Internasionale oorsig: Wêreld gevaarliker, nie veiliger, ná G7- en Navo-beraad

Boris Johnson, Joe Biden, Olaf Scholz, Emmanuel Macron en Mario Draghi (Foto: Ludovic MARIN /POOL/AFP)

Westerse leiers en leiers van die grootste demokrasieë in ander wêrelddele het die afgelope week eers in die suide van Duitsland en daarna in Madrid, Spanje, vergader oor huidige globale uitdagings.

Terwyl die oorlog in Oekraïne ’n ernstige energie- en voedselkrisis op verskeie vastelande aanvuur, raak dit duidelik dat die militêre opbou in Oos-Europa, gekombineer met globale ekonomiese uitdagings, die kanse vir meer konflik, nie net in Oos-Europa nie, maar ook op ander vastelande, wesenlik verhoog. Die afgelope week se vergaderings in Europa het eerder olie op die vuur van aggressors soos Rusland en China gegooi as wat ’n sinvolle strategie vir ’n veiliger globale magsbalans ontwikkel is.

Tydens die G7-beraad het die leiers van die VSA, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Japan, Frankryk, Italië en Kanada hoofsaaklik hulself tot twee doelwitte verbind. Eerstens is ’n globale infrastruktuurfonds van 600 miljard Amerikaanse dollar aangekondig waardeur ontwikkelde demokrasieë in armer ontwikkelende lande betrokke wil raak as teenvoeter vir China se infrastruktuurprojekte wat dié land se globale invloed sedert 2013 met die loodsing van die Gordel-en-pad-inisiatief (Belt and Road Initiative) drasties verhoog het.

Tweedens het die G7-leiers die meeste van hulle tyd aan die oorlog bestee. Uiteindelik het hulle ooreengekom om Oekraïne tot die “bitter einde”, wat dit ook al sou beteken, te ondersteun terwyl Rusland ’n duur prys vir sy aggressie moet betaal. Dit is egter nie duidelik hoe die G7-leiers voorsien die oorlog tot ’n einde moet kom of hoe Rusland vir sy bloedige oorlog gestraf moet word nie. Die huidige strategie om wapens aan Oekraïne te verskaf en die instel van sanksies teen Rusland is nie baie geslaagd nie.

Terwyl die Russiese regering se beursie bult weens ’n groeiende inkomste uit olie en gas het die G7-lande die leiers van onder meer Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate gesmeek om olieproduksie te verhoog, terwyl die Franse president, Emmanuel Macron, selfs voorgestel het dat maniere gevind moet word om dringend sanksies teen muishondlande soos Iran en Venezuela te verlig sodat albei lande weer olie kan uitvoer.

Die skerp styging in energiepryse beteken minstens ’n korttermynmeevaller vir pres. Wladimir Poetin. Die G7 se antwoord daarop is ’n pryskwota op Russiese olie. Die probleem is egter dat China en Indië sedert die uitbreek van die oorlog heelwat meer olie, gas en selfs steenkool uit Rusland ingevoer het.

Westerse leiers moet egter met goeie rede bekommerd wees oor die moontlikheid dat Rusland die gaskrane na Europa kan toedraai. Dit kan tot ’n ernstiger energiekrisis aanleiding gee as dié in 1973 toe Opec olie-uitvoere na die Weste gesny het, of in 1979 met die Iranse rewolusie.

Die Navo-beraad in Madrid is Donderdag deur leiers van die huidige 30 Navo-lidlande as ’n reusesukses beskryf. Eers het Turkye sy veto van Finland en Swede se aansoeke vir Navo-lidmaatskap opgehef. Daarmee word die fisieke grens tussen Navo-lidlande en Rusland meer as verdubbel. Die grootste wenner is egter die opportunistiese Turkse leier, Recep Erdogan, terwyl Koerdiese opposisie in Europa, en in die besonder in Swede en Finland, nou meer rede het om vir hulle lewens te vrees nadat Turkye met Swede en Finland ooreengekom het oor die uitlewering van persone wat deur Turkye as terroriste beskou word.

Die getal soldate wat Navo voortaan op ’n hoë gereedheidsgrondslag gaan hou, word van 40 000 tot 300 000 verhoog. Navo het Woensdag aangekondig dat Rusland nou as die grootste bedreiging vir die veiligheid van Navo-lidlande beskou word.

Die mees wesenlike aankondiging tydens die Navo-beraad het egter vanaf die Amerikaners gekom, waarmee ook bevestig word dat Europa vir sy beskerming steeds diepliggend van die VSA afhanklik is.

