Internasionale oorsig: VSA, China stuur op konflik af oor Taiwan, invloed in Asië

Mark Milley (Foto: Olivier DOULIERY/POOL/AFP)

Genl. Mark Milley, voorsitter van Amerika se gesamentlike stafhoofde, het die afgelope week in ʼn onderhoud op die Bloomberg-nuusdiens gesê dat die VSA baie bekommerd is oor China se toetsing van hipersoniese missiele en dat dit tot ʼn nuwe wapenwedloop tussen die VSA en China kan lei.

Milley se erkentenis oor China se vinnige militêre ontwikkeling volg enkele dae nadat pres. Joe Biden in ʼn televisieonderhoud gesê het dat die VSA Taiwan teen enige aanval van China sal beskerm.

Ná die CNN-onderhoud het Biden se woordvoerder aangevoer dat Biden nie van bestaande beleid afgewyk het nie en dat die VSA Taiwan steeds net sal help bewapen sodat Taiwan homself teen ʼn Chinese aanval kan beskerm. Die vraag oor hoe ver die VSA sal gaan om Taiwan te help verdedig, bly egter steeds onbeantwoord.

Die voormalige Amerikaanse adjunkminister van verdediging verantwoordelik vir strategie en weermagontwikkeling, Elbridge Colby, het onlangs gesê dat die VSA en China reeds in ʼn strategiese stryd om mag in Asië gewikkel is en dat China se militêre opbou eerstens daarop gemik is om Taiwan te beset en tweedens om die VSA, waar ook al nodig, in ʼn oorlog te verslaan.

Volgens Colby is die Biden-administrasie verkeerd deur te dink dat China net ʼn ekonomiese, politieke en tegnologiese bedreiging vir die VSA inhou en nie ook ʼn militêre bedreiging nie. China wil na sy mening Chinese oppergesag oor die hele Asië verkry en sal sy groeiende militêre mag gebruik om die VSA in Asië te verslaan. Taiwan is slegs die begin van so ʼn proses.

Soos wat Milley se bekentenis aandui, raak die Amerikaanse weermag die afgelope ruk toenemend bekommerd oor China se ontwikkeling van gevorderde wapentuig. Satellietbeelde toon hoe die Chinese weermag reeds vir gevorderde oorlogvoering teen die VSA voorberei.

China se weermag het die afgelope 25 jaar tot een van die modernste en grootste weermagte in die wêreld ontwikkel. Die Chinese vloot is reeds die grootste ter wêreld en die Chinese lugmag brei voortdurend uit. Die Chinese beskik ook reeds oor ʼn groot arsenaal gevorderde missiele en ʼn netwerk van satelliete wat in moderne oorlogvoering gebruik kan word.

Pres. Joe Biden (Foto: Filippo MONTEFORTE/AFP)

Terwyl die VSA ʼn teenvoeter vir China wil bied deur onder meer die ontwikkeling van ʼn vloot kernaangedrewe duikbote vir Australië en deur nuwe alliansies in Asië te sluit, kan dit moontlik te laat wees. Milley se erkentenis dat China se vinnige militêre ontwikkeling die VSA-regering verras het, bevestig dit.

Die oorlogswolke is reeds besig om op die horison saam te pak. Sou die VSA in samewerking met lande in Asië en die Stille Oseaan-gebied nie vinniger gereed wees om Chinese aggressie te beveg nie, kan China Taiwan gouer as wat verwag word aanval en annekseer en daarna sy invloed met aggressie oor die hele streek uitbrei en die grootste enkele militêre moondheid ter wêreld word.

Volgens Colby is die beste teenvoeter vir ʼn oorlog met China juis die VSA se uitbreiding van sy militêre mag in Asië sodat dit China kan oortuig dat die risiko vir ʼn oorlog té groot is. Dit lyk tans egter of die VSA swak voorberei is om strategiese belange en vennote in Asië te verdedig, wat die risiko vir Chinese aggressie juis vergroot. Intussen het Indië ook die afgelope week gevorderde missiele begin toets in ʼn poging om ʼn boodskap aan China te stuur nadat onderhandelinge oor ʼn grensgeskil tussen dié twee lande onlangs misluk het.

Bangmaakpraatjies in aanloop tot Glasgow-klimaatberaad

(Foto: DANIEL LEAL-OLIVAS/AFP)

Die afgelope week het die Verenigde Nasies (VN) die idee van ʼn klimaatkrisis, selfs ʼn klimaatkatastrofe wat reeds besig is om te gebeur, daagliks die wêreld ingestuur in ʼn poging om die noodsaak vir drastiese besluite by die komende klimaatberaad in Glasgow, Skotland, te verhoog. Die VN voorspel reeds vir dekades dat die aarde weens mensgemaakte klimaatsverandering onleefbaar gemaak word en dat stygende seevlakke, natuurrampe en aardverwarming tot ons ondergang gaan lei. Die waarheid is egter dat hoewel die klimaat wel verander, die VN se retoriek dramaties oordrewe is en sy eise vir ʼn totale verandering in hoe mense leef en hoe ekonomieë aangedryf word, radikaal en onnodig alarmisties is.

