Is braai ons enigste erfenis?

Foto: Paul Hermann/Unsplash

Deur Mercy Kannemeyer

Ek en ’n vriendin het onlangs gegrap oor ʼn ekovriendelike braaidag. ’n Dag waar geen diereprodukte gebruik moet word nie en waar ons ook nie wil vuur maak nie, want die rook beskadig die osoonlaag. Die uiteinde van ons grappie was dat ons op dié dag maar net na groente sal staar en water drink wanneer ons honger en dors word.

Voor ek verder gaan, ’n vrywaring – die toestand van ons aarde is niks om oor te spot nie en ons almal moet ons deel doen om die aarde te beskerm. En ons moet seker maak ons doen genoeg moeite sodat daar vir ons nasate ’n leefbare planeet agterbly. Ek moes dit net uit die weg ruim voor iemand my daarvan beskuldig dat ek sake nie ernstig genoeg opvat nie. Goed.

Die gesprek oor braaidag het my wel aan die dink gesit ten opsigte van erfenisdag. Aanvanklik was ek geweldig geïrriteerd dat die erfenis van Suid-Afrika afgemaak word tot ʼn braaidag. My redenasies was dat daar ’n magdom mense is wat nie vleis eet nie (ja, ja, ’n mens kan groente ook braai), maar nóg meer as dit, is ek oortuig daarvan dat braai nie so diep ingewortel is in elke liewe kultuur in ons land nie.

Die vraag ontstaan dan, is Erfenisdag slegs braaidag? Of gaan ons die dag gebruik om werklik oor ons erfenis te bepeins? Wie is ons? Waar kom ons vandaan? Hoe leef ons met mekaar saam? Hoe gaan ons ons erfenis vars hou en daaraan bou sodat ons nooit mag vergeet dat ons land werklik besonders is nie?

Dit voel dalk nie altyd asof daar genoeg rede is om in hierdie land aan te bly nie. Korrupsie, moord, werkloosheid en geweld maak dat dit soms voel ons land is onregeerbaar en boonop onleefbaar. Talle mense voel onveilig en glo die gras is groener aan die ander kant. En hierdie rubriek is nie om enigiemand te oortuig om nie die land te verlaat nie. Ons almal se situasies is uniek en elkeen weet hoeveel hulle nog kan uithou, al dan nie.

mercy-kannemeyer-2019-01

Mercy Kannemeyer. Foto: Verskaf.

Hierdie is bloot ’n herinnering dat ons al ver gekom het, Suid-Afrika. Ja, dinge gaan rof en as ’n jong mens, iemand wat graag in hierdie land wil bly, wat graag wil hê daar moet na alle mense omgesien word, is dit my hart se begeerte dat ons moet vashou aan ons gedeelde erfenis. Nodeloos om te sê, ons leef nog in baie ongelyke omstandighede waar klasse- en rasseverskille hoogty vier. Daar is nie ’n maklike oplossing nie. ’n Goeie begin sal wees om ons regering meer aanspreeklik te hou vir die manier waarop die land bestuur word. ’n Goeie begin is om nie stil te bly nie. ’n Goeie begin is om te weet waar ons vandaan kom.

Erfenisdag is meer as net braai. Praat bietjie met mense wat nie soos jy dink nie. Leef bietjie buite jou gemaksone. Wie weet, dalk, net dalk, word jy aangenaam verras.

  • Mercy Kannemeyer voltooi tans haar meestersgraad in drama en teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Gert ·

Braai, te veel drank en swak rugby. Die somtotaal van baie Afrikaanssprekendes se kultuur. Wat bly oor vir die jeug as die ouer geslag niks konkreet nalaat nie? Koester dit wat saakmaak. Wat bied die Afrikaner byvoorbeeld vir buitelanders?

Gemaskerde Sopbeen ·

Goeie vraag, Gert. Wat bied die Afrikaner vir buitelanders? Gratis verblyf, gratis elektrisiteit en water, hulle eie ongereguleerde besighede in die middel van elke groot stad, gratis Suid Afrikaanse ID boek, bestuurslisensie en paspoort, gratis mediese sorg, gratis reis terug na land van herkoms indien hulle gevang word, hope Suid Afrikaners se eiendom sonder dat hulle veel hoef te doen (partykeer net oor ‘n muur klim), gratis vuurwapens (wat onsself ingedien het by die Suid Afrikaanse Wapens Herverdeler), baie nuwe voertuie (wat hulle sommer voor ons hekke by ons afvat) gratis fliek rolle in miljoene klein misdaad videos (kameras verhoed nie misdaad nie, dit wys net HOE dit gedoen moet word!!) Het ek genoeg goed opgenoem Gert? Hierdie ou landjie is ‘n “buitelander’s paradys”…en hulle moet gou maak, dit gaan een of ander tyd op raak!! Heerlik “selfgemaakte erfenis” dag vir jou ook…..

