Internasionale oorsig: Vragmotorprotes verteenwoordig toenemend iets groter  

(Foto: SPENCER PLATT/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, het die afgelope week voet by stuk gehou dat die afgelope twee weke se protesaksie deur vragmotorbestuurders in die Kanadese hoofstad, en nou ook by grensposte tussen Kanada en die VSA, deur ʼn klein minderheid “randfigure met onaanvaarbare sienings” gedryf word. Trudeau weier om met die organiseerders van die protesoptrede te vergader en ondersteun eerder pogings deur die burgemeester van die hoofstad, Ottawa, en die regerings van die provinsies Quebec en Ontario om die protes hardhandig tot ʼn einde te bring.

Die sogenaamde vryheidskonvooi van vragmotors en motors het aan die einde van Januarie uit verskillende dele van Kanada na Ottawa opgeruk om te protesteer teen die regering se besluit dat alle vragmotorbestuurders wat goedere na en van die VSA vervoer, ingeënt moet wees. Sedertdien het die protes egter ontaard in ʼn algemene protes teen voortdurende outoritêre regeringsoptrede soos voortslepende inperkingsmaatreëls, die verpligte dra van maskers en verpligte inentings.

Die grensblokkade by die Ambassador-brug. (Foto: Geoff Robins/AFP)

Die afgelope week is die Ambassador-brug tussen Ontario en die Amerikaanse stad Detroit ook deur vragmotors versper en het alle verkeer oor dié brug tot stilstand gekom. Sowat 30% van alle handel tussen die VSA en Kanada word oor dié brug vervoer. Ook ʼn grenspos tussen Montana in die VSA en Alberta in Kanada is versper. Motorvervaardigers soos Ford en Toyota moes die afgelope week hul produksie in Kanada staak weens ʼn tekort aan onderdele wat uit die VSA ingevoer word.

Die minderheidsregering van Trudeau in Kanada weier egter om huidige maatreëls te verslap of om enigsins met die protesleiers in gesprek te tree. Volgens die Leger-opname wat die afgelope week in Kanada gedoen is, stem twee derdes van Kanadese nie saam met die protesoptrede nie. Meer as 30% van Kanadese steun wel die protes en 44% van respondente het in die opname gesê dat hulle simpatie met die frustrasies van die vragmotorbestuurders het. Dit is duidelik nie ʼn klein minderheid randfigure nie.

Die afgelope twee weke het die Trudeau-regering en die hoofstroommedia in Kanada ook probeer om die betogers as ekstremiste uit te beeld. Terwyl duisende mense aan die protes deelgeneem het, is een persoon met ʼn swastika-simbool en een persoon met ʼn vlag van die voormalige Gekonfedereerde State van Amerika afgeneem as bewys dat die protes deur ekstremiste gedryf word. Hierdie persone was egter die uitsondering.

Justin Trudeau. Foto: (Justin Tang/The Canadian Press via AP)

Dit raak duidelik dat die meeste mense wat by die protes betrokke is, mense is wat moeg is vir die Kanadese regering se voortslepende maatreëls wat groot ekonomiese skade veroorsaak het en steeds mense se persoonlike vryhede beperk. Die fokus van die protes het duidelik verskuif na die aandrang om terug te beweeg na die ou normaal van voor die pandemie.

Tussen 85% en 90% van vragmotorbestuurders in Kanada is teen Covid-19 ingeënt. Die protes is nie ʼn protes deur ʼn klein groepie sogenaamde anti-vaxxers en randfigure nie, maar wel deur mense wat voel dat die regering moet ophou om mense te verplig om dinge te doen wat hulle nie wil doen nie.

Wat die Leger-ondersoek aangetoon het, is dat ʼn groterwordende billike groep Kanadese ook teen hulle regering se volgehoue noodmaatreëls gekant is. Trudeau se eie gewildheid is aan die afneem en in die nuutste Angus Reid-peiling is meer as 53% van Kanadese ontevrede met sy werksprestasie. Slegs 42% is tevrede.

Terwyl die meeste Amerikaanse deelstate en lande soos Mexiko, Brittanje, Denemarke, Tsjeggië, Swede, Noorweë en Griekeland byna alle Covid-19-maatreëls opgehef het, is daar sommige lande soos Kanada, Nieu-Seeland en Nederland waar volgehoue streng maatreëls tot toenemende protes lei. Sommige Duitse deelstate het ook maatreëls begin verlig ná volgehoue protes deur burgers.

