Die afgelope twee weke is meer as drie miljoen mense per dag teen die koronavirus in die VSA ingeënt. Meer as 135 miljoen Amerikaners het reeds een dosis entstof ontvang en byna 90 miljoen, oftewel meer as ’n kwart van die Amerikaanse bevolking is reeds volledig ingeënt. Byna 290 miljoen dosisse entstof is reeds oor die hele VSA versprei. Daar word verwag dat 70% van die Amerikaanse bevolking teen 26 Junie en 80% teen 18 Julie ingeënt sal wees en dat die land dan kudde-immuniteit sal bereik.
Daar is egter steeds vrae oor of die huidige tempo van inentings behou sal kan word veral omdat daar onder baie konserwatiewe Amerikaners skeptisisme oor die entstowwe bestaan. Die tydelike opskorting van die gebruik van die Johnson & Johnson-entstof het veral hierdie skeptisisme vererger.
Die afgelope week was daar egter steeds ’n afname in nuwe gevalle en sterftes in die VSA. Verskeie deelstate het aangekondig dat inperkingsmaatreëls verder verslap gaan word. Dit word juis toegeskryf aan die suksesvolle implementering van die VSA se inentingsprogram.
Die VSA is van die grootste lande volgens bevolking in die wêreld tans, en naas Brittanje, die suksesvolste land met sy inentingsprogram. Die VSA het, net soos Brittanje, reeds vroeg tydens die pandemie op die ontwikkeling van entstowwe begin fokus. Terwyl die Universiteit van Oxford en AstraZeneca met behulp van die Britse regering ’n entstof ontwikkel het, het voormalige president Donald Trump in die VSA Amerikaanse maatskappye soos Johnson & Johnson, Pfizer en Moderna ondersteun met die ontwikkeling van entstowwe.
Die VSA vervaardig dus self die meeste van sy entstowwe en omdat daar drie verskillende entstowwe beskikbaar is, kan entstowwe volgens hul stoor- en vervoervereistes aan verskillende geografiese areas toegeken word. Die VSA het homself as land ook die afgelope maande bewys as ’n meester van logistieke beplanning en die skaal waarop entstowwe vervaardig, gestoor, versprei en by spesiale fasiliteite beskikbaar gestel word, is indrukwekkend.
Meer as 500 000 Amerikaners het weens Covid-19 in die VSA gesterf. Dit is egter per capita minder as 13 ander lande in die wêreld insluitende talle Europese lande soos Hongarye, België, Tsjeggië en Italië. Die afgelope week het die getal mense wat positief vir die virus in Indië toets, tot meer as 300 000 per dag gestyg en daar heers baie onsekerheid oor die akkuraatheid van hierdie getalle en veral oor die getal sterftes wat waarskynlik wesenlik meer is as wat berig word.
Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het onlangs sy ekonomiese groeiverwagtinge vir die VSA vir vanjaar van 5,1% tot 6,4% aangepas. Die IMF verwag dat die VSA se ekonomie vanjaar reeds die verlies wat verlede jaar gelei is, gaan inhaal en dat die Amerikaanse ekonomie teen 2024 groter gaan wees as wat dit sou wees, sou die pandemie nie plaasgevind het nie. Dit is ’n aanduiding van die veerkragtigheid van die Amerikaanse ekonomie wat oor die volgende paar maande tot sterk groei aanleiding gaan gee.
Die VSA het ook onlangs die grootste finansiële bydraer tot die globale entstof inisiatief, Covax, geword. Die VSA verwag dat miljoene dosisse Amerikaanse entstowwe teen die tweede helfte van 2021 na die res van die wêreld uitgevoer sal word. Daarmee saam sal die VSA die entstofdiplomasie van lande soos China en Rusland kan teenwerk.
Pandemie bereik krisispunt in Indië
Die gerespekteerde epidemioloog en navorser vir die Princeton Universiteit in die VSA, Ramanan Laxminarayan, het vyf weke gelede gesê dat hy optimisties is dat die Covid-19-pandemie wêreldwyd en in Indië, Januarie sy hoogtepunt bereik het en dat die ergste verby is.
