Internasionale Veldtog vir die Afskaffing van Kernwapens verower Nobelprys vir Vrede

ICAN-wen-2017-nobelprys-vir-vrede-deur-ANA

Beatrice Fihn, uitvoerende direkteur van die Internasionale Veldtog vir die Afskaffing van Kernwapens (ICAN), Daniel Hogsta, sentrumkoördineerder, en Grethe Ostern, bestuurskomiteelid, klink ʼn glasie sjampanje by hulle hoofkwartiere in Genève, Switserland op 6 Oktober 2017 nadat die veldtog aangewys is as vanjaar se wenner van die Nobelprys vir Vrede. Foto: Martial Trezzini/Keystone via AP/ANA.

Elke jaar in Oktober vind die aankondiging van die Nobelpryse vir uitmuntende prestasies en ontdekkings op verskillende terreine plaas, soos fisika, chemie, geneeskunde, ekonomie, literatuur en vrede. Die toekenningseremonie vind op 10 Desember, die sterfdag van die prys se stigter, Alfred Nobel, plaas. Die “politieke” Nobelprys is die Nobelprys vir Vrede, wat as die belangrikste en gewoonlik mees opspraakwekkende Nobelprys gereken word.

Vanjaar se wenner is, soos talle kere vantevore, nie ʼn persoon nie maar ʼn groep, naamlik die Internasionale Veldtog vir die Afskaffing van Kernwapens (ICAN, International Campaign to Abolish Nuclear Weapons).

ICAN is ʼn koalisie van talle nieregeringsorganisasies (NRO) uit verskeie lande wat almal ten doel het om kernwapens af te skaf. Die organisasie bestaan sedert 2007 en is in Genève, Switserland, gesetel. ICAN het druk uitgeoefen op lande om die Verenigde Nasies (VN) se verdrag op die verbod van kernwapens te onderteken, iets wat in Julie vanjaar gedoen is. Altesaam 122 lande is reeds deel van die verdrag, maar bygesê, dit is alles lande wat geen kernwapens besit nie. Die hoop is egter dat internasionale druk sodoende uitgeoefen word op die lande wat wel kernwapens besit om ook tot die verdrag toe te tree en hulle kernwapens mettertyd af te skaf.

Daar bestaan reeds die kernwapen-sperverdrag (Non-Proliferation Treaty) van die VN, waar lande hulle verbind om die verspreiding van kernwapens te keer. Dit is deur 191 lande, feitlik alle lede van die VN, ook die kernwapenlande, onderteken. Vir ICAN gaan dit egter nie ver genoeg nie. Hulle wil nie net kernwapens beheer nie, maar ook afskaf.

Net nege lande in die wêreld besit kernwapens: die vyf “amptelike” kernwapenmoondhede (veral die oorwinnaars van die Tweede Wêreldoorlog), naamlik VSA, Rusland, Groot-Brittanje, Frankryk en Sjina. Ook Israel, Pakistan, Indië en Noord-Korea besit kernwapens, maar mag dit eintlik nie besit nie. Veral laasgenoemde land, wat internasionaal hoogs irrasioneel optree, is die grootste bron van kommer wat die moontlike aanwending van kernwapens betref, hoewel die land die minste kernwapens van almal besit, volgens skatting minder as 10. Israel gebruik sy kernwapens as troefkaart teen sy Arabiese buurlande en Iran, terwyl Pakistan en Indië, wat oor Kasjmir baklei, mekaar daardeur op ʼn afstand hou. Iran was besig om kernwapens te ontwikkel, maar het ʼn verdrag onderteken om dit te staak. Ook Irak en Libië was in verskillende stadiums van die ontwikkeling van kernwapens, maar het dit later opgegee. Suid-Afrika het kernwapens besit, maar dit op grond van internasionale druk laat vaar tydens die onderhandelinge in die vroeë 1990’s. Daar is tans sowat 15 000 kernplofkoppe in die wêreld, waarvan die VSA en Rusland saam omtrent 90% besit.