E.K. die eerste ·

Gert, tot ‘n mate stem ek saam met jou. Dis ‘n jammerte en glo my as die spul nie te veel drink vandag sal jy heel snedige kommentaar kry. Mercy ek stem veral saam met jou stelling (vraag) “Hoe leef ons met mekaar saam?” Maar ja, verwag negatiewiteit op jou skryfsel…dis nou maar hoe dit is. Dis nou as die klompie iets sal lees wat nie oor doodslag en Steve gaan nie

Lourens ·

Wel, julle kan maar jul erfenis braai/drank dag hou met of sonder vleis.
Vandag gaan vir ons minderheid nog oor die Gelofte wat ons volk teenoor ons Verlosser gemaak het. Ongelukkig word daar nie meer naby ‘n Gelofte-diens gehou nie.
Mag u en u naastes vandag ‘n geseënde Geloftedag deurmaak.

Gemaskerde Sopbeen ·

Goeiste, Lourens? Erfenisdag/Versoeningsdag?/Geloftedag/Dingaansdag? Hoekom sou ons vandag ‘n “geseënde geloftedag” wou deurmaak as dit vandag “Erfenisdag” is, en Geloftedag eers op 16 Desember gehou word? Ja, MET Geloftedienste….ORALOOR!! Sien jou daar….

Lourens ·

Net om op te klaar, ek weet Geloftedag is 16 Des, maar hou nie erfenisdag nie, ons erfenisse word vervreem en verkrag, so, niks daaraan om dít te vier nie.

Lourens ·

Hie, hie, hie sopbeen, as jou masker nie op was nie, sou jy gesien het dat ek jou eigentlik klaar ge-antwoord het.
Mooi geseënde dag vir die agterosse ook. ;-)

Henry ·

Die huidige regime se skepping/uitvindsel van nog ‘n simpele, betekenislose ‘vakansiedag’, wat sommer ‘n ekstra Maandag vir ‘n lekker laaang naweek opeis, is tiperend van hierdie droewe land se sirkus.

Ekstra geleentheid word terselfdertyd vir enkele siele geskep om hul viering van “Erfenisdag” te gebruik, om hulself met ‘n voosgeslaande plank by te kom deur Afrikaners te beswadder. Ons is glo die piete wat op hierdie regime-geskepte-dag aan ‘n braaiery en ge-suipery gekoppel moet word.

Hoe vervelig is dit om te sien dat daar altoos enkele siele sal wees wat hulself met sulke snert* besig hou.

*teësinnig self gesensor.

Sarel ·

Aijaijai= nou word die Braaiers uitgrskel vir suiplappe en die Afrikaner moet nou alweer die skuld kry vir alles en dit bleik sommer ui eie geledere. Mercy – kinta stem saam dat daar baie gedoen moet word om toeloms virvons jong mense te verseker. Maar dit hang nie net van die Afrikaner af nie. My vraag is as ons kyk na ander kulture in die land wat doen die jeug om volhoubare erfenis te vestig? Ek weet van verskeie ” nie Afrikaners” maar wel ” Suid- Afrikaners wat hierdie dag ook as ” Braaidag ” geniet eerder asom soos met ander dae na Politieke Retoriek te moet luister.

Dr Phil ·

Watter “erfenis” bemark die regering aan ons? Is dit “nasiebou” en politieke korrektheid? Massa-saamtrekke by die Uniegebou of daar by die ander volksvreemde koppie baby die tronk? Opruiende toesprake in swak engels in sportstadions? Of is dit nou weer die assimilasie van almal saam in die smeltkroes van die reenboognasie? Of die “viering” van al die suksesse van die aaaaensee die afgelope 25 jaar? Of die herskrewe nuwe Suid-Afrikaans geskiedenis wat gepaardgaan met vergifnis vra en boetedoening deur blankes? Moet ons nou almal die rieldans koester as “volksbesit”?
Jammer dat ek die regering so teleurstel deur nie in die minste belang te stel in enige kunsmatig-polities-korrekte saamkoek van massas mense op dae soos hierdie nie… Selfs nie eens die regering kan aan my voorskryf met wie ek moet assosieer op sulke dae-, of waar ek sulke dae moet deurbring nie

Marthinus Willemse ·

Erfenis, in sy eenvoudigste betekenis: wat het ons geërf, wat het ons voorouers aan ons nagelaat? Dis dieper as net braai.

