Is daar ’n Dag Zero vir SA se universiteite?

biblioteek-universiteit-boeke-boekrakke-kennis

Foto: Pixabay/Pexels.com

Met Dag Zero wat ʼn bekende term in Suid-Afrika geword het, kan die vraag tereg gevra word of Dag Zero ook besig is om aan te breek vir ons universiteite, en indien moontlik, hoe dit vermy kan word.

Stefan Pieterse, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum, het gaan uitvind.

Groeiende staatsafhanklikheid

Die regering is tans die enkel grootste bron van inkomste vir universiteite in Suid-Afrika, met staatsbesteding aan universiteite wat, volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) van R6,7 miljard in 2001-’02 tot R32,9 miljard gedurende 2015-’16 gegroei het. Met ʼn groei van 390,9% oor dié tydperk is dit duidelik dat universiteite toenemend afhanklik van die staat geraak het as die enkel grootse bron van inkomste – dis nou te sê as die staat dit natuurlik kan bekostig.

Groeiende staatskuld

Die regering se koste om sy eie skuld te diens, het van R89,4 miljard in 2012 tot R202,2 miljard in 2019 toegeneem. Die uitwerking hiervan is dat meer geld tans (per jaar) bestee word om die regering se skuld te diens as wat in totaal in een jaar bestee word aan die polisiediens (R104,2 miljard), staatsekuriteit en die weermag (R50 miljard) en aan die howe en gevangenisse (R48,4 miljard). Dan is daar egter nog ʼn probleem …

Meer studente

Volgens die SAIRV het studentegetalle van 579 257 in 2001-’02 toegeneem tot 969 154

in 2015-’16, en volgens die Nasionale Ontwikkelingsplan 5 (NDP 5) moet dit verder groei om 1,6 miljoen per jaar teen 2030 te beloop. Dit gaan natuurlik gepaard met stygende verwagtinge ten opsigte “gratis” hoër onderrig en verhoogde staatsubsidies. Is daar dan ʼn oplossing om universiteite op ʼn ander manier as die staatskas te befonds?

stefan-pieterse

Stefan Pieterse is die hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum. Foto: Verskaf.

Harvard, Yale en Stanford

Buiten die geykte beginsels van goeie korporatiewe bestuur en instellings wat oor eeue heen opgebou is, blyk dit dat verskeie van die wêreld se grootste universiteite in privaat hande is en met verloop van tyd sterk skenkingsfondse opgebou het wat hulle in staat stel om minder van ander en meer afhanklik van hulself te wees. Harvard spog tans met die wêreld se grootste akademiese skenkingsfonds ter waarde van $39,2 miljard; Yale spog met $29,4 miljard en Stanford met $26,5 miljard. In die geval van sowel Harvard as Yale is die inkomste wat uit hul skenkingsfondse verdien word, hierdie universiteite se enkel grootste bron van inkomste.

Die toekoms van universiteite lê, myns insiens, ten beste in privaat en gemeenskapshande wat natuurlik gepaardgaan met gesonde korporatiewe bestuur, wêreldklasstandaarde en, natuurlik, sterk skenkingsfondse.

Die kameel se rug kan ook net so lank hou.

  • Stefan Pieterse is die hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Daar le die ding. ·

Blikkies, alles is deesdae Miljaarde rande, word ons nou soos slimbabwe?

Petrus ·

Vergeet om ‘n mega universiteit oor te neem. Gemeenskappe moet eerder kleiner en gespesialiseerde universiteite oor die hele land opbou, insluitende mediese- en regsskole. Affilieer dan by buitelandse universiteite.

John ·

… Sit werklose gegradueerdes op kussings op sypaadjies om hul te onderskei van ander pleps? Hoeveel van die op-die-hande-gedra-geleerdes sal binnekort in howe verskyn omdat hulle jok en maak of hul nie die of daardie graad ontvang het nie of die een of ander handvaardigheidsopleiding het… òf… gaan die vir-ewig-en-altyd-onderhoud-vir-agtergeblewe-nou-voorbokke-in-snot-en-trane-program (SNIK) ingestel word. Miskien moet x-prez-zero die kans gegun word om die aankondiging te maak as slot tot sy droom-projek… snik, snik…

Gert ·

Die groot mistasting hier is die siening dat gegradueerdes die land vooruit sal laat gaan. Gegradueerdes met grade wat verdien is, sal die land vooruit laat gaan, maar gratis grade wat uitgedeel word aan diegene wat die regte kleur is, sal absoluut geen verskil maak, behalwe dat dit die land se geldsake verder sal vererger.

Jerry ·

Belastinggewys (super tax) is dag zero slegte nuus vir private universiteite, omrede belasting wat gehef word op privaat universiteite, gebruik sal word vir staats geondersteunde universiteite. Stefan, die belastinglas op suksesvolle privaatinstasies sal dus net al hoe swaarder raak, wat beteken dat die staat die kameel (privaatinstansies) se rug hol gaan ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.