Is Afrika gereed vir neo-kolonialisme?

zuma-en-jinping-van-china

President Jacob Zuma spreek die China-Afrika rondetafel vergadering in 2013 toe. Dit is deur President Xi Jinping van China aangebied. Foto: GovernmentZA/Flickr.com.

Deur Peet Bothma

Die koloniale debat het weereens vlamgevat in Suid-Afrika.

Die Wes-Kaapse premier en voormalige DA-leier, Helen Zille, se Twitter-boodskap oor die land se koloniale geskiedenis is reeds ou nuus.

Die veldbrand in die sosiale media duur egter steeds voort en dit begin al meer lyk asof, wat ʼn sinvolle debat kon wees, ontaard het in die steniging van ʼn boodskapper.

Wat die klipgooiers uit die oog verloor, is dat Afrika ʼn maklike teiken vir enige land met koloniale versugtinge is. Die geskiedenis vertel die verhaal. Die betrokkenheid van die Britte, Franse, Duitsers, Portugese, Russe, Kubane, Belge en selfs Italianers in die kontinent se geskiedenis kan nie weggewens word nie.

Mens sou dink dat die mense van Afrika hul les geleer het. Koloniale betrokkenheid is ʼn parasitiese vennootskap wat min voordeel vir die sogenaamde gasheerland inhou. Of dit nou grondstowwe, landbouprodukte of nedersetting is, die koloniale moondheid het ʼn eensydige agenda.

Die versuikerde omhulsel van dié bitter pil het in die geskiedenis weinig voordeel vir Afrika ingehou. Hoewel infrastruktuur en in sommige gevalle onderwysstelsels daarby gebaat het, is ons gelaat met vreemde kulturele gebruike, mislukte regeringstelsels en vreemde tale.

In die jongste tyd word die ANC-regering se korrupte regime telkens gekoppel aan die Indiese Gupta-gesin se pogings tot staatskaping. Die broers se betrokkenheid is egter nie die grootste gevaar wat Suid-Afrika in die gesig staar nie.

Die Sjinese se verklaarde beleid jeens Afrika hou ʼn baie groter bedreiging vir die kontinent in. Die rooi golf van neo-kolonialisme spoel reeds soos ʼn tsunami die afgelope dekade oor Afrika en die inwoners is maar net te gretig om die golf te ry.

Die gebroke ekonomieë wat die vorige vlaag van koloniale besetting agtergelaat het, is dors vir die finansiële voordeel wat Sjinese betrokkenheid in Afrika bring. Dit is soos daardie geduldige kredietkaart of gemene geldskieter wat teen die einde van die maand kruideniersware koop.

Die ANC wat in groot mate nog in die Koue Oorlog leef, sien Sjina skynbaar as ʼn verlosser wat hulle gaan red van gevaarlike Westerse invloede. Sjinese betrokkenheid is as’t ware ʼn wonderpil om hulle eie politieke bloedarmoede te genees.

Die afgelope dekade het Sjina se direkte investering in Afrika van 491 miljoen dollar tot 14,7 miljard dollar toegeneem. Die Sjinese nuusagentskap, Xinhua (SJIN-WHA), spog openlik dat Sjina tientalle hospitale en honderde skole op die kontinent kom bou het. Die agentskap maak die Weste se waarskuwings aan Afrika oor neokoloniale besetting af en sê dié lande is net bang hulle eie selfsugtige belange word in gevaar gestel.

Suid-Afrikaanse politieke ontleders het die afgelope jare telkens daarop gewys dat Sjina se betrokkenheid ter plaatse gevare inhou.

Daar kan volgens hulle geen gelyke vennootskap wees nie, want die jongste geskiedenis het bewys dat Sjinese sakeondernemings geneig is tot korrupsie. ʼn Sjinese werkman word ingevoer om sleutelposisies in nywerhede te vul met geen kennisoordrag aan die plaaslike arbeiders nie. En die goedkoop produkte wat vervaardig word, ondermyn Afrika om sy eie nywerhede te ontwikkel.

Terwyl die ANC sy vaardigheid met Sjinese eetstokkies opskerp, word ons land vir die soveelste keer uitverkoop.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan ·

Ek hoor jou Peet.
Ons kan maar net onthou dat Jesus Christus saam met ons op die boot is en Hy maak die storms stil.
Ons het immers n verbond met God – geloftedag 16 Des.

Fanus ·

Baie goeie ontleding en sprankelend geskryf oor so ernstige saak! Jy laat ons taal klink!

Henry ·

Die Europese koloniste se “versuikerde pil” het die arme ge-koloniseerde massa onder andere aan die wiel, lees en skryf, onderwys, paaie, brue, treine, motors, stowe, elektrisiteit, damme, politieke en ekonomiese stelsels, ens ens ens bekend gestel.

Nadat die koloniale moondhede die betrokke state weer aan die plaaslike bevolking terug oorhandig het, het die nuut verworwe bates (myne, nywerhede, landbou…) ongelukkig nie verhoed dat “gebroke ekonomieë”, diktature, korrupsie ens ens die nuwe onafhanklikes se nalatenskap geword het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.