot kommer is oor die mense van Afghanistan, en terwyl dit nodig is om die gesprek te voer oor dit wat Amerika verkeerd gedoen het, is die gevolg van die Taliban se oorname op die langer termyn waarskynlik eerder die feit dat Soenniete terreurgroepe soos Al Kaïda en die Islamitiese Staat nou weer met groter gemak vanuit Afghanistan kan opereer.

Die Amerikaanse minister van verdediging, Lloyd Austin, het Maandag reeds aan die Amerikaanse kongres gesê dat dié land se regering ernstig na die moontlike hergroepering van terreurgroepe in Afghanistan moet kyk. Die VSA het Afghanistan in 2001 aangeval om die Taliban uit die kussings te lig juis omdat dié organisasie ʼn veilige hawe vir Al Kaïda gebied het.

Al Kaïda het sedert die Amerikaanse besetting van Afghanistan uitgewyk na veral lande in die Sahel-streek in die noorde van Afrika. Dié organisasie het tans ʼn sterk teenwoordigheid in lande soos Mali, Tsjad, Burkina Faso, Niger, Nigerië en Somalië. Verder benut Al Kaïda ook die onstabiliteit in Jemen en Sirië om daar te herorganiseer.

Pres. Emmanuel Macron. (Foto: PHILIPPE DESMAZES/POOL/AFP)

Die afgelope dekade het die Franse weermag met lande in die Sahel saamgewerk om terreur te beveg. Die Franse president, Emmanuel Macron, het egter onlangs aangekondig dat sy land uit die streek gaan onttrek en dat Frankryk al sy weermagbasisse daar teen volgende jaar gaan sluit. Die helfte van die 5 000 Franse soldate in die streek het reeds na Frankryk teruggekeer. Sonder die Franse teenwoordigheid sal die stryd teen terreurgroepe in die streek veel moeiliker wees.

Al Kaïda se strategie was nog altyd om te fokus op lande met swak regerings en lande waar groot konflik heers en selfs burgeroorloë woed. Die organisasie vestig afdelings in sulke lande en werf jong mans om opleiding in opleidingskampe te ontvang.

Al Kaïda voer ʼn skrikbewind in hierdie lande deur die gebruik van geweld. Mense word voor die voet vermoor. Hierdie moordtogte op weerlose, arm landelike nedersettings bied ʼn geleentheid aan die terroriste om hul aanvalsplanne te toets en uit te voer, maar ook om geld en ander middele te buit en om vrees onder die plaaslike bevolking aan te jaag en stelselmatig beheer oor ʼn groter grondgebied te verkry. Die afgelope week is bykans 100 mense in drie aanvalle in Mali, Niger en Burkina Faso dood. Tans voer Islamitiese terreurgroepe in Afrika maandeliks tussen 250 en 300 aanvalle op burgerlikes uit.

Die Islamitiese Staat (IS) het tot so onlangs as 2014 nog groot dele van Sirië en Irak beheer en het ʼn skrikbewind onder veral minderhede gevoer met duisende mense wat hul lewe verloor het. In 2015 het dié terreurorganisasie 30 000 vegters en ʼn begroting van $1 miljard gehad.

Amerikaanse soldate neem ‘n blaaskans te midde van die chaos op die lughawe in Kaboel waar duisende Afghane saamgedromg het in die hoop dat hulle landuit kan vlug. (Foto: Wakil Kohsar/AFP)

Danksy ʼn gekoördineerde veldtog waarin die VSA ʼn belangrike rol gespeel het, het die Islamitiese Staat teen 2017 98% van sy grondgebied verloor. Intussen het die groep na afgeleë gebiede van Sirië en Irak uitgewyk. Hulle het ook die afgelope paar jaar ʼn sterk teenwoordigheid in Afghanistan ontwikkel. Die afgelope tyd het die organisasie ook na Oos-Afrika uitgebrei en die onlangse aanvalle in die noorde van Mosambiek is deur ʼn IS-filiaal uitgevoer. Verskeie dorpe in Cabo Delgado in die noorde van Mosambiek word tans deur dié groep beheer.

Sowel Al Kaïda as die Islamitiese Staat het bande met ander terreurgroepe soos Boko Haram, wat veral in Nigerië aktief is, en Al Shabaab wat in Somalië terreurdade pleeg en groot dele van dié land se grondgebied beheer. Die groot vraag is of hierdie terreurgroepe hul aktiwiteite ook na ander wêreldstreke en veral Westerse lande gaan uitbrei.