Ons het `n goed-ontwikkelde spoorwegstelsel, padstelsel, damme, brue, torings, wolkekrabbers, banksektor, lughawens, vliegtuie, karre, plase, wyne, brandewyn, biltong, melktert, koeksusters, bobotie, teater, Simba en Oumabeskuit (oukei, beide nou aan Amerikaners verkoop), kanonne, gewere, grondboontjiebotter, tamatiesous, Nando’s, ens. ens. (In `n museum in Pretoria was daar `n vlag wat op die Maan was met Apollo 11, maar die vlag het verdwyn.)

As Suid-Afrikaners het ons `n unieke Afrikaland geskep, en bou nog steeds daaraan. Tans beleef ons `n insinking, maar ons het `n vrag nalatenskappe wat buitelanders soos die Guptas en Amerikaners hulle lippe laat aflek om te besit. Jacob Zuma het sy geboortereg as Suid-Afrikaner verkoop vir `n pot lensiesop (kerriesop?) Maar, die reaksie op hom en sy kornuite wys dat ons mense inherent gesond is, en gelydelik daardie nalatenskap begin raaksien en waardeer.

Erfenisdag behoort ons totale erfenis as land te wees.

KrokodilBotha ·

Stem saam Marthinus. Ons het nou nie Europa se eeue oue erfenis nie, maar in Afrika het ons n goeie impak gemaak. Braai is vir die winter. Te veel bier word deur bierpense gedrink wat in warm son , om n warm vuur staan en tjol praat soos tyd aanstap.

Onnodig ·

Ons blankes het bitter min erfenis oor. Alles waarvoor mense jare gewerk het is nie meer daar nie. Standbeelde is beskadig, Dorp en straatname is verander. Ons taal word aangeval. Los ten minste ons kos en braai maniere?

Griet ·

My voorgeslagte kom van Duitsland en Nederland. Moet ek Voortrekkerklere of ‘n Drindl rokkie dra? Was my voorgeslagte ooit op die tog oor die Drakensberge? Ek het nie ‘n benul nie. Ek praat 3 tale en gaan in Engels kerk. Terwyl ek aan my tjoppie smul, is ek bly oor hierdie rusdag en waardeer ek opreg elke mooi uitrusting wat diegene dra wat wel die dag vier.

charmaine ·

Alles wat wit en Afrikaans is word vertrap, ons hou maar braaidag want dit is ons erfenis vir solank dit ons nog beskore is. En dis n lekker vakansie dag!

E.K. die eerste ·

Sommer nog ietsie – almal wat so kerm en kla oor ons sg erfenis al dan nie. Wie van julle besoek museums gereeld en neem jul kinders saam om daar baie van ons erfenis te leer? Die museums gaan ampers te ngronde maar dis mos beter dat die kidners op hul selfone vashaak as om iets te leer. Wat van al die monumente en so – is daar van julle wat dalk langs die pad stop op pad na vakansie of naweek wegbreek en jou kinders vertel waaroor dit gaan? Of wie van julle sal uit jul eie help om konsentrasiekampbegraafplase skoon en netjies te hou? Uit jul eie sonder om te mor dis die of daai se werk maar sommer net omdat jul dan nou OMGEE vir jul erfenis? Kerm en kla maar gerus oor die regering se gebrek aan lewering en aandag aan die dinge, wat doen JY as indiwidu om om te gee? dis mos jou erfenis ook of is ons erfenis net om te kla oor verval van erfenis?!

Hendrik ·

Ons vier beslis nie Braaidag nie maar wel Werkdag. Jy kan net braai na die 25ste se salarisdag.

Jerry ·

Suid Afrikaners betreur of vier die erfenis en nalatenskap van hulle voorouers op n daaglikse basis. Om n spesifieke dag as vakansiedag hiervoor uit te sonder is mynsinsiens n politieke behoefte vir, of nasiebou of nasieafbreek. Gewone burgers het nie n behoefte om nasie te bou of af te breek nie, want gewone burgers leef en laat leef hulle verskillende erfenisse almal saam, elke liewe dag van hulle lewens, maar juis op erfenisdag, dan word die dag eers vir politiekery gekaap voordat daar gebraai word, indien daar wel gebraai word en dan is dit nogal n slaaibraai van alle dinge!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.