Internasionale oorsig: VSA-studie wys op gevolge van pandemie-skoolsluitings

klaskamer

Foto: Feliphe Schiarolli/Unsplash.com

Die resultate van navorsing wat onder 400 000 Amerikaanse voorskoolse en laerskoolleerders in 37 deelstate gedoen is, het die afgelope week getoon dat die sluiting van skole tydens die Covid-19-pandemie tot groot leeragterstande by leerders gelei het. Die navorsing is deur ʼn kurrikulumverskaffer, Amplify, onderneem.

Terwyl 29% van kleuterskoolleerders in 2019 groot agterstande in geletterdheidsvaardighede gehad het, het dit in 2020 tot 37% en in 2021 tot 47% gestyg. Onder gr. 2-leerders was daar ook ʼn skerp toename in geletterdheidsagterstande. Voor die pandemie het 26% van gr. 2-leerders in die VSA ʼn agterstand in geletterdheidsvaardighede gehad. Dit het verlede jaar tot 35% gestyg.

Dit is veral minderheidsgroepe soos swart Amerikaners en Amerikaners van Latyns-Amerikaanse afkoms wat die ergste deur die sluiting van skole geraak is. Terwyl 34% van swart en 29% van Latyns-Amerikaanse gr. 2-leerders in 2019 ekstra akademiese hulp benodig het, het dit verlede jaar tot 47% en 39% onderskeidelik toegeneem.

Die Annie E Casey-stigting in die VSA het ook onlangs soortgelyke navorsing se resultate bekend gemaak wat juis daarop dui dat leerders wat vir lang tye tydens die pandemie nie op skool was nie, en wat nie behoorlike leiding ontvang het nie, groot agterstande ontwikkel het. Volgens dié stigting gaan die agterstande wat die afgelope twee jaar ontwikkel het aanleiding gee tot ʼn skerp toename in leerders wat vroeg die skool verlaat.

Daar was die afgelope paar maande ʼn skerp toename in ouers in die VSA wat ontevrede met die sluiting van skole is. Dit het tot verskeie politieke veldtogte gelei, en in 92 skooldistrikte is herroepingspogings onderneem om die besture van die onderwysrade uit hulle posisies te verwyder.

Onderwys, en spesifiek die sluiting van skole tydens die pandemie, is besig om tot ʼn ernstige politieke vraagstuk in die VSA te ontwikkel. Dit gaan vir die volgende paar jaar politieke en maatskaplike gevolge hê.

Pakistan kan groter bron van onstabiliteit in Midde-Ooste en Asië word

ʼn Soldaat van die Indiese Grensveiligheidsmag stap deur ʼn hek op die grens tussen Indië en Pakistan by Suchet Garh in Ranbir Singh Pura, Indië (Foto: Channi Anand, AP)

Pakistan het die vyfde grootste bevolking ter wêreld. Van die 220 miljoen mense in Pakistan is meer as 200 miljoen Moslems, wat dit ook die land met die tweede meeste Moslems ter wêreld maak. Pakistan beskik oor kernwapens en die land het die negende sterkste weermag ter wêreld. Verskeie gebeure die afgelope tyd dui op groter onstabiliteit in Pakistan, wat dié land ʼn potensiële bron van groter onstabiliteit in die wêreld maak.

Verlede jaar is daar 294 terreuraanvalle in Pakistan uitgevoer. Dit is 56% meer as in 2020, en die res van die wêreld sal ʼn groot fout maak om hierdie aanvalle, Pakistan se verhouding met buurlande soos Afghanistan en Indië, en die groeiende uitdagings van ʼn snelgroeiende, arm bevolking wat ryp vir radikalisering is, mis te kyk.

Die afgelope 20 jaar het Pakistan stil-stil die Taliban in Afghanistan ondersteun, terwyl die Pakistani’s steeds billike bande met die Weste probeer in stand hou het. Die afgelope paar jaar was daar egter ʼn toename in terreuraanvalle deur die Tehrik-i-Taliban Pakistan (TTP), ʼn sustersorganisasie van die Afghaanse Taliban.

Die magtige weermag en streng Islamitiese politieke partye in Pakistan het nog altyd simpatiek gestaan teenoor groepe soos die Taliban, maar die TTP se voortdurende aanvalle op Pakistanse grondgebied het die situasie verander. Dit het tot ʼn gewapende stryd tussen dié groep en die veiligheidsmagte in Pakistan gelei.

Terwyl die TTP hoofsaaklik in afgeleë stamgebiede naby aan die grens met Afghanistan bedrywig is, is separatistegroepe in nog ʼn provinsie, Baloetsjistan, ook besig om beter te organiseer, en dié groep het die afgelope tyd verskeie aanvalle op Pakistan se veiligheidsmagte uitgevoer.