Terwyl die oorlog in Afghanistan ʼn ramp vir die Amerikaners was, was die Amerikaners en die meeste Europese lande die afgelope twee dekades baie suksesvol met die ontwikkeling van uitgebreide teenterreur-inisiatiewe waardeur honderde potensiële terreuraanvalle gefnuik is.

ʼn Omvattende netwerk van intelligensiebronne is reeds ontwikkel en met die hulp van tegnologie slaag Westerse lande goed daarin om terreurgroepe op die agtervoet te hou en aanvalle in die VSA en Europa grootliks te voorkom.

Dit is egter bekend dat Al Kaïda dit as een van sy primêre doelwitte beskou om die Weste, en veral die VSA, aan te val. Die vraag ná die val van Afghanistan is nou of Al Kaïda weer in Afghanistan sal organiseer en of die organisasie weer aanvalle op die Weste sal beplan.

Westerse lande, en veral die VSA, moet ná die tragiese gebeure in Afghanistan ʼn paar dinge dringend doen. Eerstens is dit nodig om ernstig te besin oor wat in Afghanistan verkeerd geloop het.

(Foto: JOHN MOORE/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die VSA het meer as $2 biljoen (“trillion”) in Afghanistan bestee. Die meeste van hierdie besteding is deur die Taliban se oorwinning ongedaan gemaak. Die Biden-administrasie se hantering van die onttrekking was swak, maar die hele oefening die afgelope twee dekades was op die verkeerde veronderstellings gebou en was altyd tot mislukking gedoem.

Tweedens is dit nodig om ernstig te kyk na die internasionale steun wat die Taliban geniet. Dié groep kry veral uitgebreide finansiële steun en intelligensie uit Pakistan en dit is nodig dat Westerse lande Pakistan hiervoor verantwoordelik moet hou.

Derdens is dit belangrik om ʼn nuwe strategie te ontwikkel om die hergroepering van terreurgroepe wat die Weste wil aanval, teen te werk. Konvensionele oorlogvoering is nie die antwoord nie.

Vertroue in Westerse lande en die geloofwaardigheid van veral die VSA het groot skade gely. Om sinvolle alliansies in streke soos die Midde-Ooste en Afrika aan te gaan sal Westerse lande die vertrouensverhouding met vennote in dié streke moet herstel.

Islamitiese terreur is lank reeds ʼn groot uitdaging. Terwyl talle aanvalle op lande soos die VSA, Frankryk, Duitsland, België, Spanje en Oostenryk die afgelope twee dekades geloods is, het die groter terreuraanvalle egter in die Midde-Ooste en Afrika voorgekom en dit is waar terreurgroepe tans bykans daagliks aanvalle loods.

Terwyl die Amerikaners reg is om te sê dat die situasie in Afghanistan deur die land se mense self opgelos moet word, moet Westerse lande op langtermyn-oplossings vir Islamitiese terreur fokus om sodoende aanvalle op eie bodem te voorkom. Een deel van die oplossing lê in goeie teenterreur-inisiatiewe. Nog ʼn deel lê in beter immigrasiewette, beter grensbeheer en die voorkoming van die radikalisering van plaaslike Moslembevolkings. ʼn Belangrike deel van die antwoord lê egter opgesluit in die lande en streke waar terreur tans floreer. Slegs lande met goeie stabiele regerings, sterk ekonomiese groei en ʼn wil om terreur te beveg, sal daarin slaag om groepe soos Al Kaïda en IS uit te wis.

Geopolitieke implikasies van Taliban-oorname

Afghaanse veiligheidsmagte tydens ‘n operasie teen die Taliban. Foto: Javed Tanveer/AFP

Die Taliban se oorname van Afghanistan twintig jaar nadat die Amerikaanse regering die Taliban uit Kaboel verdryf het, hou groot geopolitieke implikasies vir die Midde-Ooste en Sentraal-Asië in. Terwyl die grootste verloorders sonder twyfel die mense van Afghanistan, veral minderhede, vroue en opponente van die Taliban is, is die Weste, veral die VSA ook ’n groot verloorder.

Terwyl die Taliban ná twintig jaar se oorlog verlede Sondag triomfantelik was, lê ’n uitdagende tyd vir dié terreurorganisasie voor om stabiliteit in ’n land met ernstige politieke, ekonomiese en maatskaplike probleme te bring. Dit is een ding om ’n fanatiese oorlog met brute geweld te voer, maar dis ’n totaal ander ding om ’n land van 38 miljoen mense, wat deur enorme uitdagings in die gesig gestaar word, te regeer.

