Iran nie die groot sondaar in Midde-Ooste

donald-trump-saoedi-arabie

President Donald Trump het Saoedi-Arabië besoek. Foto: ‘n Skermskoot uit die Withuis se video van die besoek.

Twee belangrike gebeure het die afgelope naweek in die Midde-Ooste plaasgevind. Saterdag is pres. Hassan Rouhani met ’n wegholoorwinning tot ’n tweede termyn van vier jaar as president van Iran verkies. Sondag het pres. Donald Trump in Riaad in Saoedi-Arabië ʼn belangrike toespraak voor leiers van talle Moslemlande gelewer.

Een probleem van Amerikaanse buitelandse beleid is dat dié land nie maklik vergewe en vergeet nie. Die huidige obsessie oor Noord-Korea en voortdurende verdagmakery van Rusland is goeie voorbeelde daarvan. Sedert die revolusie in Iran in 1979, toe ’n Amerikaans-gesteunde monargie omvergewerp is, is Iran deel van die lysie van lande wat voortdurend deur Amerika beveg moet word.

Die verdelingslyn tussen Soenniete en Sjiiete in die Midde-Ooste word die afgelope jare toenemend deur die Amerikaners uitgebuit. Dit maak dus sin dat pres. Trump besluit het om sy groot Midde-Oosterse toespraak Sondag in die hartland van Soenni-Islam te gaan lewer.

In die toespraak het Trump ook te velde getrek teen Iran en is die Irannese byna gelykgestel aan die Islamitiese Staat. Oor die afgelope paar jaar is die verhouding tussen Amerika en Saoedi-Arabië versterk met Amerikaanse wapenvervaardigers wat blink glimlag soos wat hulle wapens aan Saoedi-Arabië verkoop. Dit is immers ook hierdie wapens wat tot verwoesting in Jemen aanleiding gegee het en wat aan talle rebellegroepe in Sirië beskikbaar gestel is.

Die Amerikaanse oorloglustiges is sekerlik spyt daaroor dat die gematigde pres. Rouhani van Iran Saterdag herkies is. Die Amerikaners sou eerder wou sien dat sy meer ekstreme teenstander, Ebrahim Raisi, die verkiesing moes wen sodat hulle kon verklaar: Kyk daar, ons was reg oor Iran!

Die werklikheid is egter dat Amerika soos met Noord-Korea en Rusland nie van hul uitgediende denke oor Iran kan ontsnap nie. Die feit dat 57% van Irannese kiesers Saterdag vir Rouhani gestem het, stuur ’n sterk boodskap dat ’n meerderheid van kiesers in Iran beter verhoudinge met die Weste wil handhaaf. Rouhani se veldtog is gebou op goeie verhoudinge met die Weste, beter internasionale handel en die regte van minderhede soos Christene. Klink dit nie soos die soort Midde-Oosterse leier wat die steun van die Weste verdien nie? Daar bestaan min rede om te dink dat Iran ’n bedreiging vir die Weste of selfs die res van die Midde-Ooste inhou.

Wat in Sirië en Jemen gebeur, is genoeg rede om te besef dat die Soenni’s van Saoedi-Arabië veel meer die sondaars van die Midde-Ooste is. Onder die diktatorskap van Basjar al-Assad, gesteun deur Rusland en Iran, het minderhede soos Christene beskerming in Sirië geniet. Ná die Soenni-gedrewe burgeroorlog is Sirië vandag aan flarde geskeur, is die meeste Christene uit die land verjaag en het ekstremistiese groepe ’n voet in die deur.

Amerikaanse beleid jeens Iran word grootliks gedryf deur die Amerikaanse wapenhandel met Saoedi-Arabië, bitterheid oor die Irannese revolusie en Amerika se vrees vir die gesamentlike invloed van Rusland en Iran in Midde-Oosterse politiek.

Die Amerikaanse regering hou hom blind vir die finansiering wat talle terroristegroepe soos Al-Kaïda en die Islamitiese Staat uit Saoedi-Arabië ontvang. Westerse leiers wat ernstig is oor vrede in die Midde-Ooste en goeie verhouding tussen die Weste en Moslemlande sal eerder gematigdes in Iran moet ondersteun en met meer kritiese oë na Saoedi-Arabië moet kyk.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kosie ·

Jaco, Ek stem saam met jou evaluering, veral die Amerikaners wat nie wil aanvaar die Koue Oorlog is verby, en dat Rusland nou `n bondgenoot, nie meer die vyand is nie. Om duiwelsadvokaat te speel: Iran is `n probleem vir Israel, en Iran en Rusland saam besit die meeste aardgas. Iran is ook nie `n Moslemstaat nie. Israel is mos die 51ste staat van die VSA.

Neels Malan ·

Iran is nie ‘n Moslemstaat nie? Verduidelik asseblief!

JC ·

Baie dankie Jaco. In die kol. Die verduideliking vir die vreemde hand-om-die-blaas verhouding van die VSA met Saoedi-Arabie; wat in ideologiese terme eintlik een van die VSA se grootste vyande moet wees; het my altyd ontwyk. Nou het jy dit uiteindelik vir my bevrediglik verduidelik. Dankie!!

Gerhard ·

Iran mag dalk nie die groot”ste” sondaar in die Midde-Ooste wees nie maar in ‘n deel van die wereld waar amper al die state/regerings “sondaars” is hulle die VSA se grootste vyand en Saoedi-Arabie ‘n vriend. Hulle het ook daardie rol vir hulsef aangeneem en kan nie onskuld pleit nie.

