IRV moet eerder voor sy eie deur vee

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

“Konserwatiewes glo Liberales is verkeerd. Liberales glo Konserwatiewes is boos.” Roger Scruton – Britse Filosoof.

Die Griekse wysgeer Sokrates het volgens oorlewering gesê: “Groot geeste bespreek idees; gemiddeldes bespreek gebeure; klein geeste bespreek mense.”

Dit is hoekom ek so teleurgesteld was in Frans Cronje van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) se kleingeestige openbare aanval op die Solidariteit Beweging. Die IRV is een van die voorste navorsingsinstitute in die land, en doen al jare goeie werk om eiendomsreg, die oppergesag van die reg en die markekonomie te beskerm. Frans Cronjé, die IRV se bestuurshoof, het ʼn naam opgebou vir sy raakvataanvalle op die ANC. Hy kon met ons Beweging se twee navorsingsinstitute geskakel het om verskille te bespreek eerder as om in die openbaar modder te gooi. Daar is groter krisisse in die land as om nou mense te belaster wat talle raakpunte met mekaar het.

Cronje en die IRV is Engels en kom uit daardie liberale tradisie. Ons Beweging is op Christen-Demokratiese beginsels van die hoofstroom konserwatiewe beweging in die Weste gegrond. Ernst Roets van AfriForum het op sosiale media sterk teen ʼn rubriekskrywer van die IRV standpunt ingeneem wat ʼn venynige aanval op die Christendom en gelowiges gedoen het. Dit was al – ʼn verskil tussen twee persone wat twee organisasies en verskillende denkwyses verteenwoordig. Ongelukkig het die rubriekskrywer dit nie daar gelaat nie en in die openbaar valslik beweer dat AfriForum ʼn veldtog teen die IRV voer, en hom as persoon vervolg (“persecute”) en wil laat afdank. Daarna het Frans Cronje die leuen verkondig dat die Solidariteit Beweging ʼn veldtog voer om die IRV te vernietig, en (op bisarre wyse) vir Martin Luther aangehaal om sy verdediging van ʼn godslasterlike artikel te regverdig. Hy het homself en die IRV as slagoffers geskets, uitgebeeld as dapper vegters vir spraakvryheid, kamtig moedig aangedui dat hulle eerder finansieel sal ondergaan as om hul beginsels prys te gee en, les bes, die rassekaart gespeel deur te verklaar dat ons Beweging rasse-nasionalisties is.

IRV-donateurs

Dit klink alles baie dramaties, behalwe dat dit onsin is en eerder ʼn laakbare poging is om sy groot linkse donateurs te oortuig dat hy woes vir oorlewing teen bose Afrikaner-rassiste veg. Die IRV is onder groot druk van hul korporatiewe en buitelandse donateurs wat voel dat hul sterk standpunte teen die regering versag moet word, en nou val die IRV ons in die media aan om aan hierdie donateurs te “bewys” hoe deugsaam hulle is. My kort antwoord is dat dit banaal is om Luther te gebruik om godslastering te verdedig, dat dit ʼn openbare leuen is dat ons ’n veldtog teen hulle voer, dat dit gemeen is om die rassekaart te speel, dat hy in sy eie wêreld leef wat die IRV se oordrewe suksesse betref, en dat dit besonder swak oordeel is om onnodige agterhoedegeveggies te begin.

Dis nie net die IRV wat die gematigde middelgrond in die land wil saamtrek nie. Ons dink bloot net nie alle gematigdes van alle rasse gaan skielik Engels-liberaal word nie. Dit maak ons nie “bose” rassiste nie; ons het bloot ʼn ander siening en strategie. Dit is om wedersydse erkenning en respek tussen alle rasse te bevorder, om benewens die saamtrek van Afrikaners ook saamwerkvennootskappe met ander gemeenskappe te sluit, en om gemeenskaplike belange met ander gemeenskappe na te streef, selfs waar ons nie gemeenskaplike sienings deel nie.

Ons voel sterk oor Christenskap, ook omdat dit een van die min samebindende waardes in ons verdeelde land is waar die Suid-Afrikaanse nasie grootliks net ʼn geografiese uitdrukking is.

