Internasionale oorsig: Wankelende, ongewilde koalisieregering neem oor in Israel

Naftali Bennett. (Foto: MENAHEM KAHANA/AFP)

Met 60 teen 59 stemme is die nuwe koalisieregering bestaande uit agt totaal uiteenlopende politieke partye, verlede Sondag in Israel se parlement, die Knesset, bevestig en kon opposisiepartye uiteindelik daarin slaag om na 12 jaar Benjamin Netanyahu as eerste minister uit die kussings te lig.

Die regse politikus en voormalige bondgenoot van Netanyahu, Naftali Bennett, sal vir die volgende twee jaar, mits die koalisieregering nie tot ’n val kom nie, die eerste minister van Israel wees.

Die nuwe koalisieregering is een van teenstrydighede, ideologiese en demografiese diversiteit, en volgens peilings is ’n meerderheid Israelies skepties of die regering gaan slaag. Terwyl Bennett waarskynlik die mees regse eerste minister is wat Israel nog ooit gehad het, is dit ook die eerste keer sedert Israel in 1948 tot stand gekom het, dat ’n Arabiese party deel van ’n koalisieregering sal uitmaak. Die nuwe kabinet is gevul met eerstes. Bennett is ook die eerste eerste minister van Israel wat ’n kippah, die tradisionele Joodse hoofbedekking, dra.

Die nuwe kabinet het vir die eerste keer ooit ’n homoseksuele minister (Nitzan Horowitz – gesondheid) en twee Arabiese ministers (Issawi Frej – streeksamewerking, en Hamad Amar – finansies). Verder is nege van die 27 ministers vroue, ook die meeste ooit. Daar is ook twee kabinetslede met ’n Engelse agtergrond, naamlik Ruth Wasserman Lande, wat in Kaapstad grootgeword het, en professor Alon Tal, wat uit Noord-Carolina in die VSA afkomstig is.

(Foto: Jack Guez/AFP)

Terwyl Bennett se party, Yamina, verder regs as die Likud-party van Netanyahu is, is die regering wat oor die volgende twee jaar deur Bennett gelei sal word só divers dat hy min beweegruimte sal hê om sy verkiesingsbeloftes, wat onder andere die wesenlike uitbreiding van Joodse nedersettings in Oos-Jerusalem en die Wesoewer insluit, uit te voer. Die meerderheid van die nuwe koalisieregering bestaan uit sentrum-links en linkse partye, wat die volgende twee jaar baie moeilik vir Bennett kan maak.

Oor twee jaar sal die leier van die tweede grootste party in Israel, die sentristiese Yair Lapid, by Bennett as eerste minister oorneem. Lapid dien tans as minister van buitelandse sake en Bennett sal oor twee jaar na dié rol oorskuif.

Daar is geen ruimte vir verskille binne die nuwe koalisieregering nie en sou slegs een enkele parlementslid uit die koalisie onttrek, sal dit tot ’n val kom. Tog is daar hoop in die Biden-administrasie in die VSA dat die nuwe regering in Israel meer gematig as die Netanyahu-regering voor hom sal wees. Indien die huidige regering in Israel egter tot ’n val moet kom, sal daar waarskynlik weer ’n verkiesing in Israel moet plaasvind en sal die politieke verdeeldheid in dié land verdiep. ’n Peiling die afgelope week het getoon dat net meer as 20% van Israeliese kiesers ten gunste van Bennett se premierskap is, terwyl meer as 40% sou verkies dat Netanyahu aan bewind moes bly.

Netanyahu-nalatenskap is geopolities en ekonomies

Benjamin Netanyahu. (Foto: Sebastian Scheiner/POOL/AFP)

Benjamin Netanyahu was Israel se langsdienende eerste minister ooit. Hy het Israel tussen 1996 en 1999, en weer vanaf 31 Maart 2009 tot 13 Junie 2021 regeer.

Terwyl Netanyahu miskien in die res van die wêreld onthou word vir sy vurige Israeliese nasionalisme, sy verskeie oorloë teen Hamas in die Gaza-strook, die drastiese uitbreiding van Joodse nedersettings aan die Wesoewer, sy bondgenootskap met die Trump-administrasie in die VSA, sy verbete stryd teen Irannese invloed in Israel se buurlande, en uiteindelik Israel se normalisering van verhoudinge met talle Arabiese lande verlede jaar, is Netanyahu se nalatenskap vir gewone Israeliese burgers eerder ekonomies van aard.

Oor die afgelope twaalf jaar het Netanyahu Israel se ekonomie wesenlik hervorm met belastingverlagings, die vermindering van regulasies, privatisering van staatsondernemings en die hervorming van die land se banksektor. Onder leiding van Netanyahu het die tegnologiesektor drasties uitgebrei. Daar is die afgelope 12 jaar meer as 1 miljoen nuwe werkgeleenthede in Israel geskep en die land se ekonomie het met 50% vergroot terwyl uitvoere verdubbel het.

Netanyahu se nalatenskap is egter ook geopolities van aard. Israel se rol in die Midde-Ooste is vandag anders as voordat hy aan bewind gekom het. Afgesien van die normalisering van verhoudinge tussen Israel en verskeie Arabiese state, het Israel ook sy stryd teen Iran verskerp en sedert die VSA se onttrekking uit Sirië bestry Israel voortdurend groepe in Sirië wat deur Iran ondersteun word.