In Nederland het ʼn meerderheid in die Tweede Kamer van die parlement die afgelope week ten gunste van die intrek van ʼn wetsvoorstel gestem waarvolgens slegs persone wat volledig ingeënt is en persone wat onlangs Covid-19 gehad het, toegang tot openbare plekke soos restaurante en sportbyeenkomste sou kry. Navorsing deur die Tegniese Universiteit in Delft het onlangs bevind dat die wetsvoorstel geen bydrae sou lewer in die stryd teen Covid-19 nie.

Die huidige koalisieregering in Nederland se gewildheid het die afgelope weke skerp afgeneem, veral weens Nederlanders se frustrasie met volgehoue streng maatreëls wat mense se vryhede beperk, en wat veral in die gasvryheidsbedryf groot ekonomiese skade veroorsaak.

Betoger in Nieu-Seeland. (Foto: Marty Melville/AFP)

In Nieu-Seeland het honderde vragmotorbestuurders ook die afgelope week na die hoofstad, Wellington, opgedruk om teen dié land se streng maatreëls protes aan te teken. Dieselfde word nou in Australië beplan. Ook in Frankryk was daar die afgelope week ʼn soortgelyke protesaksie.

Dit raak duidelik dat die Kanadese protes vir meer en meer mense oral ter wêreld simbolies is van die stryd om normaliteit en persoonlike vryheid te herstel. Die Kanadese regering se hantering van die protes verteenwoordig nie klassieke liberale denke oor vryheid nie. Daarvoor kan die Trudeau-regering uiteindelik ʼn duur politieke prys betaal. Ook in Nieu-Seeland is Jacinda Ardern se regering besig om sy hand te oorspeel.

Covid-19 is ʼn ernstige siekte, en vir twee jaar het ʼn billike meerderheid van mense wêreldwyd toegelaat dat hulle vryheid beperk word ten einde soveel moontlik mense te beskerm. Die tyd het egter aangebreek vir mense om hulle vryheid weer op te eis. Juis daarom gaan die Kanadese protes nie sommer net deur aanvallende retoriek beëindig word nie.

Skerp afname in gewildheid van nuwe Duitse regering

Olaf Scholz (Foto: Tobias SCHWARZ/AFP)

Die uitslae van drie peilings wat die afgelope week in Duitsland bekend gemaak is, toon dat die Christen-Demokratiese Unie (CDU), wat federale regerings van 2005 tot 2021 gelei het maar wat sedert die verkiesing verlede jaar na die opposisiebank gedemoveer is, weer die gewildste party in Duitsland is. In die Forsa-peiling staan die CDU se steun op 27%, gevolg deur die regerende Sosiaal-Demokrate (SPD) op 22%, die Groen Party op 16% en die liberale Vrye Demokrate (FDP) op 9%. Volgens die INSA-peiling geniet die CDU 26% van die steun en die SPD 23%. Volgens die pollytix-peiling beloop die CDU se steun 27% en die SPD se steun 23%. Die FDP, wat sedert Desember 2021 saam met die SPD en die Groen Party in ʼn koalisieregering is, se steun wissel tussen 9% en 12%, en die regse Alternatief vir Duitsland (AfD) se steun wissel tussen 10% en 12%.

Daar is verskeie redes vir die CDU se styging in steun en vir die SPD se daling. In die federale verkiesing wat op 26 September 2021 plaasgevind het, het die SPD eerste geëindig met 25,7% van die stemme (die laagste stempersentasie vir ʼn party wat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog eerste geëindig het). Die CDU het slegs 24,1% van die stemme op hom verenig (sy swakste prestasie ooit) en die Groen Party was derde met 14,8%. Die FDP was vierde met 11,5%.

Sedert die nuwe koalisieregering aan bewind gekom het, het sy steun egter voortdurend afgeneem en dit is veral die nuwe kanselier, Olaf Scholz, wat ʼn duur prys betaal. Ná 16 jaar van Angela Merkel as kanselier is Duitsers tans nie baie tevrede met Scholz se prestasie nie. Daar is deesdae op sosiale media in Duitsland selfs ʼn hutsmerk wat die vraag vra: Waar is Olaf Scholz?

Volgens ʼn meningspeiling van Infratest Dimap is slegs 43% van Duitsers tevrede met Scholz. Vroeg in Januarie was 60% nog tevrede met hom. Binnelandse en buitelandse kwessies dra tot die huidige stand van sake by. Duitsland se rol in die hantering van die Oekraïne-krisis en Duitsland se verhouding met China plaas groot druk op Scholz en sy regering.

Dit is egter die voortslepende pandemie, inperkingsmaatreëls en die ekonomiese gevolge daarvan wat Duitsers die ongelukkigste maak. Stygende inflasie en die feit dat Duitsland tans in ʼn resessie verkeer, is besig om tot groot ongeduld te lei.

