Interne spanning neem toe in talle Westerse lande

vsa-vlag-amerika-amerikaans

Foto: Samuel Branch/Unsplash.com

’n Studie wat enkele dae gelede deur die Georgetown Universiteit in die VSA gepubliseer is, toon dat 67% van Amerikaners daarvan oortuig is dat hul land weer op ’n burgeroorlog afstuur.

Enkele dae tevore is kiesers in Kanada na die stembus in ’n verkiesing waar die verdelingslyne tussen streke en tussen die stedelike elite en die plattelandse gewone mense die grootste in die geskiedenis van dié land was.

Daar word in Amerika vertel dat jy maklik iemand in Manhattan kan raakloop wat nie ’n enkele familielid of vriend het wat al ooit vir die Republikeinse Party of vir ’n kandidaat van dié party gestem het nie. Soms vind jy in stede soos New York, San Francisco of Seattle selfs mense wat vir jou sal sê dat hulle nog nooit enigiemand ontmoet het wat nie liberaal en dus ʼn ondersteuner van die Demokratiese Party is nie. Die omgekeerde is natuurlik waar vir mense in die Texas “Panhandle”, op plattelandse dorpies in Utah of in boerderygemeenskappe in die suide van Wyoming waar ’n Demokraat weer moeilik te vinde is.

Hierdie verdeling tussen die stedelike, liberale en gewoonlik meer gegoede elite, en die meer konserwatiewe, landelike en minder gegoede gewone tradisionele bevolking van die VSA is sonder twyfel besig om groter te word. Dieselfde gebeur in byna elke ander Westerse land. In die verkiesing in Kanada het die Konserwatiewe Party 70% van die stemme in die westelike, landelike provinsie Alberta gekry. Die Liberale Party is volledig uitgestem uit Alberta asook uit die buurstaat, Saskatchewan. Tog kon die Liberale Party die verkiesing wen met groot oorwinnings in diverse, liberale stede soos Toronto en Montreal.

Die kloof tussen stedelike en landelike mense in Westerse lande het heelwat te make met die verlies aan ’n nasionale visie en die toenemende konflik in waardes tussen hierdie twee groepe. Hierdie konflik is soms so sterk dat dit totaal onversoenbaar is, veral in ’n omgewing sonder ’n wesenlike nasionale belang.

In Nederland en Duitsland het duisende boere onlangs aan betogings teen oorregulering van die landboubedryf deelgeneem. ’n 27-jarige Duitse boer uit Neder-Sakse sê in ’n mediaonderhoud dat die regulering van die gebruik van, onder meer, gifstowwe en kunsmis op plase bestuur word deur welgestelde, stedelike Duitsers wat geen begrip vir die uitdagings van kommersiële landbou het nie.

In Nederland het die minister van landbou gesê dat boere opdrag gegee kan word om op te hou boer omdat hul plase te veel stikstof vrystel. Die boere se argumente oor die belangrikheid van die landbou – veral in provinsies en gemeenskappe – val op dowe ore omdat die politieke elite deur stedelike kiesers met nuwe ekologiese prioriteite verkies word.

Justin Trudeau tydens ‘n verkiesingsbyeenkoms in Nova Scotia. Foto: (Sean Kilpatrick/The Canadian Press via AP)

Netso het die premiers van Alberta en Saskatchewan ná die verkiesing ’n sterk boodskap aan die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, gestuur om hom te waarsku om nie langer die oliebedryf van hul state te beveg nie. Die probleem in Kanada is natuurlik dat die stedelike elite wat vir Trudeau ’n tweede termyn besorg het, juis ook diegene is wat daarop aandring dat geen nuwe oliepypleidings gebou mag word nie en dat koolstofbelasting ingestel moet word.

Die politieke verdelingslyne skep groot uitdagings vir politici. In die VSA was daar nog ’n paar jaar gelede heelwat lede van die kongres wat as gematig beskou kon word en wat gemaklik vir wetsvoorstelle van lede van die ander party sou stem. So het die Demokratiese Party die sogenaamde “Blue Dog”-koukus in die huis van verteenwoordigers. Dié groep is sentristies geposisioneer en probeer gewoonlik kompromieë met Republikeine in die huis bereik. Die groep se invloed is egter sedert 2010 ’n groot knou toegedien nadat die helfte van die groep se lede in die middeltermynverkiesing hul setels verloor het. Ook in die Republikeinse Party is daar slegs enkele ware sentristiese lede van die senaat en huis van verteenwoordigers oor. Omdat die waardes van die twee politieke partye se belangrikste ondersteuners al verder van mekaar af weg beweeg, is daar bitter min ruimte vir sentristiese politici wat kompromieë probeer bereik.