Verwaandheid

Engelse liberales soos Cronje moet hulself afvra waarom daar ʼn wye weersin in die vermeende verwaandheid van sommige Engelse liberales is. Hulle gaan nie ander mense oortuig as hulle optree asof hulle ʼn alleenreg op die waarheid het nie. Soos prof. Malegapuru Makgoba dit gestel het:

“South African liberals and the self-declared champions of liberal values are in general English-speaking white South Africans.  According to this logic, it seems there are no Afrikaners, Africans, or Indians who are categorised as liberals … The denial or exclusion of this recognition of others, combined with the perceived association of a particular race group, is not only alienating but is also associated with arrogance, lack of racial sensitivity, and feelings of superiority (the holier-than-thou approach) that have become the features of some of our liberals – all I might say, recognised features of racism.”

Die filosoof Louise du Toit het hierdie verwaandheid soos volg beskryf: “I have no ideology because I am a liberal. I have no culture because I am Anglo-American. I have no language because I am English. Anders gestel, die Engelssprekende liberalis is die norm, alle ander is anders – of verkeerd.

Liberale tragedies

Maar die liberale siening dat hul ideologie nie net uniek is nie, maar ʼn universele waarheid, het al tot groot tragedies in die wêreld gelei. ʼn Voorbeeld hiervan was toe Amerikaanse pogings om ʼn liberale demokrasie op Irak af te dwing, ʼn langdurige en bloedige burgeroorlog en die opkoms van Isis tot gevolg gehad en later tot die vlugtelingkrisis gelei het. Die wêreld het toe nie Westers geword soos talle liberales ná die Koue Oorlog aanvaar het sou gebeur nie.

Daarom het die Harvard-kenner van demokratisering, prof. Samuel Huntington, gewaarsku: “Die Westerse geloof in die universaliteit van die Westerse kultuur het drie probleme: dit is vals, dit is immoreel en dit is gevaarlik.”

Hy het ook op die lesse van die Sowjet-ervaring gewys, naamlik: “… ideology is a weak glue to hold together people otherwise lacking racial, ethnic, and cultural sources of community.”

Ontwykende vryheid

Hierdie dieperliggende uitdaging is ten beste verwoord deur die bekende liberale demokraat, prof. Francis Fukuyama van Stanford, ná verskeie besoeke aan Suid-Afrika:

“For societies that are highly polarized along lines of social class, nationality, or religion, democracy can be a formula for stalemate and stagnation. South Africa’s constitutional democracy is a sort of foreign body that’s sitting on top of a society that’s not modernised in other respects.”

Fukuyama het ook verklaar dat ʼn demokrasie in ʼn heterogene eenheidstaat feitlik onmoontlik is, omdat net die meerderheidsgroep vry sal wees. Daarom is Christenskap so belangrik in ʼn land waar 80% van mense hulself as Christene beskryf. Dit is die naaste samebindende “gom” wat daar nog in die land is. Christenskap is inderdaad die “moedertaal” van Suid-Afrika, om die Duitse denker Wolfgang von Goethe in ʼn ander konteks aan te haal.

Demokratiese tirannie

Dis nie net buitelandse kenners wat teen die gevare van naïewe liberale modelle gewaarsku het nie. Prof. David Welsh van die Universiteit van Kaapstad het reeds jare gelede die volgende verklaar: “Simple majority rule … can easily – and commonly does – degenerate into a ‘tyranny of the majority’ when elections assume the form of a racial census. Undeniably, majorities have rights, but so do minorities. If … majorities use their power to steamroller minorities, denying them influence even in decisions that affect their vital interests, the quality of democracy will deteriorate.”

Hy het versiende verklaar dat: “… the comparative evidence from divided societies does not offer much support for the view that the salience of ethnic or racial identities will eventually give way to voting alignments that are shaped more by, say, class, interests or ideology.  Democratic constitutional forms have been maintained, but a single-party dominant system has become entrenched.”

Ná 26 jaar van demokrasie en 11 verkiesings moet dit darem vir enige waarnemer duidelik raak dat Suid-Afrika nie ʼn uitsondering op hierdie reël is nie, en onbedoeld, maar voorsienbaar, in ʼn demografiese demokrasie ontaard het.

Daarom moet Cronje stadig oor die klippe as dit kom by organisasies wat op sommige punte van hom verskil. Hulle is dalk nie boos nie; hulle het dalk net ander standpunte. En dit is selfs moontlik dat hul standpunte reg én regmatig is.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Adriaan ·

Wat n weldeurdagte en goed bewoorde mening! Dit lees so lekker soos n vroegoggend koppie koffie terwyl die ander ou my laat dink aan aan n plastiek glas flat gaskoeldrank …

Hoekom ·

Christen-Republikeins.

Demokrasie is ‘n manier om meerderheids regerings(wat gewoonlik lei tot eenparty state of diktatorskappe) te verseker…

Tino ·

Tipies afrikaners!