Die Biden-administrasie het aangekondig dat sy militêre teenwoordigheid in Europa wesenlik uitgebrei gaan word. Die VSA gaan ’n permanente weermaghoofkwartier in Pole oprig terwyl duisende Amerikaanse soldate op ’n rotasiebasis in die drie Baltiese state en Roemenië ontplooi gaan word. Die VSA gaan ook die Baltiese state en lande in Oos-Europa van Amerikaanse wapentuig en toerusting voorsien.

Twee Amerikaanse vlootskepe met gevorderde missielafweerstelsels gaan in Spanje ontplooi word, en twee eskaders F35-vegvliegtuie sal deur die Amerikaners na Brittanje gestuur word. Dit is nog onseker hoe die VSA hierdie enorme militêre opbou in Europa gaan balanseer met aankondigings die afgelope paar jaar van ’n verskuiwing van militêre vermoë na Asië en die Stille Oseaan-gebied te midde van groeiende Chinese aggressie.

Navo-leiers by die beraad in Madrid (Photo by JONATHAN ERNST / POOL / AFP)

In antwoord op hierdie drastiese opskaling van Navo-lidmaatskap en fisieke teenwoordigheid in Oos-Europa het Rusland Woensdagaand met hewige bombardering van groter dele van die ooste van Oekraïne begin. Dimitri Medvedev, die voormalige Russiese president en tans adjunkvoorsitter van die Russiese Veiligheidsraad, het gewaarsku dat enige poging om met Westerse wapens die Krimskiereiland terug te neem, tot die Derde Wêreldoorlog aanleiding sal gee.

Dit raak toenemend duidelik dat die oorlog in Oekraïne besig is om van ’n streeksgebonde konflik, wat inderwaarheid tot ’n baie klein gebied in die ooste en suide van Oekraïne beperk is, in ’n oorlog met globale ekonomiese en veiligheidsgevolge te ontwikkel. China se groeiende steun aan Rusland gaan nie soveel oor steun aan Rusland as wat dit teenkanting teen die VSA is nie.

Die G7 se ekonomiese oorlog teen Rusland en Navo se geografiese uitbreiding en militêre opbou in Oos-Europa is binne ’n beperkte perspektief ’n sinvolle reaksie op Rusland se aggressiewe aanslag op Oekraïne. Binne die konteks van verdiepende globale ekonomiese uitdagings, China se groeiende globale rol en die uitwerking van energie- en voedseltekorte en prysstygings is dit egter noodsaaklik dat beter langtermynoplossings vir die verhouding tussen die Weste en Rusland gevind moet word.

Die eenheid wat Westerse lande die afgelope week by die G7- en Navo-beraad openbaar het, is prysenswaardig. So ook is die vermoë om Turkye by Navo se nuwe strategiese fokus jeens Rusland en China in te bind, belangrik. Die prys vir die Weste se reaksie op die oorlog kan egter nie so duur raak dat dit diepgaande ekonomiese en veiligheidsrisiko’s, direk en indirek, regoor die wêreld laat ontstaan nie. Juis daarom is die wêreld ná albei berade nie veiliger of beter voorbereid vir die komende ekonomiese en veiligheidsuitdagings nie.

Nog meer waarsku oor onstabiliteit in ontwikkelende wêreld

Die Wêreldbank se hoofkantoor in Washington in die VSA (Foto: Daniel Slim/AFP)

Kommer oor politieke, ekonomiese en maatskaplike onstabiliteit in ontwikkelende lande neem daagliks toe. Die onlangse G7-beraad het dit as ʼn ernstige risiko uitgewys en die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds het albei reeds vanjaar gewaarsku dat baie ontwikkelende lande op ernstige ekonomiese krisisse afstuur wat tot ’n destabilisering van hele lande en streke kan lei. Die huidige ekonomiese krisis in Sri Lanka is ’n goeie voorbeeld. Vir Suid-Afrikaners bied Peru egter ’n goeie vergelyking van wat verkeerd kan gaan.

Die nagevolge van die Covid-19-pandemie gekombineerd met die oorlog in Oekraïne en groeiende spanning tussen die VSA en China, die wêreld se twee grootste ekonomieë, lei tans tot ’n langdurige versteuring in internasionale handel, stygende inflasie, tekorte aan buitelandse valuta in armer lande, groeiende skuldprobleme en selfs ’n tekort aan voedsel en brandstof.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum het die afgelope week gewaarsku dat ontwikkelende lande soos Egipte, Tunisië, Peru en Sri Lanka reeds deur betalingsbalansprobleme in die gesig gestaar word terwyl politieke onstabiliteit en opstande in al hierdie lande begin voorkom. Pakistan, die land met die vyfde grootste bevolking ter wêreld en ʼn kernwapenmoondheid, stuur op soortgelyke probleme af en dié land ervaar reeds ’n ernstige politieke krisis en opstande. In Sri Lanka is die verkope van brandstof die afgelope week byna heeltemal gestaak met slegs nooddienste wat nog brandstof kan kry. Die land het eenvoudig geen geld meer oor om brandstof en kos in te voer nie.

