Is 2017 die einde van die ‘Einde van die Geskiedenis’?

berlynse-muur-02

Foto: Pinterest.com

Die sosiale media gons omtrent van memes waarin daar vertel word dat 2016 die slegste jaar nog ooit was. Die rits sogenaamde glanspersoonlikhede in die VSA word gewoonlik ter motivering hiervan gelys, waarna daar gewoonlik met die “gruwels” van Brexit en Donald Trump se verkiesing as Amerikaanse president afgesluit word.

Prof. Koos Malan het onlangs tydens ’n gesprek oor die afgelope Amerikaanse verkiesing opgemerk dat dié gebeurtenis terugherlei kan word na die val van die Berlynse Muur in 1989, wat by nabetragting ’n ander simboliese betekenis gekry het as dit wat vir byna drie dekades aan ons vertel is.

Dié muur, wat regdeur Berlyn geloop het, was natuurlik die gedwonge skeiding tussen die Westerse (vrye) Wes-Duitsland en die kommunistiese Oos-Duitsland. Die onverwagte vernietiging in November 1989 van dié muur het die legitimiteitskrisis van kommunisme aan die wêreld ontmasker. Daar word steeds aanvaar dat kommunisme “finaal” deur dié daad gediskrediteer is. F.W. de Klerk het selfs aangevoer dat die vernietiging van die muur die enkele grootste gebeurtenis was wat hom beïnvloed het om op 2 Februarie 1990 aan te kondig dat Nelson Mandela vrygelaat sal word en dat die verbod op kommunisties georiënteerde organisasies herroep word.

In die negentigerjare het daar twee breë teorieë ontstaan oor wat die val van die Berlynse Muur nou eintlik beteken. Francis Fukayama het in sy beroemde boek The End of History and the Last Man aangevoer dat hierdie simboliese daad as ’t ware die einde van die geskiedenis meebring. Sy argument was dat hierdie gebeurtenis die oorwinning van liberale demokrasie as wêreldnorm gekenmerk het en dat alle ander regeringsvorms die finale nekslag toegedien is:

“We may be witnessing the end of history as such: that is, the end of mankind’s ideological evolution and the universalization of Western liberal democracy as the final form of human government.”

Fukayama het toegegee dat daar steeds aanhangers van Karl Marx en Vladimir Lenin sal wees, maar dat die liberale demokrasie reeds geseëvier het. Hy skryf verder dat toekomstige botsings nie oor idees of ideologieë gevoer sal word nie, maar eerder oor alledaagse ekonomiese en tegniese probleme. Hy kom dan tot die gevolgtrekking dat die wêreld ná die Koue Oorlog taamlik vervelig gaan wees. Die aanduidings is ook dat Fukayama reg was. In die 40 jaar tussen 1970 en 2010 was daar ’n enorme toename in die getal demokratiese state oor die hele wêreld. In 1973 is slegs 45 van die wêreld se 151 state deur die onafhanklike waghondorganisasie Freedom House as “vry” bestempel. Teen die laat 1990’s het ongeveer 120 state oor die wêreld – meer as 60% van die wêreld se onafhanklike state – verkiesingsdemokrasieë geword (en in gevalle waar state weerstand teen demokratisering gebied het, het die VSA hulle sommer vinnig in demokrasie in geboelie).

Samuel Huntington, eertydse dosent van Fukayama, was egter nie geneë met hierdie ontleding nie. In The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order voer hy aan dat die oomblik van opwinding wat deur die beëindiging van die Koue Oorlog ontstaan het bloot ’n illusie van harmonie bewerkstellig het en dat die tyd sal leer dat hoopvolle verwagtings oor liberalisme niks anders as ’n tydelike vreugde was nie. Die belangrikste faktor wat mense ná die Koue Oorlog van mekaar sou onderskei, skryf Huntington, sou nie ideologie, politiek of ekonomie wees nie, maar verskille tussen kultuurgroepe of beskawings.

