Iran: “Toutjietrekker” Ali Akbar Rafsandsjani sterf

Ali-Akbar-Hasjemi-Rafsandsjani

Ali Akbar Hasjemi Rafsandsjani. Foto: Interalex.net

Een van die langdurigste en mees bedrewe politici van Iran en die Midde-Ooste, Ali Akbar Hasjemi Rafsandsjani, is onlangs op die ouderdom van 82 jaar oorlede. Hy was een van die laaste van die oorspronklike revolusionêre Moslems wat onder leiding van Roeholla Khomeini in 1979 die Persiese Sjah omver gewerp en ʼn Islamitiese Republiek uitgeroep het.

Hy was ʼn medestryder en vertroueling van Khomeini, die “Opperste Leier” wat nie verkies word nie, maar as godsdienstige leier soos ʼn koning lewenslank regeer. Rafsandsjani was in die eerste dekade van die Islamitiese revolusie (1980-1989) die president van die parlement en na Khomeini se dood in 1989, president van Iran vir die volgende dekade tot en met 1997.

Rafsandsjani  was ook as invloedryke toutjietrekker verantwoordelik vir die keuse van die redelik onbekende Ali Khamenei as Khomeni se opvolger as Opperste Leier. Hy was nie self vir die pos bestem nie, omdat hy nie ‘n gevorderde teoloog was nie. Hy het na sy uittrede as president, na twee termyne, gesorg dat die gematigde Mohammed Kathami as sy opvolger verkies word en het, hoewel hy deel van die elite was, as hervormer ontpop.

Aangesien Rafsandsjani deel van die magskliek was, maar ook ʼn mate van aanhang en vertroue onder die gewone bevolking geniet het, kon hy optree as brugbouer tussen die uiters behoudende groep rondom Khamenei, die Revolusionêre Garde (ʼn soort elite-weermag) en die raad van wagters, wat alle teologiese vraagstukke, ook die keuse van kandidate vir presidentskap, moes beoordeel aan die een kant en die bevolking asook die sakebelange, aan die ander kant.

Rafsandsjani was ʼn soort Machiavelli van die Midde-Ooste en die belange van Iran (en sy eie politieke posisie) was vir hom belangriker as teologiese suiwerheid of lojaliteit aan ʼn spesifieke mens. Daarom was hy ook as pragmatis oop vir onderhandelinge met die Weste, selfs met Israel, wat deur die streng Moslems as lande beskou is waarmee jy nie praat nie, maar wat jy probeer vernietig.

Na die gematigde Kathami se uittrede, het Rafsandsjani jomself weer in 2005 verkiesbaar gestel as president, maar die radikale nasionalis en Moslem, Mahmoed Amadinedsjad, wat twee termyne regeer het en ʼn uitgesproke vyand van Israel en die Weste was, het hom verslaan. Rafsandsjani was op die verdediging, maar het steeds invloedryk gebly as voorsitter van die bemiddelingsraad, ʼn posisie wat hy tot en met sy afsterwe behou het.

In die jeugopstande van 2009, teen president Amadinedsjad (die sogenaamde groen revolusie), wat die Arabiese lente met ʼn jaar voorafgegaan het en wat hardhandig onderdruk is, het Rafsandjani sy nek ver uitgesteek en ‘n beroep op Amadinedsjad gedoen om te bedank. Hoewel hy ʼn ergernis vir die behoudendes geraak het en toenemend met die Opperste Leier Khamenei gebots het, het die groep nie gewaag om Rafsandsjani met sy wye netwerk te ontsetel nie.

Die huidige president, Hassan Rouhani, is ook Rafsandsjani se keuse en vertroueling. Benewens sy politieke mag, was Rafsandsjani ook uiters welvarend en invloedryk in sakekringe en hy het die monopolie oor die pistaccioneutmark gehad. Anders as die meeste revolusionêre leiers, het hy uit ‘n ryk familie gekom, wat teen hom getel het.

Daarbenewens moet mens egter nie vergeet dat Rafsandsjani ʼn hervormer en gematigde was binne die konteks van die uiters radikale Islamitiese Republiek van Iran nie. As president het hy ook opdragte gegee om instellings in Israel aan te val en hy wou hervorm om die Islamitiese Republiek, een van die mees onderdrukkende regimes ter wêreld, te behou.

Met Rafsandsjani se dood is die groep van die hervormers verswak. Iran is juis nou besig om sy ooreenkoms met die Weste, oor die vreedsame gebruik van kernenergie, te implementeer en daarvoor is baie diplomasie nodig.

President Rohani se posisie is nou verswak en hy moet in Mei weer staan vir sy tweede termyn en sy herverkiesing is nie ʼn uitgemaakte saak nie. Die groot vraag is ook wat die verhoudinge tussen Iran en sy aardsvyand, die VSA, gaan wees onder ʼn president Trump wat nie vir sy diplomasie of sagte plek vir Moslems bekend is nie. Onder president Obama het verhoudinge met Iran effens ontspan, maar ten koste van groot toegewings deur die Weste.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Carel ·

En nou dat hy dood is leer hy wat is die waarheid. Jammer Rafsandsjani, jy het heeltemal misgevat!

Fanie ·

Sebastiaan, uitstekende ontleding dankie. Iranieërs is Perse, en tot die Islam gedwing deur Arabiese Moslems. Maak dit hul minder fundamentalisties, of is hul ou kultuur al volledig Islamiseer? Dit lyk by of die Turke tog makliker by die Moderne wêreld inskakel as bv die Saudi’s? Moet die Weste die hele Islamwêreld onder een kam skeer? Dit klink nie verstandig.

Sebastiaan ·

Beste Fanie, dankie vir die kompliment. Islam het inderdaad in die huidige Saoedi-Arabie ontstaan en vandaaraf in alle rigtings versprei deur middel van verowerings, ook na die oeroue beskawing van die Perse wat in die 7de eeu na Christus verower is. Die tradisionele geloof van die Perse, Zoroastrianisme, is geleidelik deur Islam vervang en vandag is Iran feitlik 100% Moslem. Kultureel is daar wel ‘n verskil teenoor die Arabiese lande, en die Perse kyk as ou beskawing blykbaar effens neer op die “woestynmense” (Arabiere), maar wat godsdiens betref is hulle ewe fanaties en die Islam staan nog meer sentraal as die Iranese of Persiese volk. Wat hulle anders maak as meeste Islam-state is die feit dat hulle die Sjiïtiese denominasie aanhang, wat sowat 20% van alle Moslems aanhang, teenoor die meerderheidsdenominasie van die Soennite (die dispuut gaan veral oor die kwessie wie die stigter Mohammed se wettige opvolger was). Omdat Iran die eerste teokrasie in die meer onlangse tyd was, en ‘n uitgesproke vyand van die Weste en Israel was en is, is hulle gelykgestel met fundamentalisme, maar die Saoedis is ewe fundamentalisties, maar wel om strategiese redes bondgenote van die VSA, terwyl Iran die VSA altyd as hoofvyand gesien het en nog steeds doen. Iran en Saoedi-Arabië as die leierstate van die onderskeie Islam-denominasies in die Midde-Ooste is ook in verskeie indirekte oorloë gewikkel oor die hegemonie in die streek, byvoorbeeld in Jemen en ook in Sirie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.