Iran laat die terreurmarionet dans

Deur Ilse Strauss

‘n Iranse ondersteuner van die Islamitiese Republiek en die Opperleier Ayatollah Ali Khamenei waai op 11 Februarie 2024 ‘n Iranse vlag voor die Azadi (Vryheid) monument in die weste van Teheran, terwyl hulle aan ‘n saamtrek deelneem om die 45ste herdenking van die oorwinning van Iran se Islamitiese Revolusie van 1979. (Foto deur Morteza Nikoubazl/NurPhoto) (Foto: Morteza Nikoubazl / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Die oorlog tussen Israel en Hamas blyk onverpoos voort te marsjeer na die vyfmaandmerk – in Gaza en op sosiale media.

Terwyl die Israeli weermag Hamas-terroriste in burgerlike drag in tonnels, hospitale en woonstelblokke uitsnuffel, pak Israel-ondersteuners en Hamas-simpatiseerders mekaar in die loopgrawe van Facebook, Instagram, Twitter en Snapchat.

Die grense van die slagveld – in Gaza en in die openbare debat – blyk duidelik afgeëts te lê: Israel aan die een kant en Hamas aan die ander.

Tog waarsku prof. Kobi Michael, senior navorser by die Instituut vir Nasionale Sekerheidstudies verbonde aan die Tel Aviv Universiteit en hoofredakteur van Strategiese Assessering, dat dit maklik is om die groter prentjie en sodoende die omvang en erns van die konflik mis te kyk.

Die oorlog wat op 7 Oktober uitgebreek het, verduidelik Michael, is nie ʼn konfrontasie tussen Israel en die Palestyne of selfs Israel en Hamas nie. Dis ʼn oorlog wat die hele streek raak met Israel as die brandpunt en Iran as die poppekasmeester wat agter die skerms werk om die terreurmarionet te laat dans – met ʼn baie spesifieke doel voor oë.

Stukkie van die legkaart

Die Joodse staat veg tans volgens Michael ʼn oorlog met vyf aktiewe fronte in en om Israel, elk met verskillende vlakke van intensiteit.

Die mees sigbare en intensiewe is die Gazastrook, die tuiste van Hamas. Dan is daar Judea en Samaria, die Wesoewer, waar Hamas spesifiek ná 7 Oktober meer steun opbou. Verder noord is suid-Libanon, waar die terreurweermag Hisbolla ingegrawe wag, bewapen met ʼn arsenaal van tot 300 000 missiele. ʼn Hanetreetjie daarvandaan in die suide van Sirië lê nog ʼn aantal leërmagte oorgehaal, reg langs naburige Irak, waar ʼn aantal ander milisies gereed maak om toe te slaan. Laastens is daar die Houthi-rebelle in Jemen, wat elke nou en dan ʼn ballistiese missiele na die Joodse staat lanseer en skepe kaap wat glo bande het met Israel.

‘n Israeliese weermagsoldaat ‘n vuur ‘n wapen af op ‘n ongespesifiseerde plek in die Gazastrook te midde van voortdurende gevegte tussen Israel en die Palestynse militante groep Hamas. (Foto: Israeliese Weermag / AFP)

Buiten dat al die fronte vir Israel in die visier het, is daar nog ʼn kardinale band wat al die troepe onder een vaandel saamsnoer. Die terreuragente aktief in die multifrontoorlog vorm deel van die sogenaamde Aksis van Weerstand, ʼn militêre alliansie wat oor vier dekades deur Iran gebore, versorg, gementor en befonds is om die Israeliese en Amerikaanse teenwoordigheid uit die Midde-Ooste te dryf.

Die bestaan ​​van die aksis is geen geheim nie.

Die terreurgroepe werk immers al vir sowat 40 jaar beide openlik en agter die skerms saam. 7 Oktober en die daaropvolgende oorlog het egter die djihadistiese alliansie op ʼn kommerwekkende nuwe manier in die internasionale kollig geplaas. Vir die eerste keer sedert Iran begin het om die terreurgroepe te werf, mobiliseer die aksis terselfdertyd op verskeie fronte om op ʼn spesifieke teiken toe te slaan: Israel.

En die toekomstige stabiliteit van die Midde-Ooste en die Westerse wêreld daarbuite hang tot ʼn groot mate af van hoe goed Iran se terreuronderneming vaar.

“In wese is hierdie die tweede hoofstuk van Israel se Vryheidsoorlog, met Israel wat ʼn eksistensiële bedreiging in die gesig staar – nie omdat Hamas of Hisbolla eksistensiële bedreigings is nie, maar eerder komponente in ʼn veel wyer kamp of weerstand-aksis, met Iran aan die hoof en onderskraag deur Rusland en China. Die oorlog is nie plaaslik nie. Dis nie beperk tot die Gazastrook of selfs tot Israel en die Palestyne nie. Hierdie is ʼn streeksoorlog wat ʼn onmiddellike impak op die hele wêreld het.”

Hierdie is volgens Michael die kern van die oorlog.

