Intussen huil die geliefde land…

Foto: Pixabay

Die nuus – en trouens die hele lewe – word deur die koronavirus en alles wat daarmee saamhang, oorheers. Mense se persoonlike vryhede word drasties deur die owerheid aan bande gelê.

Die omstandighede verskil in verskillende lande. In Swede het die owerheid byna geen beperkende maatreëls ingestel nie; in Frankryk en Italië geld drakoniese maatreëls, en in Duitsland, Oostenryk en Nederland is ’n tussenweg gekies.

Intussen en oral word mense krapperig, en daar word reikhalsend na ’n verslapping van die beperkings uitgesien. In die lig van die dalende besmettings- en sterftesyfers op die Europese vasteland sien die owerhede in dat hulle nie die boog moet oorspan nie, en stadigaan skep hulle meer ruimte vir mense om steeds normaler met mekaar om te gaan.

Wat ook help, is dat die regerings oorwegend goed met die bevolkings kommunikeer. Maar hulle voel ook die algemene gevoel aan en hou rekening daarmee wanneer beleid vasgestel word.

In Brittanje bly dit voorlopig by streng beperkings, want daar bly die statistieke onrusbarend. In groot dele van Amerika, veral die dig bevolkte streke, is die sterftesyfer ook skrikwekkend, maar dié land beweeg nader aan ’n verkiesing in November. Dus het die beperkings ’n groot politieke twispunt tussen die Republikeine en die Demokrate geword.

Die situasie in Suid-Afrika kan in verskeie opsigte nie met dié in ontwikkelde Westerse lande vergelyk word nie.

In ons land het ons te make met ’n bevolking wat oorweldigend straatarm is, wat geen goeie onderwys geniet het nie, wat in die apartheidstyd deur die ANC/SAKP aangemoedig is om die Wet en wetstoepassers as hul vyand te sien.

Dit word verder bemoeilik deur ’n owerheid wat onderworpe is aan twee teenoorgestelde faktore. Die een is dat hy fundamenteel onbekwaam is en dat enige maatreël wat goed uitwerk, bloot toevallig is. Die ander is dat die regerende partye, die ANC en SAKP, weens hul Stalinistiese verlede van voor 1990, verslaaf is aan die uitbreiding van hul eie mag.

Saam lei dié twee faktore tot ’n ineenstorting van die regering se morele én praktiese gesag, soos tans gesien kan word.

Dit word versterk deur die relatief ligte uitwerking wat die koronavirus tot dusver op die Suid-Afrikaanse samelewing in die breë gehad het.

Toe dié woorde geskryf is, het die land tussen 15 000 en 16 000 diagnoses getel (syfers wat, toegegee, in die lig van die owerheid se onbekwaamheid dalk nie baie akkuraat is nie en wat blykbaar steeds toeneem). Sowat die helfte van die siektegevalle het herstel en meer as 260 mense het weens die virus gesterf.

In Amerika het meer as 90 000 mense reeds aan die siekte beswyk, in Brittanje meer as 35 000, Italië byna 33 000, in Spanje byna 30 000, Frankryk meer as 28 000, in Duitsland meer as 8 000, en in Nederland amper 6 000.

Dit sê egter nie alles nie, want dit gaan om die sterftekoers per 100 000 van die bevolking. Dan loop – aldus navorsing van die Johns Hopkins-Universiteit in Amerika – België voor met 79,84, Spanje met 58,99, Italië met 52,56, Brittanje met 51,96 en Nederland met 33,02.

Amerika se sterftekoers staan op 27,13. Onder die ontwikkelde lande loop Duitsland taamlik agter met slegs 9,57 en Oostenryk met 7,11. In Suid-Afrika is die syfer 0,45.

Ja, ek moes ook twee keer kyk toe ek die tabel sien. Regverdig dit die totaal drakoniese – en, reguit gestel, belaglike – maatreëls wat die Suid-Afrikaanse owerheid aan die bevolking opdwing?

Kom ons wees regverdig en laat ’n paar feite toe wat meer perspektief bied.

Ten eerste, die besmettings- en sterftesyfer het die laaste week of wat taamlik sterk in ons land opgeskiet. By alle kritiek wat ’n mens op die regering kan uitspreek, móét in gedagte gehou word dat die pandemie behoorlik kan wortel skiet, veral in die townships met hul hoë bevolkingsdigtheid waar mense in diepe armoede na aan en oor mekaar moet leef.

