Internasionale oorsig: VSA – ’n magtige moondheid sonder buitelandse beleid

Pres. Joe Biden. (Foto: JIM WATSON/AFP)

Nadat Joe Biden in Januarie as die VSA se 46ste president ingehuldig is, was die droom van sy administrasie om ’n suksesvolle regering op ambisieuse binnelandse beleid te bou, wat sou insluit ’n suksesvolle inentingsprogram teen Covid-19, ekonomiese herstel ná die pandemie en omvattende nuwe regeringsprogramme wat die mees weerlose mense in die Amerikaanse samelewing bystaan. Buitelandse beleid sou beperk wees tot ’n vriendeliker VSA wat weer ou bondgenootskappe herstel, uit die oorlog in Afghanistan onttrek en wat ferm teen sogenaamde outoritêre lande soos Rusland en China se bedreigings sou optree.

Die Biden-administrasie het in sy aanstellings in topposte en sy toekenning van hulpbronne dit duidelik gemaak dat sy fokus binnelandse aangeleenthede sou wees. Min Amerikaanse verkiesings word ooit op buitelandse beleid gewen en die meeste Amerikaanse burgers verkies buitendien dat die VSA ’n meer beperkte buitelandse rol speel.

Die afgelope tyd se gebeure het egter ’n streep deur die Biden-planne getrek. Terwyl Biden en sy regering oor sy infrastruktuurplanne, ’n enorme nuwe begroting en verskeie ander inisiatiewe teen klimaatsverandering, stedelike misdaad, werkloosheid, armoede en behuisingstekorte wil praat, domineer die VSA se chaotiese onttrekking aan Afghanistan die nuus.

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die Verenigde State van Amerika het vanuit sy bestaansjare onder leiding van sy eerste president, George Washington, ’n buitelandse beleid van neutraliteit en redelike isolasie gehandhaaf. Deur die 19de eeu het die VSA, hoewel die land se ekonomiese invloed vergroot het, homself uit internasionale politiek gehou.

Ook toe die Eerste Wêreldoorlog aanbreek wou die VSA nie betrokke raak nie. Die land is egter in die oorlog ingetrek en het die oorlog in die guns van die Geallieerdes geswaai. Ook met die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog wou die VSA nie betrokke raak nie, maar toe Japan die VSA by Pearl Harbor aanval, is die VSA weer eens by dié oorlog ook betrek. Ook tydens dié oorlog het die VSA ’n sterk, byna bepalende, invloed op die finale uitkoms gehad.

Die gevolg hiervan is dat die VSA skielik die wêreld se polisieman geword het. Die Koreaanse en Viëtnamese oorloë het daarop gevolg en die VSA het die belangrikste rolspeler teen die Sowjetunie tydens die Koue Oorlog geword.

Tydens die regerings van Ronald Reagan en George HW Bush het die VSA wegbeweeg van die rampspoedige gevolge van die Viëtnam-oorlog en met ’n duidelike buitelandse beleid is die VSA se rol in die res van die wêreld suksesvol herstel, veral ná die val van die Sowjetunie en ná die suksesvolle Golfoorlog.

In 1992 is Bill Clinton egter verkies op die basis van ’n lang lys populistiese beleidsvoorstelle, maar wat ook gesê het dat die VSA na binne moet fokus. Die VSA se buitelandse beleid het begin vervaag.

Die aanval op die Wêreldhandelsentrum in New York op 11 September 2001. (Foto: Getty Images via AFP)

Ná die terreuraanval op 11 September 2001 het George W Bush sy rampspoedige oorloë in die Midde-Ooste geloods en het die fokus van die VSA se buitelandse beleid die stryd teen terreur geword. Obama, Trump en sedert Januarie 2021 Biden, het op populistiese wyse voortgeploeter met die wete dat verkiesings gewen word oor die vraag wie die meeste voordeel uit jou regering se beleid kry en nie deur jou aansien in die wêreld nie.