Die probleem is dat kiesers aan die een kant wil sien dat verkose politici meer toegewend moet optree, maar aan die ander kant nie wil hê dat hul eie verteenwoordiger toegewings moet maak nie. Volgens die Georgetown Universiteit se studie glo 87% van Amerikaners dat kompromieë ’n belangrike doelwit van politieke leiers moet wees. Hulle wil egter hê dat dit juis politici – wat nie hul standpunt deel nie – moet wees wat die kompromieë moet aangaan. Dieselfde studie wys dat Demokrate vir Trump en Republikeinse leiers die skuld vir die politieke spanning in die VSA gee, terwyl byna alle Republikeine weer die skuld op die Demokrate pak.

Verder sê 84% van Amerikaanse kiesers in dié studie dat hulle moeg daarvoor is dat hul eie verteenwoordigers toegewings maak waar dit by hul waardes en beginsels kom. Daar is dus ’n klein minderheid van Amerikaanse kiesers wat tevrede daarmee sal wees indien hul eie verteenwoordiger, senator of goewerneur ’n kompromie met lede van die ander party aangaan.

Susan Collins. Foto: (AP Photo/Patrick Semansky)

In die Amerikaanse senaat is daar tans nog net enkele sentristiese senators wat bereid is om met senators van die ander party saam te werk. Een so ’n senator is die Republikeinse senator Susan Collins van Maine. Tot so onlangs soos 2015 was Collins die gewildste senator in die hele VSA met 78% van kiesers in haar staat wat tevrede met haar werk was. Sedertdien het sy egter, ná deeglike oorweging, ten gunste van die bevestiging van Brett Kavanaugh as regter in die Amerikaanse hooggeregshof gestem en daardeur ’n nasionale linkse veldtog teen haar ontketen. Sy het ook haar Republikeinse kollegas se herroeping van president Barack Obama se mediese hervormings teengestaan, en in 2017 teen sommige omstrede nominasies van president Trump vir posisies in sy regering gestem. Met veldtogte van links en regs wat haar teiken, is dit nou ’n ope vraag of Collins volgende jaar herkies sal word.

Nuwe verdelingslyne binne lande is egter nie net, soos in die VSA en Kanada, tussen liberale en konserwatiewe of tussen stedelike en landelike kiesers nie. In Duitsland, byna 30 jaar ná die hereniging van Wes- en Oos-Duitsland, is die verdelingslyne tussen dié twee streke ook weer besig om groter te word. Onlangse verkiesings in state soos Brandenburg en Sakse het gewys dat die kiesers van Oos-Duitsland in groot getalle bereid is om protesstemme teen die kosmopolitaanse, liberale elite van Wes-Duitse stede uit te bring. Ook in Pole het die onlangse parlementêre verkiesing die grootste geografiese verdeeldheid sedert die einde van kommunisme beklemtoon met die oostelike dele, wat gedurende die negentiende eeu deel van Rusland en Oostenryk was, wat vir die konserwatiewe Reg en Geregtigheid-party gestem het, terwyl kiesers in die westelike dele van Pole, wat deel van Pruise was, vir liberale en linkse partye gestem het. ’n Baie ou verdelingslyn in Pole is daardeur weer oopgevlek.

Beteken dit Amerika gaan binnekort ’n burgeroorlog ervaar, of dat westelike provinsies in Kanada gaan afstig, of dat Wes- en Oos-Duitsland binnekort weer gaan skei?

Natuurlik nie. Wat egter oor die afgelope paar jaar gebeur het, is dat ideologiese en waardeverskille toenemend geografies uitgedruk word terwyl politieke aktivisme weens moderne kommunikasietegnologie makliker en vinniger geraak het. Daarmee saam is daar in min Westerse lande sterk nasionale samebindende faktore wat bo interne verskille uittroon. Dit alles gaan tot toenemende interne spanning in Westerse lande aanleiding gee, en groter konflik (en selfs geweld) kan glad nie uitgesluit word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

gatiep ·

Daar is klaar net 2 kante in USA,of jy is vir Trump of teen hom.As dit nie voorbereiding vir oorlog is nie weet ek dan niks .Selfs die Russe is met voorbereiding besig vir iets groot wat op pad is.Dit sal nie eindig met n burgeroorlog in USA nie.
As ek Mnr Duiwel was sou ek baie bekomerd gewees het.Trump en Putin speel nie soos Demokrate nie.
Daar is groot wereldverandering op pad.Dis tyd dat geregtigheid weer seevier.

Helgard ·

Baie goed – dankie! Jy sal dalk ook hou van die skrewe van mense soos Patrick Deenan (paar goeie Youtube snitte ook) en ander post-liberale wat dink aspekte van liberalisme het redelik uit te waai met wat besig is om te gebeur.