Baklei onder mekaar eerder asom te gom op waar hulle ooreenstem.

Kom ons skud hande na die houe en werk saam!

koos10 ·

Tino, die afduimpies verbaas my. Daar is groter dinge in die land aan die gang, maar tog is baklei onder mekaar lekker?

Ek het ‘n predekant gehad wat die volgende gesê het: “Sit 2 Hollanders by mekaar en hulle stig vir jou 3 kerke, sit 2 Afrikaners by mekaar en hulle stig vir jou 3 politieke partye.”

Ek kies nie hier ‘n kant nie, want my kennis oor die saak is te min, maar om mekaar in die openbaar aan te vat, is nie reg nie. Gaan doen wat julle albei altyd oor preek, gaan sit om ‘n tafel en praat, al is dit met ‘n bier in die hand, julle sal mekaar vind!

JapieG ·

Tino, ek sukkel n bietjie met jou kommentaar, jy praat van Afrikaners in die derde persoon as “hulle” maar jy verwys ook na “ons”, so ek is nie seker of jy as n “Afrikaner” identifiseer nie.
Daar is n verskil tussen n Suid Afrikaner en Afrikaner.
God en Geloof is die hoeksteen van die Afrikaner mense en as dit aangeval word, soos in met Ivo Vegter se artikel, is dit ons plig om op te staan teen dit, so ja jy is 100% korrek “Tipies Afrikaner”
Frans Cronje het gekies om in die media, Ivo se artikel te ondersteun en ook Ernst Roets en Solidariteit, met meestal valse aantuigens aanteval, wat nou “backfire” en tipies speel hulle nou “victim”
Met hierdie kaliber mense kan ons nie saam staan nie, so weereens ja, 100% korrek, “Tipies Afrikaner”
Koos, ek glo ook die “3 kerke” sal in hierdie geval ook saam staan

Maria ·

Ek dink Frans Cronje is baie spyt hy het daardie simpel stuk van Ivo Vegter geplaas. Miskien het hy ‘n slegte dag beleef. Hoe dit ook al sy die IRV doen ook uitstekende werk.

Sokrates ·

Flip Buys se denke en jnsigte getuig van n geweldige breë verwysingsraamwerk en n geankerdheid in vlymskerp logiese redeneervermoë. n Grondige teoretiese onderbou plaas sy argumente in n klas van sy eie, ligjare verwyderd van die gewone emosioneelgedrewe retoriek, waar persoonlike vooroordele en slordige denke al te dikwels die basis van die betoog is. Sy boek “Selfbeskikking” is n sprekende voorbeeld van die eerlike soeker na waarheid en kennis. Ivo Vegter behoort diep na te dink oor sy voortvarende aanslag. Ek het baie respek vir die werk van die IRV. Vegter moet dit oorweeg om te bedank, dit sal miskien die eerbare weg wees……

Vrijburger ·

Die tragiek – dat hierdie artikel nie op die IRV se Daily Friend geplaas word nie. Of selfs in die Afrikaanse hoofstroom media nie.

Dirk ·

In besigheid en Politiek, asook in sport, sien ons dikwels dat as jy twee goed probeer doen gelyktydig dan ly een skade, en die tweede val kort. Wanneer jy jouself voorhou as ‘n Christelike/Politieke organisasie, dan maak jy dit baie maklik vir die Saul Alinski’s van die wêreld om jou pak te gee oor jy nie oral kan keer nie. As jy die Christenskap verdedig kap hulle jou Polities en visa versa. Al wat Frans Cronje in my persoonlike opinie doen is om op ‘n inteligente manier te oppereer binee ‘n oop internasionale multirassige gosdiens-vryheid milieu, en hy doen dit inteligent en deursigtig.
So doen Afriforum ook hulle ding briljant goed en hy gee hulle al die erkenning daarvoor.
En as die Polimiek ten doel het om die twee te onderskei, wie weet – dit is dalk goed, omrede elkeen domein spesifiek is. Maar kom ons raak nie kleinlik en persoonlik nie. Die kerke het hulle eie politiek. Brose glaskastele. Ek dink Vegter het bloot gewys hoe prikkelbaar die gepeupel is.

Vrijburger ·

“Maar kom ons raak nie kleinlik en persoonlik nie.” – Bedoel jy nou soos Vegter in sy artikel? Of soos om na mense wat met Vegter verskil te verwys as “gepeupel”?

Ek dink die Vegter-insident het bloot gewys die IRV as skynheilige elitiste (hypocritical elitist).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.