Terwyl politieke polarisering die een rede hiervoor is, maak die voortdurende afwisseling tussen regerings van twee totaal uiteenlopende partye dit moeilik vir die VSA om ’n aaneenlopende stabiele buitelandse beleid te handhaaf. Die groter probleem is egter dat die verhouding tussen Amerikaanse burgers en hulle regering een van verbruik geraak het. Die regering wat die beste voordele volgens jou behoeftes bied word verkies, of herkies.

Dit het die afgelope paar jaar, veral onder Obama, Trump en Biden meegebring dat die VSA se buitelandse beleid met Amerikaners se steun vir sekere stappe in peilings verenig moes word. Indien ’n meerderheid Amerikaners verkies dat die VSA sekere stappe in die buiteland moet doen, doen die regering dit om die kiesers, of te wel, regeringsverbruikers, tevrede te stel. Obama, Trump en Biden se wil om uit Afghanistan te onttrek het direk verband gebou met die koste van die oorlog daar en Amerikaanse kiesers se steun vir ’n onttrekking.

Die gevolg van transaksionele politiek, veral wanneer dit op buitelandse beleid toegepas word, is dat besluite waarvan die langtermyn gevolge katastrofies kan wees, geneem word net sodat steunvlakke in ’n volgende reeks peilings in stand gehou kan word. Nog ’n gevolg hiervan is dat die VSA se geloofwaardigheid op die internasionale speelveld al hoe meer verswak het.

Die werklikheid is dat goeie leiers hulle mense saam met hulle neem. Reagan en Bush Sr. was die laaste twee presidente wat op die terrein van buitelandse beleid daarin kon slaag. Die VSA het nie meer ’n duidelike buitelandse beleid nie.

(Foto: JOHN MOORE/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Amerika se betrokkenheid in die Eerste Wêreldoorlog, die Koreaanse-oorlog, die Viëtnamese oorlog en meer onlangs die oorloë in Irak, Afghanistan, Sirië en Libië het elke keer slegte gevolge gehad. Die chaos in Afghanistan saam met die politieke polarisering in Washington DC bring mee dat Amerikaanse buitelandse beleid nou meer as ooit sedert die Viëtnam-oorlog gediskrediteer is.

Sonder ’n duidelike oplossing hiervoor of ’n padkaart waarvolgens ’n sinvolle kontinue beleid ontwikkel kan word, moet die VSA dalk maar terugtrek na sy meer neutrale en gereserveerde benadering van voor die Eerste Wêreldoorlog. Die probleem daarmee sal egter wees dat sy vyande hom nie gaan uitlos nie en dat hy soos wat Japan hom by Pearl Harbor in konflik ingetrek het waarskynlik weer en weer in die wêreld se groterwordende probleme ingetrek gaan word. Dit beteken maar net dat die VSA se huidige onsamehangende buitelandse beleid vir nog lank hier gaan wees om te bly.

Goeie kans dat Duitsland linkse regering gaan kry

Angela Merkel en Olaf Scholz. (Foto: Michael Sohn, AP)

Met slegs een maand oor totdat kiesers in Duitsland na die stembus gaan om lede van die federale parlement – die Bundestag – te verkies, het die sentrumlinkse SPD-party die afgelope week vir die eerste keer in 15 jaar die eerste plek in peilings begin inneem. Die rede hiervoor is die gewildheid van dié party se kandidaat vir bondskanselier, Olaf Scholz, wat tans die gewildste van al die partye se kandidate is.

Scholz verteenwoordig die gematigde deel van die SPD en is tans die minister van finansies in die regering van Angela Merkel. Scholz was tussen 2011 en 2018 die burgemeester van Duitsland se tweede grootste stad, Hamburg. Tussen 2009 en 2019 was hy adjunkleier van die SPD. Scholz het ’n loopbaan van meer as twee dekades in streeks- en federale politiek.

Gerhard Schröder was die laaste SPD-kanselier van Duitsland tussen 1998 en 2005. Schröder se ampstermyn is gekenmerk deur oorregulering van die Duitse ekonomie en uiteindelik toenemende werkloosheid. Die ekonomiese probleme wat deur die sosialistiese beleid van die koalisieregering tussen die SPD en die Groenparty veroorsaak is, het in 2005 veroorsaak dat Angela Merkel se Christen-Demokrate eerste in die verkiesing geëindig het en dat sy vir Schröder as bondskanselier uitgestof het.