Onder Netanyahu se leiding het Israel ook groot moeite gedoen om eers die Trump-administrasie te oortuig om uit die kernooreenkoms met Iran te onttrek en nou weer die Biden-administrasie probeer ontmoedig om ’n nuwe ooreenkoms met Iran te sluit. Israel is egter ook toenemend geïsoleerd in die Verenigde Nasies, met min lande wat hom bly ondersteun.

Dit is egter reeds duidelik dat hoewel ’n nuwe kernooreenkoms waarskynlik binnekort tussen Iran en Westerse lande gesluit gaan word, die nuwe regering in Israel grootliks die buitelandse beleid van Netanyahu se regering sal voortsit.

Hoewel ’n nuwe regering in Israel meer versoenend en versigtiger in sy verhoudinge met die res van die wêreld kan wees, is die kanse skraal dat die nuwe regering op belangrike beleidspunte, binnelands én buitelands, wesenlik van die Netanyahu-beleid sal afdwaal. Hoewel die Likud-party nou vir die eerste keer in meer as ’n dekade in die opposisiebanke van die Knesset sit, sal die party en sy leier se beleid nog vir jare Israel bly vorm.

Groot kommer oor nuwe linkse regering in Peru

Pedro Castillo. (Foto: Gian MASKO/AFP)

Hoewel die verkiesingsuitslag in Peru, twee weke na die finale ronde van dié land se presidentsverkiesing, nog nie finaal bekend is nie, lyk dit wel of die verlinkse kandidaat, Pedro Castillo, die verkiesing naelskraaps met 44 000 stemme uit byna 20 miljoen stemme gewen het. Sy opponent, Keiko Fujimori, betwis tans die uitslag in die howe, maar indien haar hofproses nie slaag nie, sal Castillo waarskynlik binnekort as Peru se nuwe president ingehuldig word.

Die land se geldeenheid het die afgelope week skerp verswak terwyl Peru se aandelebeurs ook in die rooi gesluit het. Tydens die verkiesingsveldtog het Castillo belowe om verskeie industrieë te nasionaliseer, belasting wesenlik te verhoog en ’n grootskaalse welsynsprogram van stapel te stuur. Castillo het bande met die Marxistiese politieke party Perú Libre (Free Peru) en het hom tydens die verkiesingsveldtog aan die ekstreem linkse vleuel van die politiek geposisioneer. Uiteindelik het hy die verkiesing naelskraaps gewen deurdat arm en landelike kiesers in groot getalle sy verkiesingsbeloftes ondersteun het.

Die Covid-19-pandemie het groot skade in Peru veroorsaak en werksverliese, verliese aan inkomste, swak mediese sorg en die hoogste sterftekoers in die wêreld weens Covid het baie kiesers negatief oor die hoofstroom-politici gemaak. Peru was oor die afgelope twee dekades bekend vir sy sentristiese politiek wat groot stabiliteit meegebring het. Dit het ook buitelandse investerings, ekonomiese groei en werkskepping veroorsaak.

Die afgelope vyf jaar het die situasie egter begin verswak weens voortdurende korrupsie, swak regerings en uiteindelik die rampspoedige pandemie. Een van die gevolge van Peru se ekonomiese sukses die afgelope twee dekades was groter inkomste-ongelykhede wat veral onder die werkersklas en landelike burgers tot groter ongelukkigheid aanleiding gegee het. Dit is hierdie kiesers wat Castillo se oorwinning verseker het.

Die voormalige presidentskandidaat en Nobelpryswenner van Peru, Vargas Llosa, het die afgelope week gewaarsku dat Castillo diktatorskap en agteruitgang vir Peru verteenwoordig. Verskeie oorsese beleggers het ook gewaarsku dat Castillo se presidentskap tot ’n groot uitvloei van beleggings uit Peru aanleiding kan gee.

Castillo is ’n laerskoolonderwyser, vakbondleier en sterk gelowige Christen. Nadat Castillo tydens die verkiesingsveldtog onderneem het dat hy die land se suksesvolle mynbedryf gaan nasionaliseer, het hy intussen aangedui dat hy slegs beplan om hoër belastings op mynbou-uitvoere in te stel. Hy het ook die afgelope week aangekondig dat hy die voormalige ekonoom van die Wêreldbank, Pedro Francke, as sy ekonomiese raadgewer gaan aanstel. Francke is sterk ten gunste van fiskale dissipline en het die afgelope week aangedui dat Castillo se beloofde welsynsprogramme deur beter belastinginsameling betaal kan word.

Die verkiesingsuitslag in Peru bevestig die land se groot politieke verdeeldheid. Dit is ’n uitgemaakte saak dat die land se politiek na links sal beweeg en dat heelwat van die vryemarkbeginsels wat die land oor die afgelope twee dekades uit armoede gelig en ’n middel-inkomste-land gemaak het, waarskynlik by die deur uitgegooi kan word. Die gevolge hiervan is onseker en tot watter mate Castillo sy beloofde radikale agenda gaan uitvoer, sal ook gesien moet word. Intussen heers groot onsekerheid, wat vir geen ekonomie goed is nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CA ·

Die afgelope twintig jaar se “stabiliteit” en “ekonomiese sukses” het gelei tot swak mediese dienste en inkomste-ongelykheid?

As mens tussen Jaco se lyne lees word dié ongelukkige gevolge nie toegeskryf aan die polities-ekonomiese stelsel en benadering van die afgelope dekades nie, maar aan die laaste jare se korrupsie, “swak” regerings en die pandemie (lg. het net betyds opgedaag om die skuld vir alles te kry).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.