Die debat was dus oor wat die val van die Berlynse Muur nou eintlik gesimboliseer het, terwyl die vraag was of die wêreld liberaal en demokraties sou word of nie. Wat egter in Fukayama se ontleding misgekyk is, soos wat Huntington en Malan tereg uitwys, was die element van gemeenskapspolitiek wat met die vernietiging van die Muur gepaardgegaan het. Huntington het wel hiermee rekening gehou. Ontledings van die simboliek van hierdie gebeurtenis wat slegs aanvaar dat dit oor die aanvaarding of verwerping van ’n bepaalde politieke stelsel gegaan het, skiet dus te kort. ’n Onderliggende element wat (met die voordeel van terugskou) ’n belangrike rol gespeel het, was die stelselmatige terugkeer na die belange van die gemeenskap as ’n groep en nie bloot die belange van ’n klomp individue nie, soos wat die liberalisme ons wil leer.

Brexit was as ’t ware ’n daad van identiteitspolitiek. Ten spyte van die voorspellings dat die ekonomie in duie sou stort (wat nie gebeur het nie), het Britte vir uittrede uit die Europese Unie gestem omdat vryheid vir die gemeenskap vir hulle groter gewig gedra het as die argument dat hulle (in finansiële terme) armer gaan word.

Die verkiesing van Donald Trump as president van Amerika was tot groot mate ’n teenreaksie op die oordadige, beterweterige en dikwels skynheilige liberalisme waarmee Amerikaners daagliks gekonfronteer word. Liberale kommentators en die media-elite maak dan graag die gevolgtrekking dat mense wat vir Trump gestem het sy karakterlose optrede teenoor byvoorbeeld vroue ondersteun. Die meer korrekte ontleding sou wees dat mense nie weens sy skandale vir Trump gestem het nie, maar ten spyte daarvan. Dit, juis omdat die teenreaksie teen die bestaande orde so groot is.

Gebeure soos Brexit en die verkiesing van Donald Trump het natuurlik nie in isolasie gebeur nie. Die hittete-verkiesingsuitslag die afgelope Desember in Oostenryk, waar die sogenaamde “verregse” Norbert Höfer met net 7,6% teen die linkse Alexander van der Bellen verloor het, is nog ’n voorbeeld. Dan was daar die peilings in Desember dat Geert Wilders se anti-immigrasie Partij Voor De Vrijheid in Nederland tans die party met die meeste steun is (en hulle voorsprong word groter). Die groeiende moontlikheid dat Marine le Pen (nog ’n sogenaamde “verregse”) die president van Frankryk kan word, is nog ’n voorbeeld. Só kan ek aangaan.

Hierdie verskynsel begin ons ook in Suid-Afrika opmerk. Dit lyk of mense met groeiende selfvertroue hulle in die openbaar oor hul ontnugtering met die hoofstroommedia uitspreek, om maar een voorbeeld te noem.

Hierdie selfvertroue hou natuurlik bepaalde risiko’s in. Die gevaar van ’n teenreaksie is dat dit gewoonlik tot ’n volgende teenreaksie lei. Ons moenie die fout maak om aan te neem dat alles wat nie links is nie, outomaties regs is nie. Ons moet ook versigtig wees in ons kritiek op die media. Dat daar rede is om te kritiseer, is vir seker so. Dit wis egter nie die feit uit nie dat daar uitstekende, objektiewe joernaliste is wat hulle afsloof om die nuus feitelik en objektief aan ons oor te dra. Hierdie mense moet ondersteun word. Dit is net ’n dwaas wat glo dat ’n ontnugtering met die een kant van die politieke spektrum ’n carte blanche skep om na die ander kant toe die perke van beskaafde optrede te ontken. Ons moet leer uit die foute wat die linkse elite gemaak het en ons optrede moreel só posisioneer dat ons ruimte vir diverse opinies behou. Doen ons dit nie, sal daar vir seker weer ’n teenreaksie wees.

Daar lê interessante tye vir ons voor. Maar dat die einde van die “Einde van die Geskiedenis” aangebreek het, is ’n feit soos ’n koei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hannah ·

Nugter weet wat… maar een ding is seker – daar le groot veranderinge voor. Iets se tog vir my dit gaan positief wees.

Ou Media-Vark ·

Die mens met sy multimedia het ontdek dat hy ook sy eie standpunt wêreldwyd op enige plek en enige tyd teen haas die spoed van lig kan verkondig en ondersteuning werf. Hy het sy “stem” ontdek. Elke mens kan nou ‘n ondersoekende joernalis wees en die kriminele se dade in die geheim en donkertes uitsnuffel en die feite daaroor wêreldwyd publiseer. Ook hul handelinge gaan deel wees van die toekomsige geskiedenis in wording.