Passasiers by ʼn trein in Frankfurt, Duitsland (8 Oktober 2020) (Foto: AP Photo/Michael Probst)

Die Duitse ekonomie het in 2020 met 4,6% gekrimp en in 2021 met slegs 2,8% gegroei. Teen die einde van 2021 het die Duitse ekonomie egter weer begin krimp en die verwagtinge vir groei vir 2022 is baie laag. Die Duitse Kamer van Nywerheid en Koophandel het verlede week sy groeiverwagting vir die Duitse ekonomie van 3,6% na 3% afwaarts aangepas. Van die probleme in die Duitse ekonomie is die stygende energiekoste, grondstoftekorte, streng regulasies wat die nuwe regering ingestel het, ʼn tekort aan geskoolde arbeid en versteurings in internasionale voorsieningskettings. Baie Duitsers hou ook nog hul beursies toe en wil weens onsekerheid oor ekonomiese vooruitsigte nie nou geld op duur items uitgee nie.

Die Kamer van Koophandel het ook gesê dat 64% van Duitse maatskappye stygende koste as die grootste risiko beskou. Duitse maatskappye is ook toenemend negatief oor die groeiverwagtinge op die kort duur. Uit die sewe grootste ekonomieë in die wêreld het Duitsland tans verreweg die hoogste energiepryse en met die nuwe regering se planne om vinniger na hernubare energie om te skakel kan energiepryse oor die volgende paar jaar waarskynlik bly styg.

In Desember 2021 was die inflasiekoers in Duitsland 5,3% en in Januarie 2022 was dit 4,9%. Daar heers egter kommer dat hoë inflasie nog vir die volgende twee tot drie kwartale kan voortduur wat Duitse produkte toenemend minder mededingend kan maak. Talle Duitse verbruikers voel ook die styging in pryse aan hul sak en gee die regering die skuld daarvoor.

Terwyl die nuwe Duitse koalisieregering besig is om sy voete te vind, is die uitdagings waarmee hy te kampe het reeds baie groot. Die afgelope twee weke het Scholz probeer om duideliker standpunt in te neem oor die krisis in die ooste van Oekraïne, maar die Franse president Emmanuel Macron is tans die Europese leier wat die hardste probeer om die krisis op te los. Scholz se poging staan in kontras met die leidinggewende posisie wat Merkel die afgelope paar jaar in Europese aangeleenthede ingeneem het.

Friedrich Merz. Foto: (Michael Kappeler/dpa via AP)

Die CDU het intussen ʼn veel meer konserwatiewe leier, Friedrich Merz, tot leier verkies. Merz verteenwoordig die meer behoudende deel van die CDU en wil die party tot ʼn mate na sy wortels terugneem. Merz wil egter ook die CDU vernuwe en die party meer aanpas om beter verkiesingsveldtogte te voer. Die afgelope paar jaar het die party voortdurend staatgemaak op die persoonlike steun wat Merkel geniet het om verkiesings te wen. Vir eers moet Merz egter lede van die CDU verenig en interne verdeeldheid bylê.

Die eerste toets by die stembus vir sowel Scholz as Merz sal op 27 Maart wees wanneer kiesers in die deelstaat Saarland na die stembus gaan. Saarland word sedert 1999 deur die CDU regeer en die party kan nie bekostig om vanjaar daar te verloor nie omdat dit sy huidige momentum grootliks sal stuit. Hoewel dit die deelstaat met die tweede kleinste bevolking is, sal die verkiesing dus ook in Berlyn dopgehou word om tendense onder Duitse kiesers waar te neem.

Kiesers in Noordryn-Wesfale, die Duitse deelstaat met die grootste bevolking, en Sleeswyk-Holstein, ʼn kleiner deelstaat in die verre noordweste van die land, sal in Mei na die stembus gaan. Later vanjaar, in die Europese herfs, sal kiesers in Nedersakse ook gaan stem. ʼn Interessante jaar lê in die Duitse politiek voor. Dit is duidelik dat die huidige regering deur groot uitdagings in die gesig gestaar word en dat die CDU vanuit die opposisie ʼn gulde geleentheid het om te vernuwe en homself weer opnuut as die voorste naoorlogse party vir die Duitsers aan te bied.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miskruier

Presies, die breinspoel van mense om alles gelate te aanvaar is besig om sy g+t te sien

Heinrich

Snaaks, die enigste mense wat bang is dat hulle aangesteek sal word is die wat inge-ent is. Mense het te ‘complacent’ geword en dis goed dat hulle bietjie wakker word en opstaan teen regerings se magsvergrype.