Is China se opgang tot wêreldleier onvermydelik?

(Foto: Anthony WALLACE/AFP)

Onlangs sou talle waarnemers die vraag oor of China se opgang tot wêreldleier onvermydelik is, onomwonde met “ja” beantwoord het. Op die oog af het China alles aan sy kant om die Weste en veral die VSA as enigste wêreldmoondheid af te los: ʼn reusebevolking met geweldige potensiaal, ʼn sterk leierskap vir wie die land se magsopbou – ekonomies, polities en militêr – prioriteit is, gevorderde tegnologie as massaproduksie, ʼn onstuitbare internasionale teenwoordigheid in elke uithoek van die aarde, en groot selfvertroue.

Die BRICS-groep is as ekonomiese teenvoeter teen die VSA se oorwig gesien en by implikasie het China daardeur reeds die leier van die nie-Westerse wêreld geword en sou die Weste, met behulp van Rusland, Indië, Afrika en ander, doodgesmoor word.

Die Covid-19-pandemie en veral die oorlog in Oekraïne het dinge egter heelwat verander en nou is daar twyfel of China se onstuitbare opgang ʼn uitgemaakte saak is. Die aanvanklik geprese “effektiwiteit met die bekamping van die koronavirus” het intussen geblyk om leuens en ʼn toesmeerdery te wees.

(Foto: Ng Han Guan/AP)

Covid het ook gewys hoe gevaarlik eensydige afhanklikheid van sekere lande en sekere produkte is. Die Oekraïne-oorlog het die insig laat posvat dat die idee van globale handel, waar elke land net fokus op enkele produkte waarin hy die beste is en verder alles invoer, gevaarlik is. Verder het dit ook gewys dat globale handel nie tot wêreldwye vrede lei nie. Sowel Rusland asook China gebruik hulle ekonomiese vooruitgang om hulle militêre vermoë te verstewig en wil dit ook aanwend. Vir hulle is handel en globalisering ʼn middel tot ʼn doel, naamlik territoriale uitbreiding, terwyl in die Westers-liberale denke handel en globalisering die doel opsigself is. Rusland en China, op hulle beurt, moes nou besef hoe afhanklik hulle nog steeds van die Weste is: die ekonomiese stelsel van die wêreld is in wese ʼn Westers-kapitalistiese een, en Rusland en China se ekonomiese sukses is en was net moontlik deur die Weste se massiewe beleggings; min is uit eie krag gedoen. China is nou effens versigtiger met sy aggressie in die Stille Oseaan, wetende dat internasionale sanksies die land, wat baie meer as Rusland geglobaliseer is, hard gaan tref.

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Dit is egter ook verwikkelinge in China self wat die land se opgang smoor. Die suksesresep vir die land se opgang was “bestuurde kapitalisme”: solank die kommunistiese party die leisels in die hand kon hou, was daar min beperkings vir die mense om welvaart te bereik. Inderdaad het baie mense se lewens verbeter in vergelyking met vroeëre tye. Die kommunistiese party het nooit enige ware demokrasie in vooruitsig gestel nie, en vir dekades het die ruiltransaksie vir die meeste Chinese gewerk: julle kan geld maak, reis, alles hê wat die Weste ook het en het boonop die trots om tot ʼn magtige en opkomende land te behoort, maar moenie in die politiek inmeng nie; los dit vir die kommunistiese party.

Die meer onlangse onderdrukking van die demokrasiebeweging in Hongkong het gewys dat die party dit ernstig bedoel en hom nie laat uitdaag nie. Dit wys ook, en die Chinese leier Xi Jinping het dit duidelik laat blyk, dat politiek die ekonomie troef en dat China geensins afstand van sy kommunistiese doelwitte van totale beheer en die vorming van die mense volgens ʼn spesifieke ideologie afstand gedoen het nie.

Xi Jinping, president van China. (Foto: Li Gang/Xinhua News Agency via AP)

Daardie totalitêre beheer wat so kenmerkend van China is, verhoed egter dit wat vir enige ontwikkeling wat verder gaan as blote goedkoopmassaproduksie van nagebootste produkte nodig is: intellektuele vryheid en innovasie. Die meeste patente is steeds uit die Weste afkomstig: die VSA is nog steeds nommer een, gevolg deur Duitsland. China kom eers in die vierde plek, wat veral gemeet aan die land se groot bevolking minder indrukwekkend is, alhoewel die land ook die meeste groei op dié gebied toon. Interessant is hier ook hoe suksesvol lande soos Japan (nr. 3) en Suid-Korea (nr. 6) is, wat Oosterse werksetiek en dissipline kombineer met Westerse vryheid.

Ook die Weste se “sagte mag” (soft power) moenie onderskat word nie. Globale handel en interaksie vind hoofsaaklik in Engels plaas, nie in Chinees nie, eenvoudig omdat Chinees ʼn nasionale taal is, al word dit deur meer as ʼn miljard mense gepraat, en uiters moeilik vir nie-Chinese is om aan te leer.

Ook is die wêreldwye rol en invloed van die Chinese kultuur nie vergelykbaar met die van die steeds oorheersende Amerikaanse kultuur nie. Dit help China min dat sy kultuur veel ouer en moontlik meer gesofistikeerd as die Westerse kultuur is: al word die Weste vir sy koloniale verlede verguis (veral deur homself), wil niemand die Westerse kultuur, produkte en leefstyl mis nie, en kon China ook geen aantrekliker alternatief bied nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Te onobjektief.; met die VSA steeds die hoogs edele mag daar gestel om waardes van reg en geregtigheid te bepaal en te beheer. Ongelowiges in die Weste is bv heiliger as gelowiges in Rusland. Sou die VSA 46 chemiese labs in die Oekraïene in die geheim finansier, het dit hemelse waarde en die goeie as basis. Selfs die gooi van atoombomme is net die VSA se reg. Die Ooste is sleg en die Weste goed. Word verdere breinspoeling beoog. Die jongste lokkettre$$er by teaters ditto die berig!

Vlekkie ·

Dis mos waaroor die BRICS ooreenkoms gaan…
Brazilie
Rusland
Indië
China
SA
Hul wil Amerika onttroon as die magtigste land ..en China dit maak.
Dis ook hoekom SA so neutraal bly teenoor Rusland t.o.v oorlog teen Oekraine. SA kan mos nou nie hul gatgabba aanvat nie!

Treurwilger ·

Baie interessante stuk!

Covid het dus twee positiewe gevolge: globalisme se negatiewe eienskappe is uitgewys, en my gunsteling, die liggelowigheid (onnoselheid) van die mensdom ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.