Frans C ·

‘n Fundamemtele denkfout deur skrywer. Die Iranse President is nie die een inbeheer van Iran nie. Die persoon werklik inbeheer is die ‘Supreme leader’.Hy is die een wat volgens die Iranse konstitusie verantwoordelik is vir die afbakening en toesig oor die algemene beleidsrigtings van die ‘Islamic Republic of Iran’.Dit is dan ook hy wat die trant en rigting van Iran se huishoudelike en buitelandse beleid bepaal. Hy het wyd verspreide magte, is die hoof
van die weermag en beheer intelligensie en sekuriteit.

Hy stel aan en ontslaan regters.Dit was ook opmerklik dat nie hy of die President ‘n grootbek generaal tot orde geroep het, dat net 7 minute nodig is om Israel van die kaart te vee, of om te keer dat duisende troepe betrokke was in gevegte by Aleppo.

Jaco Kleynhans ·

Beste Frans. Ek is bewus van die beheerstrukture in Iran en dat die president beperkte mag het. Hy beskik egter sonder twyfel oor sekere magte en is nie irrelevant nie. Iran is ver van ‘n perfekte land, maar op die skaal van demokrasie is hulle heelwat meer demokraties as Saoedi-Arabië. Daar vind immers darem verkiesings in Iran plaas! Ek probeer geensins in my artikel sê dat Iran ‘n engeltjieland is nie – hulle sondes is legio, maar om te sê dat Saoedi-Arabië die Weste se vriend moet wees en dat Iran ‘n absolute vyand is, is kortsigtig en sprekend van neo-konserwatiewe intervensionistiese groepe wat veral deur wapen- en oliehandel gedryf word.

Gideon ·

Jaco jy opper goeie argumente maar meld ‘n aantal belangrike punte nie. Iran ondersteun en bewapen op ‘n groot skaal terreurgroepe, Iran is militer betrokke in ‘n koverte hoedanigheid in talle konflikte, Iran streef daarna om kernwapens te bekom, Iran begeer die vernietiging van Israel, Iran verdra nie opposisie nie en elimineer opponente, en so kan ek voortgaan. Kritiek teenoor Amerika is dikwels gegrond, ongelukkig ervaar ek jou artikel as eensydig, ongebalanseerd en oningelig. Amerika se foute maak nie Iran ‘n beter plek nie.

Henry ·

Stem allie pad saam Gideon.
Vir wat dit ookal werd mag wees.
:-)

Jaco Kleynhans ·

Gideon. 500 woorde is ongelukkig maar min en daarom baie moeilik om ‘n ingewikkelde saak soos Midde-Oosterse magsverhoudinge volledig te probeer bespreek. Daar is baie punte wat ek nie in my artikel genoem het nie en jy lys tereg enkele daarvan. Die punt is nie of Iran goed of sleg is nie, maar eerder Amerika se blindelingse vriendskap met Saoedi-Arabië en blindelingse vyandskap met Iran. Dit is kortsigtig en verkeerd.

Henry ·

Dit is juis die VSA se “blindelingse” kernverdrag onder aansporing en leiding van die vorige Obama bewind, wat die teenreaksie van Trump en die Republikeine se kant onafwendbaar gemaak het.

Volgehoue ballistiese missiel toetse deur Iran wat sedert die verdrag uitgevoer word, asook die kernwapenvermoëns waaroor Iran waarskynlik reeds beskik en steeds op klandestiene wyse aan’t ontwikkel is, bevestig die Trumpbewind se ondersteuning van Saoedi Arabië.

Naas Israel, is die Saudi’s loshande die Iran regime se grootste vyand.

So van blindelingse vertroue gepraat. Oorle’ Hitler het destyds ook ‘n verdrag met Stalin se USSR gesluit om oompie Adolf se grootste vyand en teiken uit te skakel, tot tyd en wyl hy die Wes Europese state plat geloop het.

Adoons ·

Nie heeltemal seker van watter ‘obsessie’ met Noord-Korea jy praat nie. Daai speenvarkie met die vreemde haarstyl wat hulle leier genoem word, is verseker ‘n ‘obsessie’ werd, of meen jy mens moet hom maar net ignoreer?

Gerhard ·

Dit is hoe meeste mense dit sal insien. Ek moet wonder of sekere skrywers nie ‘n obsessie met die VSA het nie.

Jaco Kleynhans ·

Adoons. Indien jy tyd in Amerika spandeer sal jy sien dat die Amerikaanse regering, weermag, intelligensiedienste, media en gewone burgers ‘n daaglikse obsessie met Noord-Korea het. Noord-Korea en moontlike bedrygings van dié land word intensief orals bespreek. My standpunt is dat die bedreiging van Noord-Korea oordryf word en dat Amerika die hantering van Noord-Korea se kernwapenontwikkeling aan China, Japan en Suid-Korea moet oorlaat.

Vaalseun ·

Jaco, agter Trump se besoek aan Saoedi-Arabië staan net een woord geskryf: olie. 22% van Amerika se olie kom tans van 4 OPEC lande in die Midde-Ooste: Saoedi-Arabië, Irak, Kuweit en die VAE. Maar die belangrikste vir Amerika se toekoms is dat 45% van OPEC se olie reserwes lê in 4 OPEC lande: Saoedi-Arabië, Iran, Irak en Kuweit. Amerika hou hom vir niks blind in die Midde-Ooste nie. Hy sien en verstaan alles wat gebeur, maar hy moet sy kosbare olie-bronne ten alle koste troetel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.