Hendrik ·

Een van die probleme is hoe die kiesstelsel werk. Elke party kies sy kandidaat deur ‘n populêre stem, wat onder die huidige omstandighede ‘n ektreme demokatiese of republikeinse kandidaat gaan wees. So ‘n persoon moet dan sy vekiesingsbeloftes nakom, wat verdere polarisasie aanhelp. Ek dink die eerste party wat die moed gaan hê om ‘n gematigde kandidaat soos Biden of Collins (as iemand haar kan oortuig om teen Trump te staan) te stel, gaan die stille meerderheid Amerikaners se stemme kry. Dis net ‘n klomp leë blikke wat Trump volkome ondersteun. Meeste kiesers wat vir hom gestem het, het einlik teen Clinton gestem. Ek kan volgende jaar gaan stem, en my stem sal waarskynlik na die mees gematigde kandidaat gaan.

James ·

Ons is ook nie ver agter nie….. dit gaan hier ook gebeur.

John ·

Biden gematig? Dis seker ‘n grappie. Die destydse vise-president het op Maidan-plein in die Oekraìne rondgekuier tydens die opstand. Daai ou sal sonder om te skroom ‘n oorlog teen Rusland begin om sy hand op die gasvelde en diamantmyne te kry… met die hulp van die EU se Navo. Wag vir die nagmerrie. Dit kom met fanatic Nancy se bystand en Biden se tandarts natuurlik…

Stephan de S ·

Uiters belangrike artikel…..kragte aan die werk in gemeenskappe v mense,wat ek al lankal opmerk in ons eie land ook. Net die tyd sal leer wat die regte ding is om te doen. Politiek, soos alles op hd tydelike aarde, is en was nog altyd vloeibaar. Dalk beweeg ons na n tydperk waar groot regerings met baie mag, verkrummel en opbreek in kleiner groepe met gemeenskaplike waaardes. Laat MM lesers kennis neem dat geeneen se toekoms finaal bepaal is nie. Dinge kan verander. Ek het oor naweek kennis geneem vd interessante ontwikkelings in die munisipaliteit v Harrismith……..as hd “beweging” groei en toeneem, bied dit reeds baie hoop op plaaslike vlak. As een stadsraad se korrupte politieke mag oor lojale inwoners so ingekort word ,is daar mos ook moontlikhede op wyer vlak. Intusssen , kan net die sout vd Evangelie (ek sê nie van kerke nie) wat bederf keer en die vrug wat uit die Evangelie voortspruit , soos verdraagsaamheid en agting vir alle mense , my anker en hoop wees.

Maw meer van dieselfde ·

Interessant. So sloeg die mensdom voort met die magstryd. Wonder wanneer bereik ons volwassenheid om te aanvaar dat almal volgens verskillende waardes en normes leef en daarvolgens lande te bepaal waar elke groep in vrede en vryheid kan leef isv mag oor mekaar te probeer uitoefen en konflik aanmoedig om besig te bly. Maar dit sal nooit gebeur nie, agv magsverslawing. Sommiges sou dood verveeld in n vredeliewende land wees. Baie van hul in ons eie geledere. Die dat die VF Plus ea terugslaan isv veg vir afstigting en ons kinders eerder onderwerp aan vulgere seksvoorligting en ander snert!

Ronnie ·

Interessante artikel – interessante tye….
Dit word beweer dat Sir Austen Chamberlain in 1936 die eerste person was wat die volgende uitdrukking gebruik het: “live in interesting times”. Later in in 1966 het JFK klaarblyklik die gesegde so aangehaal: ”There is a Chinese curse which says “May he live in interesting times.” Like it or not, we live in interesting times. They are times of danger and uncertainty; but they are also the most creative of any time in the history of mankind.”

Feite ·

Ten spyte van die peilings, sal interne spanning in Amerika verlaag die dag wat Donald Trump, of self bedank, of afgedank, of verslaan word! Selfs spanning in ander westerse land sal afneem. In SA sal interne spanning egter toeneem namate die ANC se transformasie (kapingsagenda) oor grond, gesondheidssorg, privaatfondsinstellings en privaatmaatskappye, momentum opbou en opposisie partye, ingesluit “slaan terug”, dit sprakeloos en klakkeloos gaan moet gade slaan. Toekomstige konflik in SA is dus nie uitgesluit nie, dit sal egter van korte duur wees, omrede die ANC dit sal uitlok en die ANC staatsmasjienerie gerat sal wees om dit vinnig in die kiem te smoor en dan dit wat teen daardie tyd nog nie genasionaliseer is, te nasionaliseer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.