Die tema van vanjaar se Konferensie van Partye (COP26) in Glasgow is dan ook Globale Noodtoestand. Die beraad, wat deur tot 30 000 mense van reg oor die wêreld bygewoon sal word en wat deur verskeie konferensies en gesprekke in Italië voorafgegaan is, werk met die vertrekpunt dat die gebruik van fossielbrandstowwe atmosferiese koolstofdioksiedvlakke sodanig verhoog dat dit globale temperature verhoog, klimaatstelsels verander en tot uiterste weersomstandighede soos droogtes, hittegolwe, veldbrande, swaar reënstorms en vloede aanleiding gee.

Sedert 1995 het daar elke jaar ʼn COP plaasgevind, met verlede jaar as uitsondering. Volgens ʼn ooreenkoms wat in 2015 op die COP-beraad in Parys, Frankryk, bereik is, moet lande elke vyf jaar hul maatreëls om klimaatsverandering te bestry hersien en dit moet dus vanjaar gebeur. Vanjaar se beraad sal deur talle staatshoofde, onder wie Boris Johnson, Joe Biden, Emmanuel Macron, Justin Trudeau en Narendra Modi, bygewoon word. Twee van die belangrikste wêreldleiers, Wladimir Poetin en Xi Jinping, gaan egter nie daar wees nie.

Sedert die wêreld in 1965 vir die eerste keer oor aardverwarming gewaarsku is, het die retoriek hieroor net meer dramaties geword en word mense nou daarvan oortuig dat die wêreld se grootste ekonomieë heeltemal sal moet aanpas en dat mense heeltemal anders sal moet leef om ʼn katastrofe te voorkom. Die VN wil dus sien dat daar by die konferensie wat van 31 Oktober tot 12 November in Glasgow plaasvind onder meer drastiese stappe oor die omskakeling na skoner energiebronne geneem moet word.

Aktiviste hou ‘n betoging oor klimaatsverandering in Londen (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Die COP26-beraad in Glasgow vind plaas te midde van ʼn groter wordende energiekrisis in veral Europa, maar ook in ander lande in die Noordelike Halfrond soos China, met energiepryse wat vanjaar reeds tot soveel as 500% gestyg het en die winter wat nog voorlê. In China word reeds ʼn groot tekort aan steenkool ervaar. In talle Europese lande, waar ambisieuse teikens vir energie-oorgang geskep is, loop regerings hulle vas teen die onbetroubaarheid van alternatiewe energiebronne en ʼn skielike tekort aan elektrisiteit weens gas- en steenkooltekorte.

Terwyl daar globale konsensus is dat besoedeling verminder moet word en dat meer omgewingsvriendelike energiebronne voortdurend ontwikkel moet word, is dit ook nodig om te besef dat terwyl dit vir Brittanje moontlik is om reeds 25% van sy elektrisiteit deur wind op te wek, dit in Duitsland, met minder wind en ʼn baie hoër energiebehoefte vanweë sy nywerheidsekonomie, nie so maklik is nie. Duitsland se uitskakeling van kernenergie, sluiting van steenkoolmyne en oorhaastige afskaling van steenkoolgegenereerde elektrisiteit was dus ʼn fout.

Volgens die Bloomberg-nuusdiens moet Europese lande nou by Rusland aanklop vir die aankoop van nie net meer aardgas nie, maar ook van steenkool. Mark Mills van die Manhattan Instituut in die VSA het in 2019 reeds gewaarsku dat hernubare energiebronne nie in die wêreld se energiebehoeftes kan voorsien nie.

Michael Shellenberger van die nieregeringsorganisasie Environmental Progress het in ʼn artikel in die tydskrif Forbes selfs verder gegaan deur noukeurig te verduidelik tot watter mate die hernubare energiebedryf sélf vir erge besoedeling verantwoordelik is. Volgens hom is daar reeds erge besoedeling weens die storting van ou sonpanele in verskeie lande. Volgens Shellenberger sal 720 000 ton se windturbinelemme oor die volgende twee dekades in die VSA vernietig moet word omdat hierdie lemme ná ʼn ruk vervang moet word. Dit is baie duur om die lemme te vervaardig, dit is moeilik om dit te vervoer en dit kan nie sinvol herwin word nie.

Die Deense skrywer Bjorn Lomborg het onlangs in die Wall Street Journal gewaarsku teen bewerings dat ekstreme weerpatrone en natuurrampe toeneem. Volgens hom is die teenoorgestelde in baie gevalle eerder aan die gebeur. Volgens Lomborg se navorsing het sowat 4,2% van die aarde se oppervlak in die vroeë 1900’s jaarliks in veldbrande afgebrand. Teen die vroeë 2000’s het dit tot 3% gedaal en vanjaar kan dit tot so laag as 2,5% wees, al hoor ons amper daagliks van veldbrande en verkeer baie mense onder die indruk dat veldbrande wêreldwyd toeneem.

In sommige Europese lande word mense aangemoedig om nie meer bakstene en sement te gebruik om huise te bou nie, om net met elektriese motors te ry, om op te hou om na ander lande te vlieg, op te hou vleis eet, nie meer melk te drink nie en om aan te dring op voedselprodukte wat vervaardig word op wyses wat nie tot klimaatverandering bydra nie. By die Europese parlement is daar selfs ʼn verkeersligmeganisme in parlementslede se restaurant ingestel om mense met ʼn rooi lig te waarsku indien hulle kos bestel wat glo tot meer stikstof in die lug aanleiding gee.

‘n Betoging teen klimaatsverandering in Switserland. (Foto: Fabrice COFFRINI/AFP)

Hierdie soort oordrewe reaksie en klimaatpaniek lei tot populistiese stappe soos Duitsland se besluit om kernenergie uit te faseer en sommige lande se besluit om steenkoolmyne voortydig te sluit terwyl voldoende ontwikkeling van alternatiewe energiebronne nog nie bestaan nie. Dit dra weer by tot energietekorte en stygende koste wat groot druk op arm huishoudings wêreldwyd plaas.

Terwyl daar oor die volgende twee weke met groot dringendheid in Glasgow oor klimaatverandering gepraat sal word, sou dit egter ʼn fout wees om eksklusief na die vrystelling van kweekhuisgasse en klimaatverandering te kyk. Die uitputting van die aarde se natuurlike hulpbronne, besoedeling van riviere, die see en grond en die uitwissing van talle dier- en voëlspesies en plante hou selfs ʼn groter bedreiging vir die aarde in.

Die VN kan gerus die bangmaakpraatjies oor ʼn klimaatkatastrofe staak en eerder na volhoubare, realistiese en meer omvattende maniere kyk om die aarde te bewaar. Dit sluit in die voortdurende ontwikkeling van groener energiebronne, beter landboupraktyke, slimmer vervaardiging en die ontwikkeling van vervoertegnologie. Die huidige klimaatpaniek lei egter tot kortsigtige besluite waarvoor die wêreldekonomie ʼn duur prys kan betaal en wat uiteindelik tot groter werkloosheid en armoede kan bydra.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jacobus ·

Ongetwyfeld sal Biden Taiwan verraai. Dis in sy DNA. Saam met Corona, Afganistan wil hy politieke driekuns behaal.

groenboer ·

Mense kan gerus Bjorn Lomborg se boek “False Alarm” lees. Hy is geen klimaatsveranderingontkenner nie. Inteendeel, in sy boek gebruik hy meesal die VN se klimaatspaneel se EIE data om te demonstreer dat die paniek oordrewe is, en dat ons grootste bedreiging gebrek aan ekonomiese groei gaan wees eerder as klimaatsverandering.

Intussen is Amerika te besig om nasionale kulturele selfmoord te pleeg om nog energie oor te hê om as teenvoeter teen China te dien. Maar China se ekstreme outoritêre regering is nie op die lang duur volhoubaar nie. Met ‘n bietjie geluk stort hulle op die ou end vanself ineen.

Intussen kan mens dalk help om hul ekonomiese mag te beperk deur nie gedagteloos en op groot skaal Chinese produkte te koop nie?

Dirk Mostert ·

Goeie dekking van die klimaats “krisis”, Jaco. Die grootste pseudo-wetenskaplike Ponzi-skema in die geskiedenis. Tot onlangs. Klimaatsverandering is natuurlik en geskied reeds vir duisende miljoene jare. Die kweekhuisgas-hipotese is strydig met die wette van termodinamika (“klimatoloe” weet nie eens dat daar sulke wette is nie).
Dis goed dat die VSA nou weer Taiwan ondersteun, nadat vorige administrasies Taiwan in die steek gelaat het.

annie ·

Mmmm…. Trump het dit gesê, maar die waarheid is a la 1984 verbode. Mense hou nie van geskiedenis nie want dit vertel die waarheid. Groot gewag word gemaak oor die toekoms wat dit sê nie. Die klimaat is net ‘n pretensie as besprekingspunt by Cop26. Agter die handjies word ander woorde geuiter soos ondersteuning van Navo, hoe om Sjina en Rusland te takel en die stoute lande wat nie vir die Duitse anties wil luister nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.