As dit gebeur, kan dit die Spaanse Griep van ’n eeu gelede na ’n Sondagskoolpiekniek laat lyk.

’n Tweede faktor wat egter daarteen indruis, is dat die situasie in ons land dramaties van dié in die ontwikkelde lande verskil. Oral verloor miljoene mense hul werk, maar veral in Europa kan die owerhede dit deur lenings en uitkerings taamlik oorbrug sodat niemand in elk geval honger hoef te gaan slaap nie.

In Suid-Afrika bestaan daardie vangnet nie. Daar kan dit binnekort ’n kwessie word van óf steel en roof óf sterf van die honger.

Jy sien dieselfde dilemma, byvoorbeeld, in die krotbuurte van Brasilië, bekend as favelas, waar bendes oorneem en eenvoudig vat wat hulle wil hê. Deels gebeur dit al by ons, maar die dag kan kom dat die bendes die Eerstewêreldse woonbuurte invaar.

Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Foto: National Cogta/Twitter)

Die situasie word vererger deur die absoluut kranksinnige voorskrifte wat harde Staliniste soos min –  Ibrahim Patel en magsbeluste politici soos Madame Nkosazana Dlamini-Zuma (met haar charisma wat aan dié van ’n yskas herinner) – links en regs uitskryf. Die willekeurige en hardhandige manier waarop polisiebeamptes en soldate die bevolking benader – dit nogal soms op grond van “maatreëls” wat nêrens op skrif staan nie – en jy het die resep vir ’n ontploffing.

Op die agtergrond speel die magstryd tussen die gematigde en radikale vleuel van die regering ook ’n rol. Pres. Cyril Ramaphosa, lyk dit, neig na die gematigdes, maar Madame Nkosazana het hom op ’n gevoelige plek beet, en hy kan hom nie losruk nie.

Hy maak ’n vermoeide, taamlik lustelose indruk. Sy onlangse televisietoespraak was futloos en het niks nuuts bevat nie. Hy toon bitter min leierskap in ’n tyd wat om leiding skreeu.

Nou ja, in die afwesigheid van gesonde verstand by die owerheid moet die burgerlike samelewing dan maar self die leiding neem. Daarom is dit welkom dat AfriForum en Solidariteit die – heel waarskynlik ongrondwetlike – beperkings aan die howe voorlê.

Hopelik oordeel die regters suiwer. Intussen, om Alan Paton se woorde te misbruik, huil die geliefde land.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Die ANC deur sy Bevelsraad vernietig wat oor is van ons ekonomie.

capie

Ek tweifel of iemand dit beter kan stel. Daar kan miskien ook gekyk word na die hoe ouderdom van baie inwoners in sommige lande en dit vergelyk met wat ons hier het. Die gemiddelde ouderdom van die lande met hoe sterftesyfers is baie hoog.

Jaco

Ek haal aan uit hierdie berig “Intussen en oral word mense krapperig, en daar word reikhalsend na ’n verslapping van die beperkings uitgesien” Dis duidelik nie waar nie. Ek sien en hoor net wit mense kla. Wit lede van Solidariteit het selfs n optog gehou omdat hulle nie mag gaan werk nie. Maar ek sien en hoor NERENS dat our people kla nie. Niks. Doodse stilte. Nog iets: Polisie rand ‘n swart joernalis aan. Weermag slaan ‘n swart oortreerder van lockdown reels so erg dat hy sterf. Maar our people bly stil. UITERS vreemd. Selfs die EFF wat so gou… Lees meer »

Jan

Die lied Ou Ry perd laat my dink aan die woord wat hulle laaik om te gebruik. APARTHEID

Josef

Die ANC se magsgevoel berus op die groot getal swart mense in SA relatief tot ander bevolkingsgroepe. Iets soos ‘n pandemie wat hierdie getalle oorwig moontlik mag aantas skep dus vrees by die ANC leierskorps. Ek dink dit verklaar, minstens gedeeltelik, uiters streng maatreëls in SA relatief tot die lae infeksie koers.
Verder herinner die styl van sommige ministers my aan hoe die hoofmanne in die destydse tuislande hul onderdane behandel het.