Basson ·

Effe van die trant af – maar AS ek reg onthou skryf Genl Jannie Geldenhuys in ‘How the Soviets and Cubans lost the war in Southern Africa’ dat die Berlynse muur geval het agv die SAW se Angola ops? (Teruggetrek na die USSR (destyds) se fiansiele probleme) (Of dis dalk hoe ek die stuk geinterpreteer het)
Seker dabatteerbaar.

Steve Hofmeyr ·

Puik, nugter en ontnugterende stuk. Dis dalk nader aan die waarheid dat daar geen begin of einde aan geskiedenis is nie, net siklusse wat homself herhaal en dan konsentries uitstal. Dit sal ‘n fout wees om te dink dat enigiets (bv die groepsgevoel) ooit langs die pad verdwyn het. Teen bladsy 80 van die 700 bladsye van Brendan Sims se lywige EUROPE, The Struggle For Supremacy 1453 To Present, het ek reeds ‘n Trump, ‘n Brexit, ‘n NATO, ‘n EU, ‘n Merkel, ‘n onwettige immigrant, ‘n Hitler, ‘n Gandhi, ‘n Verwoerd, ‘n Malema en ‘n Zuma teëgekom. Jou nugter punt is dat ons ons nie moet blind staar teen wat as monumentaal voor ons afspeel nie. In die uur van die val van die Berlynse muur, was ‘n Trump en ‘n Brexit dalk ‘n onmoontlike vooruitsigte, maar alleen in daardie uur.

Theresa ·

Gister is al klaar weer geskiedenis. En dan, bly die massas en massas en massas mense wat buite hulself met tye vir ‘n saak staan, in my gedagtes opkom. Soos ‘n tsunami in vergelyking met ‘n fratsgolf. Geen weerstand daarteen nie… Dan ook onregverdige besluite wat ernstige gevolge vir mense inhou, wat geneem word maak nie saak hoeveel teenkanting daar is nie. Leuens en voortdurende breinspoeling is ‘n baie groot probleem. Wie gaan op die ou end nog die waarheid ken?

Basson ·

JA Theresa, ek wonder baie daaroor, soveel geheime agendas orals, hoofsaaklik gedryf deur geld en mag.

John ·

In elke era herken die mens nie sy ware vyand nie, anders was daar vrede op aarde. Hoekom sou dit wees? Is dit nie omdat die meeste mense net dit glo en navolg wat hulle wil glo en navolg nie en die gewilde leiers inspeel op daardie gewilde tema en behoefte nie? Is dit nie ook hoekom groot optogte en massas mense wat hot-en-haar rondstroom, nou so in die mode is nie; geluk soos Pokomon om elke hoek en draai dalk kan skuil nie? Een van die grootste gevare van ons tyd is kennis. Alles wat geskryf staan word deur iemand as die waarheid opgedis. Party mense moes miskien nie kon lees en skryf nie. Soos Steve aandui, is daar niks nuuts onder die son nie. Elke domme glo hy weet alles en ‘n klomp ander dommes val daarvoor. Geskiedenis is die versamelwoord vir lewe. Die einde der dae het nog nie aangebreek nie en volgens die Bybel gaan dit nogal ‘n belewenis wees….

Frans C ·

Bloed is dikker as water.Mense vergeet dat die verdeelde Duitsland slegs verdeel is as oorlogsbuit na die 2de wêreldoorlog en dat families so van mekaar geskei is.Daar is ‘n heel interressante program op MNET edge met die titel Deutschland 83 waarin werklike gebeure ‘n rol speel.

Daarin kan ook gesien word hoe elke kant met argwaan bejeën word deur die ander, en hoe bv. die Oos Duitse intelligensiediens doelbewus sekere gedeeltes van onderskepte kommunikasies van die Weste (Amerikaners) se plan vir die ontplooing van die Pershing 11 weglaat,omdat dit net hul beleidvormers sal verwar.

Loeis ·

Die media gee inligting deur, en in ‘n demokrasie besluit mense dikwels vir wie hulle gaan stem op grond van wat die media vertel. Dit maak die media baie magtig. So wie regeer regtig ‘n land: die mense, of wie okal die media beheer?