Met die toekenning wil die Nobelkomitee, wat die prys toeken, weer die aandag vestig op die gevaar van kernwapens en die voortgesette stryd om die wêreld vry van kernwapens te maak. Dit kan wel geargumenteer word dat die AK47 of selfgemaakte bomme deur terroriste meer mense doodgemaak het as kernwapens, wat afgesien van die laaste fase van die Tweede Wêreldoorlog in Japan nooit weer in ʼn oorlog gebruik is nie. Die kernbom is ʼn verskriklike wapen en tref veral burgerlikes, maar juis daarom word dit nie gebruik nie, behalwe as afskrikmiddel. Dat die Koue Oorlog nie in ʼn warm oorlog ontaard het nie, is waarskynlik juis te danke aan die besit van kernwapens deur albei kante.

Die toekenning is dalk ʼn bietjie te veel gelei deur die groot prominensie wat tans in die media heers oor die konflik oor Noord-Korea se kernwapenprogram. Eintlik behoort die Internasionale Nobelkomitee met sy Vredesprys die kollig te plaas op ʼn persoon of organisasie wat nie genoeg erkenning kry nie, en dit op dié manier uitlig. Daar is soveel onbekende aktiviste vir vrede en vryheid wat in tronke sit en vergete is en wat ʼn belangrike hupstoot sou kry deur die Vredesprys.

ICAN is ʼn gevestigde, Westerse organisasie en die veldtog teen kernwapens is in die meeste lande onomstrede. Die VSA en Rusland het wêreldwyd die meeste kernwapens, maar om hulle te vernietig sal nie wêreldvrede bring nie. Daar waar die eintlike probleem lê, in Noord-Korea, is ICAN nie aktief nie oftewel kan ook geen invloed uitoefen nie. Nogtans, die toekenning aan ICAN was ʼn redelik veilige en onomstrede keuse en hoewel nie ʼn besonder dapper een nie, beslis beter as sekere verkeerde toekennings in die verlede (byvoorbeeld aan Jassir Arafat, Barack Obama of die EU).

Die Nobelprys word toegeken deur die Nobelkomitee wat in Swede gesetel is, waarvan die stigter, die plofstofuitvinder en wapenfabrikant Alfred Nobel afkomstig was. In die geval van die Nobelprys vir Vrede is die komitee wel in Noorweë gesetel. Reeds sedert 1901 word die Nobelpryse toegeken. Suid-Afrika het met FW de Klerk, Nelson Mandela (gesamentlike toekenning), Desmond Tutu en Albert Luthuli al vier wenners van die Nobelprys vir Vrede opgelewer, met Max Theiler, Allan Cormack en Sydney Brenner drie vir die Nobelprys vir Geneeskunde, met Nadine Gordimer en JM Coetzee twee vir die Nobelprys vir Literatuur, en met Aaron Kahn een vir die Nobelprys vir Chemie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Nico K ·

Ja om kernwapens af te skaf is soos om teen geweld te wees. Dit help nie jy is daarteen, maar jou vyande nie. Ek onthou jare terug was daar ‘n vrou by my werk wat ‘n selfverklaarde pasifis was en teen geweld. Toe een dag kom sy ontsteld daar aangehardloop en vra hulp want iemand het haar handsak gesteel. Toe wonder ek so by myself hoe wil sy hê ons moet die handsak terugkry sonder geweld. En soos die voorbeelde wat genoem is, as Indië en Pakistan nie kernwapens besit het nie, het die ander een dit waarskynlik gebruik.

Rupert Ashford ·

Eintlik maar niksseggend soos jy se Sebastian. Hulle het geen invloed waar dit saakmaak nie. Bly jy sluit Obama (wat maar paar maande in sy pos was toe hy die prys gekry het) in die lys van grappe. En in SA se vredeswenners is eintlik net 2 (FW en Tutu) wat vir vrede gewerk het.

Verwonderd ·

Ek gaan ook volgende jaar aansoek doen vir ‘n nobelprys… Duidelik doen die Sweedse komitee nie veel nabetragting nie. Daar is ook gerugte dat die kandidate maar yl gesaai is. Ek maak staat op hulle vasberadenheid om iemand met ‘n nobelprys te vereer. Hou asb vir my duim vas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.