Terwyl buurlande soos Iran, Oesbekistan en Tadjikistan bekommerd is oor dié gebeure en veral ’n moontlike toename van vlugtelinge na hulle lande, is die een buurland wat die Taliban se oorwinning, as ’n oorwinning vir homself beskou, sekerlik Pakistan. Dit is ’n bekende geheim dat die Taliban reeds sedert die 1990’s deur Pakistan ondersteun word en dat die Taliban in 1994 juis geskep is deur Afghaanse vlugtelinge wat in Pakistan tuis was.

Pakistan se eerste minister, Imram Khan, het Maandag op die Taliban se oorwinning gereageer deur te sê dat Afghanistan nou die boeie van slawerny verbreek het. Baie gematigde organisasies in Pakistan het egter hulle kommer uitgespreek oor die kanse dat fundamentalistiese groepe in Pakistan nou ook versterk sal word en dat hulle saam met die Taliban ’n veilige hawe vir terreurgroepe in Afghanistan en Pakistan sal skep.

Nog ’n rede waarom dit ’n oorwinning vir Pakistan is, is omdat die oorname van die Taliban ook ’n groot terugslag vir Indië is. Indië en Pakistan is aartsvyande en Indië het die afgelope paar jaar homself naby aan die demokratiese regering van Afghanistan geposisioneer met Indiese maatskappye wat direk in die ontwikkeling van Afghanistan betrokke geraak het. Indië het homself ook die afgelope paar jaar naby aan die VSA en die Weste geposisioneer, wat tot heelwat kommer in veiligheidskringe in Pakistan aanleiding gegee het.

Terwyl Iran se leierskap ook die Taliban se oorwinning verwelkom het, is dit gebaseer op Iran se haat vir die Weste en veral die VSA. Iran het egter ook rede om bekommerd te wees juis weens die grens wat hy met Afghanistan deel en verder weens die belange van die Sjiïete-Moslem minderheid in Afghanistan wat gereeld deur terreurgroepe aangeval word, en wat tussen 1996 en 2001 deur die Taliban onderdruk is. Iran beskou homself as die behoeder van Sjiïete-Moslems se regte in die Midde-Ooste.

Ook Turkye het die Taliban se oorwinning verwelkom. Dit is ook weens ’n afkeur in die betrokkenheid van die VSA in dié streek. Turkye word egter ook deur groot uitdagings, met ’n styging in vlugtelinge, in die gesig gestaar.

Daarmee saam is baie Europese lande ook bekommerd dat ’n vlaag vlugtelinge, soos gedurende die immigrasiekrisis van 2015, weer in Europa kan aankom. Daar word reeds met lande soos Turkye oor maniere onderhandel om die aankoms van vlugtelinge te stuit.

Beide Rusland en China wil nie sien dat die VSA in Sentraal-Asië ’n vastrapplek kry nie. Daarom is beide lande heimlik verheug oor die VSA se onttrekking uit Afghanistan. Daar is egter ook vir beide lande ’n risiko sou Afghanistan ’n tuiste vir terreurgroepe word. Rusland en China het al groot uitdagings met Islamitiese terreur ervaar en wil nie sien dat terreurgroepe ’n vastrapplek in Afghanistan kry nie.

Katar het die afgelope paar jaar ’n tuiste vir die Taliban gebied en die groep se politieke kantoor was in Doha gesetel. Terwyl Katar ook nou saamwerk met Westerse lande soos die VSA, probeer Katar ’n balans tussen sy bondgenootskappe met fundamentalistiese Islamitiese organisasies en die Weste te vind.

Talle ryker Golflande, insluitende Katar, is wel bekommerd dat Islamitiese terreurgroepe wat ’n houvas in die streek kry ook hulle eie bevolkings kan beïnvloed. Terwyl lande soos die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrain, Oman en Saoedi-Arabië konserwatiewe Moslembevolkings het, wil nie een van hierdie lande sien dat terreurgroepe se invloed in die streek uitbrei nie.

Die grootste geopolitieke implikasie van die Taliban se oorwinning bly egter die persepsie van Amerikaanse agteruitgang as globale rolspeler. Dit is veral China wat hierdie narratief bevorder en China sal nou voortgaan om Amerika se beweerde agteruitgang en sy eie globale invloed te propageer. Daarmee saam is die Taliban se oorwinning dus ’n nederlaag vir nie nét die VSA nie, maar in die algemeen ook die Weste en liberale demokrasie.

Chinese strewe kan nuwe kernwapenwedloop tot gevolg hê

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

President Xi Jinping van China is duidelik vasbeslote om China se kernarsenaal vinniger uit te bou as wat die Amerikaanse en selfs Russiese regerings tot dusver verwag het. Dit het onlangs aan die lig gekom dat China besig is om minstens 119, maar dalk selfs soveel as 250 vuurpylsilo’s in die Gasu-woestyn te bou.