Sedertdien het die SPD voortdurend verder teruggesak in peilings en het die party byna die helfte van sy setels in deelstate en op federale vlak in verkiesings verloor. Terwyl die SPD in 1998 40,9% van die stemme op hom verenig het, het dit in die laaste verkiesing in 2017 tot 20,5% teruggesak.

Nadat die party na afloop van die 2017 verkiesing halfhartig ingestem het om as junior koalisievennoot in nog ’n Merkel-regering te dien, het die party se steun verder bly terugsak en teen Januarie 2020 het dit vir die eerste keer in dekades tot minder as 15% gedaal. In 2019 het Scholz nie daarin geslaag om leier van die SPD te word nie omdat die meer aktivistiese linkse vleuel van die party hulle voorkeurleiers na vore gestoot het.

Verlede jaar het die party egter uit desperaatheid om sy agteruitgang te probeer stuit besluit om Scholz as die party se kandidaat vir bondskanselier aan te wys. Terwyl Scholz reeds 63 jaar oud is en as uiters oncharismaties voorkom, is hy verreweg die mees ervare van al die partye se kandidate. Hy verteenwoordig ook ’n stroming in die SPD van meer gematigde sosiaal-demokrate wat wel die welsynstaat wil uitbrei, maar ook in streng en gesonde fiskale beleid glo.

Armin Laschet. (Foto: Bernd von Jutrczenka/POOL/AFP)

Die CDU en sy sustersparty uit Beiere, die CSU, het vroeër vanjaar besluit om die premier van die deelstaat Noordryn-Wesfale, Armin Laschet, as die party se kandidaat om Merkel op te volg, aan te wys. Laschet, ’n bondgenoot van Merkel, is egter nie ’n indrukwekkende politikus nie, wat tans die steun van minder as 15% van Duitse kiesers geniet. Die CDU/CSU se besluit om Laschet as hulle kandidaat aan te wys is besig om in dié party se grootste fout van hierdie verkiesing te ontaard.

Terwyl die Groenparty ’n paar maande gelede in die peilings voorgeloop het, het dié party se onervare kandidaat, Annalena Baerbock, ’n hele paar blapse begaan en dié party het tot die derde plek in peilings teruggesak.

In die Forsa-peiling geniet die SPD 23% van kiesers se steun, gevolg deur die CDU met 22% en die Groenparty met 18%. Die liberale FDP staan op 12%, sy beste posisie in baie jare. Die regse AfD gaan waarskynlik steun verloor in vanjaar se verkiesing en staan op 10% in hierdie peiling.

In ’n Trend Research-peiling wat twee dae ná die Forsa-peiling bekend gemaak is, loop die CDU wel nog voor met 23% van die stemme teen die SPD se 21% en die Groenparty se 17%. Die FDP het in dié peiling 13% steun en die AfD 12%. In die jongste Kantar-peiling wat Donderdag bekendgemaak is, staan die CDU en SPD beide op 23% steun en die Groenparty op 18%.

Sedert 1957 is dit ook moontlik om per pos te stem in Duitsland. In 2017 het 28,6% van kiesers van posstemme gebruik gemaak. Daar word verwag dat dit vanjaar tot meer as 50% kan styg. Dit beteken dat ’n wesenlike deel van die kieserskorps reeds voor verkiesingsdag op 26 September kan gaan stem. Posstemme het reeds geopen en kiesers is dus reeds besig om hulle stemme uit te bring.

Annalena Baerbock (links) en Robert Habeck van die Groen Party. Foto: (Guido Kirchner/dpa via AP)

Konserwatiewe Duitsers vrees dat sou die SPD eerste in die verkiesing eindig hulle ’n koalisie met twee linkse partye, die Groenparty en Die Linke (die voormalige kommunistiese party van Oos-Duitsland) sal sluit. Dit sal die mees linkse regering in Duitsland sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog beteken. Hoewel Scholz meer gematig is, is ’n meerderheid van sy party se bestuur baie links en wil hulle nie met die CDU in nog ’n koalisieregering saamwerk nie.