Carmen Reinhart, hoofekonoom van die Wêreldbank, het ook die afgelope week gewaarsku dat die lys van ontwikkelende lande waar ’n skuldkrisis tans dreig, vinnig styg namate rentekoerse wêreldwyd toeneem. Goldman Sachs het ook Maandag gewaarsku dat ’n hele siklus van wanbetalings op buitelandse skuld deur ontwikkelende lande begin ontstaan met Sri Lanka wat maar net die voorloper is.

Een van die ontwikkelende lande wat die meeste met Suid-Afrika gemeen het, is Peru. Dié land het in 2000 na demokrasie teruggekeer en is vir jare daarna, net soos Suid-Afrika, voorgehou as ’n voorbeeld van ʼn land wat deur politieke en ekonomiese hervormings van sy moeilike verlede kon wegstap. Suid-Afrika en Peru het redelik dieselfde BBP per capita, en die twee lande se ekonomieë het baie ooreenkomste met ’n fokus op onder andere mynbou en landbou.

Sedert 2017 word die land egter geteister deur die een politieke en ekonomiese krisis na die ander. Verlede jaar is Pedro Castillo, ’n selferkende Marxis en Leninis, naelskraap tot president van Peru verkies. Dit was in reaksie op die regerende elite se korrupsie, wanbestuur en die toename in armoede.

Castillo het onderneem om die land se myne en energiebedryf te nasionaliseer. Sy veldtog was deurspek van populisme met beloftes van hoër belasting op die rykste Peruane en gratis dienste aan die armes. Sedertdien het sy regering egter van die een krisis na die volgende voortgestrompel met nog meer bewerings van korrupsie en wanbestuur.

Deesdae geniet Castillo die steun van minder as 30% van mense in Peru, en sedert April vind betogings voortdurend in dié land plaas. Castillo moes al selfs die weermag inroep om betogers onder bedwang te bring.

Burgerlike onrus het deel van die daaglikse lewe in Peru geword en vrese vir voedsel- en brandstoftekorte neem reeds toe. Bestaansboere het vanjaar weinig aanplantings weens stygende kunsmis- en brandstofpryse gedoen. Vrese bestaan dat Peru binnekort nie meer daarin gaan slaag om sy staatskuld terug te betaal nie.

Die ergste gevaarteken is egter die afname in die vertroue in demokrasie in Peru. Peru is tans die land in Suid-Amerika met die derde laagste vertroue in demokrasie as politieke stelsel. Dieselfde tendens ontstaan in talle lande in Asië, die Midde-Ooste, Afrika en ander Latyns-Amerikaanse lande waar gewone mense moedeloos is met die onvermoë van demokraties verkose politici om hulle lewensomstandighede te verbeter.

Die Wêreldbank verwag dat die ekonomiese probleme in ontwikkelende lande nog vir twee jaar kan voortduur en verdiep. Dit beteken dat politieke en maatskaplike probleme in hierdie lande, insluitend Suid-Afrika, kan vererger, wat die moontlikheid van opstande en anargie drasties verhoog. ’n Verval in vertroue in die demokrasie word juis deur China aangeblaas en kan tot meer outoritêre regerings en selfs meer staatsgrepe in ontwikkelende lande lei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Wat ‘n grillige spul wêreldleiers wat almal liefies glimlag en drukkies uitdeel; so lief vir mekaar en samehoring, veral toe antie-EU en Navo bykom. Mense, watter vredevolle gang saamgesnoer in hul liefde vir Zelenskyy in sy haat vir sy geboorteland. Wanneer in die geskiedenis het dit al gebeur. Zollyy beskik oor towerkrag… dalk in die bloedrooi beetsop ingeklits. ‘n Resep uit Rusland wat in ‘n statige ou Russiese gebou vir onderdanige staatsleiers (natuurlik voor tv-kameras) opgedis word.

Treurwilger

“Die wêreld is na beide berade nie ‘n veiliger plek nie” – Jaco Kleynhans mag gelukkig hierdie feit noem. My opmerking met dieselfde strekking oor NAVO by ‘n ander artikel, het twee mede-lesers so ontstel dat my kommentaar verwyder is. Die Weste se befondsing van die vernietiging van Oekraïne sal in die annale opgeteken staan as een van die grootste foute ooit. Wat het geword van diplomatieke onderhandelings en ingryping? Australië, nié lid van NAVO nie, het reeds amper 400 miljoen dollar geskenk. Skrikwekkend, veral wanneer gerugte die rondte doen van top Oekraïense amptenare wat luukse eiendomme in Switserland aanskaf.… Lees meer »