Is daar ‘n skroef los in die Lions-span?

Bryan Habana van die Stormers druk deur om 'n drie te gaan druk Foto: www.rugbyweek.com

Met die Bulls en die Sharks wat loslootjies gehad het die afgelope naweek, verskuif die klem na die drie SA spanne wat wel in aksie was.

In een van die mees dramatiese terugvegpogings van die huidige Super 15 reeks, het die Highlanders die Cheetahs met die Cheetahs se eie “sal nie gaan lê nie houding” die loef afgesteek. Om van ʼn agterstand van 21 punte die wedstryd te wen, getuig van ʼn span met hope talent en deursettingsvermoë. Aan die ander kant moet ook gesê word dat die Cheetahs ruimskoots bygedra het tot die Highlanders se skitterende vertoning. Na 50 minute se spel waarin die Cheetahs die toon aangegee het, word Johan Goosen, losskakel van die Cheetahs, beseer. Onmiddellik daarna was daar ʼn gebrek aan ritme wat ook aanduiding tot swak verdediging gegee het. Of daar ʼn kousale verband tussen die besering en die swak verdediging bestaan, sal Naka Drotske oor moet besluit.

Die Highlanders het geleidelik meer en meer balle begin wen en die ruimte van die veld (en die swak verdediging) gebruik om bresse te slaan. Veertien punte in twee minute teen jou is genoeg om jou selfvertroue te knak wat dan ook duidelik geblyk het uit die strafskop wat Sias Ebersohn reg voor die pale, regs verby die regoppaal gestuur het. Indien suksesvol, sou die telling uiteindelik gelykop gewees het wat ʼn beter weergawe van die wedstryd sou gewees het.

Hierdie oorwinning gee die Highlanders hope selfvertroue vir die stryd Saterdag in Durban.
Gelukkig is die Sharks van ʼn ander stoffasie en sal hulle beslis nie toelaat dat die Highlanders sorgeloos en vry kan rondhardloop nie.

Dit bring my by die Stormers. Met ʼn gelapte span en ʼn reënbui wat emmers water gedurende die hele wedstryd gestort het, het die Stormers bewys waarom hulle tans een van die beste spanne in die reeks is. Op die kyk-weer is daar wel ʼn vraagteken oor die drie wat Brian Habana gedruk het, maar omdat daar niemand (nie eers die skeidsregter of sy assistente naby was nie, kan die fout oorgesien word.) Dit sou in elk geval nie ʼn verskil aan die eindtelling gemaak het nie.

Hennie Bekker het bewys dat Heineke Meyer nie die volk opstandig moet maak deur vir Victor terug te bring na die Springbokspan toe nie. Hy was ʼn toring van krag in die lynstane en sy verdediging was ook puik. Nog een of twee wedstryde om hom 100% fiks te kry en die probleem is opgelos. Die hegte verdediging van die Stormers bly elke week indruk op almal maak wat die spel ken en ontleed. Die Cheetahs kan beslis ʼn bietjie daar gaan kers opsteek, dit kan hulle vorentoe nog baie verleentheid spaar.

Hoe minder oor die Lions gesê word hoe beter. Die span raak nou ʼn verleentheid vir homself en die Kings van die Oostelike provinsie sal nie veel swakker as die Lions in die Super 15 vertoon nie. Dat ʼn leenspeler wat weke gelede nog in die Varsitybeker eindstryd gespeel het en sy eerste blootstelling aan die Super15 gekry het, jou beste speler op die veld is, is ʼn teken dat daar beslis ʼn groot skroef los is. John Mitchell moet iewers ʼn groot “spanner” gaan haal om die skroef vas te draai.

Rugbygroete tot volgende week

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Polla Roux

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.