Drie weke gelede het terreurgroepe twee streekshoofkantore van Pakistan se weermag met gesofistikeerde wapentuig aangeval, en dit het dae en baie bloedvergieting gekos voordat die terroriste verdryf kon word. Meer as ʼn kwart van Pakistan se bevolking leef in ekstreme armoede, en baie jong mans wat geen hoop op ʼn loopbaan het nie, sluit by terreurgroepe aan.

Baie van hierdie terreurgroepe organiseer oor die grens in Afghanistan en lei vegters daar op om dan aanvalle in Pakistan te gaan uitvoer. Volgens die Verenigde Nasies is die TTP tans besig om 5 000 terroriste in Afghanistan alleen op te lei.

Mense bid in ‘n moskee in Peshawar, Pakistan. Foto: (AP Photo/Muhammad Sajjad)

Terwyl Pakistan se aartsvyand, Indië, toenemend meer nasionalisties raak, het die retoriek tussen dié twee lande se leiers die afgelope tyd dramaties versleg. Imran Khan, Pakistan se eerste minister, het onlangs Indië as ʼn vyand van Pakistan beskryf en Indië se eerste minister, Narendra Modi, tot ʼn televisiedebat uitgedaag. Dit is duidelik dat Khan die algemene afkeer in Indië onder die Pakistanse bevolking gebruik om aandag van sy eie regering se mislukkings af te lei.

Pakistan ervaar ernstige ekonomiese probleme en die land slaag tans nie daarin om sy buitelandse skuld af te betaal nie. Hoewel Pakistan heelwat handel met China dryf, het die land beperkte handelsbande met Indië en het die probleme in Afghanistan asook Iran se isolasie meegebring dat Pakistan tans beperkte afsetgebiede vir sy produkte het.

Terwyl Hindoe-fundamentalisme in Indië toeneem, neem Islamitiese fundamentalisme in Pakistan toe. Dit kan in ʼn vierde groot oorlog tussen dié twee kernmoondhede ontaard.

Pakistan se probleme is egter groter met die groeiende binnelandse onstabiliteit en voortdurende terreuraanvalle. ʼn Onstabiele Pakistan hou groot risiko’s vir die res van die wêreld in.

Politieke onstabiliteit en droogte skep enorme hongersnood in Oos-Afrika

Kinders speel in ‘n straat in Gondar, Ethiopië. (Foto: Eduardo Soteras/AFP)

Verskeie lande in Oos-Afrika word tans deur ernstige voedseltekorte in die gesig gestaar. Lande soos Ethiopië, Somalië en Kenia ervaar reeds groot bevolkingsverskuiwings soos wat mense wat onder droogte gebuk gaan na stede of na gebiede met beter reënval trek.

Die huidige droogte in Oos-Afrika word deur die La Niña-weerstelsel veroorsaak. Terwyl daar nog altyd droogtes in Oos-Afrika voorgekom het, was daar die afgelope twee dekades ʼn toename in droogtes wat nou elke tweede of derde jaar voorkom. In Somalië sterf daar reeds meer as 250 000 mense per jaar weens voedseltekorte.

Die huidige droogte in Oos-Afrika is besonder erg met 1,5 miljoen stuks vee wat reeds gevrek het en totale oeste wat vernietig is. Die politieke onstabiliteit in die streek vererger voedseltekorte. Oorloë in onder meer Somalië, Ethiopië en Soedan het voedselproduksie baie nadelig beïnvloed en het ook die afgelope tyd tot ʼn groterwordende vlugtelingprobleem aanleiding gegee. Daar is reeds miljoene vlugtelinge in Oos-Afrika wat daagliks van aalmoese afhanklik is.

Volgens ʼn nuwe verslag van die Verenigde Nasies se Voedselprogram sal ten minste twee miljoen mense in Oos-Afrika vanjaar weens voedseltekorte moet vlug, terwyl hulle verwag dat 13 miljoen mense voedselhulp sal moet ontvang. ʼn Groeiende stryd om toegang tot basiese hulpbronne kan oor die volgende paar jaar tot die onstabiliteit van die streek bydra.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

Covid-19, die drakoniese reaksies van regerings daarop met gevolglik onbereken- en onherstelbare skade, behoort as Misdaad teen die Mensdom verklaar te word.

Marthinus W ·

Pakistan se probleem is dat hulle kernwapens maak; sommiges so klein dat dit in aktetasse gedra kan word. Hulle “hoofontwerper” is n rukkie gelede oorlede; hy het sy kennis in die Weste opgedoen. Geheimedienste wereldwyd is baie versigtig vir hulle. Met Noord-Korea weet jy min of meer waar jy staan. Pakistan se boeke is duister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.