Moenie sonder meer aanvaar dat demokrasie en vryheid dieselfde ding is nie,

moekie ·

nou die dag het ek my gedagtes per ongeluk oor gedra dra op comment gestuur oor my mening van Mnr,D.Trump se idees oor Amerika,el letterlik gestenig daaroor, 45mense het my aangeval met comments,daaroor stem ek saam met julle, ek voel nou hoe voel dit om gestening te word

Henry ·

Dankie vir ‘n uitstekende artikel wat bevestig dat politieke-prosesse en -stelsels asook die verloop van ons mense se geskiedenis op hierdie planeet, nimmereindigend is.
Die einde van die “Einde van die Geskiedenis” het inderdaad [weereens(?)] aangebreek!
Daar sal altoos alternatiewe wees. Alternatiewes wat nie noodwendig nuut is nie en wat mynsinsiens bevestig dat Friedrich Hegel se Dialektiese Teorie ‘n groot waarheid is, wat nie verdien om deur die Marxisme misbruik te word nie.

Pieter ·

Die kudde-effek (volg die massa na, omdat jou eie oordeel tekort skiet) was tot op hede wereldwyd deur politici ingespan om aan bewind te kom. Met Mnr Trump se verkiesing is hierdie verskynsel waarskynlik vir goed ‘n nekslag toegedien en daarmee saam die bykans heidense liberalistiese neigings wat in die westerse wereld begin posvat het. Die skynheilige idee van menseregte wat bo alles verhewe is en ten alle koste beskerm moet word, is daarmee saam ‘n gevoelige slag toegedien. Mnr Trump het die regte goed gese, wat die blanke bevolking in Amerika wou hoor, maar wat dit voorheen moeilik gevind het om te ondersteun weens die vrees vir verwerping deur die (liberale-) massa. Nou wat dit op die hoogste vlak van regering aan die publiek aangebied is, is die vonk in die kruitvat gegooi en is die individu bevry van die vrees vir verwerping en het ‘n “nuwe” meerderheid van regdenkende individue daarin geslaag om die oorhand te kry. Die Trump episode in die wereldgeskiedenis sal aangeteken word as die terugkeer na morele waardes en die begin van ‘n herlewing in die Christelike geloof. God is besig om die heidennasies voor sy aangesig weg te vee en sal hul na elke uithoek van die wereld verjaag, soos tans reeds besig is om te gebeur. Keer terug na My, spreek die Here en Ek sal na julle terugkeer. God seen Amerika en sy bondgenote!!

Santie ·

Die meerderheid Suid-Afrikaners weet niks van Trump nie, behalwe sy (ongeverifieerde!) “skandes”. Hulle weet ook niks van wat die Trump-administrasie al vermag het sedert hy die verkiesing gewen het nie – selfs voordat hy ingehuldig is – om sy verkiesingsbeloftes na te kom nie. Hulle gaan ook nooit iets daarvan weet as hulle aanhou om hulle nuus deur CNN of via ons media uit die liberale VSA-media te kry nie, want laasgenoemde is nié onpartydig nie. Hulle steun die Demokratiese party en Trump as Republikein is dus “die vyand”. En dan is die liberale media nog slegte verloorders ook, soos die ondersteuners van die verloorspan wat almal van die skeidsregter tot die vlagman die skuld daarvoor gee. As jy wil weet wat die Trump-administrasie doen, lees dit in die konserwatiewe hoofstroommedia, soos Fox News. Glo my, die “fake news” kom nie van Trump, of sy administrasie, of sosiale media, of “twee studente in Macedonië” nie; dit kom van die liberale hoofstroommedia, wat eenvoudig nie wil aanvaar hulle kandidaat het verloor nie. Trump het géén rusie met die hoofstroommedia nie, dis net nog “fake news” wat die liberale hoofstroommedia self versprei. Fox News is net so hoofstroom en Trump gee hulle gereeld onderhoude. Hy gaan net nie dat die liberale media hom voorsê, afkraak en byna breek soos hulle met jintelman George Bush gedoen het nie. Onthou maar net: die 65 miljoen mense wat vir Trump gestem het, is nie onnosel of hoi-polloi nie. Die Republikeine is die ou geld, gekultiveerd en konserwatief.

Rupert Ashford ·

Baie goed gese Ernst, met ‘n baie gepaste wekroep aan die einde. Steve praat ook die waarheid. Vir die van ons wat uit ‘n Christelike oogpunt na die dinge kyk speel dit egter duidelik af in die profesie van Openbaring. Op die lange duur (miskien korter?) gaan dinge slegter raak, nie beter nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.