Internasionale oorsig: Westerse solidariteit, maar geen oplossing vir oorlog

(Foto: Brendan Smialowski/POOL/AFP)

Leiers van Europa en Noord-Amerika het Donderdag en Vrydag in die Belgiese hoofstad Brussel byeengekom vir ʼn reeks vergaderings wat grootliks op die oorlog in Oekraïne en die verbetering van Navo se verdedigingsmeganismes gefokus het. Dit is duidelik dat die oorlog daarin geslaag het om die verskille en geskille tussen Navo-lidlande, vir die huidige altans, uit die weg te ruim terwyl veral die Europese lande wat vir meer as twee dekades heeltemal te min geld aan hul eie verdediging bestee het, uiteindelik wakker geskrik het.

ʼn Wesenlike uitbreiding van Navo-magte wat in Oos-Europa ontplooi is, is by die Brussel-byeenkoms aangekondig, sowel as nuwe sanksies teen Russiese politici en die verdere bemagtiging van die Oekraïense weermag deur die beskikbaarstelling van gevorderde Westerse wapentuig en ammunisie. Daar is egter steeds geen duidelike plan oor wat gedoen gaan word om ʼn einde aan die vernietigende oorlog te maak en uiteindelik die Weste se verhouding met Rusland te herdefinieer nie.

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het selfs verder gegaan deur Donderdag in Brussel voor te stel dat Rusland ook uit die G-20 (groep van groot ekonomieë) geskop moet word. Rusland is in 2014 uit die G-7 (toe nog die G-8), die groep van ontwikkelde demokratiese lande, geskop nadat Rusland die Krim-skiereiland geannekseer het.

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Andrey Gorshkov /SPUTNIK/AFP)

Dit is duidelik dat Westerse lande Rusland nog verder wil isoleer. Europese leiers dreig ook om die G-20-beraad later vanjaar in Bali, Indonesië, te boikot sou Poetin toegelaat word om dit by te woon.

Terwyl meer isolasie en sanksies op die kort termyn sin maak, blyk dit dat Westerse leiers se enigste langtermynplan juis ʼn nuwe koue oorlog teen Rusland is. Dit kan egter in ʼn veranderende wêreld nie ʼn volhoubare strategie wees nie.

Die Europese leiers het Donderdag voorgestel dat ʼn herstelfonds vir die heropbou van Oekraïne nou reeds daargestel moet word. Dit sal waarskynlik beteken dat Oekraïne uiteindelik deel van die Europese Unie word.

Oor die normalisering van verhoudinge en die magsbalans in ʼn na-oorlogse Oos-Europese grensgebied is daar egter die afgelope week min gesê. Dit is waarskynlik nog té vroeg om daaroor te praat, maar dit sal uiteindelik belangrik wees om verhoudinge tussen Rusland, sy buurlande en die Weste sodanig te herskik dat stabiliteit in die streek verseker kan word.

Tweederdes in Nederland nou ongelowig

Nederlandse vlag (Foto: Peter Dejong, AP)

ʼn Omvattende verslag oor geloof in Nederland is die afgelope week deur die Sociaal en Cultureel Planbureau (SCP) in Den Haag bekend gestel. Daarvolgens glo net 33% van Nederlanders nog in God, terwyl 52% ateïste of agnosties is. Die res is by ʼn ander geloof- of spirituele oortuiging betrokke.

Die verslag bevestig ook dat daar toenemende onbegrip onder die ongelowige meerderheid vir kerkgebonde, praktiserende Christene is. So was daar die afgelope twee jaar wye veroordeling van Christene se behoefte om ten spyte van die pandemie kerkdienste by te woon.

Reëls waarvolgens winkels op Sondae gesluit is en eeue-oue Christenpraktyke, vakansiedae en kultuurgebruike is besig om oral in Nederland besig in die slag te bly. Daar word selfs deur linkse politici en leiers druk op Christelike skole en ander Christelike instellings uitgeoefen.

In 2002, presies 20 jaar gelede, het 43% van Nederlanders nog gesê dat hulle deel van ʼn aktiewe geloofsgemeenskap is (dit sluit ander gelowe soos Islam in). Nou is dit minder as 30%. Dit is veral die Christenkerk wat leegloop. Die meeste van Nederland se meer as 6 000 kerkgeboue staan leeg.

Dit maak van Nederland een van mees sekulêre lande in Europa. Christenkerke, politici en leiers waarsku dat onverdraagsaamheid teen Christene net meer en meer gaan toeneem. Daarom raak dit baie belangrik dat die sekularisering meer aktief teengewerk moet word, maar ook dat Christene in Europa hulleself beter moet organiseer. Moeilike tye lê vir die Christendom in Europa voor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

casper ·

Sal op TV kyk en niks daarwerklik doen om dit te stop nie — Heeltemal te bang !!

Marthinus W ·

Wat van n bietjie wiskunde?
1 + 1 = 2
Navo + wapens op Rusland se grens = oorlog

Wat verstaan die mense nie?

Luister ·

Hoe dan nou? Huidiglik lyk die wiskunde so:
0+0=2
Geen Navo + geen wapens op Rusland se grens = oorlog

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.