ʼn Rookwolk tydens Israel se bomaanval in Rafah (6 Februarie 2024) (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Volgens Michael weerklink elke skoot wat in en om Israel gevuur word in elke ander gebied, sfeer of industrie regoor die wêreld – of dit nou Afrika, Oekraïne of die Suid-Chinese See is.

“Dit is hoekom die VSA onmiddellik [na 7 Oktober] ʼn militêre teenwoordigheid in die streek gevestig het om die oorlog te beperk en om Iran te waarsku teen ʼn eskalasie. Dit was ʼn duidelike boodskap aan Israel se vyande dat Washington ernstig en toegewyd is aan die veiligheid van sy bondgenote.”

Maar hoekom?

Die grootbase in Iran was nog altyd uitgesproke oor hul ambisie om Israel te vernietig. Die Joodse staat is egter kwalik die einddoel. Trouens, Tehran se strewe na streekshegemonie is ʼn voorloper tot globale beheer.

Sedert die Islamitiese Rewolusie van 1979 was een van Iran se sleutelprioriteite die uitvoer van die beginsels, oortuigings en praktyke van die rewolusie na die wêreld daar buite. Iran het geen geheim daarvan gemaak nie dat hul buitelandse beleid vra vir die instelling van Sharia-wetgewing in beide Islamitiese en nie-Islamitiese lande regoor die wêreld deur middel van bekering. En as bekering misluk, het Ruhollah Khomeini, die vader van die Islamitiese Republiek van Iran, geskryf, was die enigste antwoord om in die voetspore van die “triomfantelike” weermagte van ouds te volg wat “uit die moskee na die slagveld vertrek” het om met geweld reg te kry wat mooipraat nie kon nie.

’n Israeliese soldaat kyk toe hoe ’n helikopter opstyg tydens ’n militêre oefening in Bo-Galiléa naby die Libanon-grens op 7 Februarie 2024, te midde van voortdurende gevegte tussen Israel en Palestynse Hamas-militante in die Gazastrook. (Foto: Jalaa MAREY / AFP)

In die 40 jaar sedert die rewolusie was Iran hard aan die werk om Khomeini se oproep te beantwoord. Vandag spog Tehran met meer as ʼn dosyn milisies en terreurgroepe regoor die Midde-Ooste – met veilige hawes in die res van die wêreld. Al hierdie terreuragente word befonds, opgelei en is verantwoordbaar aan Iran se Islamitiese Revolusionêre Wagkorps, ʼn paramilitêre liggaam wat deur Bahrein, Saoedi-Arabië, Swede en die Verenigde State as ʼn terreurorganisasie erken word.

En al hierdie agente staan gereed om “uit die moskee na die slagveld” te marsjeer om die beginsels, oortuigings en praktyke van Iran se glorieryke rewolusie na die buiteland uit te voer. Met ʼn goeie aantal van hierdie agente, insluitend Hamas, Hisbolla en die Houthi-rebelle, wat so te sê in Israel se agterplaas boer, is daar geen twyfel dat die Iranse grootbase Israel in hul visier het as die volgende, maar beslis nie die laaste, teiken nie.

“Eers die Saterdagmense”

“Ek beveel sterk aan dat almal aandagtig luister na wat die leiers van Iran, Hamas, Hisbolla en die ander lede van die aksis in die verlede gesê het en vandag steeds sê. Hulle erken dat die vernietiging van Israel slegs die eerste fase is. Die tweede fase sal Berlyn, Parys en New York wees. En 7 Oktober staan ​​as bewys dat daar geen verskil tussen hulle woorde en hul dade is nie. 7 Oktober staan ​​as bewys dat ons hulle ernstig kan opneem.”

So waarsku Michael.

Nuushoofopskrifte en sosiale media mag heel moontlik voortgaan om te fokus op die hier en nou, op die gelokaliseerde oorlog in die Gazastrook – om hierdie konflik voor te lê as ʼn afsonderlike, individuele geveg met geen internasionale gevolge nie.

Dis egter belangrik om die groter prentjie te sien. Nee, hierdie is beslis nie net ʼn oorlog tussen Israel en die Palestyne of selfs Israel en Hamas nie. En die eksistensiële bedreiging wat Israel in die gesig staar, het nie net betrekking op die Joodse staat nie. Israel se geveg is namens ons en die res van die vrye wêreld.

  • Ilse woon saam met haar man, dogtertjie en drie worshonde in Jerusalem. Sy dien as ‘n vrywilliger by Bridges for Peace, ‘n Christenorganisasie wat verhoudinge bou tussen Christene en Jode.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Baie goeie insiggewende skrywe en inligting betreffende die huidige konflik en die uiteindelike bereiking van Iran en sy bondgenote.As die Weste en Ooste vandag aanmekaar moet spring,gaan die mens homself uitwis.Dit sal verseker nie iets wees om te beleef nie.

Sê maar net ·

Baie dankie Ilse. Jy verduidelik so mooi, die hele prentjie. Mag God julle seën in Sy werk wat julle daar help doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.