Volgens die Amerikaanse departement van verdediging se beramings het China die afgelope dekade sy kernarsenaal tot tussen 320 en 350 kernkoppe uitgebrei en hulle verwag dat die Chinese dit oor die volgende dekade kan verdubbel.

Sou die inligting oor die bou van die silo’s, wat deur privaat satelliete verkry is, korrek wees, is dit egter moontlik dat China teen 2030 reeds meer as 1 000 kernwapens sal kan stoor.

Terwyl die VSA en Rusland sedert die Koue Oorlog saam meer as 80% van die wêreld se kernwapens besit, was die Chinese se benadering tot dusver om ʼn kern-arsenaal in stand te hou wat as ʼn soort “minimale afskrikmiddel” kan dien. Dit lyk egter toenemend asof China sy kernvermoë tot die vlak van dié van Rusland en die VSA wil uitbrei.

Teen die einde van 2020 het Rusland 6 375 kernwapens gehad, die VSA 5 800, China 320, Frankryk 290, die Verenigde Koninkryk 215, Pakistan 160, Indië 150, Israel 90 en Noord-Korea 35.

Terwyl onderhandelinge tussen die VSA en Rusland oor die beperking van hulle kernprogramme voortduur en daar tans met Iran onderhandel word om te voorkom dat Iran ʼn kernwapen vervaardig, is dit egter duidelik dat Noord-Korea ook sy kernarsenaal wil uitbrei terwyl China toenemend saam met die VSA en Rusland as een van die voorste kernmoondhede ter wêreld gesien wil word.

Dit kan tot ʼn nuwe kernwapenwedloop aanleiding gee met meer lande wat kernwapens ontwikkel, maar dit kan ook daartoe lei dat ʼn land soos die VSA sy kernprogram uitbrei om steeds die voorloper op die gebied te wees. Terwyl nie die VSA, Rusland of China in ʼn kernoorlog betrokke wil raak nie, lê daar ʼn groot risiko opgesluit in China se uitbreiding van sy kernwapenprogram.

Terwyl die benadering die afgelope paar jaar daarop ingestel was om kernwapens in die wêreld te beperk, en baie lande soos China, die VK en Frankryk slegs kernwapens behou het as deel van ʼn minimale afskrikmiddelstrategie, kan China se aspirasies die risiko vir ʼn kernoorlog verhoog.

Dit is veral die Amerikaners wat hieroor bekommerd is. Wat verder hiertoe bydra, is die toenemende militêre samewerking tussen Rusland en China. Dié twee lande het onlangs saam ʼn groot militêre oefening gehou. Hoewel Rusland en China se globale doelwitte wesenlik verskil en selfs met mekaar bots, probeer hulle ʼn duidelike boodskap aan die VSA stuur. Dit is in Amerika se belang om met Rusland saam te werk om te verhoed dat China ʼn voorste kernmoondheid word. Tans lyk dit egter onwaarskynlik dat die Amerikaners bereid sal wees om op hierdie terrein nouer met Rusland saam te werk.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
groenboer

Ek wonder of die VSA noodwendig die Afghanistan-gemors as ‘n ondubbelsinnige nederlaag behoort te sien. Dit kan immers ook gesien word as ‘n duur en gevaarlike remskoen waarvan nou uiteindelik ontslae geraak is. ‘n Nederlaag vir liberale demokrasie? Miskien ook nie juis nie, want westerse liberale demokrasie is ‘n feitlik uniek westerse ding wat in elk geval nog nooit elders veel inslag gevind het nie, en straks ook nooit sal nie. Wat die VSA wel goed sal doen is om tog nou vir eens en vir altyd die les te leer, en op te hou om die een agterlike hool… Lees meer »

Jasper

Biden behoort aanspreeklik gehou te word hiervoor en vervolg te word.

petro

Elke mens wat nou deur die Taliban vermoor word, moet op Biden se kop gesit word, want dit is sy skuld!

piet

VSA is eintlik in ‘n moeilike posisie. Stasioneer hulle troepe om die vrede te bewaar en terrorisme te beveg, moan mense. Onttrek hulle dat die terroriste oorvat, moan mense ook. So wat nou? En dikwels is dit ander 1st wereld lande soos Brittanje wat die meeste hieroor te se het. So hoekom doen Brittanje nie nou die nodige nie en stuur hulle troepe in nie, dan kan almal mos weer moan dat hulle daar is. Wat gaan die res van die wereld doen as die VSA besluit hulle help nou glad nie meer teen terrorisme in ander lande nie? Pasop… Lees meer »