Internasionale oorsig: Wapenregte in VSA bevestig

(Foto: CENGIZ YAR, JR/AFP)

Twee belangrike verwikkelinge die afgelope week in die VSA het weer die klem op wapenregte en die voortslepende krisis met vuurwapengeweld in dié land laat val. Die Amerikaanse federale hooggeregshof het met ses stemme teen drie beslis dat wetgewing in die deelstaat New York oor burgers se reg om ʼn vuurwapen in die openbaar te dra, onwettig is. Die uitspraak bevestig Amerikaners se reg om vuurwapens volgens spesifieke voorskrifte in die openbaar te dra.

In die Amerikaanse Senaat is ʼn kompromis-wetsontwerp goedgekeur wat op wapenveiligheid eerder as wapenbeheer sal fokus. Hoewel pres. Joe Biden en die meeste Demokrate strenger wapenbeheer voorstaan, moes hulle ʼn kompromis-ooreenkoms met Republikeine aangaan waarvolgens 15 miljard dollar bestee gaan word om die veilige gebruik van vuurwapens te bevorder.

Deelstate sal bemagtig word om wette in te stel ingevolge waarvan mense wat as gevaarlik beskou word, nie vuurwapens mag besit nie. Agtergrondondersoeke vir jeugdiges (mense onder 21) en mense met geestesgesondheidsprobleme wat vuurwapens wil aankoop, sal ook uitgebrei word. Geld sal ook vir beter beveiliging van skole en beter geestesgesondheidsprogramme beskikbaar gestel word.

Die wetgewing fokus op wapenveiligheid eerder as wapenbeheer, en geen van die Demokrate se prioriteite soos ʼn verbod op spesifieke wapens, byvoorbeeld semi-outomatiese gewere en hoëkapasiteitmagasyne, is uiteindelik in die wetgewing ingesluit nie. Die voorstel wat wel in die wet ingesluit is, geniet wye openbare steun en sal deur Demokrate en Republikeine as belangrike vordering in die stryd teen wapengeweld voorgehou word.

Wat die onderhandelde skikking in die Senaat egter bevestig, en so ook die uitspraak van die federale hooggeregshof, is dat Amerikaners se grondwetlike reg om wapens te besit en dit ook in die openbaar te dra, en waar nodig te gebruik, sterker as ooit vantevore is.

Sowat 32% van Amerikaners besit ʼn vuurwapen en 44% woon in ʼn huishouding waar ʼn lid van die huishouding ʼn wapen besit. Amerikaanse burgers besit altesaam 393 miljoen vuurwapens – sowat 46% van alle vuurwapens wat in die wêreld in privaat besit is.

Wapeneienaarskap in die VSA is ook besig om toe te neem met ʼn meer diverse bevolking wat vuurwapens aankoop. Die skerpste styging in vuurwapenbesit is onder swart Amerikaners en Amerikaners van Latyns-Amerikaanse en Asiatiese afkoms. Vuurwapenkleinhandelaars het reeds in 2020 bekend gemaak dat vuurwapenverkope aan swart Amerikaners vanaf 2019 met 58% gestyg het. Die styging in verkope aan Amerikaners van Latyns-Amerikaanse afkoms was 49% en aan Asiate 43%.

Steun vir strenger wapenbeheer in die VSA is hoofsaaklik tot stedelike gebiede beperk met die meeste Amerikaners buite stede wat ten gunste van wapenbesit is en wat steeds meer en meer vuurwapens aanskaf. Met ernstige ekonomiese uitdagings in die VSA word verwag dat die debat oor wapenbeheer oor die volgende paar maande na die agtergrond gaan verskuif in aanloop tot die middeltermynverkiesing in November.

Politieke krisis in Israel verdiep verder

Naftali Bennett (Foto: Gil Cohen-Magen/AFP)

Kiesers in Israel sal in Oktober vir die vyfde keer in minder as vier jaar na die stembus gaan nadat die koalisieregering van die regse politikus en die afgelope jaar se eerste minister, Naftali Bennett, en die huidige minister van buitelandse sake, die sentristiese politikus Yair Lapid, in duie gestort het. Bennett en Lapid het die afgelope week aangekondig dat hulle hul pogings om ʼn ingewikkelde koalisieregering van diverse partye bymekaar te hou, laat vaar het.

Die huidige regering kan binne enkele dae ontbind word, wat sal beteken dat Bennett as eerste minister sal uittree en dat Lapid tot met die verkiesing in Oktober as waarnemende eerste minister sal dien. Die huidige koalisieregering is op 13 Junie verlede jaar saamgestel nadat agt linkse en regse partye ooreengekom het om saam te werk. Bennett sou die eerste twee jaar as eerste minister dien en Lapid die volgende twee jaar.

Die afgelope paar weke het die koalisieregering egter die steun van minstens twee parlementslede verloor, en hulle kon die afgelope twee weke nie meer daarin slaag om meerderheidsteun vir belangrike wette te kry nie. In plaas daarvan om toe te laat dat ʼn mosie van wantroue teen die regering aanvaar word, het Bennett en Lapid besluit om eerder self die regering te ontbind.

Die vraag is nou of kiesers in Israel, anders as in die vorige vier verkiesings, ʼn duideliker mandaat aan ʼn enkele party, of koalisiegroepering, gaan gee om ʼn meer stabiele regering daar te stel. Drie peilings wat die afgelope week gedoen is, dui daarop dat die regse en religieuse partye wat tussen 2009 en 2021 deel van Benjamin Netanyahu se koalisieregerings was, in Oktober heelwat groei in steun kan geniet. Dit lyk egter steeds nie of Netanyahu se koalisie ʼn meerderheid in die 120-setel-Knesset sal kan behaal nie.

Verskeie krisisse staar die Israeliese regering tans in die gesig, met toenemende geweld in die Wesoewer en ʼn reeks aanvalle op Jode deur Palestyne wat die afgelope paar maande plaasgevind het. Die spanning tussen Israel en Iran het die afgelope tyd ook tot ʼn proksie-oorlog op Siriese grondgebied aanleiding gegee. Iran hou Israel ook verantwoordelik vir verskeie aanvalle op enkelinge in Iran.

Pres. Biden sal Israel volgende maand besoek. Biden se minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het die afgelope week gesê dat die prioriteite van Biden se besoek dieselfde bly ondanks die politieke verwikkelinge in Israel.

Die VSA wil ʼn voortsetting van Israel se samewerking met ander lande in die Midde-Ooste sien gebeur. Dit het veral momentum gekry onder Donald Trump se regering en die ondertekening van die Abraham-akkoorde. Die regering van Israel is baie krities oor ʼn kernooreenkoms tussen Iran en Westerse lande, wat volgens Israel net vir Iran sal bemagtig om wel uiteindelik ʼn kernwapen te vervaardig.

Gegewe die politieke onsekerheid in Israel kan ʼn mens egter verwag dat geen groot aankondigings tydens Biden se besoek aan Israel verwag kan word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.