Laxminarayan het met goeie rede verwys na ondersoeke in stede soos Nieu-Delhi en Moembai wat bewys het dat soveel as een derde van inwoners reeds die virus onder lede gehad het. Die afgelope twee weke het gevalle van die koronavirus egter in Indië die hoogte in geskiet en oor die afgelope paar dae is tot meer as 300 000 mense per dag in Indië positief getoets. Ook die dodetal het die hoogte in geskiet en daar word allerweë aanvaar dat die infeksiesyfer en die sterftesyfer in Indië heelwat hoër as die amptelike syfers is.
Kenners is dit eens dat die huidige toename in Indië as ’n verrassing kom en dat niemand verwag het dat dit so ernstig sou wees nie. Die afgelope week het daar reeds tekorte aan suurstof en hospitaalbeddens oor die hele Indië ontstaan en krematoriums het gesê dat hulle nie met die verassing van persone wat aan Covid-19 sterf kan byhou nie. ’n Ondersoek deur Al Jazeera het bewys dat baie meer liggame in sommige stede by krematoriums veras is, as wat die amptelike data aandui.
Volgens Manoj Murhekar, ’n epidemioloog van die Nasionale Instituut vir Epidemiologie in Chennai, Indië het tot 50% van mense in sommige digbevolkte woonbuurte in Indië reeds die virus teen Februarie opgedoen. Hy het die navorsing oor mense met teenliggame gedoen en volgens sy span se navorsing het 271 miljoen van Indië se 1,4 miljard inwoners teen Februarie reeds die virus opgedoen. Sy verwagting, net soos dié van Laxminarayan was dat dit tot ’n mate van immuniteit aanleiding moes gee en ’n groot nuwe uitbreking sou verhoed.
Die Indiese regering was dus nie voorbereid vir die huidige golf van infeksies nie. Indië is berug vir digbevolkte krotbuurte in groot stede waar swak higiëne ’n algemene verskynsel is. Dit maak Indië een van die moeilikste lande ter wêreld om die virus te beveg.
Indië is die wêreld se grootste vervaardiger van entstowwe, maar die meeste hiervan word in opdrag van oorsese farmaseutiese maatskappye vervaardig en dus uitgevoer. Die Indiese regering het reeds 120 miljoen dosisse van die Oxford-AstraZeneca-entstof wat in Indië vervaardig is, toegedien. Dit beteken egter dat minder as 10% van die Indiese bevolking reeds een dosis van die entstof ontvang het. Dit kan dus nog baie lank neem voordat genoeg mense in Indië ingeënt kan word ten einde kudde-immuniteit te bereik.
Intussen stel die regering inperkingsmaatreëls in, maar dit lyk nie asof hierdie maatreëls juis ’n verskil maak nie. ’n Paar moeilike weke lê waarskynlik in Indië voor met ’n verdere toename in nuwe infeksies en waarskynlik ’n skerp styging in sterftes weens die siekte.
Maar net weer ‘n bewys waarom die VSA die grootste werkende ekonomie in die wêreld is en die nommer een van die G8 lande is.
Wat ook genoem moet word is die kritiese belangrike rol wat private organisasies in die VSA speel in die suksesvolle uitrol van die inentings program. Hier word nie net op die staat vertrou nie. (In SA het die regering basies die inentingsprogram genasionaliseer. Wat ‘n siniese en korrupte fout.)
Wat vir my verblydend is, is dat die webwerf waar jy registreer vir die inenting ‘n lys van privaat hospitale en plekke aandui tesame met staatspersele,wat gebruik gaan word vir vaksinering.Mens moet maar sien hoe dit verder gaan verloop.As net staatspersele sou gebruik word gaan dit verseker nie werk nie.Volgens webwerf kan jy gaan na ‘n plek naaste aan jou adres,wat aangedui moet word.