Dit is ongekend vir die Duitse politiek dat daar nie ’n enkele party is wat meer as 25% steun in peilings geniet nie. Dit beteken dat daar ’n baie groot kans bestaan dat drie partye in ’n koalisieregering sal moet saamwerk. Met geen party wat bereid is om met die regse AfD saam te werk nie, is die opsies min. Die Linke-party was weens sy ekstreem linkse posisies ook nog nooit deel van ’n federale koalisieregering nie.

Die SPD sou ook ’n koalisie met die Groenparty en die FDP kon aangaan. Die FDP se hooffokus is ’n vryemark ekonomie en die party verteenwoordig veral sakelui en ryker Duitsers wat bekommerd is oor regulering, belasting, fiskale beleid, infrastruktuur en internasionale handel. Baie van die FDP se standpunte is moeilik versoenbaar met die SPD en nog moeiliker versoenbaar met die Groenparty.

Die FDP se natuurlik koalisievennoot is die CDU/CSU, maar dié twee partye gaan nie genoeg stemme kry om ’n meerderheidsregering te vorm nie. Die CDU se veldtog is verstommend swak. Niemand weet presies waarvoor hulle staan en watter visie hulle aanbied nie.

Merkel en die meeste van haar kabinetslede is totaal afwesig van die verkiesingsveldtog. Merkel is die een persoon wat die verkiesing in die guns van Laschet kan swaai, maar sy verkies blykbaar om ’n afstand te hou.

Sou die CDU wel daarin slaag om net-net eerste te eindig sal die party ook baie moeilik ’n koalisieregering kan vorm. Hulle sal met die FDP kan saamwerk, maar sal dan die SPD of die Groenes moet inbring wat dinge ernstig sal kompliseer.

Angela Merkel. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Die afgelope 15 jaar was Angela Merkel die gesig van Duitse politiek. Sy en haar regering het Duitsland as die voorste land in Europa hervestig en het Duitsland ook as die voorkeurvennoot in Europa vir ander wêreldmoondhede daargestel. Sou die CDU egter die verkiesing verloor kan Duitsland se rol in Europa, maar ook globaal, heelwat verander en met ’n komplekse koalisieregering sonder ’n sterk primêre vennoot kan politieke stryd groot uitdagings vir Duitsland oor die volgende paar jaar inhou.

Enigiets kan nog oor die volgende vier weke in die verkiesingsveldtog gebeur. Dit lyk egter toenemend asof ’n linkse regering onder leiding van die SPD die meer waarskynlike volgende regering vir Duitsland gaan wees. Met heelwat ekstreemlinkse figure in die SPD en in die Groenparty wat invloedryke poste in ’n kabinet kan kry, kan dit maklik beteken dat Duitsland ná volgende maand se verkiesing ’n totaal nuwe rigting kan inslaan.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos

Biden gaan nog sy straf kry oor wat hy aan ons Afgaanse Christen-broers en susters aangedoen het. Jy kan maar slice & dice soos jy wil, liewe leser, maar aan die einde van die dag gaan dit oor die stryd tussen Goed en Kwaad. Wys jou net. moenie op mense staat maak nie. Kyk na ons situasie na ’94 – daar is nou meer moorde, rassisme, moord, korrupsie, noem dit maar op, in ons land. Waar is die grootbekke wat juis in die VN voor in die koor oor hierdie goed gesing en geskree het tydens die vorige regering se… Lees meer »

Vrijburger

Puik ontleding van VSA se buitelandse beleid.

Vrijburger

Hie-hie, ‘n linkse Scholtz.

Michal

“magtige moontheid” daai dae is verby

Jaco

Ek het nog steeds hoop vir Biden, want hy en sy hoogheilige Demokrate het so ‘n mooi oop “human rights” georiënteerde immigrasiebeleid. Ek wonder net, dít kan mos ook tot SA se onderdrukte wit mense se voordeel wees: ramaphosa kan al SA se “rassistiese” wit mense wat so “erg ongelykheid” in SA skep, mos na die “oop” Amerika deporteer. En Biden sal dan so min of meer verplig wees om ons in te vat. Dit sal mos nou mooi wys hoe sy “non-racial